Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hoofstuk 5

JAHWEH - RAAH: GOD MY HERDER

GELOWIGES OP REIS

Waarheen gelowiges ookal reis, gee die Heilige Gees vir hulle bakens en dui Hy die rigting aan. Soos wat die Psalmdigter ook in Psalm 119: 105 uitroep: "U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad!" En in II Samuel 22:29 en 3l: Want U is my lamp, o Here, wat my duisternis laat opklaar. Die weg van God is volmaak; die woord van die Here is gelouter; Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.

Die Heilige Gees is my padkaart, kompas en rigtingaanwyser. Hoewel ek op die gegewe oomblik nooit weet wat dit beteken nie, kry ek dikwels lank voor die tyd ʼn visioen of boodskap wat rig op my beplande bestemming. Ook kry ek terwyl ons op pad is boodskappe van waarskuwing.

CAPE VIDAL – 2010

Ons Bybelstudiegroep, elf in getal, het in 2010 ’n onvergeetlike vakansie in Cape Vidal met mekaar gedeel. Dit was dan ook waar die ou veterane my leer snorkel het. Ek kon my oë die dag nie glo toe ek my kop draai en 'n hele skool blou en geel visse reg langs my swem nie.

Dae voor ons vertrek kry ek die boodskap: "Goue diamantdraad". Een oggend met eb was die see vér teruggetrek. Ek het tot by my kuite in die vlakwater gestaan, en toe ek afkyk was ek stom van verbasing. Die hele seebodem, sover as wat die oog kon sien, was in 'n groot diamantdraadpatroon gespoel. Die sonlig wat deur die water op die sandbodem geskyn het, het 'n goue diamantveld waarin al die kleure van die reënboog skitter, gereflekteer. Dit was 'n absoluut onvergeetlike gesig en natuurlik ook die antwoord op die boodskap wat ek vooraf gekry het.

Só ontvang ek toe ook een aand 'Sandhaai'. Die volgende dag sien ek jou waarlik 'n swemmende pylpunt bo die water uitsteek. Dit kon niks anders as 'n sandhaai se pylstert gewees het nie.

DIE EILAND – April 2011

Eenkeer, dit was op die 1ste April 2011, sien ek in ʼn visioen eers net rooi vonke en toe word dit ʼn vrolik-knetterende 'vuurtjie'. Toe ons teen skemeraand op die 5de April by die Eiland vakansie-oord opdaag, begroet identiese braaivleisvuurtjies as die een in my visioen, ons oral.

SCHOEMANSKLOOF

Een oggend, 'n paar dae voordat ons na Schoemanskloof sou gaan vir 'n wegbreek-naweek, bewonder ek my tuintjie toe ek die boodskap: 'Barberton daisies en Vygies', kry. Ek het gewonder of die Gees bedoel dat ek die blomme in my tuin moet plant. Toe ons die Vrydagmiddag by Falcon Glen vakansieoord arriveer, verwelkom vrolike pers Bokbaaivygies en die rooi inheemse Barberton daisies van daardie wêreld, my op die rotstuin voor ons chalet.

KRUGERPARK - 2011

In November 2011, ons het beplan oor die feestyd 'n besoek aan die Kruger Wildtuin te bring, sien ek vooraf in ʼn gesig 'baie laagvlieënde wit motte bymekaar'. Ek het die visioen in my dagboek geskets. Groot was my verbasing toe ons oral in die Wildtuin, massas laagvlieënde wit motte sien.

BOTSWANA - 2012

Tydens ons gesin se eerste Botswana toer, het my seun en skoonseun hulle Concordwaentjies gesleep en het ons ’n daktent op ons Xtrail gehad. Met ons besoek aan die Chobe het ons die oggend sewe uur vanaf Savuti na Lenyanti vertrek. Dit was slegs 35 kilo’s tot by die volgende kamp en sou ons by ons aankoms brunch maak en daar oornag.

Daar was twee paaie en het my seun wat die leiding geneem het, onwetend die erge sandpad gekies. Die pad was iets verskrikliks. Ons kon nie volspoed deur die sand jaag nie, omdat ons dan in my seun se waentjie sou vasjaag. Later het hy altyd eers op die tweerigtingradio gewaarsku as die sand begin. Dan as hy deur is, het hy ons aangesê te kom en dan weer my skoonseun. Só, het ons toe minder vasgesit.

Toe ek die boodskap: 'gevaarsone' kry, waarsku ek my man teen olifante. Die volgende oomblik slaan ons los sand, seker ’n meter diep. Skaars die eerste draai, of ons en ook my dogter-hulle val vas. Die manne het soos besetenes deur die diep sandhobbels gejaag en het ons drie keer vasgesit. My seun het ons elke keer met die sterk toerusting wat hy saamgebring het, uitgetrek.

Die probleem het gekom toe hy vasval en ons hom op geen manier kon uittrek nie. Ek spot steeds my man dat hy daardie dag 'n paar grafte met sy graaf oopgegrou en weer toegegooi het. Ons het nie geskroom om, toe die kinders honger word, in die reservaat, ongeag dat daar dalk 'n leeu agter 'n bos vir ons lê en loer, rond te beweeg nie. Die uiteinde van die storie was dat ons en my dogter-hulle terug gery het na die Savuti-hek om hulp te gaan soek. Die reservaat het hulle wildritvoertuig uitgestuur maar kon dit geen hond haar af maak nie. Toe bel hulle maar vir 'n weermagtrok. Laat ná toemaaktyd die aand, kom my seun-hulle by dieselfde kamp aan as waarvandaan ons die oggend vertrek het.

Dié dag was ek deurentyd bewus van God se Hand van beskerming oor ons.

NAMIBIË - 2013

In 2013, met ons Bybelstudiegroep se toer in Namibië, het ek telkens 'n boodskap of visioen as baken op ons pad, ontvang. So skets ek vir my vriendin in my dagboek 'n boom met fyn droë takkies, wat ek in 'n gesig so in die ry gesien het, en nie baie kilo's verder nie, verander die landskap na ʼn bergplaat met vreemde bome, presies soos in my skets. Later verneem ek by 'n petroljoggie dat dit Manghettibome is.

Op pad na Numatoni kry ek 'n gesig van twee rotsagtige berge wat 'n lang tonnel vorm. Aan die bokant skyn die lug helderblou. Aan die einde van die tonnel is daar 'n groen boom. Dit was eers onlangs, toe ek my dagboeke deurgaan, dat dit my tref dat dié gesig heengewys het na 'Sesriem', 'n lang, diep uitgekalwerde sloot wat herinner aan die Visrivier.

Op pad na Rundu sien ek 'n klomp 'kruise' en etlike kilometers verder, net voor ons 'n dorp binne ry, gaan ons verby 'n begraafplaas met soortgelyke kruise.

Een oggend vroeg toe ons van Swakopmond vertrek, kry ek ʼn boodskap: 'Riskant, bumper teen bumper'. Hoewel ek die betekenis van die woord riskant ken, gebruik ek dit selde of ooit. Ek vertel die manne van die boodskap en toe ons die pad langs die see vat, is die mis so dig dat jy die voertuig voor jou nie ’n meter vér kan sien nie.

NGWENYA LODGE

Vir ʼn wegbreeknaweek vertrek ons een keer teen skemer vanaf Pietersburg, na die Ngwenya Lodge naby Komatipoort. Dit was die eerste keer dat ons die oord besoek, en het ons die pad glad nie geken nie. Die verkeer deur die swartgebiede was senutergend in die nag. Toe ek die boodskap 'Potholes' kry vermaan ek my man stadiger te ry. Dit was ook nie 'n kilometer verder nie, toe ons die groot gate tref met druk aankomende verkeer.

Laat in die nagtelike uur begin ons uiteindelik uitkyk vir die afdraaipad duskant Malelane. Dit is ʼn grondpad waaraan gewerk word. Kilometers verder besluit ons dat ons defnitief op die verkeerde pad is. Ons ry terug tot by Komatipoort waar die petroljoggie ons ʼn ander pad beduie. Op pad noem ek aan my man dat ek nou net ʼn boodskap: 'Sitrusplaas' gekry het. Groot was ons verbasing toe ons die sitrusboorde gewaar. Die oord is toe altyd op ʼn plaas by name van 'Whisky', geleë.

Baie dankie heilige Vader, U teenwoordigheid en leiding vergesel gelowiges op elke donker pad.

UNISA:

Maar dit is nie net wanneer gelowiges op reis is dat God hulle beskerm nie, maar ook in hul elke dag se omstandighede. Toe ek in my laat jare Teologie studeer, het die Gees my deurentyd bemoedig en gehelp. Vir werksopdragte (ek moes uit Engels vertaal) het ek telkens die regte bewoording ontvang en soms boodskappe gekry oor my presiese eksamenlokaal, ry en sitplek. Só het die Gees my een keer die woord: 'wisselwerking' op die hart gelê toe ek Openbaring in konteks met ons Post-moderne eeu wou verduidelik.

Daarby was ek in my eerste jaar baie huiwerig my man te vra om my uitstaande studieskuld, ons het maar van die hand na die mond gelewe, te betaal. Ná ek vir uitkoms gebid het en ons pos gaan uithaal, was ek so dankbaar dat 'n beurs aan my toegeken is en dat my rekening ten volle gekrediteer is. Daarna het ek elke jaar 'n studiebeurs ontvang wat 'n groot deel van die totale skuld gedelg het.

Baie dankie Vader, dat U die voete van U gunsgenote bewaar
(I Sam: 2:9).

Ja, U bewaar ons soos die appel van U oog (Ps: 17:8).

BEVESTIGING DEUR DIE HEILIGE GEES

BRANDWEERWA:

Somtyds word ʼn spesifieke saak gelowiges in gebed op die hart gelê en kry hulle dan 'n verstommende bevestiging van die Heilige Gees. Sò doen ek ʼn tyd gelede, voorbidding vir die misdaad en korrupsie in ons land. In my gebede vra ek telkens:
"Here, laat die Lig van Jesus Christus, die duisternis uit ons land verdryf." Só, sien ek toe in ʼn visioen ʼn byna reghoekige rooi trok. ʼn Paar dae later toe ek na die nuus op die televisie kyk, wys hul die rooi trok van my visioen.

Die rooi trok was toe altyd ʼn brandweerwa iewers in een van die oorloggeteisterde gebiede. Ek is nie seker of dit in Sirië was nie, maar daar het 'n bom in ʼn straat ontplof wat groot verwoesting gesaai het. Die geboue was aan die brand en daar was heelwat ongevalle. Die brandweer het hulp verleen.

Toe ek nadink oor dit alles, besef ek dat die rooi brandweerwa ʼn bevestiging op my gebed is. Want dit is hoe Christus se lig vandag in al die chaos en duisternis van die wêreld skyn. Jesus se lig skyn deur gelowiges as instrument in God se hand in hulpverlening, juis daar waar nood en chaos heers.

EUCHARISTIE (NAGMAAL):

Nagmaal is ʼn kosbare viering vir gelowiges wat terselfdertyd uitloop op ʼn belofte. In Openbaring 3:10 beloof Jesus: Omdat jý (Gemeente van Filadelfia) die woord van My lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom, om die bewoners van die aarde op proef te stel. Ons bewaar Jesus se lydsaamheid as ons die blye boodskap verkondig, maar ons bewaar ook sy Kruisdood wanneer ons die nagmaalsakrament wat Hy ingestel het, gedenk.

MY LOVE FOR YOU:

Een Paasnaweek, het ons die Kruger Wildtuin besoek. Diè jaar sou ek ons gemeentelike nagmaalviering van Goeie Vrydag, misloop. Ek het deurentyd Jesus se lydenstyd saam met die horlosie oordink: Op Donderdag, die dissipels se voorbereiding van die maaltyd en later eet van Pasga. In die aand, die bede in die tuin van Getsemane, die gevangeneming, die nag se ondervraging van die Joodse Raad en die uitspraak van Pontius Pilatus. Op Goeie Vrydag, Jesus se kruisdood en op die Sondag, (volgens die Joodse kalender die eerste dag van die week), Sy opstanding.

Die eerste Sondag terug, was ek verheug toe ons gemeente weer nagmaal vier. Ek het die brood en die wyn in diepe dankbaarheid biddend geneem, toe die Gees in gedagte-deurbreking my 'n boodskap op die hart lê: "It symbolizes My love for you". Trane van blydskap het oor my wange geloop. Hoe wonderbaar is U, Here! Dit is die mees waardevolle boodskap ooit, U liefde tot redding van my siel.

Dankie Vader, in ons Koning, Jesus Christus, wil ek u Naam vir ewig loof en verheerlik! Amen en amen. Deur U Heilige Gees wat in gelowiges woon en in bekendmaking van U Woord, bevestig U gedurig U liefde vir U kinders.

JOU BESTE KEUSE

Ons Bybelstudiegroep het altyd ʼn warm bespreking oor Bybelinterpretasie tot verrykende groei in die Woord. Verkondiging van die Blye Boodskap aan die hele wêreld lê my na aan die hart, terwyl ʼn persoon in ons groep altyd sê: 'Dit is nie nodig om na die hele wêreld te gaan nie, net hier in eie omgewing is reg.'

Na aanleiding hiervan, vertel ek toe aan ons groep, ʼn preek wat ek tydens 'n Erediens gehoor het: ʼn Professor het een jaar ʼn uitstaande groep studente gehad. Tydens hul eksamen sê hy: 'Omdat julle my beste groep tot dusver is, skeld ek julle vry van die eksamen. Ek sal vir elkeen ʼn C-simbool gee. Maar diè van julle wat eerder wil skryf, is welkom.' Hierop verlaat tweederdes die lokaal. Die Professor deel toe die res se vraestelle onderstebo uit. Terug by sy lessenaar sê hy: "Begin skryf!" En toe die studente hul vraestelle omdraai staan daar tot hul verbasing: 'Omdat julle meer verwag het, kry julle ʼn A-simbool, baie dankie, julle mag maar gaan.'

Dae hierna, toe ek 'n boodskap: 'Lanbouweekblad omhulsel' ontvang, gaan ons om die boek te koop. Dit was die uitgawe van 8 Januarie 2010. Op die voorblad pryk ʼn wit perd met swart maanhare. Toe dit geensins sin maak nie, plaas ek die blad terug op die rak. Later hinder dit my egter vreeslik omdat ek nie die boek gekoop het nie. Sê nou die boodskap is binne-in. En toe ek weer die blad gaan soek, is dit alreeds van die rak gehaal.

Heelwat later, bring my man die blad wat by hul ontvangs rondgelê het, vir my. Oorstelp van vreugde, fynkam ek die inhoud van die boek van alle kante. Ek lees die Geestelike rubrieke van Angus Buchan en ds. Kobus van der Westhuizen aandagtig, maar vind geen aanknopingspunt tot my boodskap nie. Moedeloos beskou ek toe eendag die boek se agterkant en gaan daar ʼn lig vir my op.

Op die agterblad pryk daar ʼn advertensie van Case. Dit is ʼn rooi stroper by ʼn geelryp koringland. In vet gedrukte wit letters op ʼn rooi agtergrond staan daar aan die bokant: 'Vir die wat meer verwag.' En aan die onderkant in kleiner gedrukte skrif: 'Hektaar vir Hektaar – Jou beste keuse.'

Sjoe, ek staan telkens verstom oor die wyse waarop God met sy kinders praat. In Matteus 9:37 sê Jesus vir sy dissipels: "Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders mag uitstuur."

Een van die profete het gevra: Here, moet U altyd met my in raaisels praat. Die Here spreek baie keer ook met my in raaisels en moet ek soms soek vir die antwoord. Eerstens is die woord 'omhulsel', hoewel dit dieselfde betekenis as buiteblad het, baie vreemd. Verder het ek die buiteblad bekyk sonder dat ek werklik gesien het. Jesus se laaste opdrag was: "Maak dissipels van alle mense."

Alle gelowiges is nie Evangeliste om met hul Kerk se ondersteuning, die hele wêreld met die Blye Boodskap te bereik nie. Maar moet elkeen van ons, oral, in ons eie stad, op reis, by ons werk en waar ookal, die blye boodskap uitdra. God vra van ons 'n wyer kyk as ons onmiddellike omgewing. Want soos wat die boodskap van die Heilige Gees dit aan my klinkklaar bevestig het, is Evangelie verkondiging vir diè wat ʼn wêreld-oes verwag, hektaar vir hektaar hul beste keuse.

Woorde: 2535
Totaal: 10924

© Elizabeth Greef - 25/02/2015



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

4
Jislaaik, ek het hierdie stuk erg opbouend gevind en is met groot opgewondenheid gevul.
Ek het ‘n paar foute gevind, maar dit kan reggestel word met redigering later.
5 jaar 8 ure oud


mag wees 4
Baie dankie vir hierdie wonderlike ervaring om jou getuienisse te mag lees
5 jaar 16 ure oud


Gees
Baie dankie vir hierdie insae in jou persoonlike ondervindings.Geseënd is jy.
5 jaar 21 ure oud


Gees
Elizabeth hierdie bydrae van jou is uiters verrykend en leersaam. baie dankie hiervoor
5 jaar 23 ure oud


Die Heilige Gees
Dankie dat jy hierdie intieme wandeling van jou met die Here met ons deel.

(Ek glo die Here kommunikeer met elke persoon op Sy eie unieke wyse ~ ás 'n mens wil luister, sal jy Sy stem hoor. Dit sal altyd ooreenstem met sy geopenbaarde Woorde in die Skrif.)
5 jaar 1 dag oud



Weerloos

deur Maangodin

Eroties Afrikaans - sodat ons in ons eie taal geprikkel kan word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar