Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Maar sy rus is van korte duur. Voor hy weet wat tref hom is hy al uit die tent geboender. Die koffie brand sy mond en sy oë is half toe terwyl hy sy goedjies in sy rugsakkie probeer druk. Boonop toe hulle net ‘n paar treë gevorder het voel hy ‘n skerp pyn in sy regter-toon.
“Aow!”
Hy gaan sit sommer en lig die voet op. Tot hulle verbasing en mismoed sien hulle die sokkie uitsteek deur ‘n lieflike gat in die sool.
“My DKWs het nou amptelik gegroet,” probeer Henning die spanning verlig.
“DKWs?”
“Ja: Dans, Kerk en Werk skoene.”
Talita lyk stom geslaan. Hy wil-wil begin lag, maar haar hand druk skielik sy mond toe.
“Shhh.”
Hy ruik die stof op haar hand en voel die koudheid van haar smal vingers op sy warm lippe. Haar fokus is egter op ‘n ander plek. Sy kyk stip oor haar regter skouer. Dan hoor hy ook iets. Dit klink asof die wind fluister. Haar asem is warm en kielie sy oor toe sy saggies vir hom fluister, “Trap met die buitekant van jou voete. Dit demp mens se voetstappe. Kommunikeer met gebare. Laat jou mond effens oophang wanneer jy iets hoor. Dit maak jou gehoor skerper. As jy die gebied skandeer, doen dit van naby na ver in ‘n tregter vorm…”
Henning sukkel om by te bly. Alles klink vir hom maar effens simpel. Hy voel sy lag-spiere prikkel, maar weet dis ook van senuweeagtigheid.
“Haal stadig en diep asem sodat jy kan ontspan.”
Uiteindelik iets wat sin maak en dit werk soos ‘n bom om sy fokus ook terug te kry. Sy haal haar rugsak af en grawe daarin. Die volgende oomblik vries sy en kyk vir sy rugsakkie.
“Gee hier,” fluister sy.
Die rugsakkie se binnegoed word summier uitgegooi en sy sit ‘n tou met anker, hand grenate, nog ‘n tou, die grys blikkie, kop-lampie en ekstra amunisie in, asook, tot sy verbasing, ‘n botteltjie water, en glip dit op haar rug.
“Kom. Bly naby my. Tik my op die skouer as jy iets vir my wil sê of wys. Verbeel jou jy’s onder water en gaan verdrink as jy jou mond oopmaak.”
Temptasie wikkel ‘n grappie oor die feit dat hy sy mond moet oopmaak om beter te hoor, maar dan gaan hy verdrink.
Daar is nog niks op die horison toe hulle by die bo-punt van die berg kom nie, maar Talita maak hom stil toe hy ‘n opmerking wil maak. Hy trap weer op ‘n skerp klip en vloek amper, maar sy druk sy mond toe. “Dalk het sy nie al haar varkies nie…” wonder hy skielik. Maar dan gebeur iets wat hy nie eens in sy wildste drome sou glo nie.
‘n Waterige skynsel van ‘n tempel doem op uit die lug; uit die niet. Hoe nader hulle beweeg, hoe meer word dit sigbaar totdat hulle gaan staan by die voet van iets soos ‘n donker-rooi Tibetse stad wat uit die berg uitrys; so hoog soos twintig verdiepings. Henning is die keer stom geslaan.
Talita maak haar oë toe vir ‘n oomblik. Dit lyk asof sy bid. Henning besluit dis ‘n goeie idee en maak sy oë ook toe vir ‘n skiet-gebedjie. Sy pluk hom aan die mou skaars ‘n sekonde later.
Terwyl hulle langs die muur af beweeg merk Henning hoe seker sy lyk van haar saak. Dis asof sy presies weet wat sy doen en waarheen sy gaan. Hier en daar vat sy liggies met haar hand aan die growwe muur. Skielik gaan haar hand deur die muur! Sy oë rek groot. Talita kyk triomfantlik na hom en beduie dat hy agter haar moet aankom. Hy vee sy oë met sy vuiste toe hy sien hoe sy deur die muur loop! “Ek slaap seker nog…” dink hy maar ‘n hand kom skielik weer uit die muur en trek hom deur. Hy knyp sy oë styf toe.
‘n Ys-windjie verseker hom dat hy nie dood is nie. Hy maak sy oë stadig oop. Hulle staan tussen twee grou kranse wat die son uitblok. Die wande is skerp en ‘n lagie ys maak die idee om daarteen op te klim nog meer onmoontlik. Agter hom lyk dit of die twee kante van die kranse bymekaar aansluit. Hy vat tentatief daaraan en sy hand gaan weer dwarsdeur. Weer en weer doen hy dit met ‘n verstomde uitdrukking op sy gesig. Talita talm nie. Sy trek hom weg en begin afstap in die nou padjie.
Hulle stap vir nog twee ure in die kronkelende eenman pad. Tot sy verligting is die pad gevul met riviersand en kan hy normaal trap, maar sy tande klap opmekaar, hy vryf sy arms en hande om warmte in hulle te probeer kry en sy asem maak wasem-wolkies. Hy verlang na die warm dons-slaapsak. ‘n Vae lig doem skielik op in die verte en hy sug verlig. Talita se pas versnel.
Die opening in die kranse is so helder dat Henning niks kan sien wat verder aan is nie. Hy skerm sy oë en Talita doen dieselfde. Skielik waai ‘n ys-wind sneeu teen hulle vas. Talita stop dood en hy loop in haar vas.
“Brrrrr...” bekla Henning sy lot en vryf sy arms meer ywerig.
Talita gee hom ‘n kwaai kyk, maar hy trek net sy skouers op. Die ys-wind bedaar effens en hulle kan opkyk. Talita se handpalm maak sy mond net-net betyds toe.
Voor hulle uitestrek is ‘n wye spasie van omtrent ‘n kilometer wyd met ‘n lang nou brug oor. Aan die anderkant is ‘n plat, maar wyd uitgestrekte tempel. Eeu-oue, reuse klip-pilare ondersteun die plankie-brug. Donkergroen vierkantige paaltjies dien as reëlings; elkeen sierlik uitgekerf met presisie en afgeëindig in ‘n skerp driehoekige punt. In die middel van die brug is iets soos ‘n wag-toring ook van grys klip met ‘n ook groen gekleurde, Asiatiese riet-teël dak en ‘n eksoties uitgewerkte hout hek. Twee wagte soos monikke geklee in donker-rooi, patrolleer die torinkie. Talita skuif terug na die wand van die krans en druk Henning ook terug. Hy sien hoe sy die res van die tempel bestudeer op soek na nog ‘n ingang. Hy loer oor haar.
Die tempel staan op ‘n eiland-berg. Daar is geen ander ingang in sig nie. Henning twyfel dat daar nog ‘n opsie selfs agterom die tempel is. Hy loer oor die afgrond. Dit loop loodreg afwaarts en die klip het steeds ‘n lagie ys op. Donkerte verbloem die bodem en mens kan net raai hoe diep dit gaan. Hy sug. Hoe gaan hulle ooit inkom? Talita hurk en skryf met haar vinger in die sand, “Ons moet wag tot donker. Jy bly. Ek sal onder die brug kan ingaan.”
Henning is nuuskierig oor hoe sy dit gaan regkry, maar hy kan nie vra nie. Hy sal moet vasbyt en wag. Hulle gaan weer terug in die padjie tussen die kranse om nie gesien te word nie en sit styf teen mekaar om warm te probeer bly. Haar reuk vul Henning se sintuie vir die soveelste keer. Sy hart klop outomaties vinniger en die warmte wel op in hom. Hierdie keer sit hy sy arm om haar. Sy kyk op met ‘n frons en hy beduie met ‘n glimlag dat sy moet stilbly. Sy moet sy hitte voel, want sy leun nader, maar draai haar gesig weg.
Dit voel soos ‘n ewigheid vir die son om te sak. Henning raak naderhand aan die slaap. Iets ruk aan hom. Hy skrik wakker en kyk om hom rond. Dit was nie Talita nie. Sy het ook aan die slaap geraak en lyk salig soos ‘n engel teen sy bors; knus onder sy arm. Sy handpalms begin sweet. Wat het hom wakker gemaak? Hy kyk grootoog rond, maar sien niks. Liggies skud hy sy skouer tot Talita haar oë oopmaak. Sy lyk so kwesbaar hy voel lus en soen haar. Nog voor hy kan reageer op sy impuls is sy egter wawyd wakker en kyk vervaard rond. Dit bring hom terug na die realiteit. Moet hy haar sê iets het hom wakker gemaak? Nee, besluit hy, dit was seker net hy wat geruk het in sy slaap en homself wakker gemaak het.
Henning staan op en hou sy hand uit vir Talita. Sy kom so lig soos ‘n veer op haar voete. Met handgebare en met ernstige oë beduie sy vir hom: Jy bly hier. Ek gaan alleen, maar jy kan saam stap tot by die brug. Hy knik.
Talita trek haar jas uit. Haar wapens en toerusting is oral aan haar lyf vasgegespe op plekke waar dit die minste sal inmeng met haar bewegings. Sy sit die rugsakkie op haar rug en trek die skouer- en lyf-bande styf. Henning kan nie verhelp om bietjie opgewonde te voel toe hy haar so sien nie. Afgeëts teen die diep donkerte merk hy Talita se uurglas lyf; dun middeltjie, smal heupe, mooi gevormde, gespierde bene, petite klein, ferm borsies en lang, elegante nek. Hulle oë ontmoet vlugtig toe sy die baadjie vir hom aangee. Vir ‘n sekonde is albei gevries in die elektrisiteit. Talita kom eerste tot verhaal en skud die baadjie om hom aan te moedig en hy vat dit. Sy hurk en skryf weer in die sand. Hy moet fyn kyk om in die donker te sien.
“Gebruik die baadjie om warm te bly. Dit het isolerings materiaal binne in.”
Henning laat nie op hom wag nie en drappeer dit om sy skouers. Terwyl sy nog so gehurk sit, bind sy haar lang hare in ‘n vlegsel vas en knoop dit in ‘n bolla. Dan kruip sy na die krans se kant toe. Henning hou sy asem op en sy handpalms begin sweet toe sy langs die brug begin afklouter. Sy haal skielik ‘n tou, wat aan ‘n band om haar middel vas gehaak was, af en knip dit aan die brug om een van die hout reëlings vas. Sekondes later is sy weg. Na ‘n rukkie se stilte kom haar hand om die brug te voorskyn en sy ontknip sy die tou. Daarna sien en hoor hy niks weer van haar nie en na ‘n rukkie sluip hy terug na waar hulle vroeër vir die wind weggekruip het.

Talita, beweeg stadig, moeisaam en versigtig onder die brug, maar haar liggaam is fiks en sterk van rotsklim. Soos ‘n professionele rotsklimmer gord sy haarself vas elke paar meter vir veiligheid. Spoed is nie so belangrik as wat geluidloosheid en sukses is nie; sy is geduldig. Toe sy onder die toring in die middel van die brug kom, rus sy en probeer luister na die monikke, maar – tot haar verbasing – maak hulle nie ‘n geluid nie. Saggies en versigtig beweeg sy verder.
Omtrent ‘n uur later bereik sy die fondament/fondasie van die tempel. Vir ‘n paar sekondes luister eers vir beweging, maar daar is nie ‘n geluid nie. Versigtig, sentimeter vir sentimeter, klouter sy oor die kant. ‘n Klip padjie van omtrent ‘n meter breedt loop rondom die buitekant van ‘n lae muurtjie. Die padjie self het ook ‘n muurtjie, maar dis die helfte so hoog. Hurkend agter die hoë een en sit sy bewegingloos. Weer verraai niks die teenwoordigheid van ‘n wag nie. Sy draai haar rug op die ooglopende ingang en sluip verder af in die pad. Haar oë is reeds gewoond aan die donker en omtrent tweehonderd meter verder sien sy die silhouette van iets soortgelyk aan ‘n ronde dek wat uitstaan bo die pad waarop sy is. Uitgekerfde hout pilare ondersteun ‘n sierlike dak. Van die dek af loop daar drie trappe na ‘n landing toe met ‘n altar in die middel. Die altaar is klein; omtrent dertig sentimeter in omtrek. ‘n Meter agter die altaar is daar weer drie trappe wat eindig by twee reuse hout deure geset in die klip muur van die tempel. Monikke beweeg nimmereindigend tussen die dek, die altaar en die oop deure. ‘n Ys wind tref Talita skielik vol in die gesig. Sy knip haar oë en deins effens terug. Toe sy dit oopmaak staan daar ‘n monnik reg voor haar. Sy kaal geskeerde kop is rooi geverf en daar is swart lyne in die vorm van ‘n skedel op sy bleek gesig. Blitsig spring Talita weg van hom af. Skielik is die vorm weg! Daar is niemand voor haar nie. Sy gaan buk weer by die muur en probeer haar hart en asemhaling bedaar en luister of enigiemand nader kom. Maar selfs op die houtdek naby haar kop hoor sy nie voetstappe nie. Hulle moes haar verseker gesien het, skreeu haar gedagtes, maar sy bly doodstil sit.
Na ‘n paar minute wat daar niks gebeur nie, skuifel sy na die anderkant van die dek. Sonder om boontoe te loer, soos wat sy graag wil om seker te maak, sluip sy gebukkend weg. Nog omtrent tweehonderd meter verder sien sy weer ‘n dek. Versigtig retireer sy ‘n paar meter en glip oor die muurtjie. Aan die anderkant ontdek sy kort, netjiese, goed versorgde gras. Plat soos ‘n akkedis beweeg sy na die muur toe. Daar gekom luister sy weereens voor sy verder gaan. Sy besef daar is ‘n onheilige tekort aan klanke. Nie eens die wind wat haar nou-en-dan in die gesig klap, maak ‘n geluid nie.
Weereens kom haar rotsklim vernuf tot haar redding. Moeiteloos klim sy teen die muur uit, onderstebo teen die oorhang van die dak en oor tot bo-op. Die dak is ook met die groot, halwe riet-teëls geteel. Sy trap en klou versigtig, want hulle is nie baie stewig nie; dit verg al die tegniek wat sy ken om ligvoetig en geruisloos bo te bly. By die piek van die dak loer sy versigtig oor.
Die dak is net half en dien as bedekking vir ‘n stoep. Die stoep omring ‘n binnehof van omtrent honderd meter by honderd meter, met netjiese vrugte bome en groente in rytjies in die middel geplant. In teenstelling met die dekke, is geen siel sigbaar nie. Goed so, besef sy, as hulle haar gesien het, sou hulle alarm gemaak het en sou dit nou gewemel het van wagte. Soos ‘n elegante krap beweeg sy tot bo ‘n hout pilaar en seil versigtig van die dak en teen die pilaar af. Vir ‘n oomblik bly sy gehurk sit by die pilaar en bekyk haar onmiddelike omgewing. Niks beweeg nie. ‘n Eienaardige reuk vul haar sintuie; oud, droog, stowwerig en nog iets. Nie wierook nie, maar ook soos kruie net baie skerper. Skielik voel haar oë swaar. Dit wil net toe val. Met ‘n ysterwil veg sy teen die gevoel en beweeg rond totdat sy kan agterkom waar die reuk die sterkste is. So volg sy dit na die anderkant van die binnehof toe. Daar is ‘n smal, kort deurtjie wat ook soos die ander kunstig uitgekerf is. Sy vee haar vaakheid weg en loer deur een van die uitgekerfde gate. Nogsteeds is daar geen monikke of wagte te sien nie.
Talita se asemhaling raak swaarder en haar liggaam beweeg soos lood. Sy kan haar oë skaars oophou. In ‘n hoek met donkerder skadu skil sy ‘n vyftien sentimeter stuk lap soos ‘n aartappel-skil van haar mou af en bind dit om haar mond en neus, maar dit help nie. Dan onthou sy dat die reuk nie op die dak was nie. Dit is die moeilikste klim wat sy nog ooit moes aandurf. Normaalweg sou sy binne sekondes bo gewees het, maar nou gly sy en val ‘n paar keer voor sy die dak bereik en haarself kan op trek. ‘n Teël kom los en gly af van die dak af. Gelukkig val dit op die gras van die binne-hof. Bo-op die dak gaan lê sy op haar rug, haal die masker af en trek diep longe vol vars lug in. Gou keer haar sintuie en energie terug na normaal. Versigtig rol sy terug na haar maag toe. Van nou af sal sy maar op die dak langs moet beweeg. Die volgende binne-hof ‘n oefen of opleidings vierkant met ‘n hout vloer. Die reuk was definitief sterker aan hierdie kant en sy beweeg weer soos ‘n krap sydelings met die styl kant van die dak agter haar. Dit is nou weer in ‘n A-lyn, maar sy bly aan die buitenste kant.
Vierkant na vierkant beweeg sy. Die ys-wind is ongenadig so hoog op, maar die klere was sy aanhet is gemaak van isolerende materiaal. Sy dra die masker nogsteeds oor haar gesig om te keer dat haar neus vries. Die mou-lose arm moet nou maar koud kry; dis nie die ergste nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Vrou in Swart - Deel 4
Jy't 'n baie vrugbare verbeelding!!!
9 jaar 4 maande 2 weke 4 dae oud


moenie keelvol wees nie
maak soos Talita aanbeveel - haal diep asem dan ...

ek wonder of jy soos Talita wil wees (daarom word sy so 'n super-person) - dis effens anders as ek wat nie S(t)orm wil wees nie, maar hy belewe wel dinge wat ek wil beleef
9 jaar 4 maande 2 weke 5 dae 18 ure oud


YML
Nog nie geredigeer nie.
Hi, aan almal wat dalk my kommentaar lees ;)
Let wel: hierdie stuk van die verhaal is nog nie geredigeer nie. Ek vra solank vooruit onverskoning vir foute daarin.

Ek is bietjie keelvol vandag en wou nie wag dat my gewone 'proefleser' eers daardeur nie.

Hoop julle lees nogsteeds lekker.
9 jaar 4 maande 2 weke 6 dae 4 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar