Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Miskien was dit omdat ek in die Transkei gegroot was, dat ek hierdie houding aangeleer het! Die landstreek wat daar in die suidoostelike hoek van Suid-Afrika pryk. Die Wilde Kus noem hulle dit. Ek moet sê, daardie deel van die land verskil drasties met die res.

Ons bly in Umtata. Ons is net dertien in matriek! Dis nou die Afrikaanse skool langs die Engelse een wat heelwat groter was.

My pa, Hoofbeplanner van Onderwys van Oos-Kaap, staan met die tuinslang in sy hand en maak tuin nat – één van sy maniere om te ontspan naweke!

Kom ek die erf binnegery met my fiets, roep hy my. Telkemale het hy my gesê hy en my ma is diep bekommerd. Dan vra ek hom: “Is daar fout tussen julle?” Dan het hy sy nekspiere so styf getrek en my ‘n afjak gegee … en bygelas hulle sien my nooit by my boeke nie!

My populêre antwoord was iets soos ‘ja, is maar een van daardie dinge’!

Nou, vir ‘n man wat jare Kringinspekteur van Onderwys was, was dié tipe antwoord natuurlik nie baie bevredigend nie.

Só gaan ons maar voort! My pa op kantoor en skoolbesoeke, my ma, huisvrou met al haar take en ék in matriek wat húlle nooit by ‘n tafel met boeke sien nie!

Die gebeur toe natuurlik so, soos dit met meeste van ons wel gebeur het, dat die eindeksamen verby was en die uitslae in die koerante bepeinsend afgewag word!

Ten opsigte van my akademie, het my ouers lankal reeds my amptelike teëstanders geword met dreigemente waarvoor ek lankal reeds moeg geraak het – én hulle.

Dis sulke tyd! Dáárdie koerant is uit … lê op die rakke. My pa sê vir almal: “Klim!” Hy’t reeds die kar uitgetrek! Hy ry reguit Maans se boekwinkel toe, vat die koerant en spalk dit oop op die glastoonbank. Hy sit sy bril op en kry die uitslae. Alfabeties soek hy … Minie … Minie … Minie … jou naam is nie hier nie! Ek kry ‘n kyk en hy kry ‘n nekstuip!

Oom Maans stoot my pa weg van die koerant af (ek en oom Maans het ‘n baie goeie verhouding gehad – hy het altyd my Rolling Stones langspeelplate van oorsee af besel en dan moes my pa dit kom betaal! – met daardie selfde nekstuip van (nou-nou!!) “Hier’s sy naam, Oom.” Hy wys my pa … “Nogal twee onderskeidings ook!” Hy draai om met ‘n lang arm: “Gelúk ou seun!” Ek sê nogal vir hom: “Was al die vegtery deur die jaar oor boeke en tafels dan nou só nodig?” Die Inspekteur van Onderwys het nie ‘n antwoord nie!

Slegte tyding! Dit het baie van julle ook oorgekom na matriek! Oproepinstruksies! Weermag toe! Die afskeid was groot … en nat!

Op Kimberley-stasie, na ‘n hele nag se ry in ‘n treinwa wat soos ‘n bus ingerig was, word ons uitgeboender en verskreeu … jy ken nie die verskil tussen her- of derwaarts nie! Hulle jaag ons soos beeste in ‘n klomp groen trokke in met sulke ronde neuse! Bedfords, nogal!

Ek sien die klomp hou van boender! Na ‘n lang, stowwerige en warm rit word ons weer uitgeboender! Toe sien ek: Hier’s moeilikheid!

Ons word daar op ‘n paradegrond sonder ‘n greintjie koelte ‘opgelaain’ vir ‘roll call’! Ek wonder toe waar hulle ons almal se name gekry het! My skoolhoof se gesig flits voor my verby … só ‘n verraaier!

Die basiese opleiding het begin! Dit was nie maklik nie! Maak nie saak hoe perfek jy jou dinge doen nie, daar is altyd fout … en dit het my moeg gemaak!

Dié dag moes ons gaan hardloop met ‘n rugsak vol klippe en geweer in die hand … onder Kimberley se son wat nie naby die Transkei geskyn het nie! Ek vat so ‘n gemaklike draffie vir so ‘n entjie - en gaan toe oor in ‘n stilstand! Ek staan! Die Engelse Korporaal storm op my af. Sal jy glo!? Hy vloek my en skreeu en voer so ‘n snaakse, wilde dans al om my uit! Ek staan! Hy vra my naderhand hoekom hardloop ek nie? Ek sê vir hom ek is moeg! Hulle gee my nie genoeg rustyd in die nag nie! Die ou brekfissie vier-uur vanmôre is uitgewerk!

Gou het ek gesien vir net moeg wees, hulle nie ‘n man lewenslank kon gee nie … en ook nie teregstel nie! Só, is ek toe deur die ‘army’, so rus-rus en kyk agter myself – waar dit natuurlik werklik nodig was om toegepas te raak!

My pa laai my af in Johannesburg! Wéét jy hoe verskil dié plek van die Transkei se bosse?! Wéét jy hoe verskil dié plek van die Weermag? Nie veel nie!

Wéér begin ons met ‘n geboendery! Al ons eerstejaars was rustig besig om ons koekies wat Mamma saamgestuur het (nés die army … en nie geëet het nie!) en al jou ou persoonlike geite mooi uit te pak in die dubbelkamer wat aan jou en ‘n ander mede-martelaar uitgewys is.

Ek dog nogal … wanneer gaan dié boenderstelsels eendag einde kry?! Vir ‘n week kry ons nie slaap nie – nee, ek jok … jy slaap in die klas! Hier word ons ook uitgevreet!

By die koshuis word jy sommer reguit ‘n uitvaagsel genoem. Ons amptelike name was drelle. Op ons kamerdeure moes ons ons name opsit: Drel Nel, Drel Minie …

Ons ry heelnag hysbak … ons matrasse en beddegoed daarbinne … en dan trap die ‘seniors’ jou wakker!

Ek glip nogal uit en plak ‘n papier op ons gang se HK-lid se kamerdeur: Drol Mol. Die volgende dag, na klas, het ons vloer se drelle groot moeilikheid – uit die aard van die saak!

“Wie het hierdie papier op my deur geplak?!” Natúúrlik weet niemand nie! Ons ry hysbak … in nat beddegoed – die brandslang is toe gebruik vir ‘n tuinslang!

Ek wéét – ál oplossing hier is aanval! Ek glip uit en plak ‘n nuwe papier” Drollietjie Molliekie!

Die volgende dag na klas is daar erge moeilikheid! Die hele koshuis se drelle word opgejaag nie die koshuis se dak toe – trappelangs! Elf verdiepings! Daar word ons weer geboender … ‘n groot sirkel – en ons kyk so oor die rand en sien die res van Johannesburg!

Elke senior van die koshuis het net een skoen aan. Ek wonder toe eers watse besoedeling ruik ek nou?! Elkeen sit ‘n klip of ‘n ding in die ander skoen om hom gewig te gee … en ons kry slae! Ek voel hoe my boude begin te swel! Dit hou net aan en aan, want sien, die sogenamde seniors (Menere) beweeg so een-een aan en hulle was baie!

Ek voel toe hier agter my ek kry ‘n hou wat drasties uitstaan bo die gemiddelde! Séér!! Ek draai om en sien dis Meneer Mol! Ek gryp sy skoen en dam hom by!!

Pandemonium! Die drelle mop saam en die Menere laat spaander! Ons drelle besluit: Dis nou klaar! En dit was klaar! Van tóé af is niemand meer gemeneer nie, ek ook nie gedrel nie!

Met Meneer Mol, het ek gevoel, was daar iets persoonliks nog wat uitgeklaar moes word! Met die eerste koshuisvergadering sê ek nogal daar is iets wat in my hart is!

Meneer Mol was seker so tien jaar ouer as ons drelle. Ek het intussen te hore gekom dat hy juis al bykans tien jaar hier studeer en darem nou al derdejaar is – die kursus is vier jaar!

“Oom Tim (sy naam), sien jy dáárdie boom …” Ek wys daar deur die venster na die massiewe akkerboom wat daar staan wat almal sy koelte ken” … die dag toe jy hier ingestap het, was daardie boom seker nog ‘n pit!” Amper weer pandemonium!

Klaar studeer, weer’n pa en ‘n ma wat dringend uitslae afwag in wantroue … en weer ‘n langarmgelukwensing … kry ek my onderwysaanstelling te Potgietersrus, Hoêrskool Piet Potgieter!

Weer so ‘n afgewaterde geboendery! Nou’s jy mos weer ‘n groentjie! Die koshuisvader wys my my ou kwartiertjie … en verduidelik ons (ons was drie) ons pligte en die klokke! Min geweet dat ek nou ‘n beroep betree het wat gedryf moet word deur klokke heeldag!

Met die swaar van jou ouers, die ‘army’ en die studies agter die rug, begin ‘n man so stadig weer mens word – nie sonder onderbrekings nie!

In die personeelkamer sit ons, amper sê ek drelle!, om een tafel … en die hoof kom en skuif ‘n stoel nader … (en ek weet!). Wragtag! Hy gee ons twee periodes af om gou hare te gaan sny! Dan gou vir hom in sy kantoor te kom wys!

Twee maande later is dit eksamen en ons moet toesig hou in die klaskamers waar Pappa en Mamma se ou bloedjies probeer slim wees – net soos ek, wat nooit by boeke bespeur was nie.

Ons moet op en af stap tussen die banke – drie ure lank! Ek besluit ek’s moeg! Net met dié dat ek so op die punt van die lessenaar gaan sit, stap die hoof verby en kyk deur die venster! Die deur gaan oop sonder ‘n geklop … en ek weet!

Na ons goor onderonsie stap ek maar weer op en af, af en op! Seker vir ‘n uur … en die nuwe skoene brand my. Ek gaan sit net vir ‘n wyle op ‘n leë tafeltjie agter in die klas … en die hoof stap verby die venster. Geen klop nie. Nou was dit ‘n onderons!

Ek stap af en op, op en af! Seker vir ‘n uur! Ek besluit ‘not a dem’! Ek gaan sit voor op die lessenaar. Raai wie stap verby en klop nie! Hy vra my nogal waar my skoene is? Ek’s kaalvoet! Ek sê dis in my tas!

In oom Jaap se kantoor het dié onderonsies en gespeurdery met ‘n langarmgroet einde gekry! Van daardie oomblik af het my professionele beroep begin momentum kry!
…. ‘n Maand of wat later kry ek ‘n oproepinstruksie! Ek moes Kimberley toe vir ‘n Kapteinskursus! Nogal in die komende vakansie!

Dit wás die moeite werk! Nie weer het ek in ‘n ‘bungelou’ probeer slaap nie, nee, nou was dit die Weermag se swierige Jack Hindon Hotel vir offisiere!

Ontbyt … agt-uur! (Nadat koffie sewe-uur in jou kamer bedien was). Geen geboendery nie!




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Maalkolk

deur Rachelle du Bois

Adele Coetzee will nie vir Francois Bekker as nuwe plaasbestuurder op Goedgeloofd hê nie. Sy kan self hul familieplaas bestuur. Francois is ‘n indringer en hoort nie op die plaas nie. Sy vertrou hom nie, maar Francois besluit dat hierdie tierwyfie getem moet word. Deon Kelder woon op die buurplaas Goedehoop en hy is verlief op die misterieuse nuwe onderwyseres by die plaaslike laerskool, Madri Viljoen. Waarvoor het die hoogsbegaafde Madri gevlug en wat kom maak sy hier op Heidelberg? Hy wil haar hê, maar dis toe nie so maklik nie, want haar pynlike verlede kom staan soos ‘n skim tussen hulle. En wie is Alex ….?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar