Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Peet was nie ‘n man van baie woorde nie, maar werk diė kon hy. Douvoordag voor die hoenders nog van die stellasie af is, is Peet in die skuur besig. Die trekker neuk nou al vir ‘n week. Peet hys die enjin met ‘n blok en tackle balke toe. In die proses breek die balke waaroor die ketting hang, en val die enjin met ‘n slag terug. Die kant van die enjin tref Peet teen die kop en hy bly lê soos ‘n os na ‘n doodskoot. Vytien minute later kom sy vrou Essie met ‘n beker warm koffie in die hand, die skuur binne. Sy skrik so groot sy skiet die kokende swart koffie in ‘n straal oor die vloer, blikbeker rinkelend tussen die hoenders in, hulle begeerte om eiers te lê, vir twee dae van skok, weggeslaan.

Die jong distriksgeneesheer het die sny teen Peet se kop toegewerk en aanbeveel dat hy vir ten minste vier en twintig uur vir observasie in die hospitaal moet bly. Wetende dat Peet nie ‘n man vir ‘n gelê in die bed is nie, het Essie maar gou afgedraf na die Portugese kafee op die hoek naby die hospitaal, en vir hom ‘n pak Wilson Toffies gaan koop. Dit was sy gunsteling lekkergoed en sou hom darem besig hou tot die volgende dag. Na teetyd en darem oor die ergste skok, is Essie terug plaas toe. Peet besluit brommend om hom maar besig te hou met die toffies. Soos gesê, hy was nie ‘n man vir niksdoen nie. Hy trek die papiertjie van die swart blokkie soetigheid af, sit dit in sy mond en besluit om dit eers sag te laat word. Met die kunsgebid neuk dit so ‘n bietjie om die taai toffies te kou . Sy geswelde kakebeen werk ook nie lekker saam nie. Hy sluk heerlik aan die bruin soet Wilsons-sousies, dit troos darem en dink aan die dubbele werk wat nou voorlê. Die skuur se balke sal reggemaak moet word voordat hy weer die trekker kan aanpak. As nog ‘n balk moet breek, is hy volgende keer dalk regtig bokveld toe! Suig effens, kou liggies, suig weer, en so dwaal sy gedagtes. Die toffie voel al sagter, en hy begin kou. Dit is hier waar die probleme begin. Die bo en onderstel van die kunsgebit vat mekaar in ‘n taai ystergreep vas. Dit klou vir dood op mekaar. As Peet sy mond oopmaak sit die tande in die middel van sy mond op mekaar vas, hulle ruk los van die tandvleise. Byt hy toe, klou hulle nog stewiger. Hy begin benoud raak, kortasem, dit voel of hy verwurg. Om ‘n bo en onderstel kunstande, vas getoffie, tergelykertyd uit jou mond te probeer haal is ‘n nagmerrie. Hy beur en probeer om die tande uit te spoeg, maar hulle sit, sy mond voel kompleet of dit van die ongeluk inmekaar gekrimp het, te klein!

Die jong nursie in opleiding loer by die kamerdeur in en sien Peet worstel al klouend en grawend in sy mond. Gedagtig aan die hou teen die kop is sy dadelik by. “Oom,? oom Peet kan ek help”? Peet roggel en wys na sy mond. Die nursie gryp die glas water op die kassie langs die bed en probeer om vir Peet water te laat drink. By nadere ondersoek, toe hy sy lippe oopmaak sien sy Peet se tande sit opmekaar vas. Nou skrik sy, sy wil nie ‘n fout maak met die diagnose as sy vir dokter moet bel nie, nié na die eerste week van opleiding nie. Sy is seker dit moet nagevolge van die slag teen oom Peet se kop wees. Moontlik vallende siekte dalk, klem in die kaak! Laat doodwurg kan sy hom ook nie, dit is ‘n noodgeval, haar beroep is op die spel. Sy moet optree en vinnig ook. Haar gewilligheid sal op haar CV vermeld word as paraat ten tye van ‘n noodgeval, dat sy ‘n krisis-situasie kan hanteer. Sy gryp die teelepel wat langs die teetyd koppie op die piering lê, klem vir Peet in ‘n nelson vas en probeer die tande met die teelepel oop forseer, oom Peet moet asem kry. Die teelepel glip weg, wang-langs en steek die taai toffie raak. Met die uitruk-slag trek sy van die bruin toffie wat aan die teelepel vasklou saam met bruin speekselsous uit. Dit spat oor Peet se bors. Van skok slaan sy reg agteroor ten aanskoue van die dooie bloed. Sowat van gestolde bloed het sy nog nie gesien nie! Oom Peet moes harsings-bloeding ook nog opgedoen het wat in sy kieste afgesak het . Sy lê rieme neer gillend: “Suster bel vir dokter, Oom Peet se harsings is aan’t bloeie!”

‘n Paar minute later, met die nodige hulp van die suster in bevel, lê die tande grynsend vir Peet uit die glasie en loer. Hy is glad nie dik van die lag nie, toffies en kunstande is aardsvyande. Sy lippe voel of dit van oor tot oor opgeskeur is en hy wonder of die nursie more vir werk sal aanmeld. Hulle het die kind huistoe gestuur, asvaal en bewend en die teelepel is nog soek!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

*
hehehe! As jy jou uitgee vir 'n toffie, moet jy maar bereid wees om gekou te word! Kostelik vertel!
6 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 11 ure oud


Toffie
Oom Peet moes van beter geweet het...haha. Hy was beslis baie verveeld om 'n kans te waag met daai toffies. Jou vertelstyl is aangenaam en baie goed. Dis lekkerlees materiaal
6 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 18 ure oud


Toffie.
Vra my. Ek het ook winkeltande! Lekker gelag en gelees.
6 jaar 10 maande 2 weke 5 dae oud


***
Lekker gelees, man.
6 jaar 10 maande 2 weke 5 dae 1 uur oud


Hahahaha!!!
Goed vertel en heerlik gelees!
6 jaar 10 maande 2 weke 5 dae 4 ure oud


Ano
Toffie
hahaha! Weet nie vir wie moet ek die jammerste voel nie?
6 jaar 10 maande 2 weke 5 dae 5 ure oud


Toffie
My 'n verdomde papie gelag! Uitstekend!!!!!
6 jaar 10 maande 2 weke 5 dae 11 ure oud


toffie
Ja nee dit kan 'n taai toffie raak. Dankie lekker gelees.
6 jaar 10 maande 2 weke 5 dae 12 ure oud



tussen woorde se oop spasies

deur BennyB

Die bundel dra ek op aan elke leser. Al word slegs een mens deur die verse geraak, al gee dit slegs een mens hoop dan is my hart rustig en nou en môre vir my perfek!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar