Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Julia en ek sit op my houtdek met ons hande om ons bekers stomende koffie gevou en staar na die eerste sonstrale wat oor die boomtoppe begin skyn. Dis effens koelerig en slegs voëltjies wat honger tjirp, ‘n paar honde wat nou en dan blaf en Julia se voet wat onbewustelik en aanhoudend op die vloer tik, breek die stilte.

Sy is steeds nie lekker nie, maar darem heelwat beter as die vorige aand en ek besluit dat dit die beste sal wees om eerder so normaal as moontlik op te tree.

“Julia?”

Sy kyk op en sê ingedagte, “Moenie worry nie, Eliza. David kom vroeg vanmiddag terug. Ek dink sy vlug land twee-uur. So, ek sal okay wees.”

“Nee, Julia.” Ek sit vorentoe, leun met my elmboë op die tafel en sê, “dis tyd dat jy met iemand praat wat jou kan help om vir eens en altyd hiermee te deal. Jy kan nie so aangaan nie.”

“Ek’s nou weer fine. Regtig.” Sy neem ‘n sluk koffie en vee een hand ongeduldig deur haar hare, maar maak nie oogkontak met my nie. “Jammer ek het gisteraand so aangegaan. Jy’t jou seker vrek geskrik.” Sy lag effe skril, “en dan het jy boonop die hele nag by my gesit en my hand vasgehou!”

“Julia.”

“Wat!?”

“Gaan jy David vertel wat gebeur het?”

“Nee, Eliza, dis oor en verby. Gedane sake. Water onder die brug.” Sy gee ‘n aangeplakte laggie. “No pun intended.” Sy stoot haar stoel hard terug, staan op en vou haar arms om haar lyf. “Dit het gebeur. Dis klaar. Kom ons gaan nou net aan, asseblief.” Julia kyk steeds nie na my nie, maar staar iewers in die verte oor die boomtoppe na die opkomende son se strale en ek kan sien dat sy bewe.

“Het jy David vertel van die aborsie?”

Sy knik, “Ja, hy weet daarvan.”

“En?”

“En wat?” Sy leun oor die houtreëling van my dek en sê meer vurig, “Hy het nie ‘n probleem daarmee nie. As dit is wat jy wil weet.”

“Wat ek wil weet is hoekom jy nie met hom wil trou nie.”

Sy swaai om en gluur na my, “Want ek kan dit nie aan hom doen nie! Dis hoekom!” Haar oë is vol trane.

“Wat aan hom doen nie?” vra ek so rustig as moontlik.

Sy haal diep asem en antwoord afgemete, “Ek kan nie met hom trou nie, want hy sal eendag sy eie kinders wil hê …” Sy snik skielik en haar stem breek. “Ek kan dit nie vir hom gee nie! Jy wéét tog ek kan nie weer swanger raak nie.” Sy klem haar vuiste saam en sis byna onhoorbaar, “Daai verdomde dokter …” Sy skud haar kop asof sy ontslae wil raak van die ou, seer herinneringe, sug diep en staar blind van woede voor haar uit. Julia is emosionaal gedaan, sien ek. Haar arms hang skielik slap langs haar sye en sy kyk moedeloos, desperaat na my, “Verstáán jy dan nie, Eliza?”

Ek staan op en stap tot langs haar, hou haar vas en praat sag, “David is baie meer as waarvoor jy hom erkenning gee, vriendin. En ek dink jy weet dit.”

Julia snik, trek haarself los en gaan sit weer by die tafel. Ek weet ek neem ‘n groot kans, maar ek gaan nou eerlik wees en sal dan maar die moontlike gevolge daarvan moet dra. “Dis die woede wat jou kelder, Julia. Is dit nie? Die woede teen jou ouers, jouself en selfs Dennis, jou ongebore kind se pa.”

Julia sit lank doodstil en trek patroontjies met haar vingers op die hout van die tafel. Sy reageer egter verbasend rustig op my woorde. Miskien omdat sy self weet dat dit die kern van haar probleem is. “Ek was regtig lief vir hom … en hy vir my.” Sy sluk diep en sê hees, “Ons wou trou, jy weet dit self!” Ek knik, “Ja, Julia, ek onthou.”

“En toe stuur sy ouers hom weg oorsee om te gaan swot en my ouers het my gedwing …” Sy kners hoorbaar op haar tande, “Ek het dit nie gekeer nie!”

“Jy kón dit nie keer nie, Julia. Jy was sewentien, minderjarig en in jou ouers se sorg. Destyds …”

Julia sit met haar gesig in haar hande en ek stap nader, streel ‘n lang ruk rustig oor haar skouer en uiteindelik druk sy my hand. Sy sug diep. “Jy’s reg. Ek sal iets móét doen, Eliza. Volgende keer, as dit weer gebeur en die spoke jaag my … wie weet?”





Pieter en Desmond sit op Pieter-hulle se patio met hul laptops oop en is druk besig om notas te maak.

“Die belangrikste is dat ons ‘n plan van aksie uitwerk,” stel Pieter voor. “Lawrence het sy mes vir ons in en hy gaan ons probeer kelder.”

“Volgens sy planne het hy ‘n enorme kompleks beplan en hy sal seker steeds daarmee voortgaan,” merk Desmond op en sug.

“Nee, hy kan nie.” Pieter glimlag en verduidelik, “Lawrence het lisensies vir sy drie CNL’s in Johannesburg, Bloemfontein en Durban, maar ek het die lisensie vir Pretoria. So, hy kan doen wat hy wil, maar hy kan nie ook ‘n CNL in of om Pretoria besit nie. Dis juis hoekom hy die vennootskap met my wou aangegaan het.” Hy glimlag stil, “Hoekom dink jy het hy so heftig reageer toe ek gesê het ek onttrek uit die vennootskap?” Pieter wag nie vir ‘n antwoord nie en verduidelik verder, “Hy wou sy voet in die deur kry met Pretoria. Hy weet Pretorianers soek na iets nuut – hy het duidelik reeds marknavorsing gedoen en dit help ons.” Pieter glimlag, “So, ek vertrou dat ons wel die behoefte sal vind wat ons wil vervul.”

Desmond luister aandagtig en Pieter brei verder uit, “Lawrence het besef dat hy miljoene in toekomstige inkomste gaan verloor – dis hoekom hy so drasties opgetree en beheer verloor het in sy kantoor. Hy het die grond gekoop en was oortuig daarvan dat dit sy beste belegging ooit sal wees. Maar, toe val alles plat en hy verloor beheer. Genadiglik het ons nog niks geteken nie.” Pieter blaas sy asem verlig uit en merk ingedagte op, “So, ons het nou sy ander kant ook gesien …”

“Is daar ‘n manier wat jy die lisensie kan verbeur, Pieter?”

“Slegs as daar bewyse is dat ek my CNL oneties bedryf, wanadministreer of die CNL reëls en regulasies doelbewus verbreek. Dan word my lisensie teruggetrek en oopgestel vir nuwe aansoeke. Maar alles gaan deur Hoofkantoor en ‘n interne verhoor word gehou in sulke gevalle.”

Diana stap nader met ‘n skinkbord, skink vir elkeen ‘n glasie vrugtesap en leun dan oor Pieter. Sy tik vinnig op sy laptop en hul CNL website vertoon op die skerm. “Dit lyk great!” lag Pieter. Desmond stap om, staan aan die ander kant van Pieter en Diana blaai vinnig deur die hele webtuiste, loer dan oor haar bril na elkeen van die mans onderskeidelik en beveel streng, “Ek kort content. Elkeen van julle moet vir my ‘n outobiografie van minstens 300 woorde skryf. Dan die missie, visie, About Us artikel, foto’s van julle en dan ook waaroor julle boodskap gaan.”

Pieter en Desmond kyk doodstil na haar en sy vra, “Wanneer sal ek dit kry?”

Desmond lag en gee Diana ‘n druk, “Jy’s ‘n ster! Ek stuur dit binne ‘n dag vir jou. Belowe!” Pieter grinnik, “Dan sal ek seker ook moet.”

Diana sit op die punt van haar stoel en leun oor die tafel, “Wat van as julle by Magnolia Dal uitvind of julle Sondae daar kan dienste hou? Daar’s genoeg parkeerplek, dis sentraal, baie sigbaar en boonop naby die universiteit, Gautrain stasie en mense kan selfs piekniek daar hou.”

“Ek hou daarvan, ek hou baie daarvan …” Desmond dink ‘n oomblik na en deel dan sy gedagtes, “Ons kan ‘n markeetent huur - dit sal perfek werk in die park, dan moet ons klanktoerusting kry en dit as ons tydelike basis gebruik totdat ons ‘n permanente plek van ons eie het.”

“Diana, sal jy ‘n afspraak maak met die bestuur, asseblief?” Pieter se oë blink en hy glimlag, “Ons sal heelwat blootstelling daar kry. Maar, ons sal die ouens in beheer net eers moet oortuig dat dit in hulle belang sal wees om ons toe te laat om dienste daar te hou.”

“Julle saak sal sterker wees as die website aan die gang en lewendig is.” Diana sluk haar glas leeg, staan op en glimlag, “so, hoe gouer ek julle inligting kry, hoe gouer maak ek die afspraak.” Sy draai om en stap by die huis in.

“Wel, daar het jy dit!” Pieter lag en skud sy kop.

Desmond glimlag afwesig, staar ‘n paar oomblikke voor hom uit en ‘n diep frons keep sy voorkop, “Ons sal op een of ander manier ‘n oog op Lawrence moet hou, Pieter. Daai man het ‘n wrok teen ons. ‘n Ernstige wrok. Hy gaan dit nie net daar laat nie.”

Pieter knik stil. “Ek weet, Desmond. Ek ken hom al jare lank, deur portefeuljes wat ek vir hom hanteer het toe ek by die bank gewerk het en hy was nog altyd ‘n sterk speler in elke mark wat hy betree het. Maar, ek was nog nooit só persoonlik by hom betrokke nie. Wat ek wel weet … hy is nie ‘n man wat daarin glo om die ander wang te draai nie.”





Die swaar hek skuif geruisloos agter Martin Marais se swart Mercedes SLK toe. Vivian se parkeerplek is nog leeg, dus is sy nog nie by die huis nie. Hy wonder hoe vanaand gaan afloop. Sy wil skynbaar met hom praat. Hy draf ongeduldig met die trappe op na die swaar oopswaai-voordeur van hul luukse huis in Waterkloof en druk die klokkie. Maria, die huishulp, maak die deur oop. Sy groet, hy mompel afwesig en sy verdwyn eerder so vinnig as moontlik in die lang gang af, terug kombuis toe.

Die gewone daaglikse stapel briewe, rekeninge en pamflette lê op die houttafel in die ingangsportaal. Hy sorteer haastig daardeur en soek syne uit. ‘n Middelslag bruin koevert wat aan Vivian geadresseer is val op die vloer en hy sug ongeduldig, tel dit op en wil dit weer op die tafel neersit, maar iets aan die koevert is vreemd. Een van die hoekies is geskeur en hy vou dit versigtig verder oop. Dit lyk of daar foto’s in is. Foto’s? Hy staan ingedagte met die koevert in sy hand, dan neem hy dit saam met sy hopie pos na sy studeerkamer, trek sy baadjie uit en gaan sit by sy lessenaar.

Martin sny versigtig die koevert se een flap met ‘n lemmetjie oop en skud die inhoud daarvan op sy lessenaar uit. Hy snak na sy asem toe hy die foto’s van hom, Battaglia en Luciana sien. So, dis Vivian se plan … sy wil hom uitvang. En afdreig. Sy oë beweeg vinnig oor die inhoud van Bruwer se verslag en dan skakel hy Dawid Bruwer se selfoonnommer wat hemelgroot op die briefhoof adverteer word. Hy maak ‘n afspraak vir vroeg die volgende oggend en Bruwer stem in om hom te ontmoet. ‘n Skewe glimlag speel om sy lippe. Sy sal slimmer moet wees as dit!

Vivian se BMW stop brullend voor die huis en Martin draai sy kop skuins om beter te probeer hoor. Haar spykerhakke stap by die voordeur in en af met die gang, oppad na hom toe. Hy skuif die inhoud van die koevert vinnig terug, druk dit onder ‘n klomp lêers in sy lessenaarlaai in en fokus dan sy aandag rustig op sy eie pos.

Sy loer by die deur in en glimlag, “Hallo Martin, sien jou netnou vir ete.” Hy knik en glimlag so vriendelik as moontlik, “Hi Vivian. Ja, dis reg.” Hy draai terug na die pos op sy lessenaar en sien nie dat sy ‘n paar oomblikke talm voor sy omdraai en effe moedeloos wegstap nie.

Martin gaan sit later die aand regoor sy vrou by die keurig gedekte eetkamertafel en skink wyn in albei se glase, “Hoe was jou dag, Vivian?”

“Besig. Vergadering op vergadering en ek was vanmiddag by ‘n kliënt om veranderings aan sy nuwe mansion se planne te bespreek.” Sy sug en neem ‘n slukkie wyn, “die man het elke week ‘n ander idee in gedagte.” Hy knik en merk op, “Kan moeilik wees.”

Vivian peusel slegs aan haar kos, maar Martin lê honger weg aan sy fillet steak, vars aspersies met Béarnaise sous, jong worteltjies en oondgebakte baba aartappels met tiemie en knoffel.

Sy krap haar kos deurmekaar en kyk oor die tafel na hom. “Martin, ek wil hê ons moet vanaand praat. Oor ons.”

Hy kou op sy tyd klaar, neem ‘n sluk wyn en kyk oor sy glas na haar. “Wat van ons?”

“Ek wil weet …” Sy sit haar vurk op haar bord neer, skraap haar moed bymekaar en kyk reguit na hom, “Voel jy nog iets vir my?”

“Watse vraag is dit?” Hy lag, skud sy kop en vra, “Wat pla jou, Vivian?”

“Ons spandeer nooit meer tyd saam nie en vanaand is die eerste aand in weke wat ons saam eet.” Sy vroetel met haar servet en sê sag, “Is daar iemand anders, Martin?”

Hy kyk lank, byna berekenend na haar terwyl sy vingers oor die steel van sy wynglas speel. “Wat laat jou so dink?”

“Ek weet nie! Dis juis hoekom ek jou vra.”

Hy skud sy kop, leun glimlaggend oor die tafel en streel oor haar hand. Dan weet sy nog nie van die uitslag van haar privaatspeurdertjie se ondersoek nie, dink hy. Netsowel hy was vandag van alle dae eerste by die huis.

“Jy weet ons programme is albei tot barstens toe vol, Vivian.” Hy leun agteroor in sy stoel, neem ‘n sluk wyn en vou sy hande voor hom. “Het ons nie ooreengekom dat ons albei se loopbane vir ons belangrik is nie?”

“Ons het, Martin. Maar, ons het nog altyd tyd gemaak om saam te spandeer. Nou nie meer nie.”

“Weet jy wat?” Martin staan op, skuif sy stoel hard in en leun met sy hande op die tafel. Hy kyk lank na Vivian en sê sag, byna onheilspellend, “Ek dink jy’s oorwerk en moeg. Jy verbeel jou dinge. Jy soek na goed wat nie daar is nie. En jy drink buitendien meer as wat jy moet.”

Vivian kan nie glo wat sy hoor nie. Sy staar stil na hom toe hy regop staan, omdraai en oor sy skouer praat, “Ek gaan vanaand laat werk. Lekker slaap.” Hy verdwyn by die deur uit en slegs ‘n sagte waas van sy peperduur naskeermiddel bly agter om te bevestig dat hy wel daar was en sy haar nie alles verbeel het nie.

Sy skink meer wyn in haar glas en tuur ingedagte voor haar uit. Haar blik speel oor die hele vertrek, maar sy neem nie die gesogte skilderye, spesiaal ontwerpte moderne meubels en kristalware of selfs die Italiaanse chandelier waar nie. Al waaraan sy kan dink is dat Martin vanaand blatant vir haar sit en lieg het. Sonder om ‘n oog te knip. Het die man dan geen gewete nie?

Vivian hap afwesig aan ‘n stuk aspersie en probeer om haar gedagtes te orden. Sy het bewyse. Martin ontken alles. Hy beskuldig haar. Die verdomde vermetelheid! Sy vererg haar op die plek en wil agter hom aanstorm, maar bedink haarself betyds. “Kalm wees, Vivian,” praat sy sag met haarself. “Bly net kalm. Hy sal sy eie gat grawe.”

Vivian sluk haar wynglas leeg en besluit dat dit die laaste is. Sy sal nie meer so baie drink nie. Sy sal hom waaragtig wys. Van hier af aan is dit sy teen Martin. Hy het sy kaarte gespeel. Sy was nog altyd sag en weerbaar waar dit hom aanbetref. Nie meer nie.

Sy glimlag ingedagte, effe hartseer, haal dan diep asem en fluister, “Hell hath no fury like a woman scorned …



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kos
Weet jy wat maak jou storie spesiaal? Die kleinste detail wat jy so getrou weergee, soos bv die beskrywing van die geregte wat hul eet. Mens word skoon lus vd kos! "...fillet steak, vars aspersies met Béarnaise sous, jong worteltjies en oondgebakte baba aartappels met tiemie en knoffel"
4 jaar 5 maande 1 week 3 dae 15 ure oud


Sjoe!
En daar doen jy dit sowaar weer! Dryf die verhaal op na so 'n duisligwekkende hoogtepunt toe en. . .los ons dan om met oop monde grondtoe te tuimel!

Boeiend, beskrywend. Sjoe, wat kan mens nog byvoeg? Carol, ons wag!

4 jaar 5 maande 3 weke 3 dae 16 ure oud


WsW Son12
Baie goed geskryf, dit lees so lekker en hou beslis heeltyd my aandag, was teleurgesteld toe dit stop, maar sal maar moet wag vir die volgende hoofstuk. Hierdie storie gaan beslis 'n treffer wees :)
"baba-aartappels" sou ek 'n koppelteken gemaak het.
Sterkte met die volgende hoofstuk.
4 jaar 5 maande 3 weke 3 dae 18 ure oud


Son 12
Sjoe, die spanning laai op.
4 jaar 5 maande 3 weke 4 dae 21 ure oud


son 12
baie lekker gelees... kan nie wag vir die res nie!!!
4 jaar 5 maande 3 weke 5 dae 12 ure oud


Woes skkryf Woes: Dogters van die sOn (12)
En nou verder...
Baie sterkte!
4 jaar 5 maande 3 weke 5 dae 18 ure oud


Dogters van die sOn (12)
"flap met ‘n lemmetjie oop" of briewemes klink beter

Dit raak al hoe meer onvoorspelbaar
4 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 3 ure oud


12
Ek het nou weer so heerlik gelees en was tot binne in die storie getrek en geboei. Jy skep alweer soveel moontlike uitkomste, dat ek en die lesers geen idee het wat jy beplan nie. Daarom is ek teleurgesteld as die hoofstuk eindig. ELKE KEER!!

Moontlike regstellings:

markeetent - markiestent

Desmond glimlag afwesig - Desmond glimlag ingedagte

‘n Skewe glimlag speel om sy lippe - ‘n Skewe glimlag speel om

Martin se lippe 9Anders lyk dit of jy nog van Bruwer praat)

nog altyd tyd gemaak om saam te spandeer - nog altyd tyd gemaak vir mekaar?

Vivian hap afwesig aan ‘n stuk - Vivian hap ingedagte(onnadenkend) aan ‘n stuk

Van hier af aan is dit sy teen Martin - Van nou af is dit sy teen Martin

Ps. Ek kan nie glo dit was al hfstk 12 nie!
4 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 7 ure oud


Dogters van die son
Net soos die ander is dit uitstekend geskrywe. Ek wag in spanning om te sien wat hier gaan gebeur.
4 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 9 ure oud


son
Sommer baie lekker gelees, Carol. Ek is nou behoorlik nuuskierig om uit te vind wat in elk van die dogters se lewens gaan gebeur. Voorspoed met die res van die skrywery :-)
4 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 21 ure oud


dogters van die son
die storie begin spannend word. ek dink Maartin het moeilikheid
4 jaar 5 maande 4 weke 10 ure oud



Jesus Beter en Beter

deur Lynie van Westfort

'N digbundel deur God geinspireer. Geskryf deur 'n verloste vrou. Baie diep het Hy my uitgehaal.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar