Kortverhale

Titel: U796
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die plek was bedompig warm. ‘n Groot dakwaaier het weinig meer gedoen as om bloot die warm, rokerige lug met ‘n ritmiese tjwiek-tak, tjwiek-tak deur die vertrek te sirkuleer nie. Die metaalplafon met sy gedrukte blokpatrone was lankal nie meer wit nie. Jare se kookoliedampe, sigaret- en sigaarrook, ‘n lekkende dak en miljoene vlieë en brommers se spatsels, het die oorspronklike stemmige wit in ‘n gespikkelde geelbruin verander.

Die man in die wit T-hemp en denimbroek wuif die kelnerin nader van daar waar sy hard by een van die tafels staan en redekawel met ‘n middeljarige man. Sy slof met skeefgetrapte skoene tot by sy tafel terwyl sy haar poffer-hande aan ‘n vuil rooi voorskoot afvee. “Cerveza,” bestel hy nog ‘n bier. Dit vat ‘n goeie kwartier om uiteindelik by sy tafeltjie uit te kom. Die rede daarvoor is die gesprekke wat sy op die pad agtertoe aanknoop, boodskappe wat sy neem en boodskappe wat sy afgee. Gelukkig is die bier yskoud en, omdat hy nie nog ‘n kwartier vir sy kleingeld wou wag nie, beduie hy met die betaalslag dat sy die kleingeld maar kan hou. Sy kyk terloops na die kleingeld in haar hand, trek haar skouers op en slof ongeërg weg om haar argument met die man in die strepiespak te hervat. Snaaks tog dat die ouer mans daar rond steeds geglo het dis fatsoenlik om ‘n baadjie te dra, veral as jy die kantien gaan besoek. Die kantien was die kuierplek; die geselsplek; die plek waar jy saketransaksie beklink het en ook die plek waar jy op hoogte gekom het van wat in jou dorp, jou land en in die wêreld aangegaan het. Die mense het weinig erg gehad aan ‘n TV want min kon dit bekostig. Saterdae en Sondae egter was heilige dae want op daardie dae is daar sokker uitgesaai oor die TV in die kantien. Dan sou jy nie die gewone geroesmoes van stemme daar gehoor het nie, nee, dan het hulle kliphard met die spelers en die skeidsregter gepraat. Hulle het hardop gesug oor elke verbroude kans en soos een man gejuig met elke doel en mekaar op die skouers geklop.

Dit was Uruguay, die jaar was 2009. Die plek maak nie saak nie. Hy’t vir Mateo gewag. Mateo het inligting gehad oor die koördinate van ‘n skip wat aan die end van die 19e eeu naby die weskus van Afrika gesink het. Alhoewel Mateo se inligting gewoonlik korrek was, het hy die klein Spanjaard nie vertrou nie. Mateo het ander mense gebruik om sy eie agendas te laat slaag en het nie omgegee om lyke langs die pad te los nie. Hy’t Mateo jare gelede in Angola ontmoet toe hy daar geduik het om die wrak van ‘n Portugese skip te probeer opspoor. Hy’t nooit die werklike wrak gekry nie, maar het darem genoeg goud en silwer uitgehaal om die meeste van sy onkostes te kon dek. Gelukkig dat hy klaar geduik het en reeds sy geld in die bank gehad het toe Mateo daar opdaag. Mateo wou dat hy nog duik omdat hy presies geweet het waar die wrak lê. Die inligting kom uit hoogs vertroulike oseanografiese waarnemings wat deur die destydse Portugese regering gedoen was. Hy’t net sy kop geskud want hy was klaar daar onder. Daar was niks, want seestrome moes intussen weer die wrak toegespoel het. Mateo het uiteindelik ‘n Duitser, wat geld en ‘n seiljag gehad het, omgepraat om sy ekspedisie te finansier. Of hulle ooit iets gekry het weet hy nie. Wat hy wel weet is dat die Duitser en sy bemanning drie seemyl van die kus af probleme opgetel het toe die seiljag onverklaarbaar aan die brand geraak het. Die bote wat wou gaan help, was te laat want die luukse jag en sy bemanning het reeds in ‘n oliekol in die see verdwyn. Daarna het daar van tyd tot tyd berigte by hom uitgekom oor welgestelde avonturiers wat op die een of ander onverklaarbare manier aan hulle einde gekom het nadat hulle kort tevore in Mateo se geselskap opgemerk was.  

Hy self was in Uruguay om inligting te probeer inwin oor ‘n Spaanse galjoen wat in die 16e eeu met ‘n vrag goud en silwer aan boord daar êrens langs of naby die kus vergaan het. Die inligting was ongelukkig baie vaag en die posisie van die wrak heeltemaal onseker. Mateo het laat weet dat hy meer konkrete inligting het oor die wrak van ‘n Duitse skip. In ruil vir die inligting wou hy ‘n gelyke vennoot in die opbrengs uit die wrak uit wees. Ongelukkig werk dit nie so nie, want die uitgawes verbonde aan so ‘n duikekspedisie is normaalweg astronomies.

Mateo het opgedaag met ‘n wulpse jong dingetjie aan sy arm, kort en bonkig met ‘n topswaar bouvorm en skelrooi lippe. Hy’t geraai dat sy uit Bolivië kom met ‘n goeie dosis van die plaaslike bevolking in haar bloed vermeng. Sy’t hom uit die hoogte aangekyk, so asof Mateo die baas was en hy die klaas.

“Het jy oor my voorstel gedink, Stuart?” vra Mateo terwyl hy nog bier bestel. Sy vertonerigheid met ‘n dik rol Amerikaanse banknote het hom gladnie beïndruk nie. Mateo het ‘n dik Kubaanse sigaar aangesteek - ‘n gewoonte wat hom grensloos geïrriteer het, bloot net omdat die Spanjaard dit sonder enige styl gedoen het.

“Vyf-en-sewentig vir my en vyf-en-twintig vir jou. En dan deel ons eers as al die kostes afgetrek is.”

Hy lag dat ek sy goue tande kan sien blink. “Jy’s partymaal vol grappies. Dis my kaart en daarsonder het jy niks  . . .”

“Maar dis ook net ék wat bereid gaan wees om op die Walvisrug te duik. Die strome daar is verraderlik . . .”

“Wat weet jy van die Walvisrug?” Die Spanjaard het sy oë op skrefies getrek en met agterdog oor die rand van sy glas na hom geloer.

“Ek weet dat ‘n drie-master Duitse bark genaamd die Johannes Wagner in ongeveer 1900 in die suid Atlantiese Oseaan gesink het en dat die wrak waarskynlik aan die suidekant op die Walvis Rug lê.”

“En, waar hoor jy van die skip?” Sy kennis van die wrak en die waarskynlike posisie daarvan het die man ongemaklik gemaak. Hy kon dit aan die ander man se gesig sien.

“Dis my werk om te weet. Ek duik goud en silwer uit vir ‘n lewe.”

“Weet jy wat sy gedra het?”

“Geen idee nie, ek weet nie eers vanwaar sy gekom het en waarheen sy op pad was nie.” Hy lieg blatant vir die vent. Sy inligting was behoorlik nagevors en betroubaar. Die Johannes Wagner was op pad van Lourenço Marques na Hamburg met ‘n vrag goud. Die vrag was die somtotaal van die ou Zuid Afrikaanse Republiek se goudreserwes wat gebruik moes word om vir huurtroepe te betaal en om meer gevorderde wapentuig aan te koop. Geen Europese moondheid kon openlik betrokke raak in die stryd nie, maar hulle was bereid om indirek, teen ‘n prys natuurlik, hulp te verskaf.

Ongelukkig het inligting oor die ligging van die wrak in Duitsland verlore geraak alhoewel daar sprake daarvan was dat Nazi Duitsland laat in die Tweede Wêreldoorlog sou probeer het om die goud te herwin vir eie doeleindes. Maar dit noem hy nie vir die Spanjaard nie.

Mateo lyk meer tevrede met sy antwoord. “Daar word gesê dat die skip waardevolle artikels uit Indië aan boord gehad het. Wat presies dit was is nie duidelik nie . . .” Hy hou hom dop om te kyk of hy die aas gaan vat.

“Watse soort waardevolle artikels?”

“Blykbaar geskenke van Indiese nasionalistiese leiers aan die Duitse keiser om te probeer om sy simpatie en hulp te werf teen die Engelse.”

Die storie klink geloofwaardig genoeg as hy nie van beter geweet het nie. “Maar dan moet dit mos baie werd wees?”

“Genoeg vir ‘n vyftig-vyftig vennootskap . . .” Hy laat dit daar hang.

“Vyf-en-sewentig vir my en vyf-en-twintig vir jou.” Stuart gaan hom nie deur vuilgoed soos Mateo laat intimideer nie.

Die Spanjaard staan op. “Dan forseer jy my om met Étienne Barroult kontak te maak.”

Hy trek sy skouers op. “Dalk vind jy uit dat sy terme nie so gunstig is soos myne nie. Vir hom is dit gewoonlik alles of niks.”

Die kyk wat die Spanjaard hom gegee het, het hom deeglik oortuig om nie alleen in die nag deur donker stegies te gaan ronddwaal nie. Mateo kon seker self so ‘n ekspedisie georganiseer het, as hy regtig wou, maar hy was nie bereid om geld te spandeer op ‘n boot, toerusting en bemanning nie. Sy kennis op die gebied was ook té oppervlakkig wat sou kon beteken dat mense hom kon uitroei sonder dat hy dit weet. Hy was eerder bereid om sy inligting teen ‘n prys met ander te deel. 

Barroult was die verpersoonliking van die gewetenlose skattejagter. Hy’t sy mense laat duik onder lewensgevaarlike toestande sonder inagneming van die mees elementêre veiligheidsmaatreëls. Daar is gesê dat duikers wat vir hom werk ‘n vyftig-vyftig kans het om ooit weer die land te sien. Gewoonlik was die duikers wat vir hom gewerk het, diegene wat niks meer gehad het om te verloor nie, die opdrifsels van die samelewing. Barroult was altyd bereid om die grense verby die getoetste limiete te probeer druk ten koste van sy bemanning.

Bygesê, aan die ander kant was hy gewoonlik tagtig persent suksesvol en het hy sy mense (dis nou dié wat oorleef het) baie goed betaal.

Hulle ander was verplig om baie geld spandeer aan veiligheidsmaatreëls, die regte toerusting en ‘n horde ander regulasies waaraan voldoen moes word. Dan was daar die ewige beslommernis van die bewyse van eiendomsreg, die historiese- asook kultuurwaarde van sommige items asook die twyfelagtige grense van gebiedswater, veral as naby land geduik word.

As die wrak te na aan die land was, het Barroult gewoonlik in die nag vanaf groot plesierjagte af geduik. Op die dek was daar oënskynlik ‘n gefuif en ‘n gesuip aan die gang met helder ligte en oorverdowende musiek. Terwyl hierdie deurnagpartytjie aan die gang was, het sy weklike bemanning van ‘n tweede dek af gewerk, ‘n dek wat omskep was vir duikdoeleindes vanwaar sy span meesal teen tyd en onder geweldige druk gewerk het.

Hy was nie te veel gepla oor Mateo se kaart nie omdat hy self nog ‘n paar dokumente uit Duitsland gehad het om deur te werk. Dokumente waarin daar van ‘n duikboot gepraat is wat spesiaal deur Hitler beopdrag was om die Johannes Wagner se skatte te gaan probeer berg. Hy het ook geweet dat Barroult op daardie stadium naby Australië gewerk het en beslis nie op die Spanjaard se uitnodiging alles net daar sou los om agter hom aan te hardloop nie.

Daardie aand laat, hy was al op pad bed toe, is daar ‘n klop aan die deur. Hy druk die 9mm agter by sy broek in en maak die deur versigtig oop. Die meisie wat in die deur staan is lank met donker hare en neutbruin oë. As hy moes raai, sou hy raai sy’t uit Argentinië gekom. Hy nooi haar in. Haar kyk som hom op, sy neem ‘n besluit en nadat sy op en af in die gang gekyk het, kom sy die hotelkamer binne.

“My naam is Antonina,” stel sy haarself aan hom voor. “Ek is bereid om, in ruil vir die Walvisrugkaart, saam met jou te gaan duik om die skatte van die Johannes Wagner te help berg. Ek vat twintig persent van die opbrengs, na onkostes afgetrek is.”

Die manier waarmee sy met die deur in die huis geval het, het hom vir ‘n oomblik sprakeloos gelaat. “Waar kom jy aan die kaart?”

“Ek het dit oorspronklik vir Mateo uit die kluis van ‘n bekende versamelaar verwyder. Ek het ‘n afskrif daarvan laat maak by ‘n vriend van my voordat ek die afskrif vir Mateo gegee het. Omdat ek voorheen werk vir hom gedoen het, weet ek om hom nie te vertrou nie, daarom dat die afskrif wat hy het, klein foutjies op het. Ek wag nou nog vir my betaling – dit is al ses maande gewees.”

“Hoekom het jy met my kom praat net nadat Mateo met my gepraat het?”

“Ek wou eers sien wat julle ooreenkom en omdat ek van jou metodes hou, het ek besluit om jou in my vertroue te neem. Ek kan duik, as dit is wat jou bekommer. Ek het onder andere vir National Geographic en later ook vir Jurg Kannemeier gewerk . . .”

Vir Kannemeier het hy geken en as sy vir hom gewerk het, dan kan sy duik.

“Kan ek die kaart sien?”

“As jy vir my plek op jou span het, dan kan ons saam na die kaart kyk.”

“Whisky?”

“Dubbel op ys, asseblief.”

Hulle sit in die sitkamertjie waar hy die 9mm agter by sy broek uithaal en op die tafel tussen hulle neersit. “‘n Veiligheidsmaatreël.”

Sy sit haar eie wapen langs syne neer en glimlag. Hy was beïndruk.

“Gesondheid.”

Drie maande later vertrek hulle van die Walvisbaaise hawe met twee addisionele duikers wat Antonina aanbeveel het; duikers wat hulle opleiding in die Israeliese vloot gekry het. Die res van die bemanning was presies dieselfde as dié wat hy tevore gebruik het omdat hy hulle geken en vertrou het. Mateo is net ‘n week voor hulle vertrek in Kaapstad opgemerk.

Seestrome was seker die grootste faktor wat maak dat skeepswrakke verskuif raak of onder sand begrawe word. In hulle geval was die diepte van die wrak die grootste probleem. As in ag geneem word dat die Walvisrug gemiddeld sowat 455 meter diep is en oor ‘n afstand van ongeveer 3000 km strek, is dit nogal noodsaaklik om ‘n redelik goeie aanduiding te hê van waar presies die wrak lê. As die wrak nie op die rug gelê het nie, dan was die kanse goed dat dit nie gekry sou kon word nie omdat die see aan beide kante van die rug dieptes van tot 5000 meter kan bereik, dieptes wat dit onmoontlik maak om te duik. Soos dit was, sou hulle alreeds ‘n duikstasie op ongeveer 100 tot 150 meter onder die seeoppervlak moes vestig waar die duikers kon klimatiseer en hulle bloed versadig kon raak met helium, wat deel vorm van die lugmengsel wat hulle gebruik. Sodra daardie punt bereik word, sou hulle vir langer tydperke kon duik sonder enige negatiewe gevolge. Hierdie duikstasie was met kabels aan die moederskip verbind vanwaar elektrisitiet en lug aan die duikers verskaf word.

Tydens hulle voorbereidings en die toets van toerusting was hy en Antonina verplig om baie nou saam te werk en hy’t baie gehou van dit wat hy beleef het. Sy’t presies geweet wat sy doen, het ‘n droë sin vir humor gehad wat hulle almal laat lag het en die kersie op die koek was dat sy pragtig was en beeldskoon in ‘n wit bikini. Dit was goed om haar aan sy sy en op sy span te kon hê. Maar, desondanks was daar tog iets geheimsinnigs aan haar waarop hy nie sy vinger kon lê nie, iets wat hom bly hinder het.

Om die wrak te lokaliseer, het hulle van ‘n miniatuur robot-duikboot gebruik gemaak wat beeldmateriaal na die skip toe gestuur het asook van sonar. Ses weke later ontdek hulle die wrak op die suidekant van die rug. Dit was egter die teenwoordigheid van ‘n ander wrak wat hulle by die oorblyfsels van die Johannes Wagner uitgebring het. Die ander wrak op die rug was dié van ‘n Duitse U-boot uit die Tweede Wêreldoorlog met die nommer U796, duidelik in wit op die kommandeertoring. Hy’t die internet geraadpleeg oor die duikboot en uitgevind dat die laaste operasionele U-boot die U795 was. Dit korreleer toevallig met hoogs vertroulike Nazi dokumente wat hy in sy besit gehad het. Die U796 was uitsluitlik geaktiveer en toegerus vir ‘n geheime sending; ‘n sending wat daarop uit was om die gebeurlikheidsfonds van die Nürnberg Dreißig, ‘n uitgesoekte groep SS offisiere, te versterk. Hierdie fonds was reeds so vroeg as gedurende 1942 gestig met die doel om, ná die oorlog, skuilplek en veiligheid vir die groep en hulle gesinne in ander lande te help verseker.

Net nadat hulle die wrak gelokaliseer het, het hulle geselskap begin kry in die vorm van ‘n seiljag op die westelike horison. Partymaal het dit nadergekom, maar meeste van die tyd het dit sowat ‘n kilometer van hulle af voor anker gelê. Alhoewel hulle nie veel van die bemanning kon sien nie, was hy doodseker daarvan dat Mateo een van die passasiers op daardie boot was. Om onaangename verrassings te voorkom, was hy verplig om wagte op 24-uur basis uit te sit om die boot deurentyd in die oog te hou.

‘n Meer aangename verrassing was die wrakgebied self. Die Duitsers het reeds die goud uit die Johannes Wagner geberg gehad en in houers verpak, reg om gelaai te word. Oorhaastige modifikasies aan die duikboot het egter nie voldoende voorsiening gemaak vir die waterdruk nie. Die gevolg was dat die vragdeur, wat voor in die romp aangebring was, met die toemaakslag sodanig gebuig het dat dit nie weer behoorlik kon sluit nie. Die U796 en sy bemanning het gedurende Februarie 1945 op die Walvisrug agtergebly, die duikboot se romp gevul met water.

Omdat goud swaar is en 400 meter relatief diep, het hulle eie bergingsoperasie langer geduur as dit waarvoor hy gehoop het. Dit was dus met ‘n sug van verligting dat hulle uiteindelik die laaste van die goud aan boord geneem het.

Die sukses van die operasie het vir yskoue sjampanje gevra. Hy het sy glasie gelig en wou net ‘n heildronk op sy bemanning instel toe Antonina en haar twee duikers elkeen ‘n pistool te voorskyn bring.

Vir enigeen wat al voorheen in die loop van ‘n pistool afgekyk het, is daar nie veel wat jy kan maak nie, veral nie as die hand wat die pistool vashou duidelik weet wat hy of sy doen nie.

Antonina was kort en saaklik. “Dit was lekker om saam met jou te kon werk, Stuart, maar alle goeie dinge kom die een of ander tyd tot ‘n einde. Mateo is my halfbroer en hy wou baie graag gehad het dat jy en hy moes deel in hierdie onderneming. Jy sien ons twee se oupa was een van die SS offisiere wat moes baatvind uit die goud. Hierdie was ‘n troetelprojek vir Mateo en buitendien was daar, na alles, mos genoeg vir julle albei. Ongelukkig het jou morele besware tussen julle kom staan en het hy my gevra om tussenbeide te tree en wat ‘n wonderlike ondervinding was dit nie - ek het so baie by jou geleer. Maar nouja, dis tyd om te groet. Op die dek is daar vir elkeen ‘n reddingsboei reggesit saam met ‘n bottel vars water. Dit was nogal my idee want Mateo het verkies dat julle swem.” Met die loop van die pistool beduie sy vir hulle die pad na buite toe.

Die laaste wat ek van Stuart en sy bemanning gesien het was die groepie dobberende reddingsboeie in die verte. Blykbaar is hulle welliswaar na ‘n paar dae van ontbering deur ‘n verbygaande vragskip opgepik. Wat van Mateo en Antonina geword het? Dit weet ek ongelukkig nie. Wat ek wel weet is dat hulle beswaarlik die slag van die ontploffing en die brand daarna sou kon oorleef.

Wie ek is? Maak dit dit rêrig saak? Ek het maar net die storie vertel nadat ons die goud verkoop het.   
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

U
Ek was so bly toe ek weer 'n Kaspaas verhaal opmerk en ek was voorwaar nie teleurgestel nie. Geboei vanaf die waaier se tjwiek-tak tot by die laaste ontploffing. En dan nog die raaisel ook!!
6 jaar 11 maande 2 weke 2 dae 21 ure oud



VREEMDELING IN MY VADERLAND

deur Piet Schoombie

Dit handel oor die probleme wat baie Suid-Afrikaners in die nuwe SA ondervind en hulle wroeging met die vraag of hulle moet ry of bly. Lesers sal hulle ten volle kan vereenselwig met die realiteit van korrupsie, misdaad en moord in dié boeiende verhaal..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar