Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Toe Tooi Krogman die Kalahariplaas naby Aroab in 1971 gekoop het, het hy dit volkome in die geloof gedoen. Die land het gebuk gegaan onder een van die ergste droogtes nog en dit was waarskynlik daarom dat hy die plaas daardie tyd so goedkoop kon bekom.

Dit was hy, sy vrou Lena en hulle seun Gerhard. Die seun is eers gebore toe Tooi alreeds veertig jaar oud was en Lena nege-en-dertig. Dit was ‘n baie moeilike geboorte en na Gerhard se geboorte was Lena nooit rêrig weer gesond nie. Die gevolg was dat sy later behandeling by ‘n spesialis in die Kaap moes ontvang. Gelukkig het Lena se ouers in Somerset Wes gewoon, anders sou die uitgawes mettertyd vir Tooi ingehaal het. Soos dit was, het haar behandeling en medisyne alreeds ‘n groot hap uit sy spaargeld gevreet. Maar, al wou hy ook hoe graag naby haar wees, was dit net nie prakties nie. Hy was ‘n boer en om na sy sieklike vrou te kon omsien en vir hulle seun te sorg moes hy sorg dat die boerdery aangaan.

Soos die landwye droogte voortgeduur het, het die boorgate op die buurplase opgedroog en moes van die boere begin om van hulle kuddes ontslae te raak. Tooi het een van die ou boorgate tussen die duine skoon en dieper gemaak en daarna, ondanks die landwye droogte, het hulle lekker sterk en goeie water gehad. Daar was meer as genoeg water vir huisgebruik asook vir die troppie Karakoelskape wat hy vir teeldoeleindes uitgehou het en ‘n paar uitsoek Persieskape waarvoor hy besonder lief was. Hy’t weiding aangeplant en waar nodig voer uit Upington se wêreld aangery en toe die droogte uiteindelik in 1974 breek, het hy ‘n sterk genoeg kernkudde gehad om aan die gang te kon kom.

Die aanvraag na karakoelpelse, uit veral Skandinawië, was op daardie stadium bo verwagting goed en die pryse dienooreenkomstig ook. Met harde werk en oordeelkundige beplanning het hy geleidelik gegroei tot een van die sterk boere in die omgewing. Lena se toestand het intussen so verbeter dat sy kon huistoe kom en vir ‘n hele paar jaar daarna was daar weer vreugde en lewe op die plaaswerf. Tooi se Persieskape maak skoonskip op die Keetmanshoop en later Windhoek skoue, sodaning so dat sy ooie begin het om rekordpryse op veeveilings te behaal. As boere na Persieskape gesoek het, dan het hulle eerste vir Tooi gekontak.

Toe Gerhard sestien jaar oud is sterf Lena onverwags na ‘n skielike terugslag. Vir beide die jong seun, wat baie naby aan sy ma was en vir Tooi wat Lena se kalmerende invloed op sy lewe nodig gehad het, was dit ‘n gevoelige slag. En, in pleks daarvan dat die twee nader aan mekaar beweeg en op mekaar steun, groei pa en seun geleidelik weg van mekaar af. Aan die een kant blameer Gerhard sy pa se beheptheid met die boerdery vir sy ma se dood en aan die anderkant blameer Tooi homself vir sy vrou se dood. Niks daarvan is natuurlik die waarheid nie. Om te probeer vergeet, gooi die ou homself hart en siel in die boerdery in en, tot groot vreugde van sy bankbestuurder, groei sy bankbalans feitlik daagliks.

Intussen is Gerhard universiteit toe waar hy na agt jaar se studie (ingesluit ‘n jaar of twee se “social”), alles natuurlik op pa se koste, uiteindelik ‘n doktorsgraad in Landbou verwerf. Sy doktorstesis het gehandel oor die negatiewe uitwerking van die Karakoelbedryf op die groei van landbou in Suidwes Afrika (soos die land op daardie stadium bekend was). Ironies genoeg was dit juis die Karakoelbedryf wat vir sy studies betaal het.

Die hooggeleerde Gerhard kom neem weer sy intrek op die plaas. Die seun het intussen verloof geraak aan die snobistiese Marizaan Bentley, jongste dogter van een van die oposisieleiers in Suid Afrika. Sommer gou word daar koppe gestamp, want Gerhard sien soveel ruimte vir verbetering op sy pa se argaïese boerderymetodes.

Ter wille van die vrede besluit oom Tooi om vir Gerhard op die hoofplaas te laat boer terwyl hy sak en pak oortrek na die buurplaas wat hy ‘n paar jaar tevore bekom het. Om hom te help om aan die gang te kom betaal oom Tooi ‘n honderd-duisend rand in Gerhard se bankrekekening in en koop vir hom ‘n nuwe Toyota Landcruiserbakkie. Die plaashuise was binne loopafstand van mekaar en daarom het oom Tooi elke namiddag by Gerhard kom aandete eet. Tydens die etes het Gerhard in detail uitgebrei oor sy boerderyplanne en alles wat hy in gedagte gehad het. Oom Tooi kon maar net sy kop skud, want boekgeleerdheid was goed, maar die boeke het nie die wispelturigheid van die Kalahari soos hy geken nie. Aan die anderkant van die lyndraad het die ou man intussen voortgegaan om van krag tot krag te groei, al was sy grond toe heelwat kleiner.

Twee jaar nadat Gerhard teruggekeer het plaas toe, trou hy en Marizaan tydens ‘n spoggeleentheid op ‘n landgoed naby Johannesburg. Oom Tooi kon ongelukkig nie die troue bywoon nie omdat hy op daardie stadium in die hospitaal was na ‘n ligte beroerte.

Toe die pasgetroudes van hulle wittebrood af terugkeer was oom Tooi al klaar weer volstoom aan die woel en werskaf aan sy kant van die draad. Marizaan het sommer van meet af aan met die ou man vasgesit. As Gerhard saans by die huis kom het sy altyd iets gehad om oor te kla. Sy’t planne gehad om ‘n nuwe tuin aan te lê en toe sy na die werkers soek wat haar moes help, toe’s hulle besig om vir sy pa te help. Haar pedigree Walliese Corgi is so hittete deur sy pa se boerboele opgevreet. Die rook van die vuilgoed wat sy pa verbrand het alles in haar huis na rook laat ruik. Die vrou wat sy pa oorgestuur het om haar in die huis te help het haar nuwe tabbert met die strykyster gebrand. Sy pa nie gesond nie en as hy nou, terwyl Gerhard in die veld was, ‘n hartaanval of weer ‘n beroerte moes kry, wat sou sy vroualleen kon doen? Sy’t nie van sy eenvoud gehou nie en as hulle vername gaste ontvang, wou sy nie dat hy dalk ongenooid daar by hulle aan huis opdaag nie. En, so het die treurmare hom dag vir dag begroet. Gerhard was baie lief vir sy eks-model vroutjie en daarom het hy met sy pa gaan praat. Oom Tooi het op daardie stadium nie meer by hulle aan huis gekom nie omdat Marizaan nie kans gesien het om elke aand vir die ou man ook kos voor te berei en na sy praatjies uit die ou dae te luister nie. Sy’t vergeet om te sê dat sy nie eers geweet het hoe om botter op brood te smeer nie.
Ter wille van die vrede, en omdat hy gevoel het dat sy kragte nie meer is wat dit voorheen was nie, het hy onderneem om sy boerdery op te gee en sy stoetkudde op ‘n veiling te verkoop. Gerhard het nie werklik in die Persies en die Damaraskape van sy pa belang gestel nie omdat hy met Witkopdorpers geboer het. Die man wat oom Tooi se Persieskape daardie tyd gekoop het, se stoetery is steeds vandag een van die voorstes in die land.

Drie maande later boek oom Tooi met sy twee verweerde tasse by die ouetehuis op Keetmanshoop in. Sommer gou is hy ‘n gewilde inwoner met sy gevatte opmerkings, stories en aangename geaardheid. Skaars drie maande daar of hy word as ouderling beroep en omdat hy voel hy kan ‘n positiewe bydrae maak, neem hy die beroep aan.

Ses maande nadat hy van die plaas af weg is kom Gerhard hom op ‘n dag oor ‘n ernstige aangeleentheid sien. Dis die eerste werklike besoek wat hy van sy seun ontvang as ‘n mens die tweekeer wat hy vinnig kom inloer het buite rekening sou laat. Gerhard wou sekere ontwikkelings op die plaas aanpak en daarvoor het hy ‘n halfmiljoen rand nodig gehad. Oom Tooi het nie besware gehad nie, solank die transaksie met ‘n wettige kontrak beklink word. Gerhard het wal gegooi op die grond van familiebande, maar omdat hy die verleë party was, het hy uiteindelik daartoe ingestem. Alhoewel daar geen termyn vir terugbetaling op die kontrak bepaal is nie, groei die lening nietemin teen ses persent per jaar op die uitstaande saldo. Indien die ou man tot sterwe sou kom voordat die lening terugbetaal was, sou dit as uitstaande skuld teen die boedel beskou word.

Vir tien jaar was oom Tooi ‘n geliefde inwoner van die tehuis en ‘n bekende op die dorp wanneer hy met sy kierie straat-af gekuier het en by elke besigheid geselsies aangeknoop en grappies uitgeruil het. Dan was hy natuurlik ook ‘n staatmaker in die ouderlingsbank.

Een aand, in sy slaap, sterf oom Tooi Krogman op die rype ouderdom van een-en-tagtig. In die tyd wat hy in die ouetehuis gebly het, het sy seun hom, behalwe vir die dag dat hy kom geld leen het, net vyf keer vlugtig besoek. As Marizaan die dag saamgery het, het sy gewoonlik in die motor bly sit. Oom Tooi het nooit sy twee kleinkinders gesien nie en sedert die dag dat hy in die ouetehuis ingetrek het, het Gerhard hom vir die eerste drie jaar op sy verjaarsdae en op Kersfees gebel. Daarna was dit maar hy wat geskakel het en gewoonlik redelik kortaf aan die ander kant begroet is.

Gerhard, Marizaan en die twee kinders was in Griekeland toe oom Tooi begrawe is. Die kerkgebou was amper te klein vir al die mense wat die begrafnis daardie Vrydagoggend bygewoon het.

Dit was ‘n deftige Marizaan wat saam met haar man, Gerhard die oggend in die prokureur se kantoor plaasgeneem het. Sy het nie die gryskopdame, wat in die derde stoel gesit het, geken nie, en sy’t ook geen behoefte gehad om haar te wil ken nie.

Jan Booysen was vennoot in die besigheid wat al die jare oom Tooi se sake behartig het. Hy het die testament uit die wit koevert uitgehaal en na die amptelike inleiding op die dokument het hy die begunstigdes se toekennings uitgelees.

“Aan my seun, Gerhard laat ek my ou Mazda bakkie na. Ek weet dat al sy voertuie op huurkoop is en daarom sal hy ‘n kar nodig hê om sy goed van die plaas af weg te ry. Hy’t vergeet dat hy ‘n pa het en daarom kan ek nie sien waarom ek hom na my dood moet onthou nie. Hy’s ‘n fluks jong man en hy behoort wel êrens ‘n werkie te kry sodat hy die geld wat hy nog aan die boedel skuld kan terugbetaal.

Aan Marizaan wat my nooit wou erken as haar skoonpa of as die oupa van haar kinders nie, laat ek my twee ou tasse na. Sy sal iets nodig hê om haar goed in te pak as sy van die plaas af trek.

Aan die trust van die ouetehuis, hier verteenwoordig deur mevrou Burger, die matrone, laat ek al my plase en besittings na. Die geld moet aangewend word om die behoeftige inwoners en ander behoeftige oumense op die dorp te help. Hierdie ou klomp was meer as bereid om vir my liefde te gee toe my kinders gerieflikheidshalwe van my vergeet het.

Laastens wil ek graag hê dat daar ‘n lekker opskop en partytjie vir al die werkers en inwoners by die ouetehuis gereël sal word. Dit moet iets spesiaals wees vir die mense om te onthou en daarom mag geen kostes in die aanbied daarvan ontsien word nie.”

Marizaan het die prokureur se kantoor in soveel vernederde-woede verlaat dat sy een van haar Italiaanse skoene se hakke op die trappies voor die ingang gebreek het om op haar agterstewe op die sypaadjie te beland. Sy was vuur en vlam om die testament te betwis en het ‘n duur prokureur uit Johannesburg gekry om die saak te hanteer. Ongelukkig was hulle optrede teenoor die ou man hulle eie ondergang. Verder was daar ‘n dokument wat Gerhard geteken het, daardie tyd toe oom Tooi na die ouetehuis toe is, waarin hy erken het dat hy net vruggebruik van die plase het solank as wat sy pa gelewe het. Oom Tooi het ook op geen stadium, mondelings of skriftelik, te kenne gegee dat die plaas aan hulle behoort het nie. Hy was by sy volle positiewe toe hy in die teenwoordigheid van die bankbestuurder en die prokureur die testament opgestel en geteken het. En, omdat Gerhard reeds op ‘n oortrokke rekening gefunksioneer het, was daar ook geen hoop dat hy die eiendom sou kon uitkoop nie.

Marizaan is terug na haar ouers toe en het die egskeidingsdokumente laat aflewer daar waar Gerhard ‘n buitekamer gehuur het. Die salaris wat hy as junior navorser verdien het by die Ministerie van Landbou het nie toegelaat dat hy duurder akkommodasie huur nie, veral nie omdat hy nog moes terugbetaal aan die uitstaande lening plus ‘n hele paar jaar se opgehoopte rente nie.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ter wille van die vrede
Wat kan 'n mens sê? Ek het hierdie verhaal so geniet. En gebeur hierdie dinge nie so baie nie. Dankie ek het dit baie geniet.
7 jaar 3 maande 2 weke 1 uur oud



slavin

deur Maangodin

Annelise, die skrywer van Maanvrug, is terug. Ná haar eksoties-metafisiese reis deur die hiernamaals in Weerloos speel slavin weer in die bekende wêreld van hedendaagse Suid-Afrika af. slavin bevraagteken die definisie van normale seks en die aanvaarde sienings oor seksualiteit. Dit streel en verlei, daag uit en wonder. slavin is weereens net vir volwassenes. Eroties Afrikaans.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar