Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

"Santie! Oh Santie! Jy is die liefde van my lewe." Sê Adonis terwyl hy my net daar en dan in sy sterk, bruin gebrande arms optel asof ek nie 76kg weeg nie. Om die waarheid te sê, my duie het skielik 'n slankheid wat my stomslaan, en my arms lyk soos spaghetti bandjies. "Oh Adonis! Jy sê die mooiste goed."

.*.*.*.*.*.*.*.


Gerhard: "Wie's Adonis ouens?"
Pieter: "Nee ek weet nie Gerhard. Maar wat gaan ons met die twee maak? As die HK hul sien en ons het hulle nie 'gestort' soos die tradisie vir diegene wat Vishuis se tikkie onteer nie, dan gaan die hel los wees."
Neëls: "Jy's reg Gerhard. Ons sal iets moet doen...."
Die vyf jarre van Huis Abraham Fischer - of meer algemeen bekend as Vishuis - is aan die kopkrap oor hoe om die situasie te hanteer. Gerhard en Neëls is hulself natuurlik aan die doodlag; ou skaam Kabous (al la Kobus) staar net verward na die petalje sonder om 'n woord te uiter - die ou lyk doodbang. Ook Arnold weet nie herwaarts of derwaarts nie. Die blondekop pop met die stewige agterstewe, is reeds die einste een wie se bril hy gister platgesit het.
Gerhard: "Kom ons maak hul net wakker voor die HK terugkom. Anders gaan ons rûe breek as ons die twee heelpad moet dra 'stort' toe."

"Jarre!! Wat maak julle daar!?"

Gerhard: "Oh blikemmer! Te laat."
Neëls: "Dis Prime Fanus!"
Die vyfmanskap spring gelyktydig op aandag voor die twee slapende meisies in voordat Prime Fanus iets te siene kan kry. Senuagtig verduidelik Pieter: "Niks nie Fanus. Ons bekyk sommer net die uitsig."
Gerhard en Neëls proes dat die spoeg spat. As Fanus maar net van 'die uitsig' weet....
Prime Fanus: "Met wie dink jy praat jy van der Merwe?!"
Pieter: "Eeh.. Jammer.. Fan u s ... ek bedoel Prime.."
Prime Fanus: "En Julle twee, vir wat grinnek julle. Dink julle dit is 'n donnerse joke?"
Gerhard: "Eehh.. ek.. ehh... nee Prime ... nee, natuurlik nie."
Prime Fanus: "Sak en gee my vyftig van die bestes!"
Al vyf jarre aarsel. Oh hel! Nou gaan die sop spat.....
Prime Fanus: "Nou toe, vir wat wag julle....!"
Die jarre kyk van die een na die ander, voordat hul noodgedwonge grond toe sak vir vyftig van die 'beste' opstote. Die hemele weet, sedert gister het hul al amper 250 agter die rug.
Prime Fanus: "En wat het ons hier!"
Die jarre se ingewande begin bewe. 'Oh blikemmer!'
Prime Fanus: "Sou die twee dametjies nou wragtig op onse tikkie kom staan en 'n middagslapie vang. Ha ha ha!!!"

.*.*.*.*.*.*.*.


Ek is ongeskik vies oor die ongepoetste duiwels wat kom staan en sommer my droom laat versuur soos ou melk. Adonis is skeilik aan die weghardloop oor die grasvlaktes heen, en laat my verslae staan met net 'n enkele rooi skoen. "Nee Adonis, kom terug!" Prewel ek deur die newels deur. "Adonis!"
Weer versuur 'n helse kabaal my droom, en met 'n ruk skrik ek wakker asof ek skielik vanaf die nadood terug na die lewe herroep is. Verward kyk ek om my rond, net om in vyf ge-amuseerde mansmense vas te kyk. Of is daar ses? Skewekop staar ek die ongepoetste buffels aan. 'Nou wat dé hel doen hulle in my kamer?'
"Eeeehh Matilda! Daar is vreemde mans in ons kamer!"
Matilda hik soos sy skrik, so al veëend met die plathand aan die kwyl wat by haar een mondhoek uitloer. Onder moë ooglede staar sy my aan.
"Wat is dit nou Santie?" Vra sy verward.
Ek kyk haar net met groot oë aan. Die slaapnewels begin stadig om my verdam, en skielik tot my grootste vernedering, bloos ek bloedrooi. 'Oh duiwel. Ons het toe sommer net hier aan die slaap geraak.'
Matilda se linkerbreinsel voeg ook twee-en-twee bymekaar. Ek kyk na Matilda, Matilda kyk na my.... Dan kyk Matilda na die vyf ouens, die vyf ouens kyk na haar.... Sy kyk na my, ek kyk na die vyf ouens... Die vyf ouens kyk na my, en ek word al hoe rooier. My maag maak sommer so draai, en ek bid net dat gisteraand se knoffelbrood nie al dermkanaal toe is nie, want anders weet ek nie waar ek nog my kop gaan indruk as ek nog boonop poep ook nie.
Ek is verstom. Verslae. Vernederd. Ver... Ver.... Nog sinonieme wil net nie by my opkom nie.
"Nou toe manne, vir wat wag julle!" Hoor ek een van die ongepoetste buffels sê wat lyk soos die groot buffel onder die klein buffeltjies. Die ou met sy swart hare en bruin oë lyk vir my al te giftig.
Ek wou nog vra: "Nou wat verwag jy van die ouens wat lyk asof hulle eerder onder die eerste klip wil inklim?" Toe die mansmense op die rooi, sement storie klim waarop ek en Matilda so lekker gedut het net minute tevore. Twee-twee kry die manne ons beet. Ek gil. Matilda gil. Ek en Matilda gil. Saam gil ons dat die voëltjies sommer verskrik die niet invlug, maar al wat los is die vier skoot buffels.
"Sit my neer, sit my neer!!!!" Ons skop. Ons skel. Ek vloek so ampertjies die enigste vloekwoord wat ek ken - "Bleddie stoet ramme," maar die mansmense hyg en hyg onder ons gewig al draend die mooi gebou binne. Die gang is donker en bo ons is daar 'n gallery waar 'n klompie ander ouens met hul rooi hoedjies vergader het om die petalje gade te slaan. Ek hoor 'n paar bokfluite wat my wange sommer weer laat ontplof soos ek bloos. "Wat op aarde gaan julle met ons maak. Sit my neer julle poepolle!!!"
"Hou vir jou stil man!" Sê een van die manne. "Jy's bleddie swaar."
"Swaar! Sê jy ek is duk?!" Ek is opeens verontwaardig. Wie dink die ou is hy om my sommer so te beledig. 'Jy is net stewig gebou Santie,' is wat my ma altyd sê.
Prime Fanus: "Van der Merwe, het jy sopas die dame beledig!"
"Ehhh Prime.. neee... ek .. eh...."
"Hy het sowaar. Die pofadder." Gil ek vir die groot buffel met sy rooi das.
Die Prime smaal egter net van oor tot oor terwyl sy oë oor my postuur gly. Ek het dan gedog die man is skielik aan my kant, hoe dan nou? Ek wou nog die man ook iets toesnou, toe ek skielik my woorde insluk met die dat ons 'n vertrek betreë wat heel anders as die res van die plek daar uitsien. Waar dé hel is ons nou? Dit lyk dan net soos 'n badkamer die. Voor my uitgelyn staan 'n ry storte in gelit.
Prime Fanus: "Jar Pansegrouw! Vir wat hou jy jou so skaars. Toe-toe! Draai die krane oop."
Dis toe eers wat ek vir Adonis gewaar wat so ongesiens moontlik blyk dit my, uit my gesigsveld probeer bly het. Ek frons en bloos dat my klein toontjie sommer vanself skeeftrek. 'Oh wêreld nee! Net nie dit nie. Wat moet die man nou van my dink?'
Ek besef nie mooi wat aan die gebeur is met die dat my oë vasgenael op Adonis te ruste gekom het nie - dis eers toe die yskoue water my soos 'n donderslag tref, dat ek tot die hede herroep word en met my beste opera vorendag kom. Dit duur ook nie lank voor Matilda haar by die skouspel voeg en ons 'n duet komponeer wat die manne skoon versteen laat nie. Ek begin skop en skree dat die arme outjie naaste aan my net keer vir sy kroonjuwele. Ten minste het my pa my geleer waar die goed sit, want die hemele weet, ek weet verder nie veel van mans af nie.
"Vat daai een vas manne. Gan jul dat die twee dukgatte julle ore aansit. Toe toe! Hul moet sopnat wees! Niemand onteer Vishuis se Tikkie nie!"
Die twee ouens kry my opnuut beet, en vir die tweede keer daardie dag voel ek hoe my klere deurweek word in die koue water. Dit is so bleddie koud, dat ek opeëns ophou spartel. Ek staan nog egter so onder die lopende water toe 'n gedagtetjie my tref. 'Dis eintlik 'n hengse snaakse petalje die,' dink ek - Eerstens raak ek en Matilda helder oordag aan die slaap op die Kampus terrein van alle plekke. Tweedens word ons ontdek deur ses ouens wat hulself dooddra aan ons; en laastens beland ons in die stort saam met vyf ouens wat ons van geen kan af ken nie. Wag net tot ek vir Tant Ragel van die petalje vertel, sy sê mos ek weet niks van verleiding af nie, maar hier is dan nou drie hubare ouens saam my in die stort... -
Ek begin giggel.
Ek giggel al hoe harder.
Toe word die gegiggel 'n helse gelag, en die gelag sit om in oormatige styftrekkings wat my laat gryp na die ou naaste aan my. Ongelukkig let ek nie op waar ek gryp nie.
"Wat dé hel!" Hoor ek hom verontwaardig uiter. Ek dink nie die ou het geweet wat hom tref nie, want hy spring so vinnig uit die stort dat hy homself skoon dusnis loop teen die ou groot buffel wat alles gadeslaan met sy onderlip wat omtrent op die grond hang in verbasing. Heel duidelik het hy nie geweet ek ken sulke toertjies nie. Die twee val soos twee vrot velle vloer toe, met die ander ouens wat my en Matilda sommer net so laat staan om die twee te gaan 'red.' "Kom Matilda!!" Skree ek, terwyl ek 'n gaping sien om te ontsnap. Sy laat ook nie op haar wag nie, en so vinnig soos ons bene ons kan dra, hardloop ons na die naaste deur. Sonder om te dink, pluk ek die deur oop en beland in 'n lang, lang gang. Ek hoor 'n helse lawaai aan die ander kant van die deur opklink, en soos die geluksgodink dit wil hê, het die deur dank-die-hemele, 'n sleutel wat ek al te gewillig draai.
"Hardloop!" Is al wat ek kan uitkry, voor ek en Matilda by die gang afhardloop. Ek hoop en bid daar is 'n buitedeur aan die einde van die lang gang. Gelukkig is daar geen ander siele te bespeer nie.
Huig-huig strompel ek en Matilda met die gang langs. My bene brand. My ingewande bewe. Dit voel asof ek wil flou word, maar ek beur voort.
"Waar is hulle. Soek hulle manne!" Hoor ek die groot buffel skree. Tientalle voetstappe weerklink teen die houtvloer op. "Oh hel Matilda! Vinniger."
Ek sien hoe die deur aan die einde van die gang al nader kom, en ek bid dat ons dit tot buite sal maak voor die klomp ons inhaal.
"Ek kan nie meer nie Santie!" Gil Matilda.
"Maak nie saak nie. Kom!!!"
Toe die deur skielik voor my verskyn, skiet ek 'n vinnige gebedjie na die hemele dat dit tog nie gesluit is nie. Op daardie dag was daar seker egter geen engele aan diens nie - die deur staan bottoe onder my hand toe ek die knop draai. 'Oh nee.'
"Hy's gesluit!" Sê ek aan Matilda wat nie werklik reageer nie. Die staan net al huigend teen die muur en aanleen. "Wat nou? Wat nou?" Roep ek bekommerd en soek al om my rond na 'n uitweg terwyl die gang begin weergalm onder die druk van tientalle voete.
"Oh gonna!" Ek slaan eerder dood neer na die hiernamaals as wat ek weer so verneder word. Dis toe ek na links kyk en die trappe bespeer wat lyk asof dit na die hemel loop, wat ek besef: 'Een engel was ten minste aan diens vandag.'
Ek kry Matilda aan die arm beet, "Kom!"
"Nee. Waarheen nou!" Sy steek viervoetig vas.
"Dis nie nou tyd vir jou streke nie Matilda. Kom!"
Sy het geen keuse toe ek haar al met my saamtrek trappe toe nie. Twee-twee hardloop ons die trappe op, net om in nog 'n gang op te eindig. 'Oh hel. Waarheen nou?'
Soos wat ons verby die een deur na die ander draf-hardloop, begin ek aan al wat 'n deurknop is draai en bid een is oop. As ons net by 'n venster kan kom, kan ons daardeur klim.
"Agggh Santie! S t a d i g e r!"
"Nee kom!" Ek weier om weer deur Adonis of enige van sy ander handlangers gevang te word. Ek is 'n boeremeisie van die Vrystaat, so word ons nie verneder nie.

"Waarheen is hulle?! Soek hulle Visse!" Skree die groot Indoena van iewerste op die grondvloer.

Dit lyk asof my gebede eindelik verhoor word, want genadiglik voel ek hoe 'n deur iewerste in die middel van die gang oopklik onder my aanraking. 'Dankie tog!' Ek probeer so suutjies as moontlik draai aan die deurknop, sleep Matilda al agter my die kamer binne, en druk die deur weer vinnig toe. Ek slaag hoorbaar 'n sug van verligting. " S j o e !" Is al wat Matilda kan uitkry.
Ek knip my oë 'n paar keer. Dan nog 'n keer. 'Donker? Dis dan pikdonker in die kamer! Nou hoe so?' Wonder ek. 'Dis dan nog dag buite.' Ek begin so al in die donker voel-voel na die lig skakelaar. Dis maar 'n gesukkel met die dat ek so bewe van die koue.
"Hoor jy dit Santie?" Fluister Matilda skeilik beangs.
"Wat?"
"Luister man...."
Met my ore gespits probeer ek luister waarna Matilda so beangs verwys. Ek hoor 'n paar sug-geluide wat vir my alte vreemd klink. Ek weet nie van enige plaas diere wat sulke geluide maak nie. Weer luister ek.
"Wat op aarde is dit Santie?"
"Ek weet nie." Antwoord ek so al fronsend. 'Dis nou snaaks.'
Weer luister ek en Matilda, maar niks wil nog vir my sin maak nie. Ek voel-voel weer in die donker na die skakelaar wat ek genadiglik vind.
'Klik!' Hoor ek die skakelaar sê voor ek 'n petalje gadeslaan wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie.
Ek en Matilda kyk gelyktydig na mekaar; ons oë rek.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar