Kortverhale

Bladsye:
Titel: Weersiens
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hoe lank gelede was dit, Mandy? Ek kan amper nie glo dat dit in November al elf jaar was nie. Die laaste keer wat ek jou gesien het was toe ons styf in mekaar se arms op my voorstoep gedans het. Dit was die begin van die lente, die plek was Vale das Flores en die musiek was Al Martino se Strangers in the Night oor die radio. Snaaks dat ek die geur van Frangipani’s en die speel van die weerlig op die horison so goed kon onthou. Ek was so gelukkig soos kon kom en ek het gehoop dat dit vir jou ook waar was; die feit dat jy daardie aand na my toe gekom het, het dit amper ‘n gegewe vir my gemaak.

My geluk het net tot die volgende oggend gehou toe dit soos ‘n seepbel gebars het. Thomas het vir my kom sê dat jy vroemôre sak en pak saam met Bill Dylan daar weg is. Bill Dylan die donkerkop doktertjie wat net twee maande op die sendingstasie kon uithou en wie verantwoordelik was vir ten minste twee van die plaaslike verpleegsters se onverwagte swangerskappe. Ek het daarna baie gewonder hoe hy dit reggekry het om jou van jou voete af kon slaan. Jy was dan altyd so koel en berekenend met alles. “Neewat, Sias, verhoudings is nie vir my nie. Daar kry té veel mense té maklik seer omdat hulle gedink het hulle is vir mekaar bedoel . . .” of, “Ek hou van jou, Sias, maar net as mens, nie as lewensmaat nie. Buitendien is ek getroud met my werk en sal ek nie sommer hier weggaan nie . . .” of die mooiste een van almal, “Bill Dylan is ‘n pierewaaier. Hy vang meisies met sy sjarme, sorg dat hy tussen hulle lakens beland en vergeet dan van hulle bestaan”.

Daardie aand in November het ek geglo dat jy jou liefde aan my kom verklaar het en daarom het ek naïef oor ons toekoms begin spekuleer. Jy was beeldskoon in ‘n kort wit katoenrokkie. Miskien het jy te veel gewys van jou lang bruin bene en hopeloos te veel van die rondings van jou borste wat styf teen die materiaal van jou rok aangedruk het. Miskien was dit jou subtiele parfuum of miskien het die kombinasie van alles my so bedwelm dat ek gehoor het wat ek wou hoor en geglo het soos wat dit my gepas het. Natuurlik het jy kom groet, natuurlik was jy lief vir my soos ‘n broer en natuurlik het jy eintlik mooi aangetrek vir jou afspraak met dokter Bill, later daardie aand.

Weet jy hoe swaar was dit vir my daardie eerste paar weke nadat jy weggegaan het, Mandy. Dit was veel erger toe ek moes hoor van die mediese voorraad wat uit die apteek verwyder is en waarvan die verlies eers ontdek is nadat julle reeds oor die grens was. Die dinge wat die personeel agterna oor jou gesê het, het seergemaak al was jy die een wat die seerste seer agtergelaat het.

Daarna het ek nog net drie maande op die vallei uitgehou voordat ek gegroet noord gegaan waar ek myself op Baía de Caranguejos gaan vestig het. Daar was ‘n ou motorhawe naby aan die hawe beskikbaar wat ek gehuur het en waarin ek ‘n klein werkswinkel begin bedryf het. Harde werk (nee dit was meer as harde werk, want ek het myself soos ‘n slaaf gedryf), het my laat vergeet van die gat in my binneste. Omdat die mense gehou het van die diens wat ek gelewer het, het die eienaars van die vissersbote my begin huur. Die besigheid het geleidelik al hoe meer geword, en ek het begin om geld weg te sit. Drie jaar later het ek onwillekeurig by die rebellebeweging betrokke geraak nadat hulle beheer geneem het oor die noord-oostelike dele van die land. Omdat ek en hulle leier, Ronaldo Ferreira, mekaar uit vroeër jare geken het, het hy gesorg dat besigheid na my kant toe kom solank ek hulle toerustig kosteloos versorg het.

Ek is nie skaam om te erken dat hierdie “venootskap” my ryk gemaak het nie en toe die rebelle vier jaar later die regering oorneem, toe’s ek goed genoeg gevestig om as een van die ekonomiese pilare van die nuwe regering gesien te kon word.

Ná jou het ek nog nie weer in ‘n regtig ernstige verhouding betrokke geraak nie. Nie dat daar nie genoeg geleentheid was daarvoor nie. Ek het welliswaar ‘n baie sagte plekkie gehad vir Maria Lopez, maar sy’s later in die aanval om beheer oor die hoofstad noodlottig verwond. Daar was nog twee meisies, een nogal ‘n Duitsertjie, waarmee ek kortstondige verhoudings gehad het, maar niks van permanente aard nie.

En daar bel jy my toe gisteraand.

Toe ek jou stem hoor was dit asof die rowe van ou seerplekke sonder ontsag afgeskeur word. Magtig, Mandy, mens vergeet mos nie so maklik iemand wat aanvanklik so diep in jou hart gekruip het om jou net daarna weer so bitter seer te maak nie.

Jy wil my sien, het jy gesê. Skynbaar om iets te bespreek. En sowaar, gek wat ek was, het ek ja gesê.

En dit is hoekom ek vanmiddag hier in die luukse restaurant van die Polana Hotel vir jou sit en wag. Die kelners hier ken my en dis daarom dat hulle by is as ek net waag om op te kyk.

Ek wonder hoe jy lyk. Ek reken jy moet seker so om en by drie-en-dertig jaar oud wees. Eintlik ‘n baie goeie ouderdom vir ‘n vrou, as sy na haarself gekyk het. En, voordat jy saam met Bill Dylan daar weg is, het jy altyd baie goed na jouself gekyk.

Dis amper snaaks dat ek jou wel erken het toe jy by die dubbeldeure van die restaurant ingestap gekom het. Die selfversekerdheid wat deel was van jou karakter, was weg. Jy het amper verskonend gelyk en dit was asof jy ‘n ontsaglike las op jou skouers gedra het. Ek was verlig, weet jy? Skielik het al die “vals” herinneringe weggeval en plek gemaak vir ‘n vaagweg se onthou uit ‘n vêr verlede.

Ek het opgestaan toe jy sowat twee tafels weg was. ‘n Glimlag het om jou mondhoeke gehuiwer, maar dit was nie ‘n spontane glimlag nie, dit was apologeties, amper hartseer. In jou oë was die waarheid duideliker sigbaar. Jy’t my opgesoek omdat jy iets van my wou gehad het.

Ek trek die stoel vir jou uit en neem daarna oorkant jou plaas.

Die ongemaklike stilte word genadiglik verbreek toe jy begin praat.

“Dis goed om jou weer te sien, Sias. Dit lyk asof dit met jou goed gaan.” Jy was duidelik uit jou plek uit en die Pep Stores rokkie en strandplakkies wat jy aangehad het, het nie in die Polana se eetkamer gepas nie. Bowendien het jy oud voor jou tyd gelyk.

“Ek kan nie kla nie, Mandy. Die lewe het my eintlik baie goed behandel.”

Ek wink ‘n kelner nader. “Iets vir jou om te drink?”

“’n Dubbel brandewyn met Coke, asseblief. Jy gee seker nie om as ek rook nie?”

“Gaan gerus voort.” Ek bestel vir my ‘n Chivas met ys. Daar’s nie fout met brandewyn nie en as ‘n mens wil rook, dan mag jy seker rook. Maar, dit het nie by Mandy gepas nie, in elkgeval nie die Mandy waarvoor ek lief was nie.

Ek merk op dat jy sigarette rook wat mens tradisioneel met ‘n man sou wou vereenselwig.

“Rook jy nog?” Jou vraag is net ‘n vuller om die stilte vol te maak.

“Net so af en toe. Amptelik het ek al sowat ‘n jaar gelede opgehou.” Ek probeer jou oë vang, maar jy bly my ontwyk. “Waarom het jy my kom sien? Waarom nou, na soveel jare?”

Jy teug eers diep aan jou sigaret waarna jy ‘n ewe groot sluk uit jou glas vat. Senuweeagtig?

“Ek het verlang . . .” die amper verskonende laggie wat daarop volg is vir my bewys dat jy te gou gepraat het.

“Dit ook, maar eintlik het ek jou hulp baie nodig . . .” jou stem is hees en raak byna weg.

Ek sit terug terwyl ek die ys in my glas rondspoel. “Praat, ek luister . . .”

“Dis Bill. Hulle het hom toegesluit. Sy borg is vyftien-duisend. Daar is nie borggeld vir hom nie.” Uiteindelik kyk jy my in die oë - oë wat hulle sagtheid verloor het, maar terselfdertyd nie jou trane kan wegsteek nie. Voel jy dan werklik soveel vir die lae luis?

Jou volgende woorde bevestig dit. “Asseblief, Sias, Billy het my nodig.”

Ek verstik amper in my whisky.

“En . . .?” Ek steek nie die angel in my woorde weg nie.

Jy gaan lê met jou gesig op jou hande en jou woorde is amper onhoorbaar sag. “Ek weet jy sal nie verstaan nie want baiemaal verstaan ek dit self nie . . .”

Ek leun terug in my stoel. Daar was beslis meer agter hierdie storie.

Toe jy opkyk in my oë is daar niks van die ou Mandy daarin oor nie. “Amper elf jaar gelede het Bill my met geweld uit my slaapkamer op Vale des Flores kom haal en saam met hom gevat Suid Afrika toe. Vir die hele pad soontoe was ek meer onder verdowing as iets anders en ek glo dis seker deel van die storie waarmee hy my deur die grens gekry het.” Sy bly stil, vat ‘n sluk uit haar glas en steek weer ‘n sigaret op.

“Vir amper elf jaar lank is ek en hy nou saam, Sias. Aanvanklik het hy my in ‘n kamer aangehou en seker gemaak dat ek geen kontak met enige mens gehad het nie. Maar, Sias, elf jaar is ‘n baie lang tyd. In daardie tyd het ek ook geleer om totaal afhanklik van hom te word en mettertyd het ek . . ., het ek lief geraak vir hom.”

Ek skud my kop in ongeloof. “Die vark van ‘n mens ontvoer jou, hy sluit jou toe en wie weet wat nog alles en jy sê jy’s lief vir hom. Jy’s doodreg. Ek verstaan so wragtag nie.”

Jy kyk na my met trane in jou oë. “Weet jy ooit wat dit is om swaar te kry? Dat daar dae verbygaan waarin jy niks het om . . ..”

Dis daar waar ek jou onderbreek. “Ja, Mandy, ek weet deksels goed wat dit is om swaar te kry. Ek het my ‘share’ van swaarkry gehad. Maar jou swaarkry verstaan ek gladnie. Julle albei is gekwalifiseerd en dit behoort nie moeilik te wees om êrens van voor af te begin nie. Dis mos nie nodig dat jy saam met daardie man in die rioolwater hoef te verdrink nie. Jy’t tog sekerlik baie meer integriteit as dit. Nou’s dit mos jou kans. Hy’s toegesluit. Hy kan jou niks maak nie. Breek met hom en begin weer nuut.”

Jy skud jou kop terwyl trane teen jou wange afloop. “Jy’t nog nooit iemand liefgehad nie, het jy? As jy gehad het, sou jy nou verstaan het.”

Ek neem ‘n sluk van my whisky en kyk jou reguit in die oë. “Ek het waaragtig liefgehad, Mandy. Jy sal nooit weet hoe nie. Ek sou my lewe vir daardie persoon gegee het. Maar, ongelukkig kom daar ‘n tyd wanneer jy moet besef dat daardie persoon nie langer jou liefde werd is nie. Daardie tyd is nou - vir albei van ons. Ek sal jou die geld gee om daardie stuk drek se borg te gaan betaal. Nie ter wille van hom nie, maar ter wille van jou. Ek wil niks daarvan terug hê nie. Maar, belowe my net een ding en dit is dat jy ná vandag nie weer met my gaan kontak maak of probeer maak nie. As jy hier uitstap ken ek jou nie meer nie.”

Jy sê niks.

Ek haal my tjekboek uit en skryf ‘n bedrag daarin. “Hier, gaan wissel dit by die bank. Daar’s genoeg om jou vervoer en verblyfkoste ook te betaal.”

Ons staan saam op en toe jy my met ‘n pap handjie groet merk ek op dat jy my nie in die oë kyk nie. “Dankie, Sias. God sal jou seën.”

Soos jy wegstap kyk ek jou vir oulaas agterna. Daar was niks oor van die Mandy waarvoor ek eens op ‘n tyd my alles sou gegee het nie. Jy was nou bloot ‘n verwaarloosde vreemdeling. En, toe jy uitstap by die deur raak ek bewus van Al Martino se ‘Strangers in the night’ wat in die agtergrond oor die restaurant se luidsprekers speel. Sou jy dit onthou het soos wat ek dit na al die jare steeds onthou het? Ek twyfel. In my gedagtes maak ek die boek finaal toe en vee ‘n lastige nattigheid uit die hoek van my oog.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Goed
Lekker gelees - soos altyd.
3 jaar 10 maande 2 dae 22 ure oud


weersiens
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die Liefdes projek
4 jaar 10 maande 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Jesus Beter en Beter

    deur Lynie van Westfort

    'N digbundel deur God geinspireer. Geskryf deur 'n verloste vrou. Baie diep het Hy my uitgehaal.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar