Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Die fyn sandkorrels van die woedende oosweer kraak tussen Manus se tande. Hy snak na asem, klap sy mond toe en sleep Liena verwoed aan haar hare teen die sandduin op. Aan haar arms of bene is dit onmoontlik om te trek, sy sal onder die bewegende sand versmoor. Vroumense! Verdomde halstarrige goed! As sy nou nie so voortvarend was nie, sou hulle nie in die sandstorm beland het nie. Sy het hom verseker die storm is feitlik uitgewoed. Haar vingers het gejeuk om fotos te neem en hy het besluit om haar maar haar sin te gee. Soos gewoonlik. Vroumense het mos ‘n ingebore streek om aan ‘n man te karring totdat hy ingee. Ter wille van vrede en soms ter wille van? Nouja, ‘n kerkmens praat nie uit nie!

Lien….. ‘n Vrolike vrou wat sy hormone op loop gejaag het met haar skaterende lag. Tot hulle eerste kind gebore is. Toe verander sy. Nou sleep hy ‘n wrak. Dit voel vir hom asof dit die geroeste skeepswrak ‘Queen Ann’s Revenge’, die legendariese gevreesde seerowerskip van Blackbeard is waaraan hy rem. Haar gewig word al swaarder en die sand tussen sy tande vorm ‘n slyppasta gevoer deur die versmorende wind wat sandduine in sy keel wil bou. Hy kners en wurg-hoes. Die krakerige brekende sandkorrels wat hy raakbyt laat sien hom kopbene en geraamtes wat tussen die duine toegewaai lê.
Op die kruin van die sekel-sandduin ruk die wind die sand onder sy voete uit. Toe….‘n ravyn van donker diepte. Liena wat saam met hom rol-val. Dreunende sand wat saam met die rasende wind teen hom beur en die afstort van die vierwielmotofiets oor die standduin is die laaste flitsende beelde voordat hy sy bewussyn verloor.

“Manus”!…. Hy maak sy een oog oop. Die sand slaan brandend, verblindend. Voor hom, handeviervoet, staan Liena. Boë sand skiet tussen haar bene deur soos sy grawe. As sy haarself nou uit sy oog moet sien! Haar rooi lippe is vol sandkorrels geplak. Oogwimpers hang dik van die sand. Die wind tierend deur die stokkerig sout -gekoekte hare. Hy maak sy oog toe en voel ‘n naarheid wil-wil in hom opstoot. Hy beur orent, val terug. Sy bene is vasgepen onder ‘n sand-lawine. “Wat maak jy” kry hy hortend uit. Sy skree teen die loeiende wind. “Bly stil en help om die sand van jou af te kry. Ons moet hier uit, ons is aan die lynkant van die duin en gaan begrawe word.” Manus grawe soos ‘n besetene en bevry hom uitasem uit die gewisse sanddood. Hy steier orent en skel onderlangs. Pleks dat hy hulle valhelms saamgesleep het, maar met Liena se dooie gewig moes hy dit by die vierwielmotorfiets agterlaat. Met ‘n gebreekte as en hierdie sandstorm wat alles begrawe, is die fiets net nóg ‘n prooi vir die verterende roesmonster. Opspoor gaan onmoontlik wees.

Liena steier orent en klou aan hom vas. “Trek uit jou broek” skree sy. “Waaaat? …. “Het jy nou heeltemal mal geword!” Hy wonder of die vroumens weet wat is ‘sand blasting’!… en dit sonder ‘n broek! Aikona!.... So laat hy nou nie sy laaste bietjie trots tot niet slaan nie. Wat makeer die vroumens! Liena hang aan hom en trek eers haar een been uit die jean se pyp, en trap die broek vas. Die ander been volg. Toe trek sy haar broekie uit. Manus steier, meer van skok as van die aanslag van die wind en sand. Hy is heel verbysterd. Het die sand deur haar neusgate haar breinselle beskadig? “Liena”! brul hy. “Dit is absurd, dit is nie die plek of tyd……” Hy staar haar half begogeld aan toe sy haar broekie oor haar kop trek. Die middellyf-rek sit onder haar ken en die middelste gedeelte van die broekie bedek haar neus. Sy loer met saamgetrekte skrefies ogies teen die sand, by die twee gate waar die bene deurkom, uit. Dit is nou nie veel van ‘n bedekking nie, maar dit help darem om beter asem te haal. Die aantrek van die jean ‘n pynlike proses. “Toe-toe .. Manus” gil sy “Jou gesig is rou geslaan. Jou onderbroek is al genade !” Manus volg Liena se voorbeeld gedwee. Gedagtig daaraan dat ‘n vrou so nou en dan darem ‘n werkbare plan kan sien. Die sand slaan sy agterstewe so aan die brand dat hy onwillekeurig aan meneer Viljoen se rottang op skool dink. Dit was kinderspeletjies teen hierdie aanslag. Hy is seker dat daar na dese nie ‘n enkele haar op sy lyf gaan oorbly nie. Kaal geplukte kalkoen en gestroop van agter!

Met hulle onderklere oor hulle koppe kruip val hulle skuins teen die volgende sandduin op. Hy bid dat hulle nie die woestyn verder invaar nie, dit is ‘n gewisse dood. Die wind het gedraai. Druk hulle nou van agter. Toe hulle die kruin uitslinger, sien hulle genadiglik die see. Met hernude moed word die afdraande strand toe aangepak. Die steilte met los sand is onstabiel. Sand hardloop vooruit, maak vastrap moeilik. Hulle beur voort. Teen die kus is die kans op redding beter as tussen die duine. Hy hoor vaagweg ‘n dreuning. Seker die geluid van die geveg tussen die stormwind en die see. Die sand het sy beurt gehad. Die onderbroek se gate waar die bene deurkom, is ‘n bietjie wyd. Hy kon sy ore nie lekker toekry nie. Sand gemeng met oor-was vorm ‘n ondeurdringbare sandprop. ‘n gewaarborgde resep vir tydelike doofheid. Hy dink. ‘As ek nie heeltemal doof hieruit kom nie, is my naam nie Manus nie!’ Die wind draai. So skielik as wat dit opgekom het, begin dit bedaar met sporadiese warrelende ruk-stote. Liena hang kermend aan Manus. Hulle kruip-val-strompel-val soos lewende lyke teen die duin af. Die strand is nou in sig. Dit gaan stadig. Uitputting en blootstelling eis sy tol. Die bene bly rukkend knak. Die dors en krampe onuithoudbaar.

Kaptein Du Rand vee met sy hand oor sy oë. Het hy reg gesien? “Peter” spreek hy sy mede vlieënier aan. “Sien jy wat ek sien?” Peter skud sy kop “Demmit hulle sal ons nie glo nie Kaptein!”… “Peter kom ons draai en daal na eenhonderd voet.” “Kaptein hierdie kan niks anders wees as buiteruimtelike wesens nie! Kyk hoe snaaks loop hulle ! En die koppe!..... Kyk die yslike oë! Kaptein du Rand gryp na sy radio. Sweet tap nou van Peter af Niemand gaan hierdie storie glo nie! ‘n Moontlike inval uit die buitenste ruim! Dink net aan die publisiteit wat hulle gaan kry. Na 5 uitputtende ure in die lug, was hulle nog steeds paraat! Helde! Hy sien in sy geestesoog die koerantopskrifte wêreldwyd. “Twee dapper vlieëniers betrap buiteruimtelike wesens onverhoeds” Hy hoor Kaptein Du Rand se kalm stem. “Air Search Rescue Lima Twee ….. oor….. Beheertoring antwoord. Wat is julle posisie” ……. Kaptein Du Rand lees die instrumente…. “22 grade 42” suid en 14 grade 31” Oos. Ons het pas visuele kontak met vermoedelik buiteruimtelike wesens gemaak. Beopdrag onmiddelik weermag hoofkwartier.” Peter begin sweet “Demmit, demmit kaptein …….en ons wou afwyk van ons roete! As ek nou nie die wesens met my eie oë gesien het nie! Hierdie is mos ‘n moontlike inval!” “Kalmeer Peter, laat ons draai en gaan land voordat ons midde in die storm gevang word.” Hy praat weer met die beheertoring. “ Echo Tango Alpha vertraag met vyftien minute.”

Manus slaan blasend op die nat sand neer. Koele lafenis. Dit begin skemer raak. Liena is histeries. “As jy nie so gejaag het nie……Kyk waar sit ons nou, dit is jou skuld! ” Manus is te moeg om te baklei. “Bly net eers stil vrou ek kan jou nie behoorlik hoor nie. Ek is te gedaan om nou te argumenteer oor wie se skuld dit eintlik …………..” Die volgende oomblik is daar ‘n donderende geraas. Selfs die oorprop-verstopping kan nie die lawaai demp nie. Helikopers, soekligte, voertuie wat dreun, pyl op hulle af. Gewapende weermagmanne by die hordes, kom in ‘n golf aangehardloop. Dit is hier wat Manus besluit hy moes verseker sonstraal opgedoen het en met ernstige nagevolge….. halusinasie! Hy vat die pad see toe. Dit is al uitweg. Hy moet water oor sy kokende brein kry voor sy harsings aan die brand slaan. Ouma het altyd gesê, sonstraal is nie speletjies nie! Liena sit hom gillend agterna. Sy kry die onderbroek se rek van agter beet, en klou vir dood. Hy sleep haar wurgend saam die water in. Toe tref donderende branders wat met geboeë perdekoppe en skuimende maanhare strand toe jaag, hulle. Hy gaan kop ondertoe. Liena se gewig ‘n anker wat hom seebodem toe laat sink.

“Meneer van Zyl, is jy wakker! Manus maak sy oë oop. Die hospitaalreuk, onmiskenbaar. “Dit was darem ‘n noue ontkoming wat jy en jou vroutjie gehad het”. Hy dryf weer weg. Net voor hy in ‘n narkotiese slaap verval, dink hy aan Liena se broekie oor haar kop. Hy wonder of sy nie ‘n permanente middelpaadjie van die G-string gaan oorhou nie.



Fotograaf van sandduine: Pieter J Kotze (Namibië)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Broekie
Lekker gelees.
7 jaar 5 maande 3 weke 5 dae 16 ure oud


Sand
So amper toegesand, en ek stem, Manus wou mos!

Lekker gelees dankie, anders en kreatief bedink!
7 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 19 ure oud


wind
Ek stem saam dat jy mens met jou bydraes bind tot die einde. Dankie lekker gelees.
7 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 19 ure oud


broek
Ai, ek geniet jou stories só! Skryf nog!
7 jaar 5 maande 4 weke 3 ure oud


Wind
Arme Kapt. du Rand! Lekker gelees en lekker gelag.
7 jaar 5 maande 4 weke 13 ure oud


Broekie
Waar kom jy aan al die ideës....haha. Ek het dit nou sommer baie geniet. En nou weet ek ten minste wat om te doen indien ek ooit in 'n sandstorm beland. Dalk moet ek maar 'n ekstra enetjie in my jean se sak dra...net vir ingeval
7 jaar 5 maande 4 weke 15 ure oud


Ano
Wind
Meegesleur tussen die duine en see en kon daardie sand blasting voel brand. Dankie, dit was voortreflik!
7 jaar 5 maande 4 weke 15 ure oud


hahaha
Kostelike storie, ek sien die twee met die broekies. Dankie het regtig lekker gelees. Dit proe of ek ook sand in die mond het van die inleef. Haha haaaa!
7 jaar 5 maande 4 weke 16 ure oud


Hmmmmmmm
Haha. Goeie storie... :-D
7 jaar 5 maande 4 weke 17 ure oud


***
Dis nou 'n lekkerlees storie dié. Baie dankie!
7 jaar 5 maande 4 weke 17 ure oud



Sirkeldans

deur Driekie Grobler

'n Vars briesie van inspirasie en genotvolle saamkuier



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar