Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Pienk. Dit was nog altyd Esri se gunsteling kleur. Spookasempienk, om nou presies te wees. Self haar troue is als pienk.
Eduan Botha sug bedruk terwyl hy die manstydskrif ongelees op sy skoot laat sak. Met sy duim en voorvinger knyp hy oor sy neusbrug.
Vir wat karring sy sussie so? Hy doen al klaar als vir haar wat hy moontlik kan doen, en nou vra sy dit...
“Es, is jy seker dis wat jy wil hê?”
Deur digte wimpers en `n deurmekaar kuif loer sy na hom; die trek in haar oë vasberade. “Natuurlik is ek seker, Eduan! Ons praat hier van my troue, nie sommer net `n partytjie nie... Ek weet wat ek wil hê. Skoenlappers.”
Eduan maak sy oë `n oomblik toe; sy lippe styf opmekaar gepers. Hy wil hom nie vir haar vererg nie, maar hierdie keer is sy wragtig waar onmoontlik. Skoenlappers van alle dinge! Waar moet hy dit nou gaan uitkrap? Die troue is oor twee dae!

Eduan loop nou al vir twee uur lank, van die een winkel na die ander, op soek na pienk skoenlappers. Van al die kleure in die reënboog wil sy sussie nou juis pienk skoenlappers hê. Hy moes dit geweet het. Sy’s moeilik verby; veral na hulle ouers se fratsongeluk vroeër die jaar.
Sy voete is al seer. Dis nie in sy aard om vir ure in winkelsentrums rond te drentel nie. Eduan gaan sit op `n bankie voor `n kunswinkel; rol sy enkels om en om sodat hy van die branderigheid ontslae kan raak. Daar was al kere dat hy so ampertjies vir Esri mooi wou vertel. Sy tree soos `n kleuter op; een wat voete stamp en `n vloermoer gooi as sy nie gister kry wat sy vandag wil hê nie. En sy is al drie en twintig.
Hy sien haar groot, onskuldige blou oë; die stekie pyn daarin as sy begin onthou, die klein blink diamantjies wat moedswillig begin rol. Dis tye soos hierdie dat hy haar vreeslik jammer kry, al weet hy dat sy hom soms manipuleer.
“Ekskuus, meneer? Wil jy nie gou hierdie boks vir my aanvat nie? Seblief?”
Eduan was so ingedagte dat hy nie eers die meisie sien nader kom het nie. Hy vlieg verskrik regop; gryp na die boks asof dit baie swaar moet wees. Dis toe dat hy amper op sy rug beland. Die boks is toe nie so swaar nie – eintlik so lig soos `n veertjie!
“Pasop! Jy gaan dit beskadig.” Die tjoklitbruin oë voor hom het nou `n baie ontevrede trek daarin; `n frons ontsier haar gladde voorkop. Die fyn postuurtjie ruk astrant regop; haar hande op haar heupe.
“Is dit dan breekbaar? Hier is dan niks in hierdie boks nie...” Hy trek sy oë onskuldig en verstik amper soos hy lag toe hy haar reaksie sien.
“Dis wat jy dink...” Sy gryp weer die boks by hom en storm al sukkelend die kunswinkel binne.

Heelwat later sit Eduan die donkerkop voor hom deeglik en bestudeer. Sy’t hom nie saam genooi nie, maar hier sit hy nou in haar kunswinkel, met `n glas yskoue Coke in sy hand. Sy is vir hom so verskriklik mooi. Net jammer sy is so swartgallig. Sy glimlag nie, lag nie, terg nie. Al wat hy op haar pragtige gesig sien is `n diep frons; haar lippe `n stywe lyn. Sy het seker maar `n slegte dag agter die rug.
Haar hande is besig met ongelooflike fyn kunswerk. Sagtedraad word gebuig in `n baie klein vormpie. Dan volg pienk sykous en kristal kraletjies. Sy werk met intense konsentrasie.
Eduan is oortuig dat sy reeds van hom vergeet het. Hy hou sy asem op; te bang om haar konsentrasie te verbreek. Verwonderend sit hy `n bietjie nader; naby genoeg om te sien waarmee sy in die skerp lig besig is. Sy oë rek geskok toe hy die halfklaarproduk langs `n tydskrifprentjie sien lê.
“Ek het dit!” Hy vlieg op, spring om die toonbank en gryp die verbaasde donkerkop om die lyf. “Ek het dit! Jy’s briljant! Ek soen jou sommer...”

Eduan se kameralens fokus stadig op die pragtige blonde bruid voor hom. Hy glimlag sag. “Es, kyk bietjie hiernatoe...”
Met haar spookasempienk trourok lyk sy niks ouer as sestien nie; haar hare styf teen haar kop vasgetrek. Sy glimlag vir hom met haar spookasempienk lippe terwyl sy speels met die kameralens flankeer.
Langs hom beweeg Sharlien, die donkerkop van die kunswinkel, met `n silwer mandjie tussen die skares in. Sy deel klein geheimpies aan die skares uit –geheime verrassingkies vir Esri.
Hoe verlang hy nie nou na sy ouers nie... hulle sou so trots gewees het om hulle dogter. Dankbaar dat hy toe vir Esri gegee het wat sy wou hê, kyk hy hoe sy stadig saam met haar nuwe man met die trappies af kom.
Die miniatuur spookasempienk skoenlappertjies blink soos kristalle in die son, terwyl dit in hordes oor die pasgetroude paartjie neer reën.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hi
Pragtig vloeiend geskryf! Goeie storielyn.

Swerwer
8 jaar 4 maande 6 dae 9 ure oud



Die Skree van Stilte

deur Alex Fan Moniz

37 spesifieke gedigte gekies uit ‘n versameling van oor 300 wat ek oor die afgelope 25 jare gedig het, wat ek graag met julle wil meedeel, daar is ook ‘n paar nuwe gedigte spesiaal vir die bundle gepen.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar