Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ladine loop met die gevlegde mandjie met die rooi vadoek oor, die straat af. Ietwat selfbewus. Gisteraand het sy die movie, Diary of a mad black woman, weer gekyk. Sy hou nie meer by hoeveel keer sy dit al gekyk het nie. Sy het die idee daar gekry om vir Allistair lekkernye werk toe te neem. Die feit dat hy van die huis af werk, maak seker nie ‘n verskil nie. Haar swart miniromp sit ‘n bietjie los vandag en draai al in die rondte. Sy draai dit reg voor sy by die groot hek ingaan.
“Allistair,” sy roep weer sy naam, nie seker of hy haar die eerste keer gehoor het nie. Hy kruip onder die motor uit. ‘n Swart oliekol loop skeef oor sy wang en eindig oor sy neus. Sy het gedink hy sou bly wees om haar te sien, maar sy frons laat haar soek na woorde.
“Dis amper lunch, gedink ek bring vir jou iets lekke.”
Hy hoes, lyk nie beindruk. Dan gaan die kombuisdeur oop en vir die eerste keer sien sy haar. Dis Leila, Allistair se vrou, wat uitloer. Wanneer het sy dan van oorsee af teruggekeer? Alles wat sy voorberei het om vir Allistair te se, is vergete. Sy en Allistair was dan nog Sondagaand heel aand bymekaar. Leila se vriendelike oe gly oor Ladine en sy voel ‘n bespotlike agtien onder haar blik. As die mandjie in haar hand net kon magies verdwyn.
“Ek moet gaan. Ek gaan jou bel,” Allistair se hand gly na sy oor toe om die maak van ‘n oproep na te boots met ‘n halfhartige glimlag. Hy verdwyn by die deur in van waar Leila hom ‘n paar minute gelede geroep het.
Ladine staan daar met die mandjie in die hand. Pyn hardloop draaie deur haar gemoed. Is Allistair se vrou terug vir goed? Mense het altyd vertel hoe ‘n mooi mens Leila is. Sy wou dit nie glo nie. Dis nie die indruk wat sy by Allistair gekry het nie. En watter vrou los haar aantreklike man alleen om in die vreemde te gaan werk terwyl sy aan niks ‘n tekort het by die huis nie? Leila is meer as vyf jaar ouer as Allistair. Hy is nou twee en dertig. Hulle het nie kinders nie, dis seker waarom sy so maklik kon weggaan.

By die huis deel sy die eetgoedjies vir die bure se kinders uit. Sy is te ontsteld om daarvan te eet al is sy honger, sy het sommer vir haar ‘n toebroodjie gemaak. Sy kry die reuk van rou hoender uit die kombuis en die volgende oomblik moet sy hardloop vir die badkamer soos toebroodjie en koffie by haar slukderm opwurm. Haar ma klop by die deur, wil hoor of sy oraait is. As sy uitkom, vermy sy haar ma se oe. Sy is te bang vir die bevestiging van die waarheid wat sy daarin gaan sien. Sy is onnatuurlik moeg, sy gaan eerder le in die hitte. Net as sy wil insluimer lui haar foon. Die winkel waar sy as aflos werk, vra of sy nie vir die week wil kom werk in ‘n kassiere se plek nie. Sy is gedurig uitgeput en opgeblase, maar hulle het die geld nodig so sy stem vinnig in.

Die eerste ding wat sy doen die volgende oggend toe sy wakker word, is om te kyk of daar nie ‘n boodskap of oproep van Allistair was nie. Niks. Dit gaan ‘n lang dag wees. Nie dat sy nie uitsien om weer tussen die bekende gesigte te wees nie. Werkloosheid sonder ‘n mens af, jy verloor tred met dit wat die wereld om jou aangaan.
Die meisies is bly om haar te sien, veral Lucy. Hulle ken mekaar al van hulle skooldae af. Alhoewel hulle nie moeite doen om na werk saam te kuier nie, geniet hulle tog mekaar se geselskap so tussen die werk deur.
Bennet kom winkel toe en sy oe blink soos altyd wanneer hy na haar kyk. Hulle het saam opgegroei en al is hulle nou volwassenes het hy nog nooit opgehou om sy liefde vir haar te bely nie. Sy kan dit nie hanteer nie. Sy wens hy wil aanbeweeg. Dit laat haar Allistair net meer mis.
“Wanneer gaan ek en jy uit, Ladine? Ek hoor jy’s weer single.’’
Almal weet natuurlik teen die tyd dat Allistair se vrou terug is in die dorp, dis ‘n klein plekkie. Sy en Allistair het egter niks met ander mense uit te waai nie.
“Jy gaan nog lank wag vir daai dag, Bennet.”
“Sal sien. Dis dalk nog gouer as wat jy dink.”
Wie wil nou deurmekaar wees met ‘n ou wat nie eers nie motor het nie? Goeie mens of nie. Sy ry in g’n taxi met ‘n man nie.
As sy weer kom kry, is dit middagete. Lucy bied vir haar mayonnaise en hoendertoebroodjies aan waar hulle saam met Janet en Amber buite die winkel op die muurtjie sit. Weer raak sy naar soos die vorige dag. Ondanks haar haas kan sy nie help om Allistair se naam te hoor as sy spaander vir die winkel se toilette nie.

Sy is doodmoeg as sy die aand by die huis kom. Haar ma spring op van die rusbank en volg haar na die kombuis.
“Ek het ‘n pregnancy toets gekoop. Jy kan sommer vanaand kyk of jy swanger is.”
Ladine kyk uit die veld geslaan na haar ma. Haar ma het dan nog nooit omgegee dat sy met Allistair uitgaan, dat hy hier kom, dat hy gee as hulle ‘n behoefte gehad het nie.
“Ek is moeg en honger, ek sal later sien of ek daarby uitkom.”
Sy kan sien haar antwoord stel glad nie haar ma tevrede nie. Wanneer het sy die toets gekoop? Wag haar ma al heeldag vir haar om van die werk af te kom? Asof Allistair se stilte nie erg genoeg is nie.
Na ‘n goeie bad en aandete, hou Ladine haar net besig, maar is bewus van haar ma se oe wat haar elke beweging volg. Die toets le nog onaangeraak op die eetkamertafel.
Sy moes aan die slaap aangeraak het, want as sy wakker skrik met haar selfoon in die hand, is dit voor twaalf. Geen boodskap, geen oproep van Allistair. ‘n Onweerstaanbare hartseer wil haar oorweldig as sy opmerk die toets le nou op haar bedkassie. Sal swangerskap nie die einde van haar probleme beteken nie? Leila los dan vir Allistair en hulle twee kan dan verewig bymekaar wees? Met die toets in die hand, sluip sy badkamer toe. Sy kan haar oe nie glo nie as sy ‘n uur later met die toets in die hand nog in die badkamer sit nie. Die volgende oggend is sy uit die huis voordat haar ma kan opstaan. Haar ma kan die gebruikte toets maar in die snippermandjie kry.
Dis ‘n benoude hart wat in haar keel klop terwyl sy wag op reaksie. Leila maak die deur oop in ‘n wit japon.
“Allistair. Ek soek net gou vir Allistair.”
Haar mond is droog, haar tong wil aan haar verhemelte vaskleef.
“Kom in.”
Hoeveel keer het sy nie gewerskaf in die kombuis nie? Het hulle nie films gesit en kyk in die tv-kamer tot watter tyd van die nag toe nie?
“Sit.”
Al wat Ladine wil he is dat sy vir Allistair moet gaan roep. Sy is nie daar vir moeilikheid nie.
“Jy het ‘n verhouding met my man aangeknoop terwyl ek weg was. Is ek reg?”
Ladine skud haar kop in erkenning. Wat het haar makeer om hiernatoe te kom.
“Ek is swanger,” die drie woorde kom uit in ‘n smeekstem.
“Jy’s nie swanger nie. Ons het nie kinders nie, want die fout le by my man. ‘n Ongeluk in sy jeug. Het Allistair jou nie vertel nie?”
Hy het nie, hulle het dan altyd so gespot oor die maak van ‘n baba.
“Jy’s pragtig. Jy verdien baie beter as ‘n getroude man, juffrou. En nie om iemand se tweede beste te wees nie. Ek praat nie Allistair se gedrag goed nie, maar ek dink nie hy wil jou meer sien nie. Hy mag baie charming wees, maar glo my hy het nie die moed nie.”
Leila staan op en hou die deur vir haar oop.
Ladine klem die sneesdoekie styf vas terwyl sy werk toe stap. Sy sal nie huil oor hom nie. Hy verdien nie haar trane nie.

Dis die vyf-en-twintigste en die winkel is so besig dat sy alles wat die oggend gebeur het, vergeet. Bennet kom soek kleeflint. Met middagete verneem sy by een van die meisies dat hy besig is om te trek, want hy’t ‘n goeie werksgeleentheid in die stad gekry, een wat blykbaar baie goed betaal. Teen half vyf is dit uiteindelik weer rustig. Craig Peters kom betaal by haar en skribbel sy selnommer op die kontantstrokie terwyl sy vrou al by die deur wag. Sy steek dit in haar sak, sy sal dit later op haar selfoon sit.








Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

verminkte vlerk...
Ek het baie lekker aan jou storie gelees. Goed beskryf en oulike styl.
7 jaar 9 maande 2 weke 6 dae 6 ure oud



KOPERMAAN tot SPIKKELPELIKAAN

deur Viooltjie

Hierdie bundel bevat 80 oorspronklike gedigte wat vir enige leser toeganklik sal wees. Dit is gedigte waarmee mense kan identifiseer. Dit sal jou nie onaangeraak laat nie. Natuur, omgewing en bloot net ménswees kom baie sterk hierin na vore.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar