Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Herculus krap nadenkend sy dagoud stoppelbaard. Letta se stem kom gedemp deur vanuit die kombuis waar sy aan die buurvrou vertel van die doktersbesoek gister. Hy sit en peins oor die besoek. Hy kon nie die helfte hoor en dus beswaarlik verstaan waarvan die dokter gepraat het. Gelukkig is Letta se gehoor nog goed en kon sy en die dokter die probleem met sy hande bespreek. Hy sukkel deesdae erg met sy gehoor maar weier om ‘n gehoorstuk te dra. So oud is hy darem nog nie. Sy jongdae as kanonnier op die Suidwes grens begin uiteindelik sy tol  eis. Hy draai sy kop skeef en luister aandagtig toe hy sy naam hoor.

“Sarie, dokter Steyn sê die spelde en naalde en gevoelloosheisheid in Herculus se hande is karpaletonnel-sindroom. Die karpale tonnel is die spasie op die vou van die pols waar die mediane (of sentrale) senuwee en nege senings van die voorarm af na die hand loop. Die oorsaak is senuwee van die hand wat vasgeknyp word in die tonneltjie by die pols en dit veroorsaak die dooie gevoel, pyn in die hande en op in die arm. Die dak van die tonnel word gevorm deur 'n baie sterk ligament. Indien daar swelling binne die tonnel is, of as iemand met 'n te klein tonnel gebore is, word druk op die sentrale senuwee geplaas. Die samepersing van dié senuwee veroorsaak karpaletonnel-sindroom. So .. dit lyk my Herculus sal vir ‘n operasie moet gaan – gelukkig is daar nou 'n nuwe sleutelgatprosedure, bekend as karpaletonnel-loslating”

Herculus verstrik byna in die pyprook. Hy hoor karpaletonnel. Engtevrees oorval hom. Moet hy tonnel toe? Letta se stem verdof weer effens. Met sy hand agter sy oor probeer hy die gesprek verder volg. “Dooie gevoel … met ‘n te klein tonneltjiie gebore is…. operasie... sleutelgat… “ Herculus se bloed word ys in sy are. So. dit is eintlik wat met tonnel bedoel word. Is dit nou nodig vir Letta om so te staan en uitpraat en dit voor die buurvrou? Goeie genugtig! Môre lê die hele buurt vol van sy anatomie. Hy krap sy kop. Hy kan dit nog nie kleinkry hoe die jong dokter dan net na ‘n man se hande kon kyk en….

“Letta, waar is die rekenaar wat Pierre nou die anderdag hier aangebring het?”
“Ek bring my man… Sarie, ek is nou weer terug. Skink solank vir ons nog ‘n koppie tee”

Die laatmiddagson trek ‘n goue streep oor die agterplaas. Herculus verpes rekenaars maar hy is op ‘n missie. Hierdie klein-tonneltjie-operasie deur ‘n sleutelgat moet op internet opgelees word. ‘n Man kan nie sommer soos ‘n lam ter slagting gelei word nie. Hy moet homself vergewis van pyn en lyding as hy nou onder die mes moét beland. Verdomp… dat dit nou so ‘n gekompliseerde operasie moet wees en dit net om sy hande reg te kry ! Hy wonder wie slyp die operasiemesse. Dit is ‘n aardige gemors as mens ‘n dier keelafsny met ‘n stomp mes en hierdie doktertjie begin voel vir hom altevol of hy en ou Kasper die blokman, familie kan wees. Net die gedagte aan die bloederige operasie met ‘n stomp mes, maak Herculus skoon naar en meer vasberade om die rekenaar vandag nog baas te raak.

Herculus bekyk die rekenaar aandagtig. Waar begin ‘n mens? Hy druk elke denkbare knoppie maar die skerm bly swart. Hy ruk van skrik toe sy buurman skielik agter hom praat.
“Aitsa buurman, en van wanneer af is jy rekenaarvaardig?
“Middag Anton. Nee jong dit sal ‘n leeftyd duur voordat ek die nuwe tegnologie onder die knie sal kry. Te oud geword vir hierdie nuwerwetse goed. Ek sit en beloer die ding maar hier van ‘n kant af – dit lyk nie of ons twee mekaar gaan verstaan nie. Kom ons gaan sit binne dan skink ek ‘n lafenis vir die senuwees.”
Anton lag. “Nee wat swaer, ek het ook maar handoek ingegooi en dankie, so ‘n skemerkelkie sal heel goed afgaan. Ek hoor die vroumense praat alweer oor hulle geliefkoosde onderwerp. Dokters, operasies, orgaanskenkings en…..”

Herculus spring brullend op. Die rekenaar spat uit sy se hande. “Orgaanskenking! Nee kyk, genoeg is genoeg. So laat ek nie my nie befonkfaai nie!” Hy struikel en slaan neer soos ‘n os.
Anton is wit geskrik. Die rekenaar is tot niet. Herculus lyk of hy ‘n doodstyding gekry het bly lê waar hy geval het. Die vrouens storm op die stoep uit.
Letta skreeu beangs. Herculus… my man… wat het gebeur. Het jy seergekry?”
Anton sit hand by om Herculus weer op sy voete te kry.
“Vrou, hierdie is die laaste strooi. Aan my word daar nie gesny nie. Verbeel jou, ek met ‘n vreemde mens se orgaan?” Dan moet ek seker my van ook verander van Herculus de Wit na de Bruin of de Swart… oor my dooie liggaam!”
Letta is uit die veld geslaan. “Waarvan praat jy?” Sy sit haar hand op sy voorkop. “Is jy koorsig of het jy jou kop gestamp met die val?”

‘n Uur later, gelawe met twee stywe doppe whisky met ys, begin Herculus ontspan. Letta se verduideliking van die karpaletonnel-sindroom is uiteindelik vir hom duidelik en aanvaarbaar. Hy moet ruiterlik tot sy skande erken dat hy van ‘n muggie ‘n olifant gemaak het en dit oor ego! Na verdere oortuiging en oorreding deur Letta, het hy uiteindelik ingestem om ‘n gehoorstukkie te gaan kry.  Dit sal voorkom dat hy in die toekoms nie dalk ‘n hartaanval kry as sy gehoor hom weer in die steek laat nie.

Herculus sug hoorbaar verlig. Die gehoorstuk prosedure is gelukkig nie so ‘n bloederige proses soos om vir ‘n orgaanoorplanting te gaan nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

TONNEL-SINDROOM EN ORGANE
Ja die ouderdom en die gehoor wat soveel verkeerde afleiding kan veroorsaak...

Lekker gelees hieraan.
4 jaar 9 maande 3 dae 18 ure oud


Tonnel sindroom
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die TONNEL projek.
4 jaar 9 maande 4 dae 9 ure oud


tonnel
dit was nou n lekker lees en lag bydrae
4 jaar 9 maande 4 dae 18 ure oud


Tonnel
Lank laas so lekker gelag.
4 jaar 9 maande 5 dae 4 ure oud


haha
Ag te kosteelik. Ek het hietdie verhaal voor my sien afspeel. Lekker gegiggel ook. Dankie
4 jaar 9 maande 5 dae 5 ure oud


Ano
Tonnel
hiehiehie - oulik!
4 jaar 9 maande 5 dae 6 ure oud



WELDADE EN MISDADE

deur Piet Schoombie

Vier en twintig lekkerlees kortverhale en artikels oor 'n verskeidenheid onderwerpe en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar