Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende




Sy klim haastig in haar Mustang, bewerig van benoudheid stel sy die GPS in op Noord.
Ver noord. Dis reg Noord, die veilige opsie….stroom op… doen wat sy nog nooit gedoen het nie.
Selfs die wyse manne het ‘n ster nodig gehad om hulle te lei, Noord.
Die musiek is kliphard, sy glimlag en vee die traan af met haar agterhand en lag vir haarself.
“Hoeveel opsies het ek? Nee! Ek moet weg!” dink sy hardkoppig. Sy kyk nie links of regs nie, jaag net voort na Noord. “As ek ver genoeg Noord gaan, sal ek weer by Suid uitkom? Haha!”
Hoeveel keer kan mens opgee en van rigting verander? Sy begin weer in trane uitbars! Maar glimlag steeds. Miskien sal sy omdraai, weer Suid gaan? Genoeg is genoeg! Sy jaag voort op die onpersoonlike hoofweg.

Geluksfontein? Moet ek dan dalk Oos? Sy draai af en dit word ‘n grondpad met die son wat bloedrooi agter haar wegsink agter die grasieuse bergreeks. Oos, daar waar die son opkom, met beloftes vir ‘n nuwe begin elke dag, die vars reuk van dou op die gras. “Dis reg, Oos, onthou sy…. Soos die ongelooflike sonsopkoms 4:40vm op Amanzimtoti strand. God se werk in volmaaktheid, het sy gedink.
Die geluid van die golwe wat al hoe nader kruip.” “Ek het nog opgesping en net in die lou skuimwater ingehardloop! Haha. Tot agter die branders my ‘happy place gekry’.”
Die mooiste koeëlronde oranje bal wat net bo die water hang Oos. Stadsjapie Wes wat nog ingekruip le en wag vir hul wekker. Die prente is al vir 8 jaar in haar geheue ingebrand, goeie tye, net die goeie tye. Maar sy sal nooit kan onthou wat haar strand toe gelei het daardie oggend nie. Dit maak nie saak nie.

Die grondpad raak ondraagbaar! Sy stop en strek eers. Soos haar arms boontoe strek besigtig sy weer die merke op haar arm. Dit was seer! Onnodig! Krag is net ‘n voordeel as jy jouself kan betoom en selfbeheersing het. “Uit 'n eter kom daar iets te ete, uit 'n sterke kom daar iets soets.”
Is dit wys om altyd sterk te wil wees? Nee wat. Sy kry moed en draai om en sien die natuurprag- die goue kol rus swaar op die berg. Yslike berg. Massief. “Dis reg, Wes….. onder by die rivier ... gestaar na die water wat kabbel oor die klippies tussen die asemrowende kransdans aan beide kante. Opgestaan, die krans uitgeklouter tot bo. Voete wat gevaarlik van die krans af hang, uitasem, besigtig die sterre wat verskyn oor die afwagtende predatore van die bosveld. Miskien moet sy ook op die berg gaan klim soos Moses om die wet te ontvang? Rigting ontvang? Maar gaan my geliefdes dan ook rebelleer en ‘n goue kalf bou? Nee. ” Ek moet terug! My mense het my nodig!” Nee Wes! Sy is vedwaald.

Swaarmoedig draai sy terug huis toe. Huis toe?!? Suid. Sy raak verward om die grootste raaisel op te los. Diep ingedagte …Wat is huis? Die koning van die heelal se huis is nie uit baksteen of klip nie…dis mense. Skielik hardoop ‘n duikertjie oor die stowwerige grondpad en sy probeer uitdraai sonder om haar gunsteling voertuig op te foeter, maar tref steeds die duikertjie wat geen idée het wat ‘n Mustang, kar of mens is nie. Eindlik kom sy tot stilstand en hoor die duiker huil soos ‘n pasgebore baba. Baie skril geluid, sy klim stadig uit en stap terug tussen die stof.
Daar lê hy. “Dis jou skuld! Hy het dit nie verdien nie!” Verwyt sy haarself. Sy buk af, sit haar hand op sy bors, en besef daar is niks wat sy kan doen nie. Hulpeloos! Soos toe die onderste helfte van my liggaam verlam was in die silwerskoon plek met vreemde mense in maskers.
Ek mag nie sien wat hulle doen nie , dus die skeiding van 20cm op my bors. Ek is veronderstel om lam te wees, maar ek voel hoe die koue lem my 3 lae van epidermi skei, ek wil opstaan en weggaan!
Ek kan nie, ek kan nie my voete voel nie! Bloed spuit, die masker mense lag daaroor, die vreemde man hou my hand stywer vas en sê ek MOET kalmeer, my hartklop is te vinnig, bieb biep biep (ek haaaaaat daai geluid). Eindelik was hulle verlos, my twee welpies wat ek nie voor gevra het nie, tog alles van my verwag. Gesond. Onwerklik! Die duiker kan ek nie SO los nie. Hy huil, hy gaan dood, stadig.. Ek sal hom help, die eerbare ding doen. Ek bid saggies, en vra genade, en verlos hom van sy smart. Onmiddelik.

My smart. Verlossing? Nee wat. Haar voertuig wil nie vat nie, brandstof is nodig “Dammit!!!!! Dis my verdiende loon! Ek het als WEER agter gelos en gedink ek gaan myself vind. Jou selfsugtige draak!”
Sy begin hoogs ontsteld Suid stap op die grondpad na niks. Met self evaluering, kyk sy net grondwaarts en tel haar voetstappe in haar hoë hakke wat haar nog altyd laat beter voel het. Maar nou is hulle ‘n las! Sy begin redeneer…
“ Is ek dan regtig net ‘n hindernis vir myself? Moet ek altyd weggaan? Moet ek altyd ‘n verskoning kry hoekom ek nie sterk genoeg is nie? Moet ek altyd mense seer maak wat te naby aan MY kom? Jy is mal!!”

Stofwolk in die duister beur reguit op haar af. Sy het nie meer opsies nie. Sy sien ‘n Groot figuur maak ‘n verskynsel deur die trane, stof en rooi ligte van die BMW se tru-ligte. Sy is vernederd, en woorde ontgaan haar. Die man steek sy hand uit: “Wes. Is dit jou Mustang daar agter?” Stilte .
“Dis ok meisiekind. Ek sal jou nie seermaak nie. Waar is jou huis?”

Sy vat baie lank om te antwoord, staan net verstom, starend na die blou oog man wat haar laaste opsie is. “Uhm….Is jy regtig Wes?” vra sy met glimlag en traan in die oog. Die stof bedaar en die man sien die meisiekind voor hom in die vol maan op haar…kaalvoet, hoe hakke in die hand, mooiste somersrokkie, maar verlore, moeg, moedeloos, hulpeloos……
“Waar is jou huis meisiekind? Ek belowe ek sal jou nie seermaak nie. Is jy dors? Honger? Jy het ver geloop as dit jou Mustang is.”
Sy draai om en hardloop weg! Noord!
Hy vang haar, tel haar op en sit haar saggies op sy passasiers stoel. Hy fluister:” Jy is ok. Ek sal jou huis toe vat. Hier is vir jou koue water. Waar is jou huis?”

Ongemaklike lang stilte.

“Dis my af naweek…..Ek moet Noord gaan, maar ek verkies Wes.”





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Noord
Dis pragtig geskryf Jurika, mens kan sien wie se kind is jy :)
6 jaar 2 maande 2 weke 2 dae oud


***
Goed geskryf en lekker gelees, dankie!
6 jaar 2 maande 2 weke 3 dae 22 ure oud


D F
Wes
Ongelooflik mooi. Vireenselwig myself 100% daarmee. Sien uit na Wes of Suid. Geen ander opsie as om terug te draai. Bring trane vir my. Hoop dis uitgedink!
6 jaar 2 maande 2 weke 5 dae 22 ure oud


noord
dit is pragtig... kan myself vereenselwig met hierdie stuk... baie goed geskryf
6 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 8 ure oud


Ano
Wes
Huis bly maar daar waar jou hart is. Noord, suid, oos, wes, enige plek so lank jou hart saamgenooi word. Lekker saamgereis, dankie.
6 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 8 ure oud


WES
Knap gedaan, jy bind die leser tot op die einde. Kan nie wag vir die volgende een.
6 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 10 ure oud


Wes is...
Lekker, wil nog aanhou lees. Oos wes tuis bes?
6 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 10 ure oud



Weerkaatsing van my hart

deur Elzabe Young Heyns

'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar