Kortverhale

Titel: Thulie & Magriet 4 eva

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die ou verslete hoed sit skeef op sy kop en sy asem jaag wanneer hy homself op die klip stut vir ’n ruskansie. ’n Lam vlieg kom sit vir die soveelste keer op die geplooide wang.
Die laaste keer wat hy hieruit gesukkel het was dit met baie minder moeite. Ses jaar gelede was die randjie nie so steil nie, daarvan is hy seker. Hy vroetel in sy baadjiesak opsoek na ’n peppermint. Die vars smaak in sy mond is op daardie oomblik die lekkerste ding wat hy nog ooit geproe het. Hy swaai die knap sak weer ’n slag oor die ander skouer en gryp vas aan die taaibos vir die optrekslag.
Met elke tree wat hy klim voel hy die weemoed in hom opstoot. Hy probeer sy gedagtes in ander rigtings dwing. Hy moet nog die pomp gaan vasdraai in die kloof. Die windjie vroetel net rond maar dis genoeg om ’n windpomp aanhoudend te laat water spuug. Telkens dwaal sy gedagtes egter terug na die stuk lood binne-in hom. Dieselfde stuk lood wat na soveel jare soms nog maak dat hy kortasem raak, want dit druk sy longe toe. Die hartseer wil hom soms uit sy eie vel forseer, dit wurg deur sy hele wese, dag vir dag. Soms probeer hy wegkom van die leë gevoel in hom, maar dis soos weg hardloop vir sy eie skaduwee – dit kan nie. Vasgevang in die allesoorheersende hartseer en verlange. Ander tye kom hy agter dat dit vir kort rukkies stil is binne hom. Dan voel dit asof hy vir dae aaneen gehardloop het en nou vir die eerste keer kan rus – daar is vrede. Ounooi het gesê die rukkies sal later al hoe langer word. Hy glo haar. Hy moet haar glo anders sal hy nie in die oggende kan opstaan nie.
Dit is vandag presies twee jaar. Twee jaar waarin hy oud geword het. Twee jaar waarin hy moed bymekaar geskraap het om terug te kom hierheen. Hierdie plek wat die fondasie gelê het vir hulle samesyn.
Bo-op die kop lê die gelykte plat uitgestrek. Dis net hier waar Magriet altyd begin sing het:
“I’m on top of the world, looking down on creation and the only explanation I can find, is that feelings are true and oh my darling I love you...”
Hy ken net die koorgedeelte. Hier bo lê die alles stil en sag in die oggend son. Voeltjies swiep rond in die lug, vol opgeruimheid en vrolikheid oor die nuwe dag. Die blommetjies is stadig besig om hulle koppe na die son te draai. Dou druppeltjies glinster hier en daar op die dik geswelde vygies. Die grond is nog klam onder sy skoene en die gars-gars geluid wat die fyn gruis maak smelt saam met die oggendgeluide. Dit lyk anders. Hulle voetpaadjie is toegegroei en die Bloukop lyk vaal. Maar dis meer as net die voetpaadjie en die Bloukop. Dis asof hy vir die eerste keer hier is, maar tog ken hy elke heuweltjie en laagtetjie soos die palm van sy hand. Hy drentel verder, sukkel-sukkel beur hy tussen die kraalbosse deur. By die groot taaibos swenk hy links verby. Die fonteintjie is nog net so mooi soos altyd. ’n Groen oase tussen vaal ruigtes. Die mooi van die spierwit varklelies wat tussen die groen grasse groei maak sy oë seer. Die ou Pepperboom staan nog net so fier en waghou oor die fonteintjie se kosbare water.
Hy draai om en kyk uit oor die pad wat hy gekom het. Onder in die laagte lê die spikkeltjie van die ou vervalle wintershuisie met die bossietak krale.
“Dis die naaste wat mens aan die hemel kan kom terwyl jy nog in die lewe staan”,
dis wat sy altyd gesê het as hulle hierbo gekom het.
Elke Sondag oggend het sy ’n mandjie gepak en dan het hulle tot hier geklim. Hy het die mandjie gedra en sy die handgemaakte lappies kombersie en die twee glase. Sy was bang die glasie breek as dit in die mandjie is, want hy het kwansuis die mandjie te veel rondgeswaai volgens haar.
“Dis nog al wat ek van Mammie oor het, en jy gaan dit net breek”, so is hy keer op keer uitgeskel as hy wil weet hoekom sy nie maar die glase in die mandjie sit nie.
Hier het hulle die hele dag onder die groot Pepperboom gelê; drome droom en die geheime van die lewe probeer ontrafel. Sy sondae is nou leeg. So leeg soos dit was voordat hy haar ontmoet het.
Die duikertjie wat skielik skuins voor hom agter ’n melkbos uitspring laat hom hardop skrik.
“Nee magtag man, kan jy nie ’n ouman waarsku voor jy so staan en wegvlieë nie!”
Hy volg die bokkie se spronge met sy oë tot waar hy uiteindelik saamsmelt met die ruigtes.
Hulle het nooit kinders gehad nie. Magriet het gesê God sal vir hulle kinders gee as Hy wil hê hulle moet kinders hê. Hulle het nooit kinders gehad nie. Hy het nie omgegee nie, maar hy kon sien Magriet het soms hartseer geword as sy terug kom van die plaashuis af. Sy het gereeld vir Abrampie en Cillie gaan oppas as Ounooi moes dorp toe, ander kere het sy sommer net met hulle gaan speel as hy en Baas Gert nog gewerk het. Hy het haar nooit gevra oor haar hartseer nie en sy het nooit daaroor gepraat nie. Hy was maar dom met woorde as dit by sulke goed kom.
Dit was die jaar wat die groot reëns hier verby kom trek het wat sy siek geword het. Hierdie wêreld het nog nooit weer so baie water gesien nie. Het sommer al vroeg in die jaar begin rëen. Teen Junie maand het die opslag geil gestaan en daar was nie ’n slootjie of spoortjie wat nie vol water gestaan het nie. Blink silwer stroompies het by die graniet koppe afgeloop en die groenste mos het teen die klippe gegroei. Paddas het van oral af gekom om hulle eiers in die poele water te kom lê. Meidedam het sy walle oorstroom en die reservours het byna uit hul nate gebars. Dit was asof die aarde sy mooiste baadjie aangetrek het om sy hartseer te verbloem.
Toe sy saam met Ounooi van die dokter af kom kon hy al in haar stap sien iets is fout. Hy het nog altyd haar aan haar stappie herken nog lank voordat ’n mens kan uitmaak wie kom in die stofpaadjie op. Ligvoets en byna op ’n draf stappie, so dat ’n man amper nooit eers ’n spoor kon kry waar sy geloop het nie. Daardie dag was haar voete swaar en sy het rus rus gestap, elke nou en dan omgekyk na die berg agter die huis, asof sy met hom gesels.
“Dis kanker”, het sy gesê nog voor sy heeltemal by die deur in was. Hy het gevoel hoe sy bene lam raak en hy het net betyds die stoel langs die kombuistafel gehaal. Hy het nie geweet wat om te sê nie, maar gelukkig het sy hom geken. Sy het die vrae in sy kop beantwoord sonder dat hy dit hardop gevra het.
“Dis in die lewer, en daar is niks wat hulle kan doen nie.”
Sy het die teepot op die vuur gekry en ’n paar oond koeke uit die blik gehaal terwyl hy net kon sit en voor hom uitstaar. Hy het sy hand vinnig en ongesiens aan sy broek afgevee, toe die groot nat traan daarop val.
Hy was kwaad, ’n woede wat hy soms nie verstaan het nie. Kwaad vir God en kwaad vir homself en sommer vir elke bos en elke skaap. Hy is nou nog party dae kwaad.
Die laaste paar maande was moeilik. Hy het die tyd omgewens want hy wou mal raak as sy in die nag sagte steungeluidjies maak van die pyn, maar terselfdertyd wou hy elke dag vashou, vir ewig. Naweke was die ergste. Hy het dan vir haar stories gelees uit Ounooi se ou Huisgenote. Somtyds wou sy hoor hoe mooi die veld is, wanneer laas die jakkals geloop het en hoe groot die hanse al is. Abrampie en Cillie het Saterdae oggende bietjie by haar kom gesels. Sy het altyd bietjie vroliker gelyk as hulle daar was.
Sy het een nag sy hand gevat en met albei haar hande styf vasgehou op haar maag. Daardie oggend het sy nie weer haar oë oopgemaak nie. Daar was ’n vreemde vrede op haar gesig, amper ’n glimlag. Iewers deur die nag het die engele haar kom haal.
“Hulle sal my kom vat met ’n vuurwa, net soos met ou Elia in die Bybel. Ek sal sê hulle moet eers ’n paar draaie gooi oor die plaas sodat ek kan sien hoe lyk dit van bo af, voordat hulle my die hemelte in vat.”
Hy kry ’n lag toe hy met sy growwe ou hand oor die inskripsie op die bas van die Pepperboom vryf.
THULIE & MAGRIET 4 EVER



Mentorskap program

Mentorskapprogram

Leer meer oor skryf en word deur 'n mentor op jou pad gehelp.

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar