Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Nadia stop en wag vir die ander om in te haal. Gewoonlik klim hulle almal teen dieselfde pas die berg uit. Maar sy het vanoggend iets wat haar jaag.
Sy vat ‘n sluk water terwyl sy af kyk na haar klimgroep. Sy sug toe sy sien dat hulle nog ‘n hele ruk gaan vat om in te haal.
Hier, waar die toeriste nie kom nie, kan sy en haar vriende die berg geniet wat ‘n bekende baken vir seereisigers vir honderde jare al is.
Sy asem die vars lug in. ‘n Bietjie van die see brand haar neus, maar sy ignoreer dit. Dis haar berg; haar see; haar stad. Al wil ander dit anders hê…
Sy’t maar nog net halfpad teen die berg opgeloop, maar klaar kan sy nie meer die rumoer van die stad hoor nie.
Met die mis wat begin inbeweeg, kan sy ook nie meer die stad sien nie. Nadia frons en kyk na haar groep. Hulle sal moet beweeg as hulle die bergrug nog wil haal voordat die mis ‘n hindernis word.
Nadia begin ongeduldig op en af te loop. Sy’t nodig om te beweeg. Anders gaan sy begin dink. En sy wil nie dink oor wat sy gister vertel is nie. Sy wil nie nou ‘n besluit maak nie.
Die mis maak haar nie bekommerd nie. Dit gebeur baie. Wat haar wel bekommer is die trae pas van die res van haar groep. Dis asof hulle wéét dat sy ‘n besluit moet maak en hulle haar kans wil gee om dit te doen op haar eie.
‘Hulle dink seker dat ek sal gekies het teen die tyd wat ons bergaf gaan,’ dink sy met ‘n gluur in hulle rigting.
Net, sy kan hulle nie meer sien nie. Met haar of en af lopery het sy nie agter gekom dat die mis al hoe meer dig word nie.
Koue rillings hardloop by haar rug af en sy kyk om haar heen. Beweging laat haar skrikkerig voel om vrou-alleen op die berg te wees.
Die beweging kan enigiets wees. Sy hoop dis haar makkers, maar weet dit kan die bergies wees. Oor die algemeen is hulle skadeloos; maar mens weet nooit.

‘n Lang skadu beweeg deur die mis na haar. Nadia se hart dawer in haar ore.
‘Wat doen jy hier op ons berg?’ vra hy toe hy naby genoeg aan haar is dat sy paniekbevange wil begin hardloop. ‘Mense is nie welkom op ons berg nie.’
‘Hey! Dis nie privaat eiendom nie. Ek en my vriende klim gereeld hierdie berg.’
Hy kom nog nader en Nadia kan sy wesenstrekke uitmaak.
Lank en skraal met oë wat te groot is vir sy gesig. En punterige ore.
Nadia sluk. Sy’t nog nooit iemand gesien wat so lyk nie.
‘Jy’s nie welkom hier nie. Gaan terug na jou eie wêreld,’ sê hy bruusk.
Nou’s Nadia eers verward.
Hy sug lankmoedig.
‘Wonderlik. Jy’t verdwaal. Kom saam met my.’ Hy draai om en wag nie vir haar nie.
‘Hoekom?’
‘Want jy weet nie hoe jy hier beland het nie. Wat beteken jy’t ons nie gesoek nie. Wat beteken jy’t ons nodig.’
Dit maak nog minder sin.
‘Wat?’
‘Jy’s in die ryk van die Feë. Bly by my as jy nie geëet wil word nie.’
Grootoog loop sy agter die man aan wat lyk soos ‘n reuse hottentotsgot.
Sy voel soos ‘n agtjarige wat in ‘n Feëverhaal geval het.
‘Dis wat jy kry wanneer jy nie jou probleem-berge wil takel soos ‘n grootmens nie: hallusinasies soos Alice,’ dink Nadia grimmig.
Vir die eerste keer kom Nadia agter dat die terrein onbekend is. Vreemd siende dat sy so baie tyd op die berg deurbring. Iets was defnitief nie reg nie.
‘Dis onmoontlik.’
‘Wat?’ vra hy geërriteerd.
‘Die berg moes al geëindig het.’
‘Jy’t al lankal oor ‘n bergrug geloop wat die twee berge verbind.’
‘Twéé berge?’ vra sy in ‘n klein stemmetjie.
‘Die een in die mense-wêreld en die een van die Feëryk.’

Die mis is nie meer so dik nie. Maar steeds kan sy nie werklik om haar sien nie. Tog is sy nie bang nie: die mis is soos ‘n bekende kombers wat om haar vou en haar veilig hou.
‘n Paar kabouters gekleë in klere wat lyk asof dit van proteas gemaak is, hardloop voor hulle verby. Haar oë volg hulle soos hulle verby ander Feë hardloop.
‘Hoekom lyk daadie kabouters of hulle menseklere aan het?’ vra Nadia. Al die ander Feë dra klere wat duidelik van plante gemaak is.
‘Hulle gaan gereeld uit na die mense-wêreld om die bergies te versorg.’
‘O.’ Sy’s nie seker wat om te sê nie. Sy’t nie gedink met die manier waarop sy ontvang is dat hulle van mense hou nie.
‘Om ander te help, beteken nie net om jou eie soort te help nie,’ sê haar gids.
Nadia bloos. Haar gejaagde lewe in die stad kyk sy verby al die swaarkry om haar. Partykeer sien sy dit nie eens raak nie.
Sy skud haar kop en probeer om nie te dink nie.
‘n Boom sweefhang bo die grond, ontblote wortels wat drup met water. ‘n Blou poel vorm onder die boom wat met groen plasse skitter.
‘Wat?’ vra sy, woorde ontgaan haar.
‘Dis die boom wat ons geanker aan Feërie hou so diep in die mense-wêreld. Dit lyk dalk vreemd, maar die wortels is eintlik in ‘n moeras êrens in Feërie se hart.’
Nadia kyk weg. Die ontblote wortels laat haar ongemaklik voel. Dalk omdat Darren haar wil ontwortel…
Die gedagte aan haar verloofde laat haar keel toe trek.
‘Ontspan. Dis nie só erg nie. Om hier so half in die mense-wêreld te wees is pret. Dit het ‘n paar honderd jaar gevat vir ons om daaraan gewoond te raak…’ Hy haal sy skouers op. ‘In die einde was dit die beste besluit.’
Blou dwaalligte tjirp om hulle. Haar gids maak asof hulle muskiete is. Haar verloofring skitter blou.
Toe sy twee jaar terug verloof geraak het aan haar varsity kêrel, was sy in die wolke. Deesdae voel dit meer soos ‘n plig om aangenaam met hom te wees en tyd met hom te spandeer. Soos die kabouters wat die bergies versorg…
Nadia voel sleg oor haar gedagtes. Natuurlik is sy nog lief vir Darren.
Sy skrik toe helder pienk eendjies oor haar pad loop. Hul skerp tandjies blink in die halflig. Geskok kyk sy hulle agterna waar hulle steeds in ‘n ry agter die ma-eend aanloop. Hulle bly in hul perfekte ry, hulle wyk nooit af nie.
‘A! Daar’s die baken. Ek het gewonder hoekom hulle hier is,’ sê haar gids met ‘n vuil kyk in die pienk eende se rigting.
Bakens. Leeukop. Die tafel gedek met mis. As sy sou trek na die binneland sal sy nie meer haar bekende bakens om haar hê nie.
‘Watse baken?’ vra sy om uit haar eie kop te kom.
‘Om te waarsku dat ons nou in mensvreter terrein is. Moenie jouself bekommer nie: dit sal nie lank vat om hierdeur te loop nie.’
Nadia knik en volg naby aan hom. Haar hart klop vinnig en wil haar paniekerig maak. Haar verstand sê dat haar gids haar tot nou toe nog reg gelei het en dat sy hom kan vertrou om haar veilig hierdeur te kry.
Die mis wapper soos ‘n bruid se sluier toe hulle verby nog ‘n baken loop.
‘Sien? Ons is weer in ‘n relatiewe veilige area.’
Sy knik stom. Vrees hou haar terug om ‘n regte besluit oor haar toekoms te neem. Soos die eendjies van vroëer volg sy die logiese volgende stap van haar verhouding met Darren omdat al hul vriende trou.
Sy wás lief vir hom. Maar sy was verlief op die man wat hy op universiteit was. Hulle het mekaar in die jare daarna ontgroei. Sy kan nie haar stad, haar berg of haar see opgee vir hom nie. Hulle versorg en verdra mekaar uit gewoonte, nie liefde nie. Sy verdien meer; hy ook. Sy kan nie trek nie; haar hart sê dit. Sy kan nie met hom trou nie; haar verstand sê dit.
‘Hier is ons,’ sê haar gids.
‘n Goue hek blink in die donkerte tussen twee swart bome.
‘Jy’s welkom om weer te kom kuier. Onthou net om melk en gebak saam te bring!’ Hy glimlag.
Sy glimlag dankbaar. ‘Baie dankie vir jou hulp.’
Sy loop deur die hek terug na haar berg.

Sy is amper op die bergrug; waar sy veronderstel was om heen te klim. Die mis het gelig en helder sonskyn bak die misdruppels weg wat nog aan haar klere en hare kleef. Sy voel lig en hartseer-gelukkig.
Dalk was die Fee reg toe hy gesê het sy’t hulle nodig. Sy sou nooit besef het wat om te doen as dit nie was vir alles wat sy in die Feëryk ervaar het nie.
Sy word omsingel deur haar stapgroep. Meeste van hulle is uitasem.
‘Seriously? Wat’s fout met jou? Ons het reëls vir ‘n rede!’
‘Kalmeer, Susan,’ sê iemand.
‘Een van ons goue reëls is dat niemand – niemand, hoor jy? – op hul eie afdwaal nie. Wat as jy geval het? Of iets anders oogekom het?’
‘Darem het ek tyd gehad om te dink,’ sê Nadia met ‘n glimlag wat sy hoop die tirade aan ‘n einde sal bring.
‘O?’
‘Ek gaan nie met Darren trou nie. Dis tyd om daardie verhouding te verbreek.’
Stilte.
‘Hoog tyd. Julle is al lankal nie meer op dieselfde golflengte nie.’
‘Ek dink in elk geval julle het net so lank bymekaar gebly omdat ander dit verwag het.’
‘Lyk my julle het almal ‘n opinie,’ sê Nadia geamuseerd.
‘Natuurlik.’
‘Dis wat ons doen in hierdie groep.’
‘Ons ondersteun mekaar.’
‘En ons vertel mekaar die waarheid. Al klink dit soms soos kritiek.’
‘Met vriende soos julle…’ sê Nadia.
‘Wie’t familie nodig?’ eindig Johan met skaterlag van die groep.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

verborge
Lekker gelees.
4 jaar 2 maande 2 weke 5 dae 16 ure oud


verborge bergrug
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die BERGE projek.
4 jaar 2 maande 3 weke 14 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar