Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

      Gelukkig het ek en my ou Schatsie die gevliegery vanaf Kaapstad tot in Walvisbaai darem alles oorleef. Julle weet ons is nie gewoond aan die soort van goeters nie, ons kom mos van die platteland. Ja, dit is moeilik om te glo, maar dit is wraggies heeltemal waar. Maar wag, laat ek nou eers van vooraf begin en nie die wa voor die osse span nie.
      Sien ons kry mos toe nou verlof vanaf 17 Desember tot 8 Januarie en dit word toe besluit dat ons Walvisbaai toe sal gaan, want Oumie en Oupie kan nou nie meer wag om bietjie by ons kleinkind van drie en ‘n half jaar uit te kom nie. Ons seun Raymond en Desre het Meimaand verhuis vanaf George na Walvisbaai. Maar hoe gemaak om daar uit te kom. Dit is dan meer as 2000 km ver weg van ons en Oupie kan nie meer so ver bestuur nie. Ons geldsakke is maar ook heel platsak en leeg.
      Ons het dit oorweeg dat ek met die trokkie sal gaan en sommer ‘n klomp vrugte en groente oplaai en daar gaan smous om die reiskoste te betaal, want sulke goete is glo dan nou kwansuis so duur daar, maar toe verkoop ek die ou trokkie. Toe het ons gedink om per boot om te vaar, maar dit is ook maar duur en neem net te lank. Ook nie te praat van die seesiek nie. Toe gedink miskien ‘n vissers boot terwyl ons sommer visvang op soontoe, maar my seun is ook ‘n “Radio ham” en hy se die vissermanne op daardie bote kan vreeessslik vloek en sy ma sal dit noooit ooooit maak of oorleef nie. Vlieg was ook eers uit want dit kos te baie duur en ek het toe gedink aan ‘n mikro light, maar my seun se toe ons kan dalk sonder brandstof raak op daai 220 km tussen Keetmanshoop en Mariental.
      Ek het toe gedink aan een van daai vuka scooters, maar Schatsie se sy sal nie so lank kan wydsbeen sit nie. Wat daarvan as ek ‘n syspan vir hom aansit wou ek weet. My seun se ek sal dalk maar bietjie groter wiele ook vir hom moet aansit. Toe besluit ek dit sal dalk ook maar bietjie duur uitkom met al die veranderinge aan die ou dingetjie. Ons het toe ook gedink aan die bus, maar dit beteken ons sal vir langer as 24 uur in daardie sitplek vasgenael moet sit en sien ook nie daarvoor kans nie, want dan kry oupie dalk weer trombose in sy been van al die gesittery. By die tyd wat ons in Walvis aankom sal ons dalk so in ‘n versteende sittende posisie bly vir die hele vakansie en dan nog ly aan vergrote blaas ook.
      My seun kom toe maar met ‘n reddings boei. Hy help ons met vlugkaartjies en daar is alles toe uitgesorteer, maar ou Schatsie is vreeslik bang vir vlieg sien. Met die plek besprekery wil sy weet watter sitplekke in die vliegtuig sy moet bespreek. Ek se toe net nie buite op die vlerk nie, want ek hou nie so baie van wind nie. Ook nie aan die binnekant regoor die vlerk nie, want ek verstaan die vliegtuie breek altyd op die vlerk. Bespreek maar voor by die deur dat as ons gewaar die ding gaan val kan ons darem die deur oopmaak en uitklim. Schatsie wil weet wat gebeur dan, want dan is ons mos nog in die lug.
      Ek verseker haar dat ek sal kyk of ek nie vir haar ‘n tweedehandse valskerm by cash crusaders kan kry nie. Sien ek is al oud en sal niks oorkom as ek so hoog en ver ‘n vryval doen tot op Walvisbaai nie. Dit is mos alles duinsand daar en ‘n ek sal mos lekker sag val.
      ‘n Maand voor die tyd begin Schatsie toe al haar A vier blad van bekommernisse, struikellblokke en sommer net plain worries op te stel en aan te teken. Wat as hulle ons toesluit vir dwelmsmokkelary oor al jou pille? Wie gaan ons lughawe toe neem? Ensovoorts , ensovoorts.
      Eerstens is dit Mollie ons ou baster foxie. Sy is al so oud en sal dit nooit oorleef in enige ander omgewing as haar eie agterplaas en huis. Alhoewel sy spottenderwys met Molly praat om haar sommer in ‘n swart sak te sit weet ek dat dit net is om my te terg, want ou Molly is eintlik my ou hondjie en baie lelik, maar ai tog so lief vir haar oubaas. Schatsie is ook op haar manier lief vir die ou hondjie. Dit is toe einde ten laaste darem opgelos met die bure wat na haar sal omsien.
      Dan was dit die worry dat as ons vlieg sy nie haar bagasie op die lughawe sal uitken as dit op daardie ronde ding om en om beweeg nie. So sy leen toe ‘n helder pienk koffer by vriende sodat dit maklik uitkenbaar sal wees. ‘n Week voor die tyd besluit Schatsie dat die koffer te swaar sal wees, want sy sal dit self moet karwei, want met my MG sal ek mos te slap wees om die takie te verrig. Uiteinde is, sy gebruik maar haar eie koffers.
      Haar koffer het sy ‘n paar keer gepak en dan weer uitgepak en oor gepak om te kyk of sy met minder goed kan klaarkom, want die koffer, alhoewel baie groot, se deksel kan nie toekom nie. Uiteindelik het die A vier blad se bekommernisse minder en minder geword en het daar net een lyn in dik swart lettters oorgebly. “Die BAIE BANG VIR DIE VLIEG STORIE”
      Nouja gelukkig het ons twee goeie vriende, Andre en Wiana Voigt wat baie vlieg en hulle neem ons toe lughawe toe, want hulle ken al die kortpaaie binne en buite die lughawe gebou, anders het ons sekerlik heeltemal verdwaal tussen al die tekens en wegwysers.
      Met ons inry na die gebou sien ek ‘n groot teken wat se “P for shaded parking” en ek se vir hulle.”Jong julle moet nou eers stilhou dat ons kan pie pie anders kry ons nie parkering onder die skaduwee nie”. By ons op Barrydale is dit so maklik. Jy het nie nodig om eers te piepie nie. Nee wat jy parkeer net onder die naaste koelteboom vir skaduwee, die bergies pie pie sommer vir jou daar.
      Die volgende teken se sommer net “Drop off area”. ‘Andre, dit lyk my ou maat hier moet mens ‘n hoed dra jong, want dit lyk my dit is al plek wat hulle gemaak het vir die voeltjies om hulle toilet jobies te doen”. Sal maar my hand bo my kop hou, want my visvang keps is nou diep in die koffer gepak.
      Andre se ons moet eers seker maak dat daar geen wapens van “mass destruction” in ons bagasie is wat ons by ons binne op die vliegtuig neem anders konfiskeer hulle dit. Dit is nou goeters soos skere, biltong knipmes, naelvyle spelde ens. Natuurlik het ek my hele groot doos met pille by my en is so bang hulle sluit my op vir ‘n dwelm muil, maar gelukkig het ek darem my dokters voorskrif byderhand wat se dat ek elke dag ‘n dubbele hand vol dwelms, drugs ensovoorts moet neem vir die ou MG wat my ou lyf beet het.
      Nadat ons die bagasie ingeboek het, ons kaartjies gekry en ons paspoorte gestempel is, kom daar ‘n aankondiging oor die luidspreker: “Passengers must keep their personal belongs close to them , abandoned belongings will be confiscated.” “Jisou Andre, ons moet tog ons hande in ons broeksakke sit en ons ou tooltjies baie mooi styf vashou en soos goud bewaar, want dit lyk my die mense hier konfiskeer sommer ‘n mens se personal belongings as dit los is.
      Uiteindelik is ons in so ‘n trembus wat ons na die groot voel toe aanry. Soos die duiwel dit wil he sit ons toe ook net mooi reg oor die vlerk, presies op die plek waar die ding so maklik breek. Toe kom al die waarskuwings oor wat jou te doen staan as die ding nou in die middeldeur breek of val en so aan. Dan het hulle nogal die vermetelheid om te se jy mag niks saamvat as jy nou die nooduitgange moet gebruik nie. Wat dan nou van my arme ou pilletjies?
      Ek sit so teen die venster, menende dat as ek bietjie vars lug nodig het kan ek darem ‘n venster afdraai, want die spasie is maar klein hier binne, maar dit lyk my hulle besteel selfs die vliegtuie nou, want iemand het die slingertjies van die vensters gesteel en so moes ek maar heelpad met ‘n toe venster klaarkom.
      Ons het maar nie toilet toe gegaan nie, want Andre het my verduidelik dat hulle toilet in die vliegtuig werk amper so iets soos ‘n longdrop wat ons nog somtyds hier op die platteland kry. Sien ek het die gewoonte om my asem op te hou totdat ek hoor dit val onder en hulle vlieg glo so op 28 000 voet en as ek dan nou my asem so lank moet ophou sal ek dalk heeltemal ophou om asem te haal. Buitendien is ek ook bietjie hardlywig en is bang dit tref dalk iemand onder op die grond en dan word ek dalk aangekla van moord ook nog. So ek se vir ou Schatsie sy moet ook maar knyp totdat ons geland het in Windhoek.
      Toe die ding daar wegtrek voel ek soos Streling Mos wat by ‘n wedren wegspring as hy die groen lig kry, want die ding drruuuukk my so in die sitplek se rugleuning in dat ek vorentoe beur want ek is bang die rugleuning breek dalkies af. My ou Schatsie kry met haar een hand my bo been beet en die ander gryp sy my regter hand se vingers vas. En daar klou sy om lewe en dood met haar oe styf toegeknyp gaan ons tweetjies toe die ewigheid in met die hol kol hier op onse maag. Die ding gaan toe op en op en op en ooooopppp en ek se vir Schatsie as hy nou nog ‘n voet hoer gaan is ons of in die hemel of die hel. Die enigste manier hoe hulle toe Schatsie se hande van my kon loskry was om vir ons kos te bedien.
      Na ‘n rukkie sien ek deur my toe venster so ‘n paar donderweer wolke hier voor ons rondsweef en die volgende oomblik se ek vir Schatsie: “Hulle het die pad lanklaas geskraap en hier moet ‘n sandpad wees want hy is die ene sinkplaat soos ons nou skut” Ek besef egter toe dat die ding moet ‘n pap wiel ook he want hy slinger nou ook sommer oor die pad soos ‘n dronk bestuurder sal ry. Ek se vir Schatsie dit is nou net een van twee dinge. Of die ding het ‘n pap wiel of die drywer daar voor is dronk en ek kan nou die deur hier voor regoor die vlerk oopmaak soos daai outjie in die uniform gese het ons moet doen as die ding geval het en gaan kyk. Die probleem is daar staan groot op die vlerk in swart letters geskryf, “DO NOT WALK BEYOND THIS POINT”. As ek nou wil kyk watter een van die baie wiele dit is sal ek verby daai punt moet loop so dit sal ook nie help nie. Gelukkig was dit toe net die een drywer wat lyk my bietjie dronk was, wat ons so laat slinger het want nou loop die ding weer reguit. Ek het gesien hoe die vlerk hier langs my so op en af beweeg soos die ding sukkel om in die lug te bly. Kompleet soos ‘n voel wat met sy vlerke vlieg. Ek se vir Schatsie dat dit ok maar gelukkig is die ding het twee drywers, sodat as die een te veel gedrink is die ander ou op diens darem kan oorneem. Miskien moet hulle karre ook twee drywers gee dan sal daar dalk minder ongelukke op die paaie wees as gevolg van dronk bestuur.
      Met die gaan sittery wat dit toe amper ‘n skittery, want van bo uit die lug lyk alles so prentjie mooi, maar toe daai wiele die grond raak toe skut die besigheid. Ou Shatsie het my weer beetgekry dat 10 mense nie haar van my sou loskry nie.
      Uiteindelik kan ons uitklim uit die groot voel. Dis toe nou ook waar die groot moles begin sien, want nou word ons eers gescan vir e bola. Ou Schatsie wou sommer kortpad kies verby die se gescannery, maar een druk haar op haar maag terug en ek was bevrees hulle sleep haar dalk later aan die hare soontoe, want sy had toe geen idee waaroor sy voor die ding moet gaan staan nie. Ek moes behoorlik ook my brille afhaal vir die ebola ding. Wou seker sien of my oe dalk al ingeval het van die bola besigheite.
      Die volgende was die groot haakplek hoekom ons toe amper op die Windhoek lughawe moes uitkamp. Sien ons kom toe voor die baie ernstige doane be-ampte te staan. Ou Shatsie is so kort haar oe kom net bokant die toonbank uit as sy regop op haar tone staan. Sy stoot ons twee groen paspoort boekies en papierjies wat ons op die vliegtuig al moes invul om te se wie ons is en wie ons gaan besoek ens, mooi stadig oor die toonbank en die ou daaragter se “who’s who” en stoot die boekies weer vir haar terug. Schatsie neem dit terug en maak die boekies mooi op die regte plekkies oop sodat hy kan sien wie se foto is wie met elkeen se vormpie daarby. Op die vormpie was daar plekkies wat aandui of jy ‘n besoeker toeris, besigheid besoek, besoek aan familie ens is. Omdat ons nie ons seun se straat adres ken nie en ons ingevul het ons besoek familie het ons sommer sy werks adres ingevul nl. Indongo Toyota Garage, Walvisbaai. Dit was egter ‘n kriminele fout. “You staying in garage???”, kom die eerste vraag. Ek antwoord “Yes, my son works there.” “You sleep in Garage????”, kom die volgende vraag. “Yes” se ek. Nou kyk hy vir ou Schatsie en vra “Your son also sleep in garage???” “Yes” antwoord sy. “Noooo you are lying mam, car sleep in garage, phone him”. Ou Schatsie haal die een sel na die ander uit en met ‘n bewende vingertjie druk sy knoppies en probeer skakel, maar alles verniet, nie een van ons vier selfone wil werk nie, tenspyte daarvan dat een darem international roaming op het. Sy kyk die ou hier voor ons vierkantig in die oe en se: “Nouja dan sal ons nou maar net hier moet bly sit totdat iemand ons dalk hopelik eendag kom soek”. Die man wik om een van ons paspoorte te stempel toe gebeur daar regtig ‘n wonderwerk. Sy kry Raymond se nr om te lui en wat voel soos ‘n ewigheid antwoord hy en gee sy erf nommer en straat adres.
      Agterna se ek vir ou Schatsie, “Sien dit kom nou van wil eerlik wees, as ons nou gelieg het en sommer ‘n adres uit ons duim gesuig het of gese het ons is toeriste was ons lankal deur. As dit weer met ons gebeur lieg ons sommer ons self los soos wat die krooks maak, want hulle kom altyd daarmee weg”.
      Nooit dinkende dat ons dit, ek bedoel nou die geliegtery so gou gaan nodig kry nie. Kom ons se maar liewer ‘n ou wit leuntjie. Maar wag, nou wag ons eers vir ons bagasie, want hulle het op die vliegtuig gese ons moet dit afhaal en weer gaan inboek vir ons vlug na Walvisbaai. Al wat op die koffer draaibord verskyn is ons bagasie en ons koppe draai al in die ronde soos ons die een koffer na die ander volg en ou Schatsie begin die ritteltits kry want se nou hulle het dit op verkeerde vlug gesit en dit sit nou iewers op Johannesburg of die buiteland waar kry sy nou ons koffertjie en nuwe kleertjies wat sy vir die vakansie gekoop het. In haar verbeelding het sy nou alreeds gesien hoe loop iemand anders met ons ou kleertjies rond. Iemand anders wat ook staan en wag gaan navraag doen en kom se net betyds voor Schatsie vlou val dat ons koffertjies reeds outomaties ingeboek is na Walvis.
      Nouja uiteindelik is ons na 6 ure se gewag weer op pad na ‘n vliegtuig wat ons na Walvis moet neem. Op Windhoek glo hulle nog in werkskepping en is daar nie ‘n trembus wat jou na die vliegtuig neem nie. Nee, hier parkeer hulle die vliegtuig ver weg sodat daar ‘n lang ent is wat jy in die verseggende hitte van Windhoek moet stap. Elke 10 meter staan daar iemand wat vir jou wys waarlangs jy moet loop en dit skep natuurlik ook ‘n hele paar poste. By die laaste persoon wat net anderkant ‘n paaltjie staan wou ek sommer kortpad kies duskat hom verby na die vliegtuig, maar wraggies hy laat my omdraai en om die paaltjie en om hom loop na die vliegtuig. Ek se vir ou Schatsie dat daai ou is defnitief deur ‘n duitse instrukteur opgelei is. Alles moet net so gedoen word verstehe sie.
      Hierdie keer is dit ‘n kleinerige vliegtiug met net 36 sitplekke en die ou met sy uniformetjie help my die trappies op en plonk my sommer in die eerste sitplek heel voor by die deur neer. Daar is net een ry sitplekke op die een kant en op die anderkant van die paadjie is daar twee sitplekke langs mekaar. Ek en ou Schatsie sit dus nou agter mekaar soos twee wat bus ry. Dit weerhou haar egter nie om my van agter af beet te kry toe die gedierte besig is om op styg nie en sy gryp weereens my hand beet en my ander arm se elmboog beet en daar sit ek weereens vasgenael. Dit is gelukkig nie ‘n lang vlug nie net so iets oor die 300 km en net oor die een en ‘n half uur lank. Ons sak af na Rooikop lughawe by Walvis en ek se vir ou Schatsie ,” Jong ek sien net sand dit lyk my ons land hierdie keer in die Namib woestyn. Sy begin toe sommer soek vir haar tweedehandse Cash crusader valskerm, maar toe land ons sommer so tussen die duine, of so het dit gevoel. Kyk, dit was die vinnigste wat ek nog ou Schatsie uit ‘n vliegtuig sien hol het met die trappies af.
      Gelukkig is daar hierdie keer niks ebola scans en doane nie en wag ons seun en kleinkind reeds vir ons. Hulle kon nie sien hoe ons land nie want hulle is besig om ‘n splinternuwe lughawe gebou te bou wat hul uitsig belemmer.
      Terwyl ons wag vir die koffertjie met ons klere staan daar ‘n duitse toeris langs my en ons begin gesels. Hy wil weet of dit ‘n lughawe is want hy sien geen ander vliegtuie nie. Ek se toe vir hom, ”what don’t you understand, this is the desert here”. “It is only the aeoroplane that brings you here that you will see and again the one that takes you away from here”. “This is the Namib skeleton desert, you have to adopt to the conditions to be able to live here”.”Here there grows only sand and an earoplane only lands here for the few people that comes here once in a while”. Hy wil weet hoe ry jy na Swakopmund. “ “Well , there is only one road from here to Walfish and that is a single carriage road that wil take you to a circle and there you turn right and carry on with the only road to Swakopmund”. “You can’t get lost as there are no other roads. Do not pull off the road if you do not have a 4 X 4 as you will get stuck in the sand.” “If the wind blows it wil blow sand over the road, so do not drive more than 60 km per hour or your vehicle will be completely sandblasted if the wind blows.”
      Die afstand tussen Swakop en Walvis is so 35 km, maar daar is net ‘n paar km waar daar nie huise gebou is nie. Wat die mense almal hier in die woestyn kom soek en dan nog ‘n huis daar wil bou moet jy maar self vir die mense vra, ek sal nie weet nie, maar ek kan net raai. As daai woestyn gogga jou gebyt het wil jy net hier bly, vra vir my en ou Schatsie. Kyk op Walvis en Swakop gaan nuwe huise hotelle en woonstel blokke op soos paddastoele. Waaaaaaaaa al die mense geld kry vir al daardie bouwerke en dan nog met groot 4 trek voertuie te ry weet nugter alleen, maar ek het die ondergaande gediggie oor die wereld gedeelte geskryf.
     
      NAMIB SKEDELKUS WOESTYN
     
      Namib voer oer eiesoortige bestaan
      mens en dier moet verstaan
      val in by lewensbaan
      nie wil vergaan
     
      Namib skedelkus woestyn
      baie inhou net dorstige pyn
      verdwaal jy hou hy jou in kwarantyn
      beendere verbloem verberg jou skerp kartel lyn
     
      Skedelkus namib snou mense diere jou
      beendere in sand kombers toegevou
      andere ‘n tyd van saam onthou
      herinneringe liefde en trou
     
      Duine in sonlig fotografies gekartel gevou
      natuur wonder skakerings lig donker ontvou
      berge met srykyster voue van sand gebou
      ander woon en sweer aan jou trou.
     
      Luderitz Walvis Swakop Henties het in jou nes kom skrop
      Hengelaars kom gooi hul visser strop
      Visse hou jul sardyn asies dop
      aande drink hulle Brauhous bier, schaps met skop
      Francois de Kock 23/12/2014
      Die volgende dag was ek egter die hele oggend by die dokter en apteek tot Schatsie se ergernis omdat sy se sy nie kan verstaan dat ek altyd aandele in elke hospitaal en dokters praktyk moet koop in die plekke waar ons beland. Sy wil op Swakop kom, maar nou sit ons by dokter spreekamers. Met ons aankoms in Walvis het ek ‘n aanval van gordelroos opgedoen wat nogal taamlik pynlik was. Scahtsie het dit ook al voorheen gehad en weet ook hoe seer dit was, maar het nou geen simpatie met my pyn. Ek se vir haar sy moet onthou as ‘n man dit kry is dit baaaaiiiieee seerder en erger as ‘n vrou snne. Ou Schatsie is sommer ergerlik met my. Dit is seker maar al die gestres vir my ou Schatsie wat so bang is om te vlieg dat ek toe die gordelroos kry se ek toe vir haar.
      Ek moes toe natuurlik eers my hele mediese pedigree oor MG en wat alles uitle vir die dokter. Ek se toe vir hom ek dink ek moes maar eerder ‘n Taxidermis besoek het vir die rundepes. Die dokter het nie gedink ek is snaaks nie. Ou Schatsie se dit is net oorlat ek vrek oor dokters, hospitale, apteke en sulke goeters dat ek nou hier op ons vakansie staat en siek word met die rundepes. Nouja ek het mos nou geen medies en dit kos my toe ‘n hele paar pennies of o ja dis dollars.
      Uiteindelik is ons toe op pad na Swakop en op die pad is daar ‘n permanente Nam Polisie stop. Raymond stop en die eerste ou waai ons deur maar die volgende ou klap hier op die agterkant van Raymond se dubbelkajuit bakkie en ek dog toe eers dit is omdat hy nog sy papier nommerplate op het. Maar nee hy gee toe ‘n lang verduideliking dat die agterste passasier nie haar sitplek gordel aan het nie en gevolglik sal hy die bestuurder sowel as die passasier ‘n kaartjie moet gee. Raymond verduidelik dat hy verstaan, maar die ou hou net aan om sy storie nog verder en verder te verduidelik en verskoning te maak vir die tickets en ek sien ou Schatsie hier agter se gesig het haar vriendelike glimlag vir die polisieman skielik verloor en word al langer.
      Ek besluit toe dat ons nog lank hier gaan sit as ek nie nou dadelik ‘n drastiese plan beraam nie. Netnou klim my ou liewe Schatsie uit hierdie bakkie uit en gee die poeliesman ‘n paar taai klappe. Ek se toe vir die poeliesman. “My vrou vind dit ongemaklik met die veiligheids gordel oor haar borste , want sy het baie pyn op haar bors”. “Well then you must have a Dockters letter sir”. Ou Schatsie vee die kamtige sweet van haar voorkop en begin sommer my gordelroos pille uit die sakkie te haal en voor die arme poeliesman se neus te waai en Raymond besluit toe ons lieg nou so sleg hy moet ons nou maar verder die verderf in help lieg en se ons kom nou net van die medikliniek op Walvis en is op pad na die hospitaal in Swakop. “Well in that case you can go but remember next time ok”. En toe kon ons uiteindelik ons ry met ou Schatsie wat toe regtig lyk of sy siek is en flou is welke siekte toestand net reggestel sal kan word met ‘n lang bier op Swakop. Ek laat glip toe so stilletjies. “Sien Schatsie jy was nou so kwaad vir my dat ons die vakansiegeldjies op dokter en pille moes spandeer vir my, maar kyk nou net daar het dit ons nou gered van ‘n dubbele boete wat sekerlik baie meer sou wees as die dokters en pille rekeningkie saam”. “Kyk net hoe het ons nou gespaar”. Maar ou Schatsie het net stil stuipe en gee my net sulke onderlangse kyke.
      Ek sal natuurlik gladnie kortbroek kan dra die vakansie nie want my bo been is so pimpel en pers geknyp en my lyf uit proporsie gedruk soos ou Schatsie dit in die vliegtuig beetgekry het dat mense sal dink ek was in ‘n verskriklike ongeluk of kom uit die oorlog geteisterde Afganistan waar ek in ‘n skermutseling met die Taliban betrokke was. Kan ook nie iemand groet met my hand nie, want my vingers is nog steeds oormekaar gekrul en gevleg soos sy dit inmekaar gedruk het met die gevliegery.
      Ons het ook darem van ons ou Swakop vriende kon gaan opsoek en dit was heerlik.
      By Pieter en Rina Sheriff het ons saam met hul kinders ‘n kole gebraaide snoek en patats ge eet en gesels oor die ou dae en dinge soos onthou jy nog toe; ek en Schatsie hul strooijonker en strooimeisie was en hoe Pieter ‘n vaatjie draught bier saamgeneem het vir die troue op Maltahoe wat 500 km van Swakop is. Omdat die onthaal in die kerksaal was kon ons nie die 25 liter bier daar inbring vir die gaste nie. Net sjampanje. Ons het die volgende dag die vaatjie warm bier klaargemaak, want ons kon hom mos nooit half teruggee nie. Nie vir die volgende maand kon ek weer bier drink of sien nie.
      Ons het saam gaan kamp in die woestyn. Lekker gelag oor die slag wat ons by die Philips grotte na die boesmantekeninge gaan kyk het op die plaas Ameib naby Usakos en daar gaan kamp het. Dit was in die tyd toe terroriste volop was en nog mense in die omgewing geteroriseer en dood gemaak het. Voor ons vertrek vra ek vir Pieter, “jong wat maak ons as ons aangeval word deur die terries”. “Geen probleem ek het vir my ‘n rewolwer gekoop” kom sy vinnige antwoord. Later het ek toe ook gesien hoe lyk die skietding. ‘n Regte egte langloop rewolwer wat ons eers daar iewers in die woestyn gaan toets het. Soos ek se, ons was terdee bewus van die terries, maar dit het ons nogtans nie laat afsit van ons kampery nie, maar dit was maar die hele tyd hier in ons agterkop gebere. Die een persoon wat saamgegaan het, het ‘n sjiwawa of so iets, hondjie gehad. Dit sou ons waghond wees het sy ons verseker en sy en die hond gaan sommer by die vuur slaap en wag hou. Begryp jou aan, die klein diertjie nogal ons waghond.
      Ek het so ‘n kombi paneelwa gehad en ek en Schatsie slaap in die kombi. Die bed se een been het die gees gegee en ons het sommer ‘n waterkan gebruik vir ‘n poot. Rina was bang vir die kruipende gogomajaies en hulle besluit om bed te maak op die kombi se dakrak. As hulle roer bo dan skut die water in die kan, so hulle moet hulle self gedra en doodstil slaap. In die middel van die nag word ons wakker van ‘n gewawa wa wa soos die hondjie vreeslik aan die blaf gaan. Ek fluister vir Pieter hy moet sy rewolwer en patrone regkry dit is seker nou die terries wat op ons spoor is. As hy reg is moet hy klop op die kombi se dak en dan sal ek die kombi se ligte aanskakel en hulle verblind en dan moet hy laat waai met daai .38 rollie van hom. Ons kon reeds hulle voetspore hoor in die growwe sand. Pieter klop en toe ek die ligte aanskakel staan daar ‘n groot bees met slap ore en loer vir my deur die kombi se vorruit. Nadat ons senuagtige lagbuie bedaar het, het ons eers koffie gemaak en weer probeer slaap.
      Ons het nog baie stories gedeel daar om die visbraai wat te veel is om hier oor te vertel en lekker gelag. Dit was goed en lekker om hulle op te soek.
      Ek kry ongelukkig nie die fotos geplaas nie, maar hier onder volg 'n beskrywing ens.
       
In
The popular Phillipp's Cave at Ameib Guestfarm
Phillipp's Cave

Phillipp's Cave - an old accommodation of the San

The white elephant - rock painting

A granite boulder (Bulls Party) close to Phillipp's Cave
Cave of the San in the Erongo
The numerous rock paintings in the Erongo Mountains proof that thousands of years ago the ancestors of today’s San have lived in the area. Especially during the dry winter months the Erongo Mountains offer a reliable water supply, thanks to impermeable granite pans, which are filled during the rainy season. Consequently the area has always had a rich wildlife – another reason for the Bushmen to inhabit the area! In the rocky Erongo the San lived mainly in caves or crevices.
The famous Phillipp’s Cave, situated on farm Ameib in the Erongo, was most probably one of the San dwellings. Stone tools, dated to 3500 years BC, found in the cave strongly support this assumption. The Philipp’s Cave is 15 m deep, 35 meters long and 7 meters high. She became known due to the rock engravings found here and is a national monument. Before the importance of the rock paintings at the Brandberg Mountain became known the paintings of the Philipp’s Cave were arguably the most important testimony of rock art in the north-west of Namibia.
The most famous painting is the “White Elephant” into which, probably at a later stage, a small red antelope has been drawn. Furthermore drawings of giraffes, rhinos, ostriches, springbuck, kudus and also 6 imprints of human hands are found.*
The Philipp’s Cave is well worth a visit. At least two hours should be planned in for the walk to the cave and the visit thereof. It is highly advisable to visit the cave in the cooler morning hours and to take enough water along for the walk there and back.
Directions to the cave can be received at the Ameib reception. Another place of interest on the farm is the Bull’s Party.
* Andreas Vogt (2004): National Monuments in Namibia. Gamsberg Macmillan Publishers (Pty) Ltd, Windhoek.
Home   Activities / Places of Interest   Erongo - Outjo   Phillipp's Cave

 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
vakansie
hehehe, dit was nou lekker, dankie :-D Nou het ek sommer lus vir vlieg, sand en 'n brandende son (in daardie volgorde).
4 jaar 9 maande 2 weke 3 dae 2 ure oud


vakansie
dit is darem altyd lekker om jou bydraes te lees. jy het n onderlike manier van vertel wat die hele verhaal laat lewe
4 jaar 9 maande 3 weke 2 dae 18 ure oud


vakansie
Voorwaar gevoel of ons saamkuier. Dankie vir die deel
4 jaar 9 maande 3 weke 2 dae 21 ure oud


vakansie
ja nee ek het self gevoel ek's met vakansie. dis was lekker om te lees, dankie schatz
4 jaar 9 maande 3 weke 3 dae 2 ure oud


vakansie
ai dit was nou sommer n lekker leesstuk... gevoel ek is saam met julle op reis
4 jaar 9 maande 3 weke 3 dae 3 ure oud



Ontdek die Siel in my

deur helna

Dis vir my 'n eer om my eerste digbundel te kon uitbring. aangesien ek 'n passie het vir die kunste is die omslag een van my eie werke! "Ontdek die Siel in my" het sover net positiewe kommentaar ontvang, kom deel asseblief hierin.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar