Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hoofstuk Een


‘n Magdom kleurvolle kerse in verskillende vorms en groottes flikker oraloor in die ligte briesie wat die someraand se soel hitte breek. Ons sit buite op my houtdek terwyl sagte musiek met ‘n Meditereense inslag verleidelik in die agtergrond speel. Vanaand is een van ons Dogters van die sOn aande en die vyf van ons sit om my swaar, ronde houttafel, besig om te kuier soos net ou vriende kan.

“En die kersie op die koek …” vertel Vivian lustig aan haar storie terwyl sy diep aan ‘n dun sigaretjie teug vir effek, haar lang, perfek gestileerde blonde hare oor haar skouer skud en dramaties aankondig, “was sy reaksie toe hy uitvind ek is ‘n senior vennoot in die maatskappy!” Sy druk haar sigaret met mening dood en glimlag selfvoldaan. “Hy het bloedrooi gebloos, kon skaars ‘n woord uitkry en het boonop die helfte van sy koppie tee oor sy selfoon uitgestort.” Sarah stamp amper haar glas wyn om, Diana verstik in haar broodjie, Julia skud haar kop, ek draai my oë ten hemele en ons almal skater kliphard van die lag.

“Ja wel,” grinnik Diana en trek effe selfbewus aan haar blommerige romp wat stywer as gewoonlik sit, “ek sal self nie aan jou verkeerde kant in ‘n boardroom wil wees nie.”

Vivian lig een perfekte wenkbrou en merk op, “Net in die boardroom, meisie?” Sy glimlag skalks en skink haar glas weer vol. Vivian is een van die stad se top argitekte en sy lyk altyd asof sy sopas van ‘n modetydskrif se voorblad afgestap het. Sy is boonop met Martin Marais getroud, ‘n vooraanstaande plastiese chirurg en kan dit dus bekostig om so te lyk.

Diana giggel, skud haar kop en konsentreer eerder weer op haar escargot voorgereg. Sy smeer nog ‘n snytjie baguette deur die pan slakskulpe in knoffelbotter en kou heerlik daaraan. Julia sug genoeglik en strek haar lang bene soos ‘n kat voor haar uit. “Wat ‘n dag!” Sy trek haar vingers deur haar bos rooibruin hare en leun terug in haar stoel. Sy dra jeans, een van David se hemde met boots en slegs ’n goue hangertjie met bypassende oorbelle. David en Julia woon nou al jare lank saam, maar kom nie tot trou nie. Sy het haar eie sielkunde praktyk en hy doseer filosofie aan Tuks.

“Moeilike pasiënte? vra ek.

“Nie werklik moeilik nie, Eliza. Net so damn baie.” Sy glimlag, “Ek sal een van die dae ‘n vennoot moet kry, want ek wil in elk geval meer op hipnoterapie begin konsentreer.”

“Ag man, al wat jy nodig het is ‘n goeie massage!” beduie Sarah met haar vurk in die lug.

Sy vertel ons opgewonde van die nuwe Balinese massage wat hulle doen en haar silwer armbande klingel soos sy beduie. Sy dra vanaand ‘n wit Oosterse langbroek, silwer sandale, bonkige juwele en pers top. Sy besit haar eie “parlour” soos sy dit noem. Sarah is ‘n skoonheidsterapeut en doen nogal goed.

“Ja, maar jy’s vrek duur,” kap Diana tussen happe slak en baguette deur.
“Ok … sê julle wat!” lag Sarah, “Die eerste sessie is op die huis en van daar af betaal julle klomp volprys.” Sy loer afwagtend om die tafel na elkeen van ons. Ons almal knik instemmend en sy glimlag tevrede. “Done.”

Ek neem ‘n slukkie Merlot en my blik rus beurtelings op my beste vriendinne in die wêreld …Vivian, die suksesvolle vuurvreter argitek, Julia – die sielkundige met haar eie issues, Diana, IT boffin en getroud, een kind en heelwat kwessies rondom geld. Sarah, die impulsiewe, kreatiewe, deurmekaar enetjie onder ons. Dan is daar ek, Eliza.

Ek skilder, skryf, doen nou en dan fotografiese projekte vir addisionele inkomste en hou darem die wolf van die deur af. My huis is my hawe en ek was nog nooit getroud nie. In jeans, oranje shoestring top, baie armbande en lang oorbelle is ek in my element. My skouerlengte donkerbruin hare hang vanaand los, maar gewoonlik maak ek dit vas in ‘n no-nonsense poniestert of Franse vlegsel.

My gedagtes dwaal onwillekeurig en spontaan verder, al verder terug in ons almal se geskiedenis in. Ons kom ’n lang pad saam, van skooldae af, dwarsdeur universiteit tot waar ons nou is. Byna in ons middel-dertigs.

Gedurende ons Standerd agt-jaar - ek dink hulle noem dit nou graad 10, het ons ’n vriendskapsverbond met mekaar gesluit. Ons het omtrent elke Vrydagaand by een van ons vyf se ouerhuise bymekaargekom en oorgeslaap, middernagfees gehou, musiek geluister en allerhande strooi gepraat. Een spesifieke Vrydagaand was almal by my huis en ons het my pa se sesmantent in die agterplaas opgeslaan, slaapsakke uitgedra, ook kerse, vuurhoutjies en blikkies kondensmelk wat ons die middag in ons ma’s se kastrolle tot karamel gekook het. My draagbare radio, ’n 2 liter Coke, drie pakke chips, twee geleende bottels rooiwyn en ‘n ou kurktrekker het ook in die tent beland. Ons het daai aand nie eers gebodder met glase nie. Ons was jonk en vry. Ons was dogters van die son, deel van elke nuwe dag en die lewe het voor ons oopgelê. Ons het geglo dat ons alles wat na ons kant toe kom se baas was.

Daar was ’n volmaan in die wolkelose lug en ons kon duisende helder sterre sien. Byna net so helder soos die sterre in ons eie oë, waar ons in ’n kring op die gras rondom die kerse en piekniekgoed gesit het. Op ’n stadium het ons gewonder waar ons almal oor vyf jaar sou wees. Dit was destyds ‘n ondenkbare lang tyd. Výf jaar? ‘n Ewigheid.

Ek kan nie meer onthou wie van ons se idee dit was nie en of dit miskien die rooiwyn was wat gepraat het nie, maar ons het daardie aand plegtig aan mekaar belowe dat ons vir altyd en ewig vriende sou bly.

“Earth to Eliza! Halloooooooooo.”

Ek kyk op toe ek my naam hoor.

Julia lag en vra, “Eliza, waaaaaar was jy nou alweer?”

“Huh?”

“Waar was jou kop nou weer?”

“Ja, Eliza,” vra Vivian, “Wat gaan aan? Wat steek jy vir ons weg?” Sy betrag my met een geligte wenkbrou en blaas ‘n kringetjie rook ongeduldig die lug in.

“Moi?” vra ek gemaak verbaas, “Iets wegsteek?”

“Ja toe, uit daarmee.” Julia skud haar bos rooibruin hare terug en leun afwagtend met haar elmboë op die tafel. “Ons luister.”

Ek lag en kondig vrolik aan, “Raai wie gaan vir twee weke Hawaii toe … Ek!”

“Liewe donder!” Sarah staar verbaas na my. “Het jy die lotto gewen of iets?”

“Nee man,” lag ek Sarah se banale stelling af. “Vir werk.”

Ek sit meer regop en vertel opgewonde verder, “‘n Nuwe spoghotel maak in Honolulu oop en my agent het gevra of ek ‘n klomp artikels sal skryf en foto’s sal neem. Dis deel van die hotelgroep se wêreldwye bemarkingsprojek.”

“Betaal hulle jou goed?” wil Diana weet en sluk nog ‘n slak.

“Heel goed,” lag ek opgewonde. “So goed dat ek al my kaarte sal kan skoonmaak daarna. Ek word in dollars betaal.”

“Gaan jy in daai smart hotel bly?” wil Sarah weet.

“Nee, die media sal in goedkoper hotelle bly, maar ek sal seker darem ten minste een maal daar eet,” lag ek. “Om foto’s te neem en so.”

“En?” Diana kyk vraend na my.

“En wat, Diana?”

“Is al jou dinge in orde? Paspoort, visum en so aan?”

“Wat dink jy?” vra ek haar en sluk sommer nog wyn. “Natuurlik! Laura reël alles. Van visum tot verblyf en watookal nodig is.” Laura Clark. Sy’s my agent en ‘n haai as daar nou al ooit een was. Tierhaai se moses. Sy kan dinge waarmee meeste mense vir weke sukkel binne een uur reël.

Ek loer na my horlosie, staan op en vra , “Julia, jy gaan sommer braai, nê?”

Sy sug dramaties en mompel iets na my kant toe dat sy ook nooit net kan sit en ontspan nie, maar begin dan die kole en dinge heel behendig aan die gang kry. Terwyl die ander drie verder klets, verdwyn ek deur die skuifdeur om my spesiale mushroomsous te gaan maak.

Diana storm kort daarna by die kombuisdeur in en vra kliphard of sy my kan help met iets. Ek skrik vir haar stem so skielik agter my en stamp my kop teen die yskasrak. Sy stap vinnig nader tot waar ek in die yskas grawe na ‘n houertjie crème fraiche vir die sous en fluister sissend, “Vivian is nie lekker nie.” Sy loer oor haar skouer en haar groot oë staar bekommerd na my.

“Wat bedoel jy sy’s nie lekker nie?” wil ek kalm weet toe ek regop staan, my kop vryf en weer afbuk om verder te grawe tussen al die houertjies.

“Kan jy nie sien nie?” sis sy.

“Praat normaal, Diana. Almal is buite en hulle kan ons nie hoor nie.”

Sy ruk haar op en ek stap uiteindelik met die gewraakte houertjie room na my stoof toe, waar ek bietjies-bietjies daarvan by die sampioene begin inroer. Diana loer na ‘n klein rukkie nuuskierig oor my skouer en beveel, “Vars tiemie.”

Ek slaan my oë op na die plafon en beduie na die kombuistafel, waar twee takkies tiemie en ‘n handvol pietersielie wag. Alles vars uit my tuin. Sy begin dit fynmaak en vertel my oor haar skouer dat Vivian die laaste ruk baie drink.

Terwyl ek ‘n bietjie witwyn by die sous roer, knik ek instemmend en wonder of dit miskien spanning oor haar werk is. Diana snork verontwaardig, “Spanning? Ja – maar nie werk nie.” Sy skud haar kop en vra sag, “Is sy en Martin nog gelukkig?”

“Wel, seker maar soos altyd. Hy’s besig, sy’s besig – jy weet hoe dit gaan.”

Ons hoor skielik vinnige spykerhakvoetstappe in die gang afkom en die volgende oomblik bars Sarah by die kombuis in, “Waar’s daai sous? Ek ruik dit van buite af.”

Sonder seremonie ruk sy my messelaai oop, pluk ‘n lepeljie uit, skep dit vol sous en blaas versigtig daaroor, hap en gaan byna in ‘n beswyming in.

“Kom, kom, kom, meisies! Julia is amper klaar met die vleis,” fladder sy, gryp nog twee bottels rooiwyn uit my wynrakkie en verdwyn weer in die gang af.

Diana en ek staar verdwaas na mekaar en begin half histeries lag.

Nadat ons almal opgeskep het en weer om die tafel sit, vertel Julia ons van David se opkomende toer wat hy saam met ‘n paar Honneursstudente gaan doen.

“Hy noem dit sy Philosophy Road Show,” deel sy ons opgewonde mee en beduie dat dit blykbaar ‘n baie suksesvolle manier is om sy fakulteit aan die lewe te hou.

Vivian vra uit die bloute uit of Julia hom saam met die jong studentemeisies vertrou en Julia antwoord laggend dat sy hom met haar hele hart vertrou. “Hy’s te mal oor my om enige simpel ding te probeer aanvang!”

Vivian glimlag effe snedig en ek wonder of iemand anders dit opgemerk het, want ek het toevallig opgekyk na haar terwyl die ander besig was met die kos op hul borde. Vivian se hand het gebewe toe sy haar mes optel om die steak te sny en toe sy eers begin sny, het sy die vleis met soveel mening en byna aggressief aangeval dat ek eerder ‘n slukkie wyn geneem het. Ek hou haar uit die hoek van my oog dop en sien hoe sy ‘n hap vleis neem en vinnig daaraan kou, asof sy dit wil verbrysel. Sy skink meer wyn in haar glas, neem ‘n groot sluk en peusel dan slegs aan die slaai op haar bord om gesellig te probeer lyk. Dan verloor sy belangstelling daarin, steek uiteindelik eerder weer ‘n sigaret op en teug ongeduldig daaraan.

Diana is die een wat eerste, kort voor middernag, huis toe is. “Stefan het môre vroeg playball by die skool en ek moet hom gaan aflaai.”

Julia en Sarah vertrek saam na koffie en Vivian bly agter vir nog ‘n rukkie. Ek kan sien dat sy nog nie reg is om huis toe te gaan nie. So, toe skink ek maar vir ons elkeen nog ‘n glasie wyn, skink vars koffie in ons bekers en vra haar wat aangaan. Sy sê niks, maar haar oë raak vol trane.

“Kom ons gesels,” sê ek sag en vryf oor haar skouer. Vivian kyk verby my, iewers in die verte in en haar stem en oë is leeg toe sy finaal met my begin praat.

“Ek is besig om ‘n PI te soek, Eliza. ‘n Privaatspeurder.”

“Martin?”

“Ja,” antwoord sy sag. “Ek vermoed al ’n hele ruk lank dat daar iemand anders is.” Ons sluk aan ons wyn en ek vra, “Wil jy daaroor praat?” Sy skud haar kop, “Wat is daar om te sê?”

“Is dit nie bietjie drasties om ’n PI te huur nie?” vra ek. “Kan jy en Martin nie hieroor praat nie?” Sy lag verontwaardig. “Hy is nooit donders dáár om mee te praat nie!” Haar stem is sag en seer wanneer sy sê, “Eliza, hy’s buitendien omtrent nooit meer by die huis nie.”

“Wat van berading?”

Sy kyk meewarig na my. “Dink jy nou die perfekte plastiese chirurg wat in die perfekte bliksemse kar ry en die sogenaamde perfekte donderse huwelik het, sal hom tot ’n kollega wend en dit verdomp wáág om die vernis te laat kraak?” Sy lag sinies. “Nie Martin Marais nie. Nee, hy’s te egosentries daarvoor!”

“Is jy nog lief vir hom?” vra ek.

“Ek weet nie. Eintlik weet ek niks meer nie. My werk ly onder al hierdie klomp crap en ek het twee major projekte wat in die pyplyn is. Maar, ek móét weet ... dié kant of daai kant toe.”

Sy sug en sê sag, byna aan haarself, “‘n PI is ál oplossing.”

“En as dit so is?” speel ek die duiwel se advokaat, “Wat dan?”

“Ek weet nie, Eliza.” Haar sagte, byna magtelose antwoord ruk my. Dis nie hoe ek Vivian ken nie. Sy is en was nog altyd die grootste fighter onder ons.

“Wil jy nie met Julia praat nie?”

Vivian lag skielik hardop en ek skrik vir die klank daarvan. Ek bly stil en wag dat sy antwoord.

“Jy weet sélf dat Julia sielkunde gaan swot het vir haar eie terapie. In elk geval is ons vriende en dit sal nie werk nie.”

“Mmmm … ek verstaan,” antwoord ek en teug aan my koffie, terwyl ek wonder wat in die sterre voorspel is vir ons klompie, ons vyf – die dogters van die son. Ons drink ons wyn, elkeen besig met haar eie deurmekaar gedagtes, dan staan Vivian skielik op. Sy groet vinnig, ry weg en verdwyn in die nag.

Dis laat, lank na middernag en die huis is stil noudat almal weg is. Ek staan op my houtdek en is nog nie lus om te gaan slaap nie. ‘n Paar dinge pla my en ek wil eers daaroor dink. Hier en daar brand ‘n kers of twee nog en hul vlamme flikker laag. ‘n Vreemde stilheid hang oor die omgewing en selfs die bure se honde slaap. Ek kyk uit oor my tuin, maar dis te donker om detail uit te maak. Wolke het oor die maan geskuif en ek verbeel my ek ruik reën. Blykbaar is dit osoon in die lug wat mens kort voor ‘n reënbui ruik, maar dis minder wetenskaplik en meer romanties om jouself wys te maak dat dit die reuk van reëndruppels is wat binnekort gaan neerplons.

Ek is ontsteld oor die gesprek tussen ons en staan met my laaste glasie wyn en beker koffie in die donker nag en instaar. Met soveel vrae in my kop. Onbeantwoorde vrae. Ek staar na die nag se donker - so asof antwoorde daar vir my sou wag.

Woorde: 2 612
Totaal: 2 612



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

.
mmmmm, nou's ek nuskierig.

Baie interessant en my verbeelding is op hol.
Ek hou van die "normale" skryfstyl wat jy gebruik, dit lees gemaklik! (-;
4 jaar 7 maande 3 dae 10 ure oud


*
Okay! I got it! Jammer vir my blonde oomblik.

Ek is nou by.
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 7 ure oud


Louise
Hahahahahahahhaa, BAIE DANKIE!!!!
Jy is my gewete van nou af. Jy sit op my skouer en gee my 'n taai klap teen die kop wanneer ek so lekker begin "TELL" en afwyk van "SHOW." hehehe
Duisende dankies!!!! Baie kosbare raad :)))
4 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 13 ure oud


Dogters vd sOn
Ek dink skrywers raak soms so verstrengel om van die eerste woord af tegnies korrek te skryf dat mens naderhand die lekkerte van skryf verloor. Kry eers jou hele verhaal op papier, Carol, en geniet die kreatiewe skryfproses. Daar sal wel tyd wees om jou manuskrip te edit en te streamline. Vir nou, dink ek, is die STORIE die belangrikste. Jy kry goeie kommentaar en dis lekker om te sien mede-woesters is vuur en vlam om ons deelnemers met raad en daad by te staan.

Van my kant af: Remember to SHOW and not TELL. Bv:
(TELL) "Ek is ontsteld oor die gesprek tussen ons en staan met my laaste glasie wyn en beker koffie in die donker nag en instaar."
(SHOW) My hande bewe liggies en ek klem die koppie stywer vas. Die donkerte hang soos 'n swaar mantel om my skouers en ek sug beswaard. Wat gaan tog word van Martin en Vivian? Ek wens ek kon help!"

Hierdie vlg stuk dialoog het jy baie goed geskryf (Dialoog is myns insiens jou sterk punt): Sy kyk meewarig na my. “Dink jy nou die perfekte plastiese chirurg wat in die perfekte bliksemse kar ry en die sogenaamde perfekte donderse huwelik het, sal hom tot ’n kollega wend en dit verdomp wáág om die vernis te laat kraak?” Sy lag sinies. “Nie Martin Marais nie. Nee, hy’s te egosentries daarvoor!”

Lekker skryf, KB. Ek hou jou dop!
4 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 13 ure oud


Driekie
Baie dankie vir jou kommentaar. :)
Weet jy, ek sal jou raad beslis volg, maar gaan vir nou eers daarop konsentreer om my storie op papier te kry en sal die tegniese aspek van kantlyne en so doen wanneer ek redigeer.

Die ding is ook - hahahaha, my karakters praat so baie! hahaha So, hulle neem gedurig by mekaar oor :))
4 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 15 ure oud


Dogters van die son
Wat 'n goeie voorbeeld. Dankie Carol. Dit beloof inderdaad om te ontvou in 'n storie vol intriges. Wat ek wel dadelik opgelet het (uit ondervinding van skryfkursusse) is die uitleg. Elke nuwe paragraaf moet bietjie weg van die kantlyn wees. Die begin is teen die kantlyn en elke keer wanneer 'n ander karakter oorneem. Dit sal die probleem oplos van die oorskakeling tussen gedagtes (oor wat in die verlede lê) en wat huidiglik gebeur.
4 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 17 ure oud


dogters
Goed beskryf en saamgevat. Ja so laat die wyntjie/kafein mens antwoorde op snaakse plekke soek.
4 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 4 ure oud


Viooltjie
Hi daar :)
Nee, reels maak nie saak by gedigte nie. Jy moet asb net 4 per week publiseer.

Kan nie wag nie!
Dankie :)))
4 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 7 ure oud


dogters
Ai, hoe goed is Kiekies nou met die raad :-)
Ek dink daar kort 'n " na pasiente? daar bo êrens...

Dis sommer 'n lekker begin met belofte om vol intriges te wees, Carol.

moet ons wat gedigte plaas by elke gedig ook die aantal reels tel en neerskryf?
4 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 7 ure oud


Dankieeeeeee!!!!
Jy sien! hehehehe Dis goed wat ek nie raakgesien het nie. BAIE DANKIE en ek gaan dit dadelik regmaak by die oorspronklike dokument!!!

Great! hehehe
4 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 8 ure oud


Dogters
Diana verstik in haar broodjie - eerder:aan haar broodjie
wolf van die deur af - wolf weg van die deur af?
dat ek al my kaarte sal kan skoonmaak daarna - klink nie heeltemal reg nie, dalk effe angisisties.
vra uit die bloute uit of Julia - dalk eerder: vra uit die bloute of Julia....
.... eie deurmekaar gedagtes, dan staan Vivian skielik op - lees dit dalk beter: gedagtes. Dan staan Vivian....

Jy het jou karakters vroeg aan die leser bekend gestel en ek is al klaar deel van die 'dogters'!
4 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 8 ure oud



Waarheen met die Nuwe Wyn

deur Christo Nel

Die boek, WAARHEEN MET DIE NUWE WYN, wat in 2004 vir die tweede keer nuut gepubliseer is, is bedoel om ‘n bydrae te maak as deel van die gesprek rondom Bybelse vernuwing wat tans onder veral Afrikaanssprekende gelowiges aan die gang is oor wat Christen-wees en kerk-van-Christus-wees beteken.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar