Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Een van die eerste plase wat jy kry as jy by die Njelele vallei kom, is dié van Helmut Veenstra. Die bordjie sê Skytdrif, maar dis die werk van kwajongens wat uit Messina kom vry het na Helmut se voorman se dogters. Die eintlike naam is Skutdrift, maar niemand weet regtig wat dit beteken nie.
'n Gesiene boer is oom Helmut. Kort van gestalte en ewe kort van draad, maar hy is besonder geseën met vier plase, drie dogters, twee seuns en 'n besondere vrou, tant Lenie met "n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk, en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan." Nie 'n tannie wat skroom om haar sê te sê nie. "Jy moet maar weet, ek is reguit .." sê sy dikwels en laat waai dan sonder aansiens des persoons.
Die oudste seun is Andries. . 'n Oulike man, die Andries. Fluks, op die man af in alles wat hy doen, 'n aanwins vir die boerdery en die gemeenskap. Nie kortgebakerd nie, eintlik 'n gemoedelike jong kêrel van so in sy middel dertigs. En ook nie 'n kort mannetjie nie soos pa Helmut nie.
Langs die plaas se lemoenstoor, teen die grootpad, rig Andries toe ook ‘n plaaswinkeltjie op waar mieliemeel, seep en allerhande ander plaasbenodighede te koop aangebied word. Met twee winkelassistente.
Daar is egter een ding wat Andries sleg hinder. Sondae as die dominee die wet lees, en hy kom by die deel oor begeer, het Andries sy kop laat sak. Hy het 'n geweldige begeerte om 'n model T- fordjie te besit en hoewel hy meer as genoeg geld had om een te koop, kon hy nêrens een kry nie - altans, nie teen 'n prys wat hy as billik beskou het en wat hom nie die gramskap van pa Helmut op die hals sou haal nie. Pa Helmut kan besonder ongemaklik raak oor geldmors.
In die omgewing is daar wel so 'n fordjie - so 'n rooie met swart modderskerms en 'n verkoeler van geelkoper. In Andries se oog die voorwerp van groot begeerte. Die sonde is net, die fordjie behoort aan ene tant Vya wat besonder heilig is op haar karretjie.
Andries is 'n baie aktiewe lid van die Veteraanklub op Louis Trichardt. Eendag het hy die fout gemaak om die ander dertig lede te vertel van tant Vya se fordjie. Die onmiddellike reaksie van die lede was om aan te dring op die tante se telefoonnommer en sommer die adres ook, met aanwysings na haar plaas toe. Ook hulle het die fordjie as 'n gesogte voertuigie beskou. Net daar swyg Andries toe en rep nie weer 'n woord nie. Hierdie manne het geld en hulle het nie 'n pa soos oom Helmut wat buite weste opgewonde kan raak oor onnodige geld uitgee nie.
Tant Vya is die enigste persoon vir wie Andries se stiefma versigtig is en oom Helmut het ook seker gemaak dat hy haar vermy, later tyd toe hy kandidaat was vir 'n politieke party en kontak moes maak met "sy mense." 'n Formidabele ou dame was tant Vya, met 'n tong soos 'n skeermes, 'n humeur baie erger as oom Helmut s'n en 'n woordeskat wat 'n tronkvoël sy ore sou laat spits om sy repertoire uit te brei.
Tant Vya bly nie in die vallei nie. Haar plasie grens aan die Van Rooys daar waar die water skaars is en die windpompe ver uitmekaar. Weduwee-alleen boer sy met 'n paar bokke, drie koeie en 'n paar beddings groente so langs die windpomp. Arbeiders het sy nie, die laaste een is een oggend, nadat die tante 'n slegte nag gehad het, in groot haas van haar plekkie af weg en het nooit weer teruggekom nie.
Een keer per maand slinger sy haar fordjie aan die gang en ry mooi in die middel van die pad na die winkel toe om 'n sak mieliemeel te koop. Dis dan dat Andries se begeerte van voor af gaande raak - by die aanblik van daardie begeerde karretjie van die tante. Dis dan dat hy al sy moed bymekaarskraap en haar vir die soveelste keer nader, versigtig dagsê en gesels oor die mooi dag en die reën wat naderhand moet kom. Alles nou ter inleiding voordat hy die saak van die fordjie aanroer.
En elke keer spring tant Vya hom voor. "Dit help nie jy praat hier str**t met my nie," sê sy lank voordat hy by die eintlike saak kan kom. "Ek wil nie my kar verkoop nie. Los my uit, jy het mos 'n f*** kar en 'n lorrie en goed." Dan kyk Andries haar verlangend agterna as sy in die rooi forjie met die swart modderskerms terugry, so al in die middel van die pad langs. Toe sy nog na hom geluister het, het hy sy aanbod gemaak en dit later opgeskuif - drie honderd rand, toe vyf honderd, naderhand duisend rand. Tevergeefs. En nou wil sy nie eers luister as hy haar nader nie.
Toe kry tant Vya die ongeluk en die fordjie word afgeskryf. Op pad van die winkeltjie by Skytdrif na haar plaas toe, loop die pad met so 'n kinkel oor 'n rantjie - so 'n sterk opdraand met 'n halfwas pas. Wal aan die een kant en afgrond aan die anderkant van die pad. Hier het sy met die fordjie afgeval. Al wat nog hierna bruikbaar was, was die wiele - die res opgefrommel en alles windskeef.
Latertyd het Dominees haar verduideliking oorvertel. "Ek ry nog so," het sy vir die leraar vertel, "toe sien ek die f**n kar kook. Daar het stoom uit die ry-die-yster gekom en toe voel ek my voete word nat. Toe ek nou wil kyk wat se water is hier by my voete, toe ry ek van die pad af, en ek sê: 'Here, vat die wiel.' En toe, Dominees, toe vat die Here die wiel en hy donner die kar daar teen die afgrond af." Ewe verwytend was die tante, vertel Dominees later.
Ewenwel, sy het toe plaas toe gestap, twee donkies gaan haal met 'n ketting en die fordjie aangesleep na haar huis toe - gelukkig het hy op sy wiele te lande gekom. Nadat sy die donkies losgehak het, het sy 'n telefoonoproep gemaak Tshipise toe, maar eers vir die meisie op die sentrale ernstig vertel wat met haar sal gebeur as dalk daaraan sou dink om af te luister.
Daarmee klaar, span tante Vya haar donkiekarretjie in en ry langsaam na die winkeltjie toe. Hierdie keer het sy nie die leisels in die Here se hande toevertrou nie. Sy het hulle self vasgehou om seker te maak daar kom nie weer 'n agterlosige fout nie.
Sommer duskant die winkeltjie sien sy vir Andries besig by die lemoenstoor en sy wink hom nader. "Wil jy nog my karretjie koop, Anneries?" vra sy.
"Ja, Tante!"
"Orraait. Twee duisend pond. Gee."
Die tante bedoel rande en nie ponde nie, weet Andries. Maar twee duisend! Dis bietjie rof. "Twee duisend, Tante?" herhaal hy om tyd te wen.
Tant Vya skud die leisels. "Kom, donners," sê sy vir die donkies. "Dan ry ek maar, Anneries," voeg sy by.
"Wag Tante!"
Sy trek die donkies tot stilstand en kyk afwagtend na hom.
"Hoekom ry tant Vya nie met die fordjie nie?" wil Andries weet. "En waar gaan tante heen?"
"Die ry-die-yster is stukkend," antwoord sy en verswyg dat die verkoeler eintlik onherkenbaar gebuig is saam met die res van die kar. "Ek kan nie met hom ry nie."
Andries dink nie lank nie. Hy sal wel by oom Helmut verbykom, en dink net die manne van die klub se gesigte ... Oom Boardman van die garage op Tshipise sal wel die lekplek in die verkoeler kan toesoldeer ... "Goed Tante," besluit hy. "Ek sal vir tante 'n tjek stuur."
"G'n donner tjek nie," reageer sy. "Ketant. Nou."
"Goed," sê hy haastig. "Kom tot by die winkel, Tante. Ons maak die tjek sommer daar klein."
Kort daarna het tante Vya twee duisend rand in haar handsak en sy sit gereed op die donkiekar.
"Waar gaan tante heen? Kan ek nie vir tante wegbring nie?"
"Nee. Ek gaan na my suster toe daar annerkant Tshipise. Hulle het 'n sjefkar wat hulle wil verkoop."
"Maar dis seker tien-twaalf kilometer ..."
"Moenie f***n k*k soek nie," snou sy hom toe, skud die leisels en skommel weg met haar donkiekar in die middel van die pad.
Sy bly drie weke weg voordat sy met 'n antieke Chevkarretjie terugkom en haar stil gaan terugtrek op haar plaas. Die telefoon word by die battery gediskonnekteer en die voordeur bly toe, nadat sy nou klaar gemelk het in die more en die bokke versorg het.
Dit kan nie so aanhou nie, en mettertyd moet tant Vya mieliemeel hê, en bietjie sout, en 'n paar ander goed wat dae gelede al klaar geraak het. Sy ry na die winkeltjie toe en parkeer die Chevvy so 'n dertig tree weg onder 'n boom. Vandag klim sy met 'n kierie uit die kar, soos 'n soldaat wat slaggereed is, en kyk waaksaam rond.
Toe sy egter by die winkel instap, kom Andries net uit en hulle loop mekaar op die stoep raak. Tante Vya lig haar kierie waarskuwend. Andries is egter die ene hartlikheid.
"More, Tante," groet hy met 'n breë glimlag. "Lanklaas vir Tante gesien."
"En nou pomp jy seker moer?" vra sy strydlustig.
"Tante het my darem lekker gevang met die Fordjie."
"Waar's hy nou?"

"Tante, ek het hom gaan haal daar op tante se plaas. Toe maak ek honderd lootjies en verkoop hulle vir twintig rand elk. Ek het gesê dis vir die kerkbasaar. Ek het almal verkoop op Louis Trichardt en Messina. En net die ou wat gewen het was moerig toe hy sy kar kom haal. Toe gee ek hom sy twintig rand terug, saam met die wrak, en toe is hy doodtevrede ..."



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Tant Vya se fordjie
So maak mens geld met 'n wrak! lekker gelees.
5 jaar 3 maande 1 week 3 dae 21 ure oud


Tant Vya se fordjie
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die BOUVAL EN WRAK projek.
5 jaar 3 maande 1 week 3 dae 23 ure oud



Gebroke Harts Gebede

deur Anze Bezuidenhout

Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar