Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek was ‘n tweedejaar student op Stellenbosch en een aand in Julie sou my lewe radikaal verander met net ’n klop aan my kamerdeur. Dit was my woonstelmaat. Met ’n pleitende uitnodiging het sy om die deur geloer op soek na ’n partner in crime vir ’n aandjie uit in die dorp. Ek, kaalvoetkind van Namakwaland, wat in die gemak van ’n jean en tshirt ’n glasie wyn om ’n braaivleisvuur verkies, het my daai aand laat ompraat vir Afrikaansaand in Nu’Bar met skinny jeans en high heels en ’n toppie met hals so laag dat ek nou nog die koue op my ‘longe” kan voel.
Vir ’n inloer en ’n vinnige skemerkelkie daarby, stop ons eers by ons buurman wat ons soos altyd, vriendelik ontvang en binnenooi. Dis daar waar ons eerste oogopslag plaas gevind het, maar met absoluut geen liefde nie, eerder iets soos ’n ongemaklike elektrisiteit. Dit was hier wat ek die liefde van my lewe sou ontmoet. Toe ons by die klein sitkamertjie instap het hy op die bank bly sit. Sweetpak en pantoffels aan. Mussie oor die oë getrek en voete op die tafel. Die buurman het ons aan sy vriend voorgestel, maar die vriend het bly sit. Net geknik en ’n aangename kennis gemompel.

Ek het dadelik niks van hom gehou nie, want so ombeskof en sonder maniere het ek lanklaas ’n man teë gekom. Ek meen, ons kom daar ingesweef op walms selfvertroue en parfuum en hy knip nie eens ’n oog nie. Die feeling was mutual, want die kyke wat ek uit sy rigting gekry het die res van die tyd wat ons daar was, het my goed laat verstaan ons is nie sy tipe geselskap nie. Die lae hals toppie het skielik nog kleiner gevoel en die stywe broek het elke boud en bult vetter vertoon. Ongemaklik is ’n understatement vir hoe hy my laat voel het. Ek het seker vir hom gelyk soos ’n maklike meisie op ’n missie om ’n man te vang. Die kuiertjie by ons buurman was van korte duur en toe ons uiteindelik Stellenbosch se strate invaar saam met die ander jong kuierlywwe, was my lus vir kuier heeltemal weg. Daai bevooroordeelde oë onder die mussie het heelaand by my gespook. En in die dae wat gevolg het, want ons het die pantoffel en mussie vent gereeld daarna gesien.

Hy was elke keer in die woonstel langsaan as ons vir buurman gaan kuier het of buurman het hom saamgesleep wanneer hy kom koffie drink het by ons middae na klas. Al het ek niks van hom gehou nie, het ek maar vir hom ook koffie aangedra, want ek is nie sonder maniere grootgemaak nie. Sy houdingtjie was egter onveranderd en ons het daarmee vrede gemaak. Ons het hom aanvaar as die buurman se weird vriend. Ek was nie meer so ongemaklik om hom soos aan die begin nie, maar ek het steeds my afstand gehou, want daar was iets in sy oë wat my binneste nog effens onrustig gemaak het.

Hoe meer ek van hom gesien het, hoe groter het die onrustigheid geword. Dit het soos donderwolke opgesteek en begin baie word. Omdat hy my ontuis in my eie vel laat voel het, wou ek nie in dieselfde vertrek as hy wees nie, maar wegbly van hom af kon ek nie regkry nie. Iets het my aangetrek na hom toe. Daai iets in sy oë. Die donderwolke in my het saamgepak en ’n storm laat opsteek toe ek op ’n dag weer ’n uitnodiging kry vir ’n aandjie uit. Dié keer was dit vir ’n vasdans kuier by Opskop. Meeste van ons Namakwalandse kinders word op ’n dansbaan groot en dis min dat ek so ’n uitnodiging van die hand wys, maar daai aand het ek reggemaak om by die huis te bly, want die buurman se vriend was ook onder die genooides. Laat die middag het ek voor my kamervenster gestaan en dagdroom toe buurman en sy vriend in die straat verbyloop. Hy het opgekyk, reg in my oë sodat ek weer daai iets gesien het. Binne my het die storm gekriewel en ek het weg van die venster gedraai om in my kas ’n gepaste outfit vir die aand te gaan soek.

By Opskop aangekom, skiet die groep in die rigting van ons bespreekte tafel. Treurig was die noodlot toe ek heel laaste by die tafel aankom en die enigste oop sitplek langs my buurman se vriend is. My boude was skaars op die stoel, toe die storm binne my met alle mag en krag losbreek, want die buurman se vriend het met my gepraat! Hy het vir my ’n glasie wyn aangebied uit sy boks Four Cousins Rosé. Of die vier nefies dalk iets met die storie te doen gehad het, weet ek tot vandag nie, maar dit het nie meer weird gevoel om in sy geselskap te wees nie. Deur die loop van die aand het ons twee stoele nader aan mekaar geskuif. Ek het geleer dat die buurman se vriend nie net ordentlike gesprekke met ’n mens kan voer nie, hy kan dans ook! Teen die einde van die aand was die stoele styf teen mekaar en die boks rosé leeg.

Soos ons die kuierplek verlaat en uitbeweeg na die voertuie toe, kom die plan van aksie deur: afterparty by buurman se woonstel. Ek en buurman se vriend beland saam op die agtersitplek in een voertuig. Op pad terug huis toe, ontmoet ons monde mekaar en daai iets wat in sy oë gesit het, sak af in sy lippe. Ek was gevang. Hoek, lyn en sinker. By buurman se woonstel aangekom, was daar geen teken van die ander of ’n verdere gekuiery nie. Toe hou ek en buurman se vriend ons eie afterparty.

Die spyt het saam met die eerste strale van die son oor my kom lê toe ek die volgende oggend my oë oopmaak. Sy arm was om my middel en ek was die klein lepeltjie. Sonder om hom wakker te maak, het ek versigtig onder die kombers probeer inloer. My verligting was groot toe ek die vorige aand se outfit nog net so aan my lyf sien. Niks te ernstig het gebeur nie, maar selfs al was dit net ’n gevry en gevroetel, alle eennag-affêres eindig op dieselfde manier. Jy word wakker, maak jouself, klere en besittings bymekaar, sê nee dankie vir die koffie en maak dat jy wegkom. Wanneer hy die deur agter hom toetrek, weet jy dat dit die laaste keer is wat jy hom sien.

En daar lê ek toe in die arms van my eennag-affêre en wag dat hy moet wakker word sodat die awkardness kan begin. Dat hy sy arm van my lyf af moet haal, onder die kombers uitwikkel en met ’n flou verskoning oor die vorige aand se gebeure die ewigheid in verdwyn. Maar hy het dit nie gedoen nie. Hy het wakker geword en wel sy arm van my afgehaal en onder die komberse uitgewikkel, maar nie om vir ewig te verdwyn nie. Hy moes gaan regmaak vir klas. Met ’n soen op die wang het hy my verseker hy sou later die middag terugkom vir koffie en hy het teruggekom vir koffie daai middag en die volgende middag en die volgende middag. In fact, hy’t nooit weer ’n ander meisie se koffie gedrink nie, want die eennag-affêre het ’n vaste verhouding geword en vyf jaar later in ’n huwelik verander.

Vandag dra hy nog steeds sy slippers en sweetpak en hy sit nog soms met sy voete op die tafel, maar ek het nooit weer een keer ongemaklik in sy teenwoordigheid gevoel nie. Aan ons eerste ontmoeting dink ek amper nooit, maar die oomblik wat hy my hart gesteel het, sal my altyd bybly. Dit was met daai soen op my wang die morning after.


(Geskryf:23/05/2015 → vir Kuier Tydskrif)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Morning after
Lekker gelees en baie goed geskryf!!!
5 jaar 7 maande 3 weke 2 dae 21 ure oud



Geweeg

deur Manie Jackson

Gedigte van skooldae af , die tyd toe ek geweeg is, tot ek getrou het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar