Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Felicia stap met die trappies op tot by Tant Sophia waar sy in die middagsonnetjie sit. “Middag, Feliciatjie”, groet die ouer vrou vriendelik. Sy lig haar hand stadig in die lug op om haar susterskind te groet, maar haar krag het vinnig afgeneem na die ligte beroerte. Sy laat sak haar hand versigtig terug op haar skoot. Felicia soengroet haar op die voorkop. “Ai, kind”, kla tant Sophia, “kyk hoe vuil is jy!” Felicia glimlag en vee haar hande speels aan haar broek af.

“Ons het vandag die honde en hulle hokke gewas. Dit was baie werk. Ek moes vir Alfred vra om vir Rufus en Charlie vas te hou terwyl ek hulle gebad het.” Sy lag hardop. “Hulle is baie sterker as ek!” Tant Sophia glimlag. “Jy kan nie vir die diere by die DBV name gee nie, Felicia. Jy gaan vreeslik geheg raak aan hulle. Wat gaan gebeur as hulle ‘n huis vir die honde kry?” Felicia kyk na haar tone vol modderspatsels. “Rufus en Charlie sal nie sommer ‘n huis kry nie, tante. Die meeste mense soek kleiner tipe hondjies. Die twee worshondjies het darem elkeen ‘n huis gekry hierdie week, maar daar is ‘n steekhaarbrakkie afgelaai wat vreeslik uitgeteer en honger is.” Tant Sophia skud haar kop. “Ek is seker die diere waardeer jou omgee. Wat is in die sakkie by jou voete?”, verander sy die onderwerp.

Felicia gaan sit op die muurtjie naby haar. Sy tel die plastiese sakkie op en vou dit opgewonde oop. “Kyk wat het Debs vir my gegee, Tant Sophia. Sy wil dit nie meer hê nie.” Sy hou een paar skoentjies wat eens wit was, na haar tannie uit. Tant Sophia kan sien waarom hulle weggegee is. “My hartjie, wat wil jy daarmee maak?” Felicia glimlag. “Tant Sophia onthou daardie rokkie wat tannie vroeg die jaar vir my gemaak het? Voordat tannie siek geword het? Ek gaan dit more-aand na die dans toe aantrek. Saam met hierdie skoentjies.”

Tant Sophia kan nie verstaan waarom die kind so opgewonde is nie. “Dit het al beter dae geken ...” begin Tant Sophia walgooi. “Moenie tante bekommer nie, ek gaan hulle ‘n bietjie fix. Steven het my gevra om saam met hom te gaan, ek kan mos nie afgewater lyk nie.” Sy stamp speels teen tant Sophia toe sy van die muurtjie af opstaan. Nou glimlag die ouer vrou. “Ai, my kind. Jou ma sou so trots wees op jou. As jou pa net nie so ... ag, jy weet. Die drank ... Die tyd in die tronk ... Jy gee soveel liefde uit die bietjie wat jy gekry het ....” Sy sluk swaar. “Toe, loop nou. Ek het die kolwyntjies op die kas neergesit.” Felicia hardloop voordeur toe. “Ek het heeltemal vergeet van die cupcakes!”, skree sy in die voorstoep se rigting toe die gegate sifdeur agter haar toeklap.

Sophia sug. Sy verlang elke dag na haar suster wat ‘n paar dae na Feliciatjie se geboorte, amper 17 jaar gelede, oorlede is. “Komplikasies”, het die dokter stamelend probeer verduidelik. Sy het hier en daar probeer help om klere aan Felicia se lyfie te kry en te help met kos, maar Soois is nie die maklikste mens nie. Veral nie as hy ‘n paar drankies agter die blad het nie. Koppig en eiewys. Haatdraend. Skerp met die tong. “Swetsbek Soois”, noem die dorp hom.

Felicia is anders. Sy is nie soos haar ma nie. Sy is ook nie soos haar pa nie. Sy is haar eie mens. Positief. Liefdevol. Altyd ‘n sprankie hoop in haar, ten spyte van omstandighede.

Tant Sophia dink aan ‘n paar jaar gelede toe Felicia na skool by haar in die sitkamer kom sit het. Sy kon dadelik sien die kind is baie ernstiger as gewoonlik. Felicia het die kussing heen-en-weer op die bank geskuif. Rusteloos. Onseker. “Vertel my, ek luister”, het Tant Sophia sag gepor. “Daar het iemand vandag by die skool kom praat met ons. Sy was van ... ek ken nou nie meer waarvandaan nie ..., maar sy het met ons gepraat oor die lewe vorentoe. Of ons seker is ons gaan hemel toe en sulke goed. Sy het ook gepraat oor die dinge wat jou laat skaam kry oor wie jy is en waarvandaan jy kom ...”

Felicia het asem geskep. “Ek wil die beste van my lewe maak wat ek kan, Tant Sophia. Nie mammie se dood nie, nie pa se ... pa se ... pa se droogmaak nie ... niemand gaan my keer om te wees wie ek kan wees nie. Kan hulle?” Tant Sophia het haar styf teen haar vasgedruk. “Dit is wonderlike nuus, Feliciatjie. Jy is die tipe kind wat jou lewe kan omdraai. Jy hoef nie te bly wat omstandighede jou gemaak het nie.” Na daardie dag het Felicia geleidelik begin verander. ‘n Tipe geheime vasberadenheid was by haar te bespeur.

“Kom kyk, Tant Sophia”, onderbreek Felicia haar gedagtegang. “Ek het die eerste cupcake versier, maar dit gaan maar sukkel-sukkel. Dit is baie meer werk as wat ek gedink het, maar ek geniet dit. Kom sit by my in die kombuis, dan sê tante vir my hoe dit lyk.” Sy help Tant Sophia op en stap vooruit om die voordeur vir haar oop te hou. Tant Sophia is baie beïndruk. “Dit is pragtig, my kind. Waar het jy geleer om dit te doen?” Felicia glimlag. “Juffrou Malan het vir my ‘n boek geleen toe sy hoor ek wil help met die eetgoed vir die dans. Daar is prentjies van hoe ‘n mens die goed moet versier, maar myne lyk nie presies soos die prentjie nie.” Tant Sophia druk haar styf teen haar vas. “Jy het so ongelooflik baie gegroei hierdie laaste twee jaar. Ek is vreeslik trots op jou.” Sy vee ongemerk ‘n traan uit haar oë en stap sitkamer toe.

Vrydagaand breek uiteindelik aan. Felicia het die hakskoentjies met ‘n ou tandeborsel geskrop en hier en daar met ‘n tikkie wit tekkieverf opgeknap. Die sagte, wit rok vou vroulik om haar jongmenslyf. Sy staar na haarself in die spieël en haal diep asem. Sy moet haarself elke dag herinner dat sy nou op ‘n nuwe pad is, een wat heeltemal anders lyk as die een waarmee sy grootgeword het.

Die gelui van die voordeurklokkie laat haar skrik. Sy hoor hoe tant Sophia vir Steven groet. “Ek roep haar gou, my kind. Die koekblikke met die kolwyntjies staan in die kombuis, Felicia het baie hard daaraan gewerk.” Die matriekseun glimlag. “Ek sit dit solank in die kar, dankie tante.” Die twee tieners groet. “Ek gaan na ‘ant Suzie toe, hartjie. Ek sal eers later tuis wees. Julle sal seker nie baie vroeg terug wees nie, né?” Felicia giggel. “Tant Sophia, ons wag al so lank vir hierdie aand, ons gaan seker eers huis toe as die res van ons maats huis toe gaan.” Tant Sophia glimlag sag. “Geniet dit, my hartjie.”

Die skoolsaal is opgetooi in rooi, swart en silwer ballonne en tafeldoeke. Felicia haal versigtig die kolwyntjies uit die koekblikke en versprei hulle oor die tafels. “Dit is pragtig, Feliciatjie”, skerts Steven. “Sit die koekblikke onder die tafel, ek sal dit later kar toe neem. Kom, ons gaan groet Kerneels-hulle.” Die jongklomp klets en rinkink en rumoer die aand in. Daar word gelag en geskree en lawwe danspassies uitgevoer. “Jy is seker so dors soos ek!”, beduie Steven bo die lawaai vir Felicia. “Ek gaan vir ons koeldrank haal.”

Felicia stap saam met hom. Die tafels met die verversings is verder van die luidsprekers af en hier kan hulle mekaar darem hoor sonder om oor-en-weer te skree. Felicia wil die beker koeldrank nader skuif terwyl Steven twee skoon glase soek. Skielik val die beker uit haar hand. Sy probeer keer, maar ‘n groot deel van die koeldrank stort oor die tafeldoek.

“Ag nee, Feliciatjie, mens kan sien Oom Swetsbek Soois het jou probeer grootmaak. Jy het maar nog altyd ‘n lomp handjie aan jou gehad, van kleuterskool af.”

Sy probeer angstig die skoon glase wegskuif terwyl Steven se woorde haar koggelend terugsleep na die verlede. Dit voel of hy verby die mooi aand, haar pragtige rokkie en veelkleurige cupcakes kyk en net die groen koeldrank raaksien wat in straaltjies oor die rooi tafeldoek tot op die vloer drup. Felicia wil vlug. “Ek ... uhh ... verskoon my asseblief.” Sy draai om en stap weg. Steven loop vinnig agter haar aan. “Felicia, wag ... ek het net ‘n grappie gemaak. Kom nou, Felicia, jy weet mos ek spot net oor sulke simpel goed. Ek is baie mal oor jou.”

Felicia stop en kyk stil na hom. “Hoe ek grootgemaak is, is ‘n deel van my lewe wat ek baie hard probeer om te vergeet, Steven. Dit is nie jóúne om daarmee te spot nie.” Die trane lê vlak onder haar ooglede. “Al wat ek vra, is om aanvaar te word vir wie ek nóú is. Hoekom moet jy elke nou en dan my verlede in modderhopies bymekaar maak en my daarmee gooi? Ek praat elke week met my pa, is dit nie al genoeg herinneringe nie?” Steven wil daarop reageer, maar Felicia het alreeds tussen ‘n groepie kinders verdwyn.

Sy stap stadig by die saaldeur uit en versigtig met die trappies af tot by die skoolhek. Dan begin sy hardloop. Haar bene kies kortpad deur die veldjie langs die skoolgrond. Sy hardloop totdat die brandpyn in haar bors en die draadheining haar tot stilstand dwing. Sy wurm deur die draad. Die vorige keer toe sy kortpad deur hierdie veldjie gevat het, was sy baie kleiner. Sy sukkel om deur te klim. Haar rokkie haak vas aan die draadjies en sy pluk om dit los te kry. 'n Flentertjie wit materiaal bly astrant aan die draad agter. Felicia hardloop nie meer nie. Sy stap in die stofstraatjie af en links met die eerste straat tot by die skewe posbussie met ‘n nommer 4 daarop.

Gelukkig is Tant Sophia nog nie tuis nie. Felicia is nie nou lus om te verduidelik nie. Sy gaan sit op die stoeptrappie, leun teen die pilaar wat lankal smag na ‘n lagie vernis en trek haar skoene uit. Die een gespe het gebuig toe sy deur die doringdraad geklim het en sy sukkel om dit los te kry. Sy vou die geskeurde deel van haar rok om haar bene en trek haar kniee tot onder haar ken.

Trane loop vrylik oor haar wange. Sy staar na die maan wat skaam deur die blare loer. Sy wonder oor die pad wat haar lewe geloop het tot hier en die kronkels wat nog voorlê. Hoe kan ‘n mens hierdie seerkry en swaarkry in jou binneste doodkry? Sy dink aan die nooduitgang wat die meeste mense volg – drank, dwelms, selfmoord. Sy kan verstaan waarom mense dit doen, maar dit is nie die pad wat sy wil volg nie.

Onsimpatieke omstandighede met vasberade, klam arms stoot haar in die rigting van die nooduitgang. “Dit is nie die oplossing nie”, prewel sy sag. Sy dink aan Steven. Hulle ken mekaar vandat sy kan onthou. Van al die mense in haar lewe, behalwe Tant Sophia, is hy die enigste persoon wat regtig weet van alles wat in haar lewe gebeur het. Hoe die lewe haar gerasper het, soms deur ‘n versapper gedruk het. Sy was, voor vanaand, oortuig dat hulle lewenslank vriende sou wees. En nou?

Die trane voetpad weer oor haar wange. Sy vou haar arms nog stywer om haar bene en verberg haar kop in haar rok terwyl sy hardop begin huil. Realiteit stoot haar halstarrig nader aan die nooduitgang: die enigste persoon wat sy wil hê haar moet beskerm, is dieselfde persoon wat haar so maklik daaraan herinner dat sy dalk éintlik niks meer as Swetsbek Soois se kind is nie ...

“Feliciatjie?” Sy skrik. “’Naand tante, hoe laat is dit?” Tant Sophia bespeur die gesiggie voor haar. “Dit is skuins voor tien. Wat is fout my hartjie?” Felicia trek haarself regop en skud haar rokkie effens af. “Niks, tante.” Sy sluk. Tant Sophia sluit die voordeur oop en wag vir Felicia om verby te stap. “Jy lyk ontsteld, kind. Wat het gebeur?” Felicia loop effens stadiger, gaan dan stilstaan. “Dis my rok, tante, dit het effens geskeur. Ek is jammer.” Sy trek Felicia nader en druk liggies haar hand. “Dis al’s reg, ek sal dit vir jou regmaak.” Sy staar Felicia agterna terwyl sy in gang verdwyn en sug onhoorbaar. Sy wonder of sy ooit gaan weet wat werklik vanaand gebeur het, maar sy ken Felicia goed genoeg om te weet dat sy op haar eie tyd daaroor gaan praat. Indien ooit.






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

ENGELE EN ROWERS

deur Piet Schoombie

Vier-en-twintig lekker lees kortverhale, sketse en artikels oor uiteenlopende temas en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar