Projek: PROJEK – VUUR (2015-04-15 tot 2015-04-29)
Weergawe: 9
Aantal woorde: 1085
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 16 Apr 2015
1915. Met die perdekar se gestamp op die soutpad voel dit vir Louize Von Witzen of die vyf en twintig myl van Swakopmund af, vierhonderd myl dermskommel was. Sy is moeg toe sy by die huis kom. Sy stap die trappe op en slaan swetend in die sitkamer neer. Die dagterperatuur van tot 50 grade Celcius en die die nagtemperatuur onder vriespunt het haar emosie in ‘n vuur- en yskringloop van wanhoop en hartseer. Moet sy teruggaan Duitsland toe of moet sy vasbyt. Sy dink terug aan Paulen haar man se identiese tweelingbroer. Hy was haar eerste liefde en toe sy na sy dood met Arnold trou het sy haarself in ‘n posisie geplaas waar sy ontbyt, middag-ete en aandete op haar rug moes lê. Hy was vraatsugtig, egosentries en onbedagsaam. Met tyd het hy die passievuur in haar geblus. Ondanks al die amoreuse oefeninge is haar moederskoot op veertig nog steeds leeg.
Sy ruk wurgend aan die hoë kantnek van haar Trotteur bloes. Sy kook van die hitte. Die wolromp is versmorend om haar bene wat teen mekaar vasklou van die sweet. Die sykouse wat sy met die suspenders vasgemaak het laat haar verder stoom. In die uitmergelende hitte is die Julius Spiegel hoed wat sy saamgebring het uit Berlyn, op sy regmatige plek in die vensterbank staangemaak. Omgekeer as potstaander met ‘n geroeste konfytblik vol klippe in, as blompot. Die Boltwoodlike uraanklippe is die naaste wat sy aan ‘n blommerangskikking hier in die woestyn kan kom.
Sy stap kamer toe. Krap in die hangkgas en kry ‘n somersrok van geblomde georgette. Dit sal dalk werk vir môre … maar die lang moue…. Sy soek in haar naaldwerkkissie, kry die skêr in die hande en knip die moue feitlik heeltemal af. Wat Arnold daarvan gaan sê gaan haar nie meer pla nie. Sy haal een van haar bloomers uit die laai. Die skêr girts-girts weer. Toe vat sy die twee lang dik blonde vlegsels en sny kou-kou haar hartseer weg. Nou moet die vuurasem van die woesynhitte maar deur haar lieste waai. As sy dan nou met haar kaal arms, bene en kop, die losvrou van Goanikontes genoem gaan word, laat dit dan so wees. More-aand is dit volmaan dan sal haar optrede seker weer toegedig word aan …. ‘dat sy alweer van die maan gepla is’ … soos Arnold dit altyd sissend van aggressie stel, sonder inagneming van haar emosionele stryd teen die doodsheid in haar menswees.
Die son se vuurwa jaag in die verte weg. Dit word nag. Sy stroop die klere van haar liggaam af. Blaas die kers dood en gaan lê op die bed. Arnold het in Swakopmund agtergebly, hy sal môre eers weer tuis wees. Die stilte is salig. Die maanlig streel met sy sagte goue hande oor haar beswete liggaam. Soutsweet watervalletjies maak ‘n maanligkuil in die holte van haar naeltjie. Die aandbriesie van die see se kant af bring lafenis deur die oop venster. Sy kyk af op haar mooi lyf. Borste nog in plek. Magie plat. Welgevormde bene. Maar ‘n leë dop – Sy dink aan die die Nama kind van Zuzu met sy blou ogies wat sy nog net eenmaal so skrams gesien het. Het Namas dan ook blou oë? As sy tog ook maar net ‘n kind kon gehad het. Die slaap oorval haar voordat sy verder kan wonder.
Louize word wakker van die geraas in die kombuis. Zuzu het alreeds die vuur gestook en die koffieketel sing op die koolstoof. Sy staan op, gooi die blou moulose rokkie oor haar kop en stap kaalvoet kombuis toe. Vandag kan Arnold maar op haar skreeu. Sy beskuldigings van ‘n halwe vrou gaan op dowe ore val. Op Zuzu se rug is die seuntjie met die blou ogies vasgemaak. Zuzu het hom nog nooit saamgebring as sy die huis kom skoonmaak nie. Hy het altyd by sy ouma agtergebly. Sy wil nog vra wat die probleem is toe iets haar oog vang. Hy sit met sy kop teen Zuzu se rug. Vas aan die slaap. Die bos swart krulhare staan wild. Hy hoes en toe hy sy kop draai, verstar Louize. Die vlek in sy nek! Arnold het presies dieselfde rooi vlek. Sy broer Paulen het dit ook gehad. Dit was raar dat die tweeling identies dieselfde merk gehad het. Paulen links en Arnold regs teen die nek. ‘n Vyf sonvinger vuurvlamvlek….. en sy dink weer aan gisteraand... ‘n namakind met blou oë? Skielik weet sy waarom Arnold so graag laataand in die berg agter die huis gaan ronddwaal het. Sy word naar en storm terug kamer toe.
Sy gaan sit op die stoel voor die venster. Haar emosies in skokgolwe van ongeloof. Na ‘n rukkie kalmeer sy. “Zuzu, kom hier” Zuzu is opmerklik effens gespanne toe sy die kamer inkom. Die kind het intussen wakker geword en begin huil. Sy skud haar boude op en af om hom te probeer troos. “Los hom bietjie hier by my, jy kan nie huiswerk doen met die kind op jou rug nie en ek wil gou vir jou stuur. Terwyl hy hier by my is, gaan haal vir ons die melk en groente by Mister Müller?”
Arnold skop die perdespore diep in die dier se sye weg. Die hings snork en tel spoed op. In ‘n stofwolk kom hy naby die huis tot stilstand. Die versengende hitte van die vuur laat steier die perd terug. Die huis is in ligte laaie. Vlamme borrel by die vensters uit en die grasdak tuimel donderend na benede. Hy hoor Zuzu se angswekkende gille. “My kind….. help!!.... My kind is in die huis!
Toe die son vuurrooi agter die rooksuil wegsak, bly net die ruïne oor.
Tussen die berge van die maanlandskap by Goanikontes dwaal sy naak. Haar lang blonde hare ‘n swiepende goudstreep in die maanlig. Swewend maak sy ‘n draai deur die ruïne. Swart gate word venster-oë wat lewe kry. Dan luister sy met haar kop skeefgedraai na die sagte gekerm van ‘n kind se stem wat weemoedig vasgevang is in die yskoue woestynwind. Kermend oor ‘n Nama-ouma wat van vuurmaak hou.
Lees ander kortverhale deur Ffeerg xuoreL
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die kortverhaal
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie kortverhaal
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
deur Anria
Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.