Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

‘n Warme gloed onstaan in haar esophagus en skiet deur, tot by haar diafragma.
Daar tol dit rond, tot sy haar eerste woord uitblaas.

“Morné?”, fluister sy.

“Ja! Weet jy hoeveel kanale ek moes deurgaan, om uitéindelik jou nommer te kry?”

Sy draai haar rug op die ander, wat al hoe sagter gesels.
“Wie het dit vir jou gegee? Hoekom… Hoekom bel jy my?”

“Ek is in die Kaap. Ek moét jou sien, dis dringend. Wat doen jy môre?”

“Ek werk. Hoekom soék jy my?” Sy vererg haar diep. Sy weet die laaste keer toe hulle uitmekaar uit gaan, was dit ‘n baie lelike prent. Goed was rondgesmyt. Dit het gevoel asof hy haar sou slaan daardie dag. Sy moes letterlik vlug onder hom uit. Sy het nooit weer met hom kontak gehad nie.
Vandag skakel hy haar uit die bloute, asof alles vergete is?

“Ek vertel jou sodra ek jou sien. Daisy asseblief, dit is rêrig dringend. Dink jy dis maklik vir my om vir jou te bel?!”

Sy let die erns in sy stem, maar wat ookal vir hom dringend is, is definitief nie vir haar nie. Haar lewe is perfek op die oomblik. Niks wat hom betref, sal enige impak op haar lewe hê nie. Sy is oor hom, die verlede is in die verlede.
Morné ook saam met dit.
“Moet my asseblief nie weer bel nie!” Sy druk die foon neer. Sy verstel die klank af, sodat ás hy weer sou skakel, niemand die foon sal hoor lui nie.

Sy gaan sit aan tafel, terwyl sy Max se oë vermy.
“Het iemand al die voedsel geseën?”


Morné is in die grootste penarie ooit. Die enigste persoon wie hy gedink het kon hom help, stel dan nou glad nie daarin belang nie. Hy het hoeveel keer weer probeer om haar te skakel, maar sy tel nie op nie. Hy sal haar adres iewers moet uitvind en tot by haar woning gaan, as hy moet.
Hy moét haar sien.
Sy is al een wat hom kan red.

Hy steek sy selfoon in sy broeksak. Hy draai om na die winkelvenster agter hom en wikkel sy das in sy weerkaatsing, reg. ‘n Aantreklike man - statig in sy swart pak - kyk terug na hom. Hy sug diep. Buite, kan jy hom altyd deur ‘n naald trek, maar binne is hy ‘n ramp.
Hy verstaan nie hoe hy op die plek in sy lewe beland het nie. Dinge het net té vinnig gebeur.
“Here asseblief, help my net!”

Sy selfoon lui in sy sak.
“Marais.”

“Het jy haar gekry?”

“Ja, maar ons kon nie praat nie. Ek benodig haar adres. Stuur dit na my selfoon.”

“Goed. Laat weet net asseblief wat aangaan. Ek hou solank vir Lawrence aan ‘n lyntjie.”

“Sodra ek haar adres kry, sal ek reguit daarheen gaan; maar moet nog nie vir Lawrence sê nie. Vertel hom ek sal haar môre ontmoet, soos beplan. Hy moet net aanhou tot die aand.”

“Reg so!”

Hy steek sy selfoon terug in sy sak.

Hy wou graag nie vir Daisy by haar woning kom sien nie, maar sy gee hom geen ander keuse nie. Hy verstaan dit mag dalk moeilik wees vir haar. Vir hom is dit ook! Nou, is net nie die tyd om te tob oor die verlede nie. Hulle sal net verby hulle gevoelens moet werk, want dít gaan oor veel meer as dit.

Hy maak seker of niemand hom sien nie en verdwyn tussen die skare.
Hy moét hier uit, so gou as moontlik.

Eerste stop: Daisy Winterbach...


“Thanks, weereens julle!”
Russell verdwyn by sy huis in. Sy ma loer by die voorhuisvenster.

“Hallo Tannie!”
Sy waai vir Max terug.
“Sy is seker nou só gerus, dat ék die een is wat hom huis toe bring!” Max lag.

Daisy deel nie in sy joligheid nie.
Die hele pad hierheen, het sy haar uitgesluit uit die kinderagtige gesprekke van haar ou en sy beste vriend.

Hoekom sou Morné haar soek?
Dít, na hoeveel jare?

“Daisy, wat pla jou?”

“Nee niks. Ek bedoel, ek dink net aan Mevrou die heeltyd. Ek weet nie eens wat om vir haar te sê nie.”

“Sulke tye hoef mense nie altyd baie woorde te sê nie. As jy in so ‘n situasie is, registreer mens soms nie eens rêrig wat mense aan jou deel nie. Die beste ding is, om net daar te wees vir haar. Haar te help met klein goedjies wat sy dalk nie voor kans sien nie. Dit mag dalk gering wees, maar op die ou end, sal sy dit waardeur.”

“Jy’s reg. Die huis sal in elk geval seker so vol mense wees. Solank sy net weet ek het gekom en stel belang.”

Sy staar uit by die motorvenster. Haar oë is gerig op die pragtige skouspel van die natuur, maar sy sien dit nie werklik raak nie.

“Wie was dit reeds, wat jou vroeër gesoek het?”

Daisy se oë vergroot, maar sy dwing haarself om kalm te bly.
Sy staar steeds by die venster uit.
Moet sy die liefde in haar lewe vertel van haar eks wat haar wil sien?

“Nee, dit was een van daai polis mense wat alweer iets aan ‘n mens wil afsmeer.”
Hy sal mos in elk geval haar nie weer skakel nie...

“Op ‘n Sondag? Gits, hulle word ál hoe erger!”
Hy verstel die klank op die radio nog hoër en dans terwyl hy ry. Hy pluk haar aan haar arm om die treffer saam met hom te geniet, maar sy bied geen reaksie nie.

Voor die Pietersen woning stilgehou, is Max eerste uit.
Eers toe hy die deur vir haar kom oopmaak, besef sy hulle is alreeds by hul bestemming.

Haar matriekdans het die heeltyd haar gedagtes gevange gehou.
Dit was die eerste keer wat sy vir Morné in ‘n pak klere gesien het.
‘n Spierwit pak.
Hy was dié spesifieke aand net nóg meer aantreklik as ooit tevore.
Die beste van alles was, hy was háár metgesel. Háár kêrel!
Sy het weer van oor af op hom verlief geword, toe sy by die trappe afkom en hom sien wag met ‘n geel roos in sy hand.

Daisy het ‘n liggeel pof-rok aangehad, terwyl Dot in haar diep rooi kant-rok wat aan haar lyf vaskleef, uitgetooi was.
Ma het so baie foto’s van hulle geneem!
Sy moet nog iewers in ‘n boksie, ‘n foto van hulle drie saam het…

Dorothy het besluit om dié aand sonder enige iemand te gaan. Sy en haar vriendinne het besluit om almal saam as enkellinge by die dans op te daag. Meeste van hulle het ouens buite die skool gehad en was in elk geval nie deur die skool toegelaat, om hulle te vergesel nie.

Die tema van die aand was “One Night in Paris” en die hele saal was orals met silwer sterre en die Eiffeltoring opgedoen.

Meeste van die aand het sy letterlik met Morné oor die dansvloer gesweef…

“Wie sal ek sê is hier?”

“Daisy Winterbach en Maximor Engelbrecht.”

“Volg my.”
Die hoofbediende beduie haar dat hulle net daar in die voorportaal moet wag. Sy verdwyn in een van die vertrekke.

Die plek is nog netso mooi soos Daisy dit onthou.
Reg voor hulle is ‘n fonteintjie met ‘n engel wat se vlerke wyd gespan is.
Aan die regterkant is die ingang na die voorkamer.
Sy is opgewonde om weer na die uitheemse visse te staar in die groot vistenk, wat die voorhuis van die eetkamer skei.
Binne die tenk is ‘n skouspelagtige meermin, wat op ‘n klip tussen korale sit en se ‘vel’ skitter in lig wat daarteen weerkaats.
Aan hulle linkerkant, is ‘n massiewe portret van paartjies wat dans in die reën. Die een paartjie dans salig onder ‘n sambreel.

Die woning is perfek met sy hoë plafonne waaraan swaar kristal kandelare hang. Groot ligtepienk en meroen-kleurige ruikers word orals vertoon op Roomse pilare. Verder is die antieke meubels Victoriaans en duidelik baie duur…

“U mag maar deurstap. Mevrou sal nou by u-hulle aansluit.”

Sy lei hulle na die voorkamer en Daisy word weggevoer met die skitterende meermin, wat só eg lyk. Die visse vermy haar lang, rooi hare wat heen en weer, saam met die die waters in die tenk beweeg …

“Hallo Daisy.”

“Dag Mevrou.” Sy kom gee haar ‘n drukkie en Mevrou wil haar amper nie los nie.
“Dis my vriend, Max.”

“Hai Max, ek dink ons het al voorheen ontmoet.”

Hy knik sy kop en steek sy hand na haar uit. “Dagsê Mevrou Pietersen. Ek is rêrig jammer om te hoor van Meneer. Hy was regtig ‘n goeie man.”

Mevrou Pietersen forseer haar glimlag en plak haar neer op die naaste rusbank.
“Ja, hy was.”
Sy is kaalvoet, geklee in ‘n lang swart rok, wat net los aan haar liggaam hang. Haar oë is diep in donker kringe vas en orals op haar wange is daar spore van wit sneusdoekies.

“Sit gerus.”

“Is daar enige iets was ek of Max vir jou kan doen?” Sy voel so diep seer vir die vrou.

Sy skud net haar kop.
“Precious!”

‘n Ander bediende kom aangehardloop.
“Ja Mevrou?”

“Gaan haal gou Meneer se werksleutels en bring dit na my.”

Die bediende bring getrou die sleutels en handig dit oor.

“Hier, sal jy dalk net oopsluit môre oggend? Clinton is gewoontlik al so 6 uur daar, so as jy asseblief net voor daai tyd daar kan wees?”

“Geen probleem Mevrou, ek maak so. Ek sal sorg dat dinge vlot verloop by die werk. Jy hoef jou glad nie daaroor te bekommer nie.” Sy neem die sleutels en plaas dit in haar handsak.

Mevrou sug. “Die polisie is nounet hier weg Daisy. Igshaan is nie net dood van die ongeluk nie. Daar was ‘n koeëlwond deur sy kop.”

“WAT! Was hy geskied?!! Hoe… wie sal so iets doen?!”

“Ek weet rêrig nie.” Sy sak haar hoof, terwyl haar hande haar trane vang.

“Weet die polisie al iets? Ek bedoel, wie dit gedoen het? Wat het hulle gesê?” Sy weet die vrou is dalk nie in staat om haar vrae te beantwoord nie, maar sy kan nie help nie. Die joernalis binne haar, kom automaties na vore.

“Hulle het nog niks. Absoluut niks! ‘n Kamera in die hoofweg het ‘n motor opgevang wat paar meters na aan sy kar gery het. Dan is buide motors buite die sig van die kamera, maar ‘n mens kan blykbaar twee skote hoor afgaan, dan ‘n harde slag…” Sy ween harder. “Dis seker toe hy die ongeluk maak. Hulle het net geskiet en aan gery!”

“Sekerlik kan hulle die nommerplaat nagaan? Hulle het mos immers al die gereedskap en tegnologie wat dalk selfs die persoon wat die wapen afgevuur het, uit te kan ken!”

Max vat aan Daisy se hand, om haar te laat bedaar. Hy weet hoe vurig sy kan word, wanneer dit by sulke goed kom. Sy is goéd in haar werk, maar vir Mevrou Pietersen is dit nie nou die tyd om onder kruisverhoor te sit nie.

Daisy weet wat hy wil eintlik wil sê.
“Mevrou Pietersen, al is dit die laaste ding wat ek doen, ek sál uitvind wie dit aan Meneer gedoen het. Dít, belowe ek u!”

Die bediende bring vir hulle glase sap op ‘n silwer skinkbord. Daisy neem dit en drink die knop in haar keel terug. Hoe kan iemand dit aan Grootbaas doen? Hy is die wonderlikste mens op aarde en sou nooit ‘n vinger lig teen enige iets of -iemand nie! Dit moet ‘n fout wees, dalk wou hulle hom roof, of dalk was dit die verkeerde persoon wat hulle per ongeluk geskiet het. Meneer Pietersen sou geen vyande hê nie…

“Ek is jammer julle, ek het nog slaap pille in my sisteem. Ek wil graag net ‘n bietjie gaan lê, want die afgelope paar aande het ek byna niks geslaap nie.” Sy sukkel om uit die rusbank op te staan.

“Dis reg Mevrou.” Max ondersteun haar om op te staan. “Laat weet asseblief as ek of Daisy énige iets verder vir jou kan doen.”

“Dankie, ek waardeur julle. Dankie ook aan jou Daisy. Vir alles wat jy vir my man beteken het. Jy weet natuurlik hy wou graag hê jý moes wen Vrydag. Hy wou hê dat jy die aandele in die onderneming moes koop...” Sy probeer weereens glimlag.

In haar hart, weet Daisy dit is waar. “Ek sal hom vir altyd dankbaar wees vir die saad wat hy in my lewe geplant het. Hy is die een wat my na die Here gelei het. Dit sal ek nooit vergeet nie.”

Hulle groet en skei van mekaar.
Dit maak nie eens meer saak vir haar dat Daniël of wie ook al anders, die prys gewen het nie. Dit is van min belang. Die hoofdoel in haar lewe is nou net een ding: neem wraak op Grootbaas se dood…



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

10
Jy het hier nou 'n onverwagse en interessante kinkel in gebring. Jou dialoog is baie goed. Gemaklik en geloofwaardig. Ek wag om te sien wat verder gaan gebeur ivm d moord en Morne.
4 jaar 5 maande 2 dae 6 ure oud


Dankie
Baie dankie, ek geniet verskriklik :) Waardeur jou kommentaar.
4 jaar 5 maande 4 dae 5 ure oud


Intrige
'n Ongeluk én 'n skietwond... Klink baie interessant en laat mens wonder! Geniet die skryfproses en sterkte met jou storie verder.
4 jaar 5 maande 4 dae 5 ure oud



tussen woorde se oop spasies

deur BennyB

Die bundel dra ek op aan elke leser. Al word slegs een mens deur die verse geraak, al gee dit slegs een mens hoop dan is my hart rustig en nou en môre vir my perfek!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar