Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

PANTOFFELS MET TOSSELS

Dís éintlik waar braaivleis sy beslag gekry het – veral as die antie wat die pantoffels se talente meesal in haar tong gesitueerd is. Dis nie nou net vir lekker eet nie, maar veral vir klap. Die Bybel waarsku mos herhalend van die lis en moordens en snydings van die tong.

Dan is dit vir die oom wat die brood win, geriefliker om buite die huis te wees – en sommer kosmaak ook in vreedsame stilte langs die lawende vuurtjie in die koelte.

Die vlak van veeleisendheid bepaal of die oom net gaan braai of liewer potjiekos maak – daar’s ‘n aansienlike tydsverskil – sien, dorings steek maklik deur pantoffels. (Binne is dit weer nie te hard op die bunions nie). Soms is beesstert net die regte keuse.


MOENIE PUNTENERIG WEES NIE

Vergeet van al die ou rate en reseppies en grootpratery en pantoffelry. Vat ‘n groot boepenspot sodat jy genoeg ruimte het vir wat kom. Maak die ding goed warm (maak nie saak waarmee nie) en gooi ‘n bietjie vet in (maak nie saak watter soort nie). Gooi dan jou stukke vleis in (vark, skaap of bees – selfs volstruis of bok) en karring met ‘n fris lepel kort-kort deur die vleisies totdat hulle mooi bruin is. Herhaal die hele proses nou met gekerfde uie (maak nie saak fyn of grof of stukkies of ringe nie).

Maak die warmte onder die pot nou aansienlik minder (as die antie baie pare pantoffels het, dan hou jy net een kooltjie onder die pot). Gooi ‘n bietjie water (maak nie saak koud of kook nie) en prut die spulletjie tot so halfpad gaar en gooi dan al die smaakmiddels (onthou: JOU eie keuse) en sout in. Roer deur en gooi dan jou groente in (skil dit maar self) – net wat jy wil. Al wat jy nou doen is kyk net dat dit nie droogkook nie.

Wat het jy dan? Heerlike vrede buite in swye ...en ‘n smááklike bord kos wat die antie heel waarskynlik nie sal aanpresenteer nie!

Braaivleis? Ag, maak nie regtig saak hoe hoog óf laag nie, ook nie wanneer om te draai nie. Moet net nie die spulletjie té gaar maak nie – die vleis moet darem so ‘n effense pienk hê soos daai tradisionele pantoffels met die tossels.


MENSEHEUGENIS!

Dis mos nou hoe dit baie keer werk. Net wanneer die kos reg is (heel toevallig!) val daar mos mense met die deur in die huis. Hulle is eksperte met tydsberekening. Maar oom Kerneels kriewel nie. Dis die voortreflikheid van ‘n potbouery – die kos is altyd nie genoeg nie, maar te véél.

“Souf, jy moet rys kook” hoor die antie van buite af wyl sy badkamer toe trippel om gou ‘n kam deur haar hare te trek en haar gesig te vermom met haar pienk poeiersponsie en rooi lipstokkie en donker oogskaduwee.

Gasvry wat ons mense nou eenmaal is, nooi tant Souf dadelik die vrinne hartlik vir ete met haar rooi lippies.Die gart maak hul tuis in die voorhuis.

Oom Karools beur en kreun wyl hy die massiewe pot eetkamer toe dra en en op ‘n plank in die middel van die tafel plaas.

Die ooms kry nie ‘n enkelte woord in nie en oom Karools gaan wys oom Parool sy nuwe Ford-bakkie in die waenhuis. “Menseheugenis!”, sê hy, en bewonder die bakkie van hoek tot kant.

Langsaan spog oom Karools met sy groentetuin. “Menseheugenis!” sê oom Parool en vryf die boerpampoen wat so statig tussen die blare uitblink. “Menseheugenis, dis ‘n hetige dag vandag”, sê oom Parool en die twee ooms bespreek die weer verder onder die moerbeiboom. “Rools, julle moet kom aansit”, dawer dit uit die kombuisdeur uit. Die ooms staan nader.

Toe oom Karools in die eetkamer kom, sien hy tant Souf het sy pot alles uitgeskep in kosbakke, soort by soort! Hulle skep in en daar word gesmul. “Menseheugenis, die kos smaak vorentoe!” komplimenteer oom Parool.

Tant Ralie haak af: “Souf, jy bly darem maar ‘n voorslagkookster – jou kos smaak uit die boonste rakke!” Tant Souf glimlag van oor tot oor ... en stel nie die saak reg deur te sê dat sy net die rys gekook het nie.

“Menseheugenis!”, haak oom Karools af ... en skep vir hom nog ‘n aartappel en ‘n stuk stert op ... en los die rys in vrede.

HENG HÉ!

Gister sê ek vir my eie pantoffelina: “Ek’s vinnig besig om die beste kok in SA te word!”

Al reaksie wat ek kry is, “Heng hé!”, tesame met ‘n gesigsuitdrukking wat nie eintlik by dié uitdrukking se verbasing pas nie!

Waar kom my kosmakery nou eintlik vandaan, sal jy graag wil weet. Natuurlik het my ma die basis gelê! Almal se moeders is die beste! My ma kón! Sy kan jou al haar skoumedaljes, sertifikate en trofees wys.
Net begin skoolhou, toe stig ons plaaslik (Ermelo) die Jurgens Woonwaklub – en die uwe is toe sommer voorsitter ook! Vir járe. Toe, moeg opstelle nagesien, vat ek my ou vroeë pensioentjie en koop ‘n restaurant – en bedryf dié vir járe. Toe, moeg om elke dag teen dieselfde binnemure vas te kyk, bou ek vir my ‘n gastehuis.

Daar is mense wat sê: “’n Gastehuis is lekker, jy moet dit net nie self besit nie!” Dis nou meer as tien jaar!

Om ‘n tafel te dek vir ‘n klomp mense waarvan dié nie vark eet nie, andereen het cholesterol, of suiker. Dié eet net witbrood! Dáái is allergies vir dié. Dié hou nie van dat nie.

Toe my vroutjie in trane uitbars, is al wat ek kon sê: “Héng hé!” (En die pyn vat!)

Mense!! Jy gaan nog verderaan interessante stories lees van mense en hulle kosse, mense en hulle maniertjies, mense en hulle geite ...








Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kruispad

deur Manie Jackson

Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar