Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


BB-tabak en ou rook. Dis wat sy ruik toe sy die trap opklim. En iets anders, ‘n skerperige reuk. ’n Oumansreuk. Die rondaweldeur staan wyd oop.

Sy hoor Oupa is agter die gordyn, iets klingel in die kombuis.

Sy bly in die deur staan. Kyk dadelik op na die plakkaat teen die muur. ‘Santa Vorster – Die Swerwerskind’. Santa dra ‘n wit Stetsonhoed en ‘n blink fraiinghemp. Sy is 12. Suid-Afrika se eie blonde, blou-oog jodelprinsessie. Ons eie ‘cowgirl’.

Partykeer speel Oupa vir hulle kinders haar jodelplaat. Ander kere speel hy kitaar en mondfluitjie en sing as hulle stilsit op die mat. Dan kyk hy toe-oog dak toe en tappe-tap die maat met die een been. As sy keel droog word, vat hy sy blikbeker en gaan gooi in die kombuis vir hom ietsie in. Die kinders kan nie sien wat dit is nie. Maar dan sing Oupa baie lekkerder en tappe-tap hy met altwee bene.

“Vaal hare, vaal hare…”

Die mooiste vir haar is as hy op die boerekonsertina speel. Sy hou van die hartseerwals.

Die velskoene stap terug. Klaar geklingel.

“Jy het net sulke blonde hare en net sulke mooi blou oë soos Santa.”

Hy sit die blikbeker langs die geel Anadinbotteltjie neer.

“Dankie, Oupa! Speel vir my iets 'seblief?”

Hy skuif sy hoed oor die bles.

“Kom sit.”

Hy tel haar sonder moeite op sy skoot. ‘n Sewejarige meisiekind is nog net naaldekokervlerkies en grassprietjies. Hy kap-kap eers die mondfluitjie in sy hand. Asem dan die treurnote stadig in en uit. Kap-kap weer die spoeg uit, sit dit kan versigtig terug in die kassie.

Sy is bly sy het agter Oupa aangedrentel van die huis af. Die hele familie sit en kuier op die stoep. Party slaap nog, hulle het gisteraand tot laat nog gedans dat die stof trek. Oupa het saam met die boere-orkes in die skuur gespeel.

Hy stop sy krompyp met die duim. Tydsaam. Sy ruik weer die tabak. Dit ruik anders as die klam Burleytabak wat in hulle plaaskelder is. Daar ruik mens die nat grondwalle ook. Die swael van die vuurhoutjie brand in haar neus op. Hy vou die helder geel-oranje plastieksakkie netjies op en sit dit in sy bosak. Suig behaaglik.

“Kom ek wys vir jou iets lekkers.”

Sy klawerhande glip onder die blommetjiesrokkie in en verby die kantjiesrekkies. Verken eers saggies en dan meer doelgerig die vlindersagtheid. Eers net een BB-tabakvinger.

“Is dit lekker?”

Sy knik. Hy ruik bedompig. Na brandewyn.

“Nog?”

Sy wou hê dat hy vir haar konsertina speel…

* * * * *

Die rondaweldeur staan wyd oop. Tabak en ou rook. Dis wat sy ruik toe sy die trappie opklim. ’n Oumansreuk in die skemer. En iets anders, ‘n dooie reuk. Sy bly in die deur staan. Kyk lank na Santa se papiergeel fraiinghemp.

Die jodelplaat lê op die platespeler. Sy sit die grammofoonnaald in die derde snit se groef: ‘Somerdag Jodel’. Die plaat krap, maar die stemmetjie is nog suiwer.

Toe sy uitstap, vang haar oog die lang spinnerakke wat van die twee kruisbalke afhang, waar die kis vir dertig jaar gelê het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

BEGRAFNIS OF VERASSING - Wat se die Skrif daarvan?

deur Spannie

Hierdie baie kontroversiele vraag van ons tyd rakende die hantering van die menslike liggaam na afsterwe word onomwonde en baie duidelik aan hand van die Skrif en geskiedkundige bronne uiteengesit in hierdie volledige studiestuk. Liggaamsverbranding is baie duidelik 'n suiwer heidense gebruik en streng verbied in die Woord. Vloeiend geskryf, met baie interessante gegewens uit die geskiedenis van ons tyd is hierdie 'n boek wat mens moeilik neersit na jy begin lees het. 'n Moet vir elke ernstige gelowige van ons tyd.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar