Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ramon bel my wakker. “You still sleep? I wake you?”

“Mmm,” antwoord ek hom deur die slaap. Sy romerige stem vou om my en ek sug gelukkig.

Hy lag, “Soon I wake you with many, many kiss every morning.” Ek skuif meer regop, maak my oë heeltemal oop en loer deur die skrefie van my gordyne. Die son is nog skaars op. “How soon?” vra ek steeds effe deur die slaap, gaap en skuif die duvet van my af.

“Very soon, my love. Today I see people want rent my apartment. For long time. Good, yes?”

Hy noem dat hy sy broer en familie oor die naweek gaan besoek om te groet. Dan vertel hy my van Malaga, die plek aan die kus van Spanje waar sy ouma woon en ek lag vir sy staaltjies oor die beduiwelde, eiewyse ou tannie wat sy hele familie met ‘n ysterhand regeer. Ons groet uiteindelik en ek staan met ‘n glimlag op uit my bed. ‘n Stemmetjie diep in my agterkop lag tartend vir my, maar ek ignoreer dit summier. Hierdie keer vertrou ek my hart en dit voel reg.

Ek trek my oefenklere aan en swoeg weer 10km op my oefenfiets uit, drink my yskoue groen ystee en wens die tyd verby tot wanneer Ramon gaan vlieg. Net toe ek onder die stort wil inklim, lui my foon en ek gooi ‘n woord wat ek nie gewoonlik in ordentlike geselskap gebruik nie.

Vivian groet skaars en vertel dan in een asem, “Eliza, ek het ‘n Balinese massage vir twee by Sarah geboek. Om dankie te sê dat jy saam was met Bruwer se –“

“Vivian, dis nie nodig nie,” val ek haar in die rede, “maar dit sal great wees! Wanneer?”

Sien jou daar oor dertig minute.”

Ek vlieg deur die stort en trek sommer jeans en ‘n toppie met plakkies aan, skuur my Mazda 2 behendig om die draaie oppad soontoe en stop presies 27 minute later in die parkeerplek voor Sarah se “Parlour.”

Sarah stel voor dat Vivian eers ‘n manikuur laat doen, want sy wil eerder persoonlik met elkeen van ons werk. “Linda kan jou dadelik neem. Stap sommer deur, Vivian,” glimlag Sarah. Vivian stem heel gemoedelik in vir ‘n verandering. “Mmm, ek het anyway een nodig, sê sy ingedagte en beskou haar hande. “My naels is in ‘n toestand. Dis reg so, Sarah. Kry jy maar vir Eliza eerste beet.”

Ons stap in die gang af en Sarah loop voor my uit, geklee in haar gewone werksklere – swart skouerlose top en lang swart tights. Sy maak ‘n houtdeur aan die einde van die gang oop. Ek was lanklaas hier en alles lyk anders. Die vertrek skep ‘n misterieuse, dog gesellige atmosfeer met sagte beligting, donker mure en kerse wat oral brand. ‘n Dakwaaier draai sag teen die plafon en versprei die aroma van vars blomme in keramiekbakke vol water en geurige, eksotiese olies deur die vertrek. Die geluid van kabbelende water en bamboes blaasinstrumente speel sag op die agtergrond.

“Jy kan maar solank uittrek en op jou maag gaan lê,” beduie Sarah glimlaggend na die masseerbed in die middel van die vertrek. Twee klein handdoekies lê op die bed. “Ek meng net gou ‘n paar spesiale olies en dan’s ek by jou.”

Sy verander die musiek en die ritmiese snaar en dromklanke werk hipnotiserend op my. Sarah haal diep asem, stap nader aan my en ek wil haar oor die reuke vra, maar sy fluister sag, “Shhhh. Ontspan net, Eliza.”

Sy staan langs my, druk met haar hande op my laerrug en nek, maak haar oë toe en staan ‘n paar oomblikke doodstil om haar asemhaling met myne te sinkroniseer. Dan smeer sy olie aan haar hande en begin saam met die musiek beweeg.

Sarah vryf plathand oor my hele rug in ritmiese sirkelbewegings, werk haar duime oor verskeie drukpunte op my rug en ek begin al meer ontspan. Sy smeer olie aan my bene met stadige, sterk bewegings en haar vingerpunte masseer eers sag oor my vel, dan dieper. Sy beweeg grasieus, sensueel langs die bed saam met die agtergrondsmusiek wanneer sy haar hande oor my hele lyf vryf. Sy maak sirkelbewegings met haar duime en ek kan voel hoe sy elke spier diep, ritmies masseer. Sy verander haar tegniek en gebruik haar voorarm en elmboog. Sy masseer dieper, meer intens en ek kan die spanning verder uit my lyf voel vloei.

“Draai op jou rug, Eliza.”

Haar stem is sag en die musiek, die reuke en die hele gevoel van die ervaring voer my mee.

Ek draai op my rug en haar hande vloei oor my maag in sirkelbewegings, oor my heupbene, dan op, op, op … oor my skouers, nek en sy werk aan drukpunte op my voorkop, wangbene en onder my ore. Reg teen die einde staan sy weer langs my, met een hand op my maag en die ander op my voorkop. Ek maak my oë oop. Sy glimlag.

“Wow.” Ek sit regop en kyk verstom na haar, “Wanneer het jy geleer om dit te doen?”

“Ek was mos op daai kursus in Johannesburg, drie maande of so gelede.” Sy lag. “Balinese massage is baie gewild en ons is een van die min plekke in Gauteng wat die oorspronklike, outentieke massage doen.”

“Hoe bedoel jy?”

“Dit gaan alles oor … vloei … ek glo jy het dit agtergekom.” Ek knik, “Ja, ek het – dis soos ‘n dans – ek kon voel jy beweeg met jou hele lyf, nie net jou hande nie.”

“Nogal gedink jy sou.” Sy knipoog vir my en lag, “Jy kan nou heerlike groen tee buite by die fontein gaan drink, dan sal Vivian en ek soontoe kom wanneer ons klaar is, ok?”

Sy kyk skielik vreemd-ingedagte na my en vryf met haar hand oor my skouer toe sy uitstap. Ek sit doodstil vir ‘n paar oomblikke, dan trek ek aan en stap uit op die stoep, teug aan my groen tee en blaai deur ‘n tydskrif terwyl ek wag.

Vivian kom sit later by my en sug behaaglik, “Dis nou presies wat ek nodig gehad het. Sarah ken nogal haar storie, né?” Ek glimlag en knik. Sarah sluit kort daarna by ons aan met ‘n skinkbord vars tee en koekies.

“Sarah, jy het ons nooit vertel wat toe met jou date by Henk se huis gebeur het nie. Sien julle mekaar nog?” vra ek.

Sy trek haar gesig en grom, “Wat ‘n vark! Henk Louw beter uit my pad uit bly as hy weet wat goed vir hom is.” Sy vertel ons vinnig van die aand toe hy byna haar klere van haar lyf af geskeur het. Vivian en ek sit albei regop toe ons dit hoor en ek vra kwaai, “Vir wat het jy ons niks gesê nie?”

“Dis verby, Eliza. Ontspan. Ons is uit mekaar se lewens uit.”

“Hou net jou oë oop,” waarsku Vivian. Sarah rol haar oë, “Mansmense …”

“Darem nie almal nie,” lag ek. “Genadiglik is daar prinse ook en nie net ‘n spul paddas nie.”

“Paddaprinse is die ergste,” laat Vivian van haar hoor. “Martin is die donnerse koning van paddaprinse.”

Sarah kyk vraend na Vivian en ek sluk ingedagte aan my tee. “Gaan iemand my vertel wat aangaan?” vra Sarah. Vivian sit haar koppie neer en sug diep, “Ek kan seker maar netsowel die bom nou laat bars.” Sarah en ek kyk afwagtend na haar.

“Ek het ‘n afspraak met Martin gemaak vir later die week. Vir ‘n spesiale ete by die huis. Ek gaan kook … en met hom praat. Kyk of daar iets te redde is … Indien nie, gaan ek hom dagvaar vir ‘n egskeiding en hom kaal uittrek. Poedelnakend. Mark my words.” Sy sluk haar koppie leeg, plonk dit hard op haar piering neer en steek ‘n lang sigaret aan.

“Weet hy dat jy weet?” vra ek.

“Nee, Eliza. Ek tree so normaal as moontlik op. Hy vermoed niks.”

“Kan iemand my asseblief net vertel wat aangaan?” Sarah kyk geϊrriteerd na ons.

“Martin is besig om my te verneuk, Sarah,” vertel Vivian onemosioneel. “Die beste is, hy doen dit vir geld.”

“Wat!?” gil Sarah.

“Martin het die kans om deel te word van ‘n uiters lonende vennootskap, maar die nuwe vennoot se dogter wil met hom trou. En dit lyk asof Martin dit sterk oorweeg.” Sy blaas ‘n bol rook in die lug en skud haar kop.

“Die bliksem …” is al wat Sarah uitkry.

Vivian se foon lui. “Hallo Diana,” antwoord sy en blaas ‘n kringetjie. “Ja, dis reg so. Nee, Martin sal nie saamkom nie. Hoe laat?” Sy knik en antwoord, “Goed, sien julle dan.”

Vivian vertel ons dat Diana haar sopas genooi het om vanaand by haar en Pieter te gaan eet. “Blykbaar gaan hulle nuwe prediker, een of ander Lewis-ou ook daar wees en Pieter het gevra of ek na die planne vir die CNL sal kyk.”

“Lyk my die affêre beweeg nou nogal in ‘n rigting in met pastoor Pieter aan die stuur,” giggel Sarah.





Vivian daag net na ses by Pieter-hulle op en Diana lei haar na die patio, stel haar en Desmond Lewis aan mekaar voor en skiet dan terug kombuis toe voordat iets brand.

Vivian staar na die aantreklike man voor haar. Dis nie wat sy verwag het nie. Vivian kug en vra, “Desmond, is jy die hoofprediker?” Desmond knik glimlaggend.

Vivian lig haar wenkbroue, glimlag skeef en teug eerder aan haar witwyn. Die man ontsenu haar, maar sy weet nie hoekom nie. Miskien is dit sy looks, natuurlike sjarme of sy sterk teenwoordigheid? Sy rustige mien streel haar gemoed, maar ... daar is iets anders …

Pieter beduie na die planne wat op die tafel lê en glimlag, “Vivian, sal jy asseblief jou oog hieroor gooi?” Sy stap nader en knik ingedagte soos wat haar blik oor die planne beweeg. “Mmm … lyk goed … ja …maar …” Sy kyk op. “Pieter, ek het een vraag – hoekom is daar net trappe en geen rolstoelgeriewe nie?”

“Maar dis onmoontlik!” Pieter swaai die planne om en Desmond staan self nader. Hul oë beweeg van ingang na ingang na ingang. Slegs trappe, baie trappe.

“Daar is geen ramps vir rolstoele nie, ook nie handreëlings by die trappe nie. Dit is noodsaaklik.” Vivian steek ‘n sigaret aan en sê, “verder is daar ook geen plek vir rolstoele in die ouditorium nie.” Desmond kyk lank na Vivian en ‘n glimlag speel om sy lippe. Hul oë ontmoet mekaar en sy trek haar skouers op. “Julle kan moeilikheid daaroor kry met die finale bou-inspeksie. Dit is immers ‘n openbare perseel.” Sy teug aan haar wyn, “Ek neem aan dat daar heelwat disabled mense gaan wees wat die CNL sal besoek. So, hierdie is eintlik veronderstel om ‘n prioriteit te wees.”

“My magtig!” Pieter skud sy kop. “Ek kan nie glo dat Don Lawrence, Desmond én ek dit misgekyk het nie.”

Vivian glimlag skalks. “Wil jy hê ek moet aangaan, Pieter?” Hy kyk na haar en knik. Desmond staar ingedagte na die stylvolle vrou voor hom en neem ‘n slukkie rooiwyn. Sy boei hom.

“Daar is geen noodhulpfasiliteite nie. Een noodhulpkamer met ‘n paar beddens en gordyne behoort die ding te doen. Dan, die kombuis –”

“Vivian.” Pieter hou sy hande op en glimlag. Sy lig een wenkbrou en kyk stil na hom.

“Ek sal ‘n stel planne vir jou laat maak. Sal jy asseblief daardeur werk en ‘n volledige verslag met voorstelle vir ons opstel? Teen jou gewone tarief, natuurlik. Stem jy saam, Desmond?”

Desmond staan op en kyk direk na Vivian, “Sonder twyfel, Pieter.”

Diana stap nader en kondig aan dat almal kan kom aansit vir ete. Vivian verstyf effe toe Desmond agter haar inbeweeg en sy hand galant op haar laerrug laat rus terwyl hy die deur verder vir haar oopskuif.

Die gesprek om die tafel raak aan ‘n magdom onderwerpe. Desmond vertel van sy dae in Tibet, Argentinië en Turkye as jong student en hy laat die ander skater met staaltjies oor die apies by Tibetaanse tempels wat vrugte steel, weghol en dan laggeluide maak. Namate die aand vorder, word die gesprek meer ernstig en Pieter meld later dat hy Henk Louw, ‘n bekende prokureur van Pretoria, gaan aanstel om sy regsaspekte te hanteer. Vivian verstar. “Henk Louw?”

“Ja, Vivian.” Pieter kyk vraend na haar, “ken jy hom?”

Sy skud haar kop. “Nie persoonlik nie, maar ek stel voor dat jy iemand anders kry, Pieter.”

“Hoekom?”

“Die man het ‘n drankprobleem, hy’s ‘n geldwolf en het ‘n swak reputasie met vroue.”

“Vivian?” vra Diana, “hoe weet jy dit?”

Vivian haal diep asem en sê, “Kom ek volstaan eerder net om te noem dat sy assosiasie met jul CNL nie positief sal wees vir julle beeld nie.”

Diana maak oogkontak met Vivian en Vivian skud haar kop so ongemerk as moontlik. Diana knik. Desmond merk hierdie onderlinge kommunikasie op en vertel Pieter dan van ‘n regsgeleerde wat hy goed ken – ‘n jarelange familievriend. “Die ou is ‘n oud-regter en oud-Tukkie dosent. Met heelwat kontakte. Hy werk deesdae van sy huis af. Moet ek hom kontak?”

Pieter knik afwesig en wonder hardop, “Ek het môre ‘n afspraak met Louw. Ek sal aan iets moet dink om – ”

“Sê net vir hom ‘n vriend van jou doen die CNL regsake pro bono.” Desmond glimlag, “so maklik soos dit.”

Kort daarna vertrek Desmond en Vivian. Vivian kom agter dat die man haar volg en sy stop uiteindelik buite haar hek. Desmond parkeer op die sypaadjie agter haar, klim uit sy SUV en drafstap nader. “Ek wou net seker maak dat jy veilig by die huis kom.”

Vivian kyk na hom en antwoord effe kil, “Baie dankie vir jou moeite, maar ek –”
“Lekker slaap, Vivian,” lag hy en beduie dat sy die hek moet oopmaak en inry. Hy klim in sy kar en ry stadig weg toe die hek agter haar toeskuif.





Pieter sit in die kombuis by Diana terwyl sy die borde en glase in die skottelgoedwasser pak. “Ek wonder hoe Lawrence hierop gaan reageer.” Hy kyk bekommerd voor hom uit en wring sy hande saam. “Eers vind ek fout met sy planne, dan is daar die kwessie met Henk Louw - die ou wat Lawrence juis sterk aanbeveel het ... ” Pieter vryf oor sy gesig. “Ek kan byna nie glo dat Lawrence hierdie goed gemis het nie.”

Diana maak die skottelgoedwasser toe, skakel dit aan en kyk stil na haar man. “Miskien het hy dit nie gemis nie, Pieter. Miskien het hy dit juis so beplan.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

wsw
Baie lekker gelees hieraan, dis vol intriges en baie geloofwaardig. Mooi geskryf Carol, jy hou mens se aandag deur die hele verhaal en jou beelde is skeppend. Puik.
4 jaar 6 maande 5 dae 1 uur oud


dogters
Jy besit die vermoë om die leser end-uit te bind. Bly jy het jou talent onder die emmer te voorskyn gebring. Wag vir die volgende hoofstuk in spanning
4 jaar 6 maande 5 dae 16 ure oud


Van alles onder die son!
Eish! Met die lees van hierdie, weer eens boeiende aflewering, was iets die hele tyd besig om hier in my nek te kriewel. Daai iets wat sorg dat 'n mens nie kan ophou lees nie. Iets wat moet gebeur. . . Ai nee Carol man, maar ek "rest my case"!

Want ek weet dat jy saam met die opbou van hierdie naelkouende verhaal van jou, besig is om dit na 'n crescendo te dryf. Sjoe!

Jy moet weet, jy het my laat sweet! Want hier sit ek en lees en wag op daardie iets drasties wat moet gebeur maar. . .niks! Tot die volgende keer?

Ja nee, ek stem saam met Louise. . . Jou karakterisering is absoluut puik. Jy skryf nie net lewendig nie, maar jou karakters lewe!

Toe, toe,toe, hoe ver is jy met die volgende episode? Ons wag!
4 jaar 6 maande 6 dae 18 ure oud


5-in-1
Ek stem saam met Shadowghost se kommentaar oor jou karakterisering. Ek dink ook dis briljant gedoen en jou karakters lewe. Ek het sowaar ook 'n nuwe word geleer - mien. Nie geweet dit bestaan nie. Jou sub-plots is myns insiens heeltemal goed genoeg om as volwaardige stories op hul eie te funksioneer. Jy skryf sowaar vyf stories in een en kry dit reg om al die draadjies bymekaar te hou - dit wil omtrent gedoen wees en sit nie in elke skrywer se broek nie. Baie geluk met 'n puik stuk werk sover, Carol. Lekker skryf verder.
4 jaar 6 maande 1 week 17 ure oud


Dogters van die sOn (10)
Somtyds het 'n mens net te min hande en oë om alles onder beheer te hou
4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 3 ure oud


Dogters v.d Son
Wow! Ek het uiteindelik opgevang, en alhoewel nie my gewoonlike leesstof nie, vind ek jou storie en skryf styl aanlokkend. Veral die karakterisering, is baie goed gedoen, en inspirerend. Ek hoop om ook eendag so ywerig en kreatief te skryf. Sien uit om te sien hoe die stukkies in mekaar val.
4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 10 ure oud


Son
Ek het nou lekker saamgelees, ek kan nie wag tot die volgende aflewering nie.
4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 13 ure oud


Son
Kan nie ophou lees nie. Iewers is iets nie lekker met CNL nie. Raak nou regtig interressant.
4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 14 ure oud


Kiekies
Ja, ek probeer minder foute maak, want ek's vrek bang vir jou, hehehe.

Mien: 'n persoon se voorkoms of houding, veral met verwysing na karakter of bui.

Baie dankie Anze en Viooltjie!!!! Dis heerlik om te weet julle lees steeds saam :)))
4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


10
En miskien is ek nou baie haastig om te weet wat verder gebeur. As ek nou jou boek voor my gehad het, het ek iewers in 'n hoekie gaan wegkruip en verder gelees.

Moontlike regstellings:( net 2kies vandag - WELL DONE!)

swoeg weer 10km op my oefenfiets uit,- Klink nie heeltemal reg nie, maar hoe weet ek nie.

Sy rustige mien streel haar gemoed - Mien?

4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


Son 10
Lekker gelees.. die storie raak net al hoe interessanter
4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 19 ure oud


son
Die storie raak al interessanter. Baie goeie aflewering hierdie, Carol. Klink my daar is 'n reuse slang in die gras met die CNL projek :-)

Lekker skryf verder . . .
4 jaar 6 maande 1 week 1 dag 19 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    DAG VAN DIE BLOEISEL

    deur Johann P. Boshoff

    "Dag van die bloeisel het my gevange geneem vanaf die eerste bladsy. Skielik was ek terug in my tienerjare – bewus van die tere vitaliteit van jeugdigheid. Die karakters kry lewe in persone wat ek iewers geken het. En wat ek wéét vandag nog rondom en tussen ons is. Dit is die soort eerlike boek wat ek enige tyd in die hand van ‘n Christen-tiener sal plaas." -- Dr. Ralph Barnard, skrywer, predikant en teoloog



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar