Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Stilte weergalm deur die Silver Bullet. Die Toyota Yaris hardloop amper van self op die nou al bekende pad na Lutzville. Haar besoek aan die klein dorpie is nie vir ‘n kuier-afpak-naweek soos gewoonlik nie. Naomi Viljoen gaan om haar dogter te begrawe.

Toe sy ‘n halfuur gelede van haar huis in Bitterfontein wegtrek, het sy dadelik die radio afgesit. Vandag gun sy haar ore ‘n ruskans. Sy het nodig om na te dink en perspektief te kry. Die beste plek daarvoor is hier, op die oop stuk pad in Namakwaland met God as haar enigste passasier. Die afgelope week het sy gedweë toegelaat dat ander praat. Haar selfoon was bedrywig met al die boodskappe en oproepe. Haar bure en ook kollegas het die welkommatjie voor haar deur warm getrap. Almal wou troos en bemoedig. Naomi het nie woorde gehad om terug te gee nie. Net “dankie” en “dit beteken baie vir my”. Vir die eerste keer sedert die tyding van Bianca se dood, is sy op haar eie. Het sy ruimte vir dink en woorde bymekaarmaak wat die hele gedoente in haar binneste kan beskryf.

Die bordjie langs die pad sê Vanrhynsdorp lê nog twintig kilometer voor haar. Verdroogde bossies staan die vlaktes vol tot teen die Maskamberg. Die veld lyk dood. Dit is asof iemand alles afgebrand het sodat daar net geraamtes en as oorbly. Dit is moeilik om te glo dat dit dié Namakwaland is wat ‘n paar maande gelede ‘n kleure-skouspel was. Nou is dit net die blou oop lug, die asvaal veld en hier en daar ‘n verdwaalde Maartblom. Naomi voel asof sy in ‘n spieël na haarself kyk en sy wonder of daar vir haar ook troos sal wees, soos die eerste winterreëns troos is vir die dorre vlaktes? Hoekom moet sy in hierdie jare van haar lewe soveel hartseer, verlange, vrae en teleurstellings beleef ? Sy voel dom, want dit is moeilik om te verstaan dat dieselfde God wat so mildelik uitdeel, net so vinnig weer kan wegvat. Naomi weet wat dit beteken as God kom wegvat. Agt jaar gelede het sy ook hierdie pad saam met Hom geloop toe haar man aan ‘n hartaanval oorlede is en nou begrawe sy die jongste van hulle drie kinders. Hoe doen mens dit? Hoe gaan die lewe aan na jou kind se dood? Sy kan nie, wíl nie haar indink hoe die lewe sonder Bianca gaan wees nie, maar sy moet, want die kind is weg. Iemand sal haar naam roep en sy sal nooit weer antwoord nie. Dit brand ‘n gat in haar hart as Naomi besef sy sal haar kind nooit weer teen haar kan vasdruk nie.

‘n Uur later beweeg die Silver Bullet in die rigting van Vredendal. Op Vanrhynsdorp het sy gestop om brandstof in te gooi en ‘n soetding vir die kleinkinders te kry. Sy is dankbaar vir die tydjie wat sy saam met haar twee seuns en hulle gesinne kan deurbring. Sonder hulle ondersteuning en liefde is sy verlore. Die afgelope week het sy besef hoe geseënd sy is met al die dierbares in haar lewe en sy voel meteens so selfsugtig, omdat elkeen wat vir Bianca geken het ook seer het en sy kon nog vir geen een vertroosting teruggee nie. ‘n Verlore Maartblom swiep verby en die stukkie rooi vang Naomi se oog. Die ruiker vir Bianca se troue sou rooi wees. Die gastelys is reeds gefinaliseer en die honeymoon geboek, maar nou sal die 31ste Januarie verby gaan nes enige ander dag. Sy wonder hoeveel van die name op Bianca se gastelys sal môre by haar begrafnis wees. Op die sitplek langs haar soek Naomi na haar selfoon. Dis kwart oor ses. Die son is besig om in die see te val Strandfontein se kant toe. Met die foon in die een hand en verdeelde konsentrasie op die pad, stuur sy ‘n sms om die kinders te laat weet waar sy trek. Sy loer ook of Berto al op haar boodskap geantwoord het. Niks. Wat gaan deur die arme kind se kop? Hoe hanteer die jongman die pyn van sy verloofde se dood? Naomi weet Berto se stryd is op ‘n ander vlak van seer as hare. Hy het Bianca sien sterf. Hy was in die kar toe sy skielik net uitgeval het en hy het die geluid gehoor toe haar lyf die teerpad tref . As hy net wou praat. As hy net met háár wil praat, want sy het soveel vrae. Hoe val mens net by ‘n deur uit? Het hulle baklei? Wat was haar laaste woorde? Wat het regtig gebeur?

Naomi ry stadiger om by die treinspoor te stop. Sy is in Vredendal. Haar binnekant voel meteens swaarder en die seer stoot op verby ‘n knop in haar keel en breek los in ‘n stortvloed trane wat met rukkerige snikke uit haar lyf ontsnap. Dit is in hierdie dorp waar die ongeluk gebeur het, dis hier waar haar lieflingkind haar laaste asem uitgeblaas het. Deur die traanwaas ry sy tot by die bord wat sê Lutzville via Holrivier. Sy draai regs en versnel. Vredendal verdwyn vinnig agter haar.

Minute en ‘n kop vol gedagtes later sien Naomi die eerste huisies van Lutzville se bo-dorp. Sy het intussen die ruit oopgedraai vir vars lug en die twee soutriviere op haar wange weggevee. Dank die Here sy is veilig hier. Met dié besef gaan ‘n stukkie lig vir Naomi op. Hy was nou met haar op hierdie pad van Bitterfontein tot Lutzville. Hy was saam met haar nog haar lewe lank op elke pad wat sy moes stap, Hy sal dan ook hierdie nuwe onbekende pad saam met haar loop. Elke tree wat sy ná môre gee, sal op hierdie nuwe roete wees, sonder haar dogter, maar sy reis nie alleen nie. Dít is haar troos en die feit dat haar liefling dogter tóg ‘n bruid sal wees. Die Bruidegom het haar after all self kom haal.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Waar een pad eindig
Waar een pad eindig, ontvang sy haar kroon van oorwinnig.
5 jaar 8 maande 1 week 3 dae 6 ure oud


waar
Pragtig tog hartseer gepen. Ons stap nooit alleen nie en as ons bereid is om Sy hand te neem, sal ons dit voel.
5 jaar 8 maande 1 week 3 dae 10 ure oud



Gebroke Harts Gebede

deur Anze Bezuidenhout

Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag ~ Anze Bezuidenhout



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar