Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Thor was ʼn vername reisiger, veral in sy hoedanigheid as die Oorlogsgod. Hy het die taak op hom geneem om ʼn ogie te hou oor die doen en late van die bewoners van die ander wêrelde. Eendag gedurende sy prille jeug, verveeld met sy stryd teen die Draaireuse, het hy besluit om ʼn gevaarliker teenstaander aan te pak, naamlik die wêreldslang, Jormungand. Die groot slang van Midgard met sy ontelbare kronkels was verantwoordelik vir geweldige storms op die oseaan wat die aarde omring het. Thor het begeer om die horings en die kop van die groot ongedierte teen die portaalmuur van sy paleis te sien pryk.
So was dit toe dat Thor hom een oggend in mensedrag geklee en sy magiese rooi baard geknip en gekartel het, totdat hy ʼn beeld van elegansie en fatsoenlikheid was. Hy het Midgard verlaat en oor die see gevaar totdat hy Jotunheim bereik het. Daar het hy sy skip geanker en met sy besittings vasgebind op sy massiewe rug, het hy weggespring oor die sanderige strande. ʼn Dag of twee later het hy aangekom by die hut van die reus Hymir, wat nie juis ingenome was om die onverwagte besoeker te ontvang nie.
Hymir het geweet dat gebruik van hom vereis het om die seevaarder welkom te heet, maar hy het al vir soveel jare alleen gebly dat hy geensins van geselsskap gehou het nie.
“Dit help nie om te vra of jy jou kop in hierdie huishouding kan kom neerlê nie”, het hy onbeskaamd aan Thor gesê, “sodra dit begin lig word, staan ek op om te gaan visvang, en vir die res van die dag versorg ek my kudde.” Hymir was die besitter van ʼn magiese trop beeste wat hy jaloers opgepas het en niemand is toegelaat om hom in sy plig te steur nie. Hy het gehoop dat hy die onverwagte besoeker sou kon ontwyk, aangesien hy te besig was om hom te onthaal of van ʼn gemaklike bed te voorsien. Maar Thor sou nie so maklik kopgee nie.
Thor het voortgegaan om die reus te laat glo dat hy niks meer as bloot ʼn reisiger was nie. Hy het laggend gesê dat hy dit baie sal geniet om die reus op sy visvangtog te vergesel en was vol hoop om iets te kon leer van die reus se vaardighede. So het dit gebeur dat Hymir knorrig vir Thor sy hut laat inkom en aan hom ʼn kamer gewys het waar hy sy kop kon neerlê.
Die eerste lig van die oggend het Hymir getref waar hy reggemaak het om af te stap na die rivier, wat dreunend verby die onderpunt van sy eiendom na die see gevloei het. Hy het suutjies beweeg sodat hy nie die reisiger sou wek nie, daar hy geen belang of behae daarin gehad het om hom saam te neem om te gaan visvang nie. Hy wou weg wees voordat Thor wakker word. Hy het katvoet uit die hut gesluip en geloop in die rigting van die beeste, wat hy van plan was om eers te melk alvorens hy in sy boot uitvaar. Hy was erg onthuts toe hy Thor daar vind – reeds wagtend op hom, terwyl hy geduldig een van die beeste streel.
“Jy sal seker nou gaan hengel”, het Thor met ʼn breë gryns gesê.
“Ek vang alleen”, het Hymir kortaf geantwoord.
“Ek sal daarvan hou om saam met jou te gaan”, was Thor se antwoord.
“Het nie plek vir passasiers nie”, het Hymir gesê en begin om die eerste koei te melk.
“Nie as ʼn passasier nie”, het Thor met ʼn oorredende glimlag gesê, “maar as ʼn visserman. Ek sal jou ook help met die roei.”
Hymir kon sien dat Thor vasbeslote was om saam met hom te gaan, dus het hy grommend geknik en na ʼn groot mishoop gewys. “Gaan soek dan vir jouself aas”, het hy geknor.
Thor het net gesien hoe die reus wys in die rigting van die vee, wat oor die mishoop geslenter het. Hy het beweeg in die rigting van die bulle en met ʼn geweldige slag een van die mooistes se nek afgedraai. Hy het die kop omhoog gehou om dit aan Hymir te wys, terwyl die bloed langs sy arm afdrup. Die reus kon beswaarlik sy woede beheers. Hy het verwag dat Thor op soek na wurms sou grawe, en nie dat hy een van sy heilige beeste letterlik sy kop sou laat verloor nie! Maar hy het nie ʼn woord gesê nie. “Ek sal hom tog ter see verloor”, het hy gedink.
Op langelaas het die twee mans in die boot uitgevaar en begin roei. Hymir het Thor se netjies gekartelde baard gewaar en vermoed dat hy nie ʼn werklik manlike man was nie, en altemit nie gewoond was aan die harde werk van visvang en boerdery nie. Hy was dus heeltemal verbaas toe Thor die spane opneem en met groot gemak vir lank aaneen geroei het sonder om enige teken van afmatting te toon. Op die ou einde het Hymir hom versoek om die spane uit die water te haal en toe al die beste plekke vir visvang rondom hulle aangetoon.
Maar Thor het net aangehou roei met een doel voor oë, naamlik om by die plek uit te kom waar die yslike Jormungand gewoon het. Hy het vir nog ʼn wyle geroei voordat Hymir vooroor geleun en sy hand op die spaan geplaas het. “Jy moet hier halt”, het hy benoud gesê, “omdat ons by die waters aangekom het waar die Jormungand swem. Enigsins verder en ons sal sy aandag trek en sy eerste maaltyd vir die dag word.”
Thor was verlig oor die nuus en het gelykmatig geroei totdat hy seker was dat hulle in die gebiedswaters van die bose slang was. Daarna het hy met sorg die sterkste van Hymir se stokke en lyne uitgesoek. Hy het ʼn tou so dik soos sy voorarm aan die stok gebind, sy lokaas aan die grootste hoek geplaas en dit in die water gewerp. Die groot slang het soos blits toegeslaan en ʼn geweldige roering in die water veroorsaak. Dit het vir Thor gevoel asof sy stok uit sy greep getrek gaan word.
In die donker dieptes van die see het Jormungand die kop van die geslagte bees bespeur en dit met een hap ingesluk. Die stewige hoek het in sy keel vasgehaak, en hy het gespartel en geraas soos hy probeer het om dit los te kry.
Thor het bankvas bly staan in die boot en sy vasberadenheid het hom net nog sterker gemaak. Hy het die kragte wat hom goddelik gemaak het, aangeroep en die spartelende monster ingetrek asof dit niks meer as ʼn vis aan ʼn gewone stok was nie. Hymir het stomverbaas agtertoe gesit. Hy het teen dié tyd geweet dat sy passasier nie ʼn gewone mens kon wees nie. Hy het tot nog toe nie soveel krag en vasberadenheid aanskou nie. Metdat die slang uit die water getrek word, het dit nydig gif gespoeg. Hymir het geel verkleur en in ʼn diep floute verval, omdat die Jormungand so ʼn vreesaanjaende gesig was om te aanskou, met yslike skerp tande, groot uitpeuloë en ʼn dodelike stank wat getuig van almal wat hom al ten prooi geval het. Thor het styf vasgehou aan sy stok en sy spiere het gebult van die inspanning. Die logge liggaam van die waterslang het die water so gesweep dat ʼn maalstroom ontstaan het wat die boot laat kantel en rondrol het, sodat water die bodem van die boot gevul het, om net weer leeg gemaak te word soos wat elke skrikwekkende golf gekom en gegaan het.
Hymir het bygekom en kon net nie meer vasbyt nie. In alleryl het hy vooroor geleun, sy vlymskerp mes gegryp en met al die krag wat hy bymekaar kon skraap, Thor se sterk tou deurgesaag terwyl Thor uitgestrek het om sy hamer raak te vat. ʼn Onheilspellende stilte het gevolg .... en die Jormungand het geluidloos weggeglip, terug na sy diep, donker tuiste.
Thor se gebrul kon so ver weg as Asgard gehoor word, en sy woedebui het die uitbarsting van ʼn groot storm tot gevolg gehad. Hy was op die punt om die groot monster in die skuit te trek toe hy beroof is van sy trofee. Die slang sou na dese nie weer so ʼn maklike prooi wees nie. Thor moes maar aanvaar dat hierdie tog van hom vrugteloos was. Hy het die reus bitsig toegesnou, sy groot hamer blitsig uitgepluk en hom met ʼn mokerhou getref wat hom tot in die ysige waters laat vlieg het – weg, om nooit weer gesien te word nie.
Sommiges het gesê dit was ʼn seën dat Thor op daardie dag nie die wêreldslang gevang het nie, omdat daar geprofeteer was dat as die Jormungand se stert ooit uit sy bek gehaal sou word, daar ʼn vloek op die oortreder sou rus vir die res van sy lewe. Thor het toe ewe bedaard asof niks gebeur het nie, geroei totdat hy die strand bereik het en binne ʼn dag was hy terug in Asgard. Hy het egter nooit weer oor die visvangtog gepraat nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

thor
Goeie woordgebruik. Lekkerlees bydrae
1 jaar 10 maande 6 dae 3 ure oud



Reistog van Genade

deur Hannelie

My genade reistog van diagnosering van bipolariteit en my reistog na die veiligheid van God se Arms



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar