Projek: PROJEK – SPIEELBEELD / REFLEKSIE (2015-04-29 tot 2015-05-12)
Weergawe: 1
Aantal woorde: 1071
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 01 May 2015
Janbooi trap die petrol weg. Die Landrover praat nie teë nie. Vlieg soos ‘n los vrou onder sy voete weg. As hy by die huis kom het hy en Appie ‘n appeltjie te skil. Van hierdie susterskind met al sy planne en slimpraatjjies, is hy nou keelvol. Twee dae en twee nagte langs die koue weskus is niemand se maat nie. Hy is seker die koue het sy prostaat laat omslaan vandaar die branderige gevoel op sy blaas as hy water afslaan. Aan die pyn tussen sy blaaie wil hy liewer nie dink nie. Netnou is dit spoke opjaag en ‘n moontlike hartaanval. Dat Appie nou sonder water sit, is sy eie skuld. Hy het vergeet om die vyf-en-twintig-liter drom vars water te laai. Te besig gewees met die inpak van drank en ys en dan nog oorbewus gewees van die buurvrou se orige meisiekind wat hom so van agter die gordyne dopgehou het. Vandaar dat die bloed oor sy harsings gestroom het en hy half stywebeen met die vurige houding van ‘n jong Recce wat in aksie beseer was, opgetree het. Totaal en al gemesmeraais en nog half gesuip ook. Het Marie nog geleef sou sy seker gemaak het alles was gepak. ‘n Vrou het ook nou en dan goeie eienskappe, moet hy oplaas toegee. Darem die dooies ook eer gee.
Die Landrover gee skielik ‘n sluk. Ruk-ruk en begin spoed verloor. Janbooi trap-trap die petrol, maar die kar wil niks verder weet van die aansporing om huistoe te gaan nie. Pure soos ‘n halstarrige muil. Stadig kom hulle tot stilstand langs die pad. Wat nou? Appie lyk of hy wil begin huil en Janbooi spring uit die kar met die laaste verdorde krag wat hy nog in sy krampende bene bymekaar kan skraap. “Hierdie stuk scrap verkoop ek sodra ek terug is by die huis. Dit is mos jy en my suster wat my oortuig het dat die kar beter as ‘n woesynkameel is en nog lig op brandstof. Ek hoop nie ... Brandstof!” ... Janbooi bly skielik stil Hy dink diep. Dit is daardie merrie agter die gordyne se weduwee-ma se skuld ook . Die buurvrou met haar kort broekies en lae hals bloesies en rondings en bates en ... en hy moes nog vir Appie ook dophou met die meisiekind agter die gordyne. Hy krap sy hare moedeloos deurmekaar. Dat hy nou wragtig vergeet het om ekstra petrol te laai.! Maar iemand moet skuld kry.
“Water, water ... Oom Janbooi, die dorp is nie meer baie vêr nie, kan ons nie ‘n bietjie van die verkoeler se water ...” “Shut up Appie. Wil jy nou nog dat die enjin ook uitbrand as ons die ding eendag gestart gaan kry? Jy het al genoeg aangejaag, kom ons vat die pad. Dit is nou voetslaan. Kyk daar doer in die verte is daar panne water, moes seker gisteraand gereën het en die dorp is net so ‘n paar treë verder. Ons kan nie die heeldag in hierdie hitte sit en vergaan nie. Wie weet watter jaargetal kom hier eendag hulp verby”. Appie sit sy hand voor sy oë om die son af te keer. Hy kan dit byna nie glo nie. Panne en panne water. Hy hoop nie die hitte verdroog dit voordat hulle daar opdaag nie. Dit gee hom nuwe moed en hy vat die pad agter Janbooi aan. Na ‘n uur in die uitmergelende hitte bly die spieëlbeeld van water nog steeds dieselfde afstand voor hulle. Jandooi bid dat dit nie 'n hersenskim is nie. Hulle kook van die hitte maar strompel slingerend en uitgeput voort. Die sweet hang in soutkristalle tussen hulle blaaie. Dit is toe dat Janbooi hortend vir Appie vra. “Appie, is jy seker ons moes links draai, hoe is Henties dan nou so vêr?” Appie bly stom, die dors is oorweldigend. Sy lippe is vol koorsblare gebrand en hy begin ylend in Engels sing van water and reflections ... later kry hy wurgend in Afrikaans net refleksie uit. Janbooi is al half doof van dors, hy brul. “Is jy stapelgek ... hier is ons besig om met die dood op die agterstoep te speel, sterwend, en jy sing van ‘n ereksie - jou kop moet gelees word!.”
Twee manne te voet oppad Kaap Kruis toe word deur die kuspatrollie se bemanning gewaar. Een het in die middel van die pad gelê met ‘n klip in sy arms, ylend. Die ander een het al in die rondte gestrompel. Al wat die grote kon uitkry aan die reddingsspan was hees klanke van een of ander liedjie – vreemde woorde wat niemand kon verstaan nie.
Die kroeg is stampvol, die manne gesels. Janbooi suig die koue skuimkop van sy bier smaaklik af. Loer na Appie wat in die hoek sit. Hy is seker Appie se maag gaan sy strot afruk van al die koue water wat hy soos ‘n perd opsuig. Hy sal Appie maar vergewe vir hierdie visvang trippie wat skeefgeloop het. Die guitige buurvrou en haar dogter het hulle genooi vir ete. Hy hoop sy ken die song Reflections….. of te wel refleksie in Afrikaans ... ‘n man weet nooit!
Lees ander kortverhale deur Ffeerg xuoreL
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die kortverhaal
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie kortverhaal
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
deur Rachelle du Bois
Herman Jansen is betower deur die lieflike meisie wat saans in die maanlig in sy tuin dans. Waar sou sy vandaan kom en wie is sy? Hy besluit hy wil haar hê en hy gaan haar kry. Maar wat van sy voorneme om van die liefde af weg te bly na sy pynlike ondervinding in ʼn huwelik wat vir hom byna vernietig het? Sal hierdie beeldskone vrou vir hom vervulling bring? Hoe weet mens jy het lief? Dit is die vraag wat Trixie Hofmann moet antwoord, want skielik is haar speelmaat en skoolvriend nie meer dieselfde nie. En sy verstaan nie die vreemde taal wat haar hart en haar lyf nou praat as hy naby haar kom nie.