Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

            Ek en my vrou maak ‘n punt daarvan om ten minste een maal per week oor die ou dae te praat. So vra ek haar die ander dag of sy nog onthou toe ons op Napier gebly het dat ek haar een Saterdag aand uitgeneem het op ‘n uitstappie sonder dat sy weet waarheen ons gaan. Ons het uitgery die Overberg se ruens in op ‘n grondpaadjie en sy kon net nie verstaan waarnatoe neem ek haar nie daardie tyd van die aand nie. Sy het begin kla en gese “Jy ry en ry en ry en waarnatoe gaan die paadjie nou eintlik”. Nadat ek self amper gedink het dat ons verdwaal het sien ek liggies voor. Uiteindelik het ek voor ‘n stasiegeboutjie stilgehou en gese “Ons is nou hier” Sy wou weet “En gaan ons nou treinry die tyd van die aand” so half viesserig. “ Ja ons gaan trein ry in die ou stasietjie” het ek haar ingelig. Wel groot was haar verbasing toe ons instap en dit eintlik ‘n braai restaurant was. Ons het ‘n heerlike biefstuk ge-eet. Daar was prente van ou treine ens in die ou geboutjie wat iemand verander het in ‘n restaurant toe dit in onbruik begin verval het. Daarna het ons nog ‘n paar keer daar gaan uiteet. Ek wonder nou of die restaurantjie vandag nog bestaan.
           
            Ek vertel haar toe van die dae wat ek as kind saam met my pa na die Caledon stasie toe gaan op ‘n Vrydag middag as hy my by die kosskool kom optel het. Dan is die vol kanne room geneem na die stasie. Daar was ‘n vierkantige geboutjie met ‘n plat dak en die mure was gebou met halwe steen grootte opening daarin en ook met ‘n dubbel wand. Uitgebrande steenkool van die lokomotiewe is tussen die twee wande geplaas en water het dan vanaf die dak deur die steenkool gesyfer en sodoende die geboutjie koel gehou. Die room is dan ingehandig by ‘n persoon wat binnekant by ‘n klein tafeljie gesit het met ‘n groot boek. Hy het dan met ‘n pers potlood dit sorgvuldig aangeteken in die boek terwyl hy so dan en wan die potlood se punt lek dat hy mooi donker moet skryf. My pa moes dan sy handtekening in die groot boek maak nadat hy ok aan die potlood moes lek dat hy duidelik moes skryf. Ek glo nie daar was enige kieme aan die punt van die potlood nie want die omie het Springbok twak altyd in sy pyp gestop uit die sakkie op die tafel en daai twak het ek geglo was so sterk dat die pypolie alle kieme dadelik sou doodmaak.
           
            Hy het gewoonlik alles swart aangehad. Swart broek, swart dik sool skoene, swart dik jas baadjie en ‘n swart pet op sy kop met so 'n effe wit hemp. Ek was altyd versigtig en half bang vir die omie, want hy het met so ‘n growwe stem gepraat en was nie altyd so vriendelik nie. My pa het altyd almal vriendelik gegroet en so ook die omie op sy naam genoem. Partykeer is vir hom produkte van die plaas af gebring soos ‘n waatlemoen , spanspek, aartappels of uie, want my pa het altyd gese die omie kry ook maar swaar met al die kinders. Hoeveel kinders hy gehad het weet ek nie, maar my pa het altyd gepraat van die omie se baie kinders. Ek het geweet ons familie is vier kinders so ek aanvaar die omie het meer as vier gehad want my pa het nooit gepraat dat ons baie kinders was nie. Hoeveel meer as vier het ek nooit geweet nie.
           
            As my pa die vol kanne room wat van die plaas af kom ingeboek het, soek jy die lee kanne uit sodat hulle kan teruggaan plaas toe. Dan het die omie eers doodseker gemaak dat die koper plaatjie wat op die kan is wel my pa se besonderhede en adres op het. Die lee kanne is dan ook tydsaam en presies opgeskryf in die groot boek met die baie lyntjies. Op ‘n keer het my pa gevra om iemand anders se kanne saam te neem, want die buurman kom nie gou in dorp toe nie, maar die omie wou net weet:- “Het jy ‘n briefie waar hy jou toestemming gee Floors, want anders kan ek jou nie sy kanne ook gee nie hoor” Hoe my pa ookal mooi gevra het die omie het voet by stuk gehou met iets soos regulasie is regulasie Floors want jy weet mos ek word verantwooordelik gehou vir elke kan wat hier uitgaan.
           
            Die geboutjie het ‘n snaakse onmiskenbare reuk gehad. Weet tot vandag toe nie hoe om dit te beskryf nie, maar dit was iets tussen nat steenkool as, ou suur room, stoomtrein rook, pyprook en ou sweet of so iets. As ek vandag daardie reuk kry sal ek dit steeds kan herken. My pa was altyd haastig om weer terug te gaan plaas toe en dan was daar nooit tyd om die treine wat op die stasie ranggeer te beskou nie.

Dit was altyd vir my lekker as my pa ‘n ander boer ook kry wat daar aankom om kanne af en op te laai en dan raak die twee eers aan die gesels. Dit was dan my geleentheid om die treine dop te hou soos hulle in die stasie trokke rangeer. Daar het altyd een man agter by die "Guardvan" (nooit geleer wat die afrikaans daarvoor was, maar so was dit daardie tyd genoem.)uitgehang wat of 'n groen of rooi vlag gewaai het vir die drywer om te sien. Wat altyd die betekenis van die vlae was weet ek ook nie meer nie. Ek het dit nog geweet toe ek kind was, want dit het my so ge-intereseer dat ek eendag vir een van die kruiers gevra het. Dis nou die ouens wat so 'n tipe trollie gestoot het met pakkies en goeters op.

Daar was partykeer 'n man wat met 'n hamer of iets al langs die trein afgeloop het en die wiele van die trein 'n kap gegee het. Ek kon dit nie verstaan nie en my pa hierna gevra. Hy het my verduidelik dat dit die man se werk was om die wiel so 'n kap te gee en dan kon hy van die geluid aflei dat die wiel heel was en nie 'n kraak in het nie. As die wiel 'n kraak in het sou dit 'n ander klank gee en dan moet die wiel vervang word anders kan dit breek en die trein laat ontspoor.

 
      As ons terug gery het plaas toe het die grondpad die spoor gekruis by die plaas Boonjieskraal en dan kon jy partykeer die trein se rook ver sien aankom. My pa het dan so gery dat ons voor die trein by die kruising kom en dan daar stilgehou en gewag vir die trein om verby te kom. Somtyds het ons as kinders uitgeklim sodat ons die trein beter kon hoor. Die treindrywers van die twee lokomotiewe wat vooraan die goedere waens was het dan so 'n halwe deuntjie gevluit as hulle aankom na die pad en vir ons gewaai en ons vir hulle as hulle verbygaan. Ek dink my pa het ook dalk stilletjies gevrek oor treine dit is hoekom hy altyd so gery het dat ons die trein daar kry by die kruising.
     
      Ek vrek nog steeds oor stoomtreine en hulle vluitjies. Ek glo nie hulle kap meer die trein wiele nie, net soos stasies nie meer stasies is nie en treine nie meer treine.
             
       



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

treine
dit was nou n lekker interessante stuk om te lees.. soveel nostalgie!!! Puik geskryf Schatz
5 jaar 6 maande 23 ure oud


Ano
treine
So byna maak jy my lus om treine te gaan kyk ipv vliegtuie. Maar siende dat die lughawe nader EN veiliger is, sal ek maar na die blik-voels kyk :-D Tog is daar niks wat daardie klak-klak en gewieg vervang nie.
5 jaar 6 maande 1 week 5 dae 6 ure oud


treine en stasies
Die afrikaans vir guars van is kondukteurswa en op die groot stasies kap hulle nog steeds die wiele. kondukteurs bestaan nie meer nie die paar treine wat nog loop het nie kondukteurs nie. Pragtige werkie
5 jaar 6 maande 1 week 5 dae 10 ure oud


Treine en stasies
ai man wat doen jy aan my. ek het n groot heimwee in my gevoel toe ek hierdie pragwerkie van jou gelees het. so beskrywend net soos dit daardie jare was. soos jy weet het ek n grooy liefde vir die stoomera en hierdie was pragtig geskryf
5 jaar 6 maande 1 week 5 dae 18 ure oud



Gee my hoop - selfs toe daar geen hoop meer was nie

deur stefan s

Die boek se inhoud gaan hoofsaaklik oor die tema “hoop”. Hoop kan op verskillende maniere of geskep, versterk of vernietig word. Daar word gekyk na faktore wat ʼn direkte of selfs indirekte invloed uitoefen op die hoop wat daar in menseharte bestaan. Die boek is anders as ander deurdat daar aan die einde van elke hoofstuk ʼn gedig van hoop en bemoediging, deur stefan s, geskryf is wat by die tema van daardie hoofstuk aansluit. stefan s is ʼn predikant wat reeds 30 jaar in die bediening staan en in drie gemeentes gedien het. Ek is tans besig met twee afsonderlike kursusse in nood- en traumaberading. Ek is self deur diep waters wat as motivering gedien het vir die skryf van die boek met die spesifieke onderwerp “hoop”.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar