Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Gedurende ’n Maandagaandparade by die vlootbasis S.A.S. Rand in Maart 1981 word ek na die Bevelvoerder se kantoor ontbied.

“Conrad, dankie dat ek jou op so kort kennisgewing kon inroep. Ons het ’n effense probleem in Walvisbaai. ’n Mede offisier het siek geword en moet terug Republiek toe gevlieg word. Sal jy kans sien om vir ’n maand lank Walvisbaai toe te gaan om hom af te los?” Wat ’n geleentheid! “Met graagte Kaptein.”

Kaptein Bakkes deel my mee dat hy my persoonlik na die Skeepskantoor sal vergesel om die nodige reëlings te tref.

Twee dae later rapporteer ek by Waterkloof Lugmagbasis vir my vlug Walvisbaai toe met ’n Hercules C130. Die Flossie, soos dit lovingly deur troepe van daardie era gedoop is, is stampvol en moet ook eers by Windhoek aandoen alvorens die laaste been na die Rooikop Lugmagbasis net buite Walvisbaai aangepak word.

Die vlug verloop sonder insidente tot ons amper bokant Rooikop voel hoe die vlieënier die vliegtuig in ’n selfmoord spiraal patroon grond toe slinger om op die laaste oomblik in te kom vir die landing. Later het ek uitgevind dat dit gedoen word om te verhoed dat SWAPO nie die vliegtuig met missiele uit die lug uit kon skiet nie.

Militêre vervoer het op die lughawe vir my gewag en die teerpad Walvisbaai toe is aangepak. Verby Duin 7, die ou kwarantynkamp, die Bunker en toe vergaap ek my aan die flaminke in die dammetjie waar ’n mens die dorp binnekom.

Wat ’n ondervinding om ’n ander deel van Suidwes te verken. Ons beweeg deur die dorp in die rigting van 2 SAI (2 S.A. Infanteriebataljon) wat in Walvisbaai gestasioneer is. Die Vloot het die kamp met hulle gedeel en daar het ons ons eie kwartiere gehad.

Reguit na die Bevelvoerder se kantoor, die Mariniers se hoofkwartier by die hawe op Walvisbaai om, soos militêre etiket dit vereis, as ’n besoekende offisier myself voor te stel. Met die ontmoeting herken Kommandeur Robbie Robertze en ek mekaar. Ons het mekaar op skool in Pretoria laas gesien. Sy pa was ook ’n hoë kop in die Weermag maar wel in die Lugmag.

Na afloop van ’n lekker geselsie met die Bevelvoerder en ’n bietjie van die verlede ingehaal neem die diensbestuurder my na die offisiers kwartiere. Met my aankoms word my bagasie in my kajuit afgelaai waarna ek ’n “brief” ontvang van Luitenant Mike Cordez, ’n mede S.A.S. Rand offisier.

’n Vinnige stort en vars uniform later rapporteer ek aan die kwartiemeesterskantoor. Die maand se program met lesings en operasionele verpligtinge word aan my oorhandig en ek val dadelik in met die roetine vir die maand.

Gedurende die eerste week woon my peloton en ek COINOPS (Counter Insurgency Operations) lesings by. Hier het ons buitengewone vaardighede aangeleer en praktiese klasse op die paradegrond meegemaak.

Daarbenewens moes ek ook gedurende dié week my R-lisensie (Weermags Rybewys) hernu aangesien daar vir ’n maand lank ’n Garry aan my uitgeteken is vir vervoer.

Aan die einde van die eerste week met Formasie D, padblokkades, gasmaskers aan en gasmaskers af en vele meer in ons koppe ingedril, is dit ons naweek af. ’n Klompie van ons offisiere ry deur na Swakopmund en besoek op pad ook Duin 7. Dit was ’n riller en ons het tydsaam tot bo gegly-klim. Op pad boontoe het ons ons sakke volgestop met granaatsteen om terug te neem Republiek toe. Swakopmund, die mooiste dorpie wat ek nog ooit teëgekom het.

Met die aanbreek van die tweede week was ons peloton geskeduleer om operasionele diens te verrig. Dit het beteken wagstaan by die nasionale sleutelpunt genaamd die Bunker. ’n Groot ondergrondse beton moniteringspos vanwaar Swapo 24/7 gemonitor is en dit lê so sewe kilos buite Walvisbaai in die woestyn. Kort voor lank het die troepe die Bunker herdoop na die Kalahri Sands Hotel omrede dit glad nie ’n plesier was om daar wagstaandiens te doen nie. Dit was gevaarlik stil hier in die woestyn, en snags, anderkant die draad, het die donkerte ’n mens hoendervleis gegee. Die onsekerheid of Swapo jou lê en dophou was altyd voorop in jou gedagtes.

My peloton is in vier uur skofte ingedeel en moes gereeld deur myself besoek word. Ek moes toesien dat almal paraat is, niemand aan diens slaap nie en dat alles veilig is. Omrede Walvisbaai semi-operationeel was is almal onder streng instruksies met skerppunt ammunisie uitgereik.

Woensdagaand, soos alle ander aande het ek as die offisier aan diens besluit ek rondom twee uur die oggend die troepe te gaan besoek. Sewe kilos dorp uit en draai links op die grondpad af na die Bunker. Sowat ’n kilo van die hoofhekke af loop die spoorlyn tussen Walvisbaai en Swakopmund op ’n hoërige riffie. Dit behels eenkant op, oor die spoorlyn en anderkant af.

By die hekke laat die wagkamerwagte my in en ek kyk goed rond om te sien dat alles in orde is alvorens ek besluit om patrollie om die Bunker te ry. Ek wil eerstehands sien of alle troepe in die torings darem dié tyd van die oggend nog met ons is.

Skaars was ek in die Garry en besig om die petrol pedaal sewe maal te trap voor ek aanskakel, toe ek ’n skoot in die stikdonker hoor afgaan. Onmiskenbaar ’n R1. Inderhaas vra ek die hekwagte om na al die torings toe deur te radio om uit te vind watter toring se wag die skoot afgetrek het. Ek stuur haastig die voertuig in die rigting van die skoot en toe kraak my kitaar (tweerigtingradio) in die voertuig. Wagtoring nommer vier is waar dinge aan die gebeur is. Drie honderd meter verder is alles in die haak by die eerste toring en toe ook verder aan by die tweede en die derde.

Ek hou kop en ry bykans tien meter van die drade af (dit word gedoen vir geval iemand deur die drade probeer klim dan kan hulle spoor opgetel word deur ons magte sowel as die honde) en is terselfdertyd besig om nuwe spore te trap. As Swapo jou lank genoeg dophou en dieselfde spore word die hele tyd gebruik, plant hulle myne in die spore. Teen ’n redelike spoed neem ek ’n wye draai om die agterste hoek van die Bunker en net daar sak die Garry ewe skielik tot amper op sy aste weg in die sagte woestynsand. Daar sit ek toe, deur die woestyn beklem. Maklike Swapo teiken. Ek hou kop en skakel onmiddellik die paneelbord ligte af en druk myself nog stywer teen die ruglening vas. Gemaklik voel ek die 9mm Star dienspistool teen my heup druk. As dit moet sal ek wragtag darem so paar van hulle saam met my neem, as die situasie dit vereis. Snaakse gedagtes gaan deur ’n ou se kop so in die donker verlate woestyn.

Die Ops kantoor en die hek word weereens opgeroep en ek vertel hulle dat ek in die woestyn vassit en dat ek nie by die aksie kan uitkom nie.

Wat die donner weet ek, wat van die stad af kom, in elk geval van 4 X 4? Toe ek vasval in die woestyn is die Garry in low-range en net té stadig, te min momentum. Ek klap die lever in hi-range en versnel en daar het ek dit toe. Deeglik val ek vas in die sagte woestynsand. Eintlik werk dit blykbaar net andersom, high-range en heelwat momentum en dan as jy vasval skakel jy oor na low-range om uit die situasie te kom. Dan moet daar ook heelwat lug uit die bande gelaat word om dit nog makliker te maak. Haastig spring ek uit en soos wafferse vlakhaas beweeg ek van wiel tot wiel en koes-koes laat ek net eenvoudig baie lug uit elke band. Terug in die Garry probeer ek weer. Die clutch moes ’n paar keer gepomp word alvorens ek tweederat kon opspoor en kort voor lank begin dit erg stink. O donder . . . wat de hel nou? Moedeloos gesukkel roep ek weer op frekwensie en verwittig die Ops kantoor van my situasie. Hulle laat weet dat hulle ’n recovery voertuig sou uitstuur om my te kom by te staan.

’n Bietjie vorentoe en ’n bietjie agtertoe en toe probeer ek iets anders en klap ek uit moedeloosheid die 4 wheel drive gear in low-range en gee gas. Wragtig, stadig maar seker verlos die Garry homself van die beklemmende woestynsand. Dié gemors het ’n driekwart uur geduur maar dit het meer soos twee ure gevoel.

Verlig stop ek by die vierde wagtoring en gesels met die troep wat duidelik nie homself is nie. Wagte word geruil en die troep en ek vertrek terug basis toe vir ’n de-brief.

O ja, die kwessie van die skoot. ’n Staandemag Adjudant-Offisier het oor ’n tydperk baie geheg geraak aan ’n wilde woestyn jakkals wat elke dag deur die drade geklim het en ’n ou eetdingetjie kom aas het.

Op hierdie betrokke aand het die jakkals weereens deur die drade geklim om te kom soek vir peuselgeitjies. Die troep in die vierde wagtoring het in die half donkerte ’n beweging by die draad opgemerk en drie maal “Halt” geroep sonder enige sukses. Toe haal hy maar oor, lê aan en skiet die “gedaante” moer toe. Ongelukkig was dit die AO se troetel jakkals wat die onderspit gedelf het.

Op pad terug basis toe is ek só van die adrenalien dat ek nie by die spoorlyn stop nie. Ons is ’n meter oor die spoorlyn toe hoor ons ’n verskriklike lawaai agter die Garry.’n Donker trein van Walvisbaai op pad na Swakopmund, het agter ons verby geblits. Hel wat kon dié aand nog met my gebeur. Gelukkig het die troep nie geruik dat ek my as af geskrik het nie.

Terug by die Ops kantoor moes ’n deeglike verslag geskryf word. Deeglike ondersoek is ook ingestel want enige skoot wat afgetrek word moet ondersoek word.

Dae se swoeg en sweet maar ek is bly om te kan sê dat dié parate troep skotvry daarvan afgekom het. Die AO het gelukkig die ondersoek se bevindinge aanvaar en daar was geen kwade gevoelens nie.

Dit is sulke gebeure wat maandkampe só die moeite werd gemaak het om by te woon. “Those were the days.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Walvisbaai o Walvisbaai.
Klink of dit lekker was
9 jaar 8 maande 3 weke 2 dae 17 ure oud


ek het kom lees en geniet.
a.
9 jaar 9 maande 2 dae oud


Goeie storie en jy skryf van dinge waarvan ek baie ondervinding het, veral oor SAS RAND. Walvisbaai en 132 MPU.
9 jaar 9 maande 2 dae 19 ure oud



Botes Stamregister en Kwartierstaat

deur Willie Botes

Genealogiese kwartierstaat oor die Botes familie. Ander vanne sluit in Oosthuizen, Botha, Putter, Du Preez en Shafer



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar