Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Genot. Waarin le daar vir jou genot opgesluit? Vandag, is dit vir my die iddilliese droom om 'n rugsak te pak en die pad te vat. Ek wil nie dink aan kos en water of al sulke aardse dinge nie. Dis dalk een van my issues--- ek hou nie daarvan om aan die gewone dinge te dink nie. Ek hou van filosofeer en droom. Dink en uitmekaar trek.

Ek was nog by die rugsak, gemaklike stapskoene en daar gaan ek. Ek wil afklim by die Tsitsikamma bos, Knysna toe. Ek klim uit die kar. Met die oopmaak slag van die deur kry ek die reuk van nat grond, dennenaalde en 'n magdom onbekende dinge. Ek kan nie baie goed ruik nie, so miskien kan jy van my verskil. Ek gooi my rugsak oor my skouer en vat koers. Sommer die groot niks in nie. Ek sien die bosreuse wat hoog die lug introon. Duiseligheid wil my oorval as ek dink hoe dit voel om van die boonste takke af oor die wereld af te kyk. Hoe sou dit voel om soos 'n voël vry oor die bos te vlieg, af te kyk op die woud, die wêreld?

Die reuk van die klam grond styg op na my. Die bome, verskillende groottes, tipes. Die blare verskil die vorms verskil. So verskillend en tog soveel dieselfde. Mense, almal basies dieselfde maar die individualiteit is onverstaanbaar. Ek steek my hand uit, die stam voel grof onder my vingers. Dit krap aan my vel. Die mos voel sag en fungusagtig. Sag soos jou wang nadat jy geskeer het. Die groewe in die bas is diep, donker klowe wat in die stam ingeskeur is. Diep wonde... Die donkerbruin, swart en groen wissel mekaar af. Geen reëlmaat in die patroon nie, geen voorspelbaarheid nie. Miertjies hardloop op en af teen die bosreus se stam. Jy is soos 'n bosreus in my lewe. Onverganklik deel van elke dag. My vingers gly teen die stam af, nadenkend. Die klank van voëlsang, ruk my terug na die werklikheid. Onbekende voëlsang. Loeries... ek ken nie die klank van 'n loerie se geroep nie. Ek soek in die takke bokant my, maar die bron van die wonderklanke is nerens te sien nie. Ek stap verder, die reuk van nat grond en verrottende blare baie sterk in die lug. Bosgeluide omring my. Soos agtergrond musiek omring en omvou dit my. Dit koester my hier onbekende bos vol reuse. Hoeveel reuse is daar in ons alledaagse lewe. Dinge wat in ons pad kom staan en ons versper in ons weg. Waarnatoe is jy oppad?

Ek stap en ek drink my omgewing in. Die rustigheid, die groen sagtheid, die donkerbruin agtergrond. Waarnatoe is ek oppad? Ek weet nie. Vorentoe. O,ja en natuurlik wil ek hierdie roete voltooi. Maar die roete is nie net punt A en punt B nie, nee, dit is al die skoonheid al die uitdagings al die hongerpyne al die dors word, al die uitkyk vir gevaar, alles saamgeweef is 'n ervaring. Iets wat deur middel van 'n paar foto's en staaltjies aan vriende oorgedra gaan word. Die blase op my voete en die stukkende skoene. Dit sal al bewyse wees van die avontuur wat ek beleef het. Maar die merk wat dit op my siel gelaat het, dit sal niemand sien nie. Ek kan net deur my woorde vir hulle laat deel in my ervaring, maar hulle kan nie al die emosies ervaar soos dit deur my spoel as ek die hele roete in herinnering roep nie.

Ek kry 'n groot rots en sak uitgeput daarop neer. Sjoe, wat het my besiel. Ek luister die hele tyd of ek olifante hoor. Ek kyk waar ek loop, fynkam die paadjie vir slange. 'n Magdom gevare omring my. Dit is so stil en tog is daar die normale geluide wat om my vou. Die bos haal asem. Terwyl die bos asemhaal is alles nog in orde, dis net as hy sy asem ophou... Ek haal my waterbottel af en neem 'n behaaglike sluk daaruit. Hoe wonderlik is water. Die koel vloeistof wat in jou keel afglip en jou verkwik. My voete hang halfmas in die lug, ek voel hulle al klaar klop. Wat het my besiel om my gerieflike huis, my bad, my kraan, my yskas en my bed te verruil vir hierdie avontuur? Nee, ek weet nie. Miskien was dit al die gedagtes aan jou. Dit help om te stap, dit help my gedagtes loop. Ek is in elk geval 'n nul op 'n kontrak op die stadium. My gedagtes hardloop net sirkel om jou, om ons. Dit voel of ek in 'n doolhof vasgevang is. Hoop, daar is altyd die hoop. Soms brand die hoop soos 'n onblusbare fakkel, ander kere is die vlammetjie van hoop soos 'n kers in die wind. Flikkerend en flou, dit word so maklik uitgeblus. Ek is nie lus vir mense nie. Ek het tyd nodig, tyd om te besluit. Ek is nie lus vir selfone en kliente nie. Ek is lus vir niks. Jy, dit is al waaraan ek wil dink. Al my twyfels, al my vra. Ek wil deur die doolhof kom werk hier in die bos. Waar ek kan huil as ek wil. Niemand om my met jammerte in die oe aan te kyk nie. Ek sal moet aanstryk. Verpligting, my enigste verpligting is nou oorlewing. Ek staan op. Sit die prop van die water bottel terug. Skroef skroef kloksgewys. Hoe maklik is dit nie. As alles so eenvoudig was.

Waar sou die oornaghut wees? Wanneer sal ek hierdie skoene kan uittrek? Kos, ek sal iets anders as energiestafies moet kry om te eet. Energie, die vermoe om van punt A na punt B te beweeg. Energie kan nie vernietig word nie, net omgesit word van een vorm na die ander. Ek het al my energie omgesit in liefde, liefde vir jou. Ja, ek weet liefde is nie 'n erkende vorm van energie nie. Maar almal wat al in 'n verhouding betrokke was kan vir jou sê presies hoeveel energie dit uit jou kan tap. Dit moet aangevul word uit een of ander bron. Die perfekte bron is om dit terug te ontvang van die ander persoon af. Dan is die ketting ononderbroke, julle verskaf aan mekaar die energie om mekaar lief te hê. Maar almal wat al in 'n verhouding was kan ook vir jou sê dat dit nie altyd die geval is nie....

Waar kry die bome al hulle energie vandaan? Van die son af, uit die aarde uit, uit die water , uit verrottende materiaal. Moet iets altyd eers doodgaan om lewe aan ander te gee?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Staptoer-gedagtetoer Deel I
Goeie stuk
9 jaar 6 maande 4 weke 1 dag 22 ure oud



Sirkeldans

deur Driekie Grobler

Die foto van my boek wys nie op die advertensie wat julle geplaas het nie, kan julle dit asb vervang met hierdie foto. Baie dankie :)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar