Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

In beweging, of hoe 'n luim sy ronde draai

Die woede

OUPA IS BESIG om 'n lat aan die muur aan te bring. Ver oor sy kop hou hy die spyker tussen duim en voorvinger van sy linkerhand; met die arm stut hy die lat wat in 'n besondere winkel vasgespyker moet word. In die regterhand die hamer, en hy swaai deur met 'n mening.

      Die hamer tref akkuraat op sy linkerduim. „Ei-naah!” En daar val hamer, lat en spyker in alle rigtings, terwyl hy sy duim in sy skreemond steek. Ouma bring juistement die koffie in, en word aangebrul asof sy vir Oupa se penarie skuld dra. Sy koes, sit die skinkbord neer en sluip in trugang terug kombuis toe.

      Daar sit Ella aan die kombuistafel en skryf huiswerksomme. Ouma kyf op haar asof sy vir die ongeluk verantwoordelik is. Ella spring op dat die potlood en notaboekie waai. Sy koes en vlug by die kombuisdeur uit.

      Op die stoep agter die deur lê Wagter en droom. Sy skel hom uit asof hy haar rustige huiswerk-uurtjie gesteur het. Wagter koes, draai om, knor en bel Samanta aan wat op die kussing van die rottangstoel saamgerol lê. Sy koes en spring oor die ruglening by die muur onder die venster.

      Daar loer Muisie uit 'n gaatjie in die muur, Samanta snou Muisie woedend aan en toon haar kralle asof Muisie Wagter so woedend gemaak het. Sy koes, draai om en skarrel terug deur die muur in die kamer waar Oupa staan en skel.

      Muisie byt Oupa in die hakskeen asof hy hoegenaamd iets daarmee te doen het.

___________________...ooOoo...___________________


Die Glimlag

DIE VERKEERSKONSTABEL staan vroeg op, gaan badkamertoe en, terwyl hy besig is om te skeer, sien hy in die spieël hoe sy hart-aller-liefste gaap-gaap opstaan en in haar japon kombuistoe loop. Hy ruik die heerlike koffie wat sy maak en die ander dinge wat sy vir ontbyt optower. As hulle klaar geëet het, en hy moet gaan, steek sy hom 'n rosa-omrandete madeliefie in sy petband. Daarna straal sy hom aan, soen hom en byt hom liggies op die neusspits. Verskrik deins hy terug en oorneem haar glimlag.

      In die hysbak staan 'n meisie wat gisteraand met haar kêrel gestry het en vandag glad nie lus het om skooltoe te moet gaan nie. In die spieël sien sy die koddig, nikkende wit blommetjie in sy uniformkeppie, en sy glimlag steek haar aan. Stralend loer sy oor haar skouer op pad na haar bus.

      Die busdrywer- het begin nors raak, veral vandag met soveel ondeunde kinders in die bus; hy weet nog nie so reg of hy nie vanaand liewer moet bedank nie. Die eerste een wat by die volgende bushalt inklim, blyk in helder lig omweef te wees, so glans haar glimlaggende gesig. Hy glimlag onbeheersd die volgende passasiers wat inklim aan. Hy begin 'n lied te neurie en blik glimlaggend in die spieël, waar vriendelike gesigte hom aankyk. Miskien was dit onbesonne om aan bedank te dink.

      Aan die einde van sy skof sit die glimlag nog altyd op sy gesig wanneer hy in die kantien kom vir 'n espresso voor hy huistoe gaan. Dit bemerk die bediening agter die toonbank, wat die hele liewe lange dag gepla is deur die geneul van drywers wie se deure verklem is en kondukteure wie se passassiers oonmoontlik was, om nie te praat van die verstopte aflooppyp en die gemors van 'n onnosele kêrel wat 'n hele skinkbord met glase, koffiebekers en 'n suikerbak op die grond laat val het. Hy straal haar aan en herinner haar daaraan dat hulle vanaand gaan fliek. Die norsheid verdwyn, sy leun oor die toonbank en soen hom op sy mond. „Jy red my dag!” Sy draai glimlaggend om en beskou haar gesig in die spieël, daarby merk sy dat die moegheid en die nors trek uit haar gelaat verdwyn het. Dan gaan klok sy uit.

      In die kar moet hulle voor die verkeerskonstabel met die verlepte blommetjie in sy petband wag wat op die kruising die verkeer staan en reël. Na 'n aanstrengende dag is hy uitgeput en sy senuwees hang in repies. Voor hom wag 'n kar om regs af te draai met twee paar klaarblyklik verliefde oë wat hom volle drie minute vol lewensvreugde sit en aanstraal. Sy moegheid verdamp, die lood sak uit sy bene weg... En daar kom die aflossing.

      Sy kyk van die strykplank op as sy sy sleutel in die deur hoor draai en sug. Sy vou die laaste hemp saam en lê dit in die mandjie; alles het vandag skeefgeloop, kinders te laat vir die bus, stofsuier verstop, 'n gat in 'n akriliekbloes gebrand, eenvoudig alles. Sy draai om as hy die kombuisdeur oopmaak en kyk verskrik in sy glimlaggende oë. Sy sien die madeliefie wat nog altyd penregop in sy petband pryk. Dan breek die glimlag op haar eie gesig uit, van die mond oor die wange tot in die oë.

      Die glimlag het weer huistoe gekom. Sy byt hom saggies op die punt van sy neus.

©.2015....................................................c];o).............................................................tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

2 verhale
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die KONTRAS projek.
3 jaar 11 maande 1 week 4 dae 3 ure oud



VREEMDELING IN MY VADERLAND

deur Piet Schoombie

Dit handel oor die probleme wat baie Suid-Afrikaners in die nuwe SA ondervind en hulle wroeging met die vraag of hulle moet ry of bly. Lesers sal hulle ten volle kan vereenselwig met die realiteit van korrupsie, misdaad en moord in dié boeiende verhaal..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar