Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die volgende oggend vroeg word ek wakker geruk deur ‘n aanhoudende, breinbenewelende klokkespel en loer verward, nog heeltemal deur die slaap na die digitale syfers van my wekker op die kassie langs my bed. Dis 07:35, maar dit voel nog soos middernag.

Ek sug, staan kreunend op en wens dat die persoon wat my voordeurklokkie só vroeg op ‘n Saterdagoggend lui ‘n langdurige pyn in sy agterent moet kry. Die klokkespel begin weer van voor af en ek strompel kaalvoet met die gang af terwyl ek my Sjinese kamerjas oor my kop probeer gooi en die klokluier al mymerend die vreeslikste banaliteite toewens. My kop voel dof na die laat kuier van die vorige aand en ek wou bietjie inlê. Vir ‘n donnerse verandering.

“Ek kom!”

Ek maak my voordeur oop en steier effe terug oor die helder sonlig wat my sonder genade konfronteer. Diana staan voor my en glimlag van oor tot oor, druk dan laggend met ‘n opgewekte “Hallo!” by my verby en waai ‘n bruin papiersak onder my neus. Ek is skielik jammer dat ek die kode van my sekuriteitshek vir haar gegee het.

“Ek het vir ons muffins gebring,” praat sy oor haar skouer, reeds oppad kombuis toe. Ek maak die voordeur toe en strompel agterna, verby die kombuisdeur en oppad badkamer toe. Nadat ek my gesig gewas en tande geborsel het voel ek beter, maar is nog steeds vies oor hierdie vroeë onderbreking.

“Wat gaan aan met jou?” Ek beduie na die horlosie teen die muur. “ Dis nog nie eers agt-uur nie.”

“Ek moes mos vir Stefan skool toe neem vir playball en toe raak ek lus vir muffins en van jou heerlike koffie,” lag sy en storm op die yskas af. Sy grawe rond en botter, marmalade en konfyt beland blitsvinnig op die houttafel in die middel van my kombuis. Sy warrel verby my om bordjies, koekvurkies, bottermesse en servette uit te haal. “Gaan jy nie koffie maak nie?”

Ek sug en haal die sak koffiebone uit, gooi ‘n klomp in my antieke koffiemeuletjie en draai die slinger sonder veel entoesiasme. Ek wil nog nie hê sy moet dink sy’s vergewe nie. Die reuk van varsgemaalde koffiebone werk egter positief op my gemoed. Ek gooi kookwater in die perkoleerder en dit begin gretig en lustig voortborrel. Diana sit reeds by die tafel en smul aan haar eerste muffin.

“Kom Eliza,” probeer sy my sagmaak en beduie na die sak muffins, “Dis jou gunsteling – blueberry.” Sy plonk ‘n reuse muffin op my koekbordjie neer en gebied my al kouende om my muffin te eet terwyl dit nog warm is. Om haar punt te bewys, smeer sy ‘n hengse blob botter op haar eie muffin en hou dit voor my om te sien hoe die botter wegsmelt. Sy hap en kou smaaklik. Ek gluur na my muffin, maar wil nie erken dat dit lekker lyk nie. Dan staan ek maar eerder op en skink ons koffie.

Na die eerste paar slukke voel ek meer gemoedelik en vra, “Wat het Pieter gesê omdat jy so laat ingekom het gisteraand?” Diana lag en verstik, neem ‘n groot sluk koffie en vertel dat hy soos ‘n klip geslaap het. “Hy was stokflou nadat hy Stefan die hele aand alleen moes entertain!” Sy lag en dan kyk sy skielik ernstig na my. Hier kom dit. Ek ken Diana nie van gister af nie en weet sy is hier met ‘n doel.

“Ja toe Diana,” sug ek, “wat het jy op die hart?” Sy laat haar nie van stryk bring nie, sny haar tweede muffin geesdriftig oop, smeer botter op en neem ’n groot hap. Dan begin sy, “Ek wil nou nie die perde of osse of watookal voor die wa span nie, maar Pieter …” Sy huiwer ‘n oomblik en vertel dan verder. “Ek wou nie die bom gisteraand voor almal bars nie.” Sy kyk af en speel ingedagte met haar koekvurkie. “Maar, ek moet dit net met iemand deel. Dis toe dat ek vanoggend besluit het … dis nou of nooit en ek kom na jou toe vir koffie.”

“Ja, en?”

Dit lyk of sy iets in haar kop vir haarself uitwerk en dan sit sy meer regop, leun met haar elmboë op die tafel en kyk na my. “Pieter is afgedank, Eliza. Regstellende aksie.”

“Maar ek het gedog hy’s nou binnekort op vir bevordering!” Ek staar na haar en vra, “Hoekom? Hulle kan dit mos nie sommer net so doen nie? Is daar nie regulasies of iets nie?”

Sy hou haar hand op om my stil te maak en ek bly stil uit blote nuuskierigheid, al het ek nog ten minste twintig vrae om haar mee te peper.

“Die bank het hom voor ‘n keuse gestel. Hy kan ‘n pakket neem of hy kan vir ewig in sy bestaande pos bly sit. Jy sien, al die bevorderingsposte is regstellende poste en ek dink hulle wil ook nuwe, jong bloed van onder af inkry.”

“En die pakket? Gaan hy dit neem?”

“Ja, Eliza.” Sy sug en neem ‘n sluk koffie. “Hy’t nie juis ‘n keuse nie, het hy?”

“Maar wat gaan hy doen?”

“Wel, sy Landbougraad gaan hom nie veel help nie en die bank se eksamens wat hy geslaag het ook nie. So, toe besluit hy op iets heeltemal anders … en moet nou nie uitfreak nie – hy en ek het lank daaroor gesels en hy het reeds daarmee begin – ”

“Wat, Diana?! Waarmee het hy begin?” val ek haar ongeduldig in die rede.

“Hy werk tans sy kennismaand en is besig om te leer vir ‘n pastoor.”

Ek verstik en hyg al hoesend, “’n Pastoor? Liewe hel!” ‘n Oomblik te laat besef ek dat ek die woorde pastoor en hel in dieselfde asem gebruik het – verseker nie die beste reaksie op Diana se nuus nie.

“Dis ‘n lang storie, Eliza, maar ek sal jou die basiese detail vertel, anders gaan ons die hele dag hier sit.” Sy giggel, hou haar beker uit vir nog koffie en ek gaan skink vir ons voordat sy begin vertel.

“Don Lawrence, een van die ouens wie se portfolio Pieter administreer, het ‘n ruk gelede vir hom vertel van ‘n goeie besigheidsgeleentheid, maar Pieter het hom eers nie daaraan gesteur nie. Toe die paw-paw die fan strike, het Pieter die ou gekontak en hy het vir Pieter ‘n skakel gegee na ‘n webtuiste.” Sy trek haar skouers op en neem ‘n sluk koffie. “Ek het ook daar gaan loer en op die oog af lyk dit nie na iets besonders nie. Net maar nog ‘n gewone Amerikaanse webtuiste wat internet studiekursusse adverteer. Maar, hulle bied aanlyn Pastoorkursusse aan en verder ook franchises vir die Church of New Life.”

“Die wat?” vra ek ongelowig en wonder of dit een of ander sekte is, maar sê eerder niks nou al nie. Ek sal wel later my innings inkry en vrae vra.

“Church of New Life.”

“Ok, ek luister.”

“Daar gaan nie veel aan as jy nie registreer en ‘n ingeskrewe lid is nie. Sodra jy inskryf, het jy baie meer inligting tot jou beskikking. Daar is sewe verskillende vlakke van lidmaatskap en elke volgende vlak ontvang meer funksies, voordele en insig in die werkinge van die CNL, soos hulle ook na hulself verwys. Pieter is reeds op die derde vlak.”

“Ok, wag net ‘n bietjie, Diana. Wil jy vir my se dat Pieter reeds begin het om die kursus te loop?

“Jip.”

“Liewe genade.” Ek skud my kop. “Dis die laaste rol waaarin ek Pieter sou plaas as ek hierdie movie gemaak het.”

“Ja, maar dis nie al nie! Elke CNL franchise word aan ‘n persoon of sindikaat verkoop en word soos enige ander besigheid hanteer. Die enigste verskil is dat die eienaar van die franchise ‘n pastoorkursus moet deurloop, selfs al beplan hy om meer aan die besigheidskant betrokke te wees. Hy kan ander CNL-gekwalifiseerde pastore aanstel om dienste vir die nuwe gemeente te lei en verdere gemeentediens te doen. Pieter sal meer in ‘n administratiewe hoedanigheid by sy CNL betrokke wees en eintlik maak sy agtergrond in die bankwese hom uitgeknip vir die taak.” ‘n Klein glimlaggie speel om Diana se mondhoeke en sy vra sag, “Sien jy nou hoe Pieter se kop werk?”

“Is dit nou godsdiens of ‘n besigheid of wat?” Ek is skielik heel verward en wonder oor die etiese aspek van die hele affêre.

“Jy en Pieter was julle hele lewe lank NG lidmate en hierdie voel vir my soos ‘n sekte of iets.”

“Ek en Pieter het oorspronklik ook so gedink, maar hoe verder hy studeer, hoe meer sien hy dat dit eintlik ‘n wonderlike geleentheid is en dit het hom ook baie laat dink oor dinge.”

“Watse dinge?

“Oor wat vir ons belangrik is, hoe ons ander mense en maatskappye se drome najaag en meeste van die tyd nie werklik leef nie, maar net ingestel is om te oorleef.”

“Ek luister stil en Diana vertel verder, “Die CNL se leuse is juis Peace & Prosperity for our flock. Dit gaan nie net oor finansiële gewin nie, maar oor veel meer. Om jou eie ding te doen, jou eie baas te wees en jou eie lewe te rig soos wat jy beplan.”

“Maar hoekom nie ‘n ander franchise, soos Spar of OK of iets nie? Hoekom nou juis die pastoor-ding? Is dit nie bietjie bisar nie?” wil ek weet en stoot my muffin heen en weer op my koekbordjie.

“Dis juis die ding, Eliza! Luister jy nie wat ek vir jou sê nie? Om ‘n Spar of iets oop te maak, gaan jou nie die vryheid gee wat hierdie doen nie. Ek dink Pieter en ek is albei op ‘n stadium in ons lewens waar ons na meer soek.” Sy kyk half begeesterd na my en sê sag, “Sy afdanking het ons net die hupstootjie gegee wat ons nodig gehad het.”

“Ja Diana, ek hoor jou, maar gaan julle kan oorleef?”

“Don Lawrence, die ou met wie Pieter gepraat het, besit drie franchises; een in Johannesburg, die ander in Durban en een in die Vrystaat. Hy is skatryk en dis al wat hy doen – niks anders nie. Dis hoe hy sy geld gemaak het.”

“Ja, ok,” antwoord ek effe teësinnig, “Ons almal weet geloof is groot geld.”

“Presies, Eliza! En hoe meer die wêreld in wanorde verkeer, hoe meer mense soek na iets. Ons gaan daai iets vir hulle gee!”

“Hoeveel kos hierdie wonderlike kursus?” Ek kan nie help om steeds effe skepties te wees nie. Dis seker maar net my aard.

“Dis $250 per module en daar’s 7 modules. Pieter is reeds by Module 3. Hy kry sy internasionale sertifikasie as CNL pastoor nadat hy Module 5 voltooi het en dan spesialiseer hy in die besigheidskant van die kursus vir die res van die modules. So, pas nadat hy klaar is met Module 5, kan hy reeds sy eie CNL stig en begin om ander leerling-pastore te werf en aan te stel sodra hulle kwalifiseer het.”

Ek sidder en vra, “Swot hy met julle spaargeld? Wanneer betaal sy pakket uit?”

“Ja, hy swot met ons spaargeld en die pakket se geld behoort 14 dae na sy laaste werksdag in Pieter se rekening te wees.”

“Behoort?”

“Dit sal, Eliza! Hou op om so skepties te wees.”

Diana lag, loer na haar horlosie en staan op. Sy gee my ‘n drukkie en se sag, “Baie dankie dat jy geluister het. Ek voel beter noudat iemand anders ook weet.”

Ek stap saam met haar uit en kyk haar agterna as sy in haar klein, outydse Ford met roesmerke om die eerste draai van my straat verdwyn.



Onbekend aan die ander van ons, is Vivian spesifiek op daardie oomblik besig om haar eie duiwels te bestry.

Vivian staan in haar badkamer en staar na haarself in haar vollengte badkamerspieël. In haar marmer badkamer, die luukse badkamer in haar massiewe, moderne spoghuis.

“Alweer bliksems alleen!” vertel sy die gesig wat na haar terugstaar. Die gesig met die opgepofde, bloedbelope oë, gesmeerde maskara oor wasbleek, uitgeholde wange en plooie, núwe plooie wat skel lyne vorm onder die harde fluorescent-lig. Haar kop klop en haar nek pyn. Seker van die skewe lê op die bank, dink sy - waar sy met die halwe bottel vodka aan die slaap geraak het. Of bloot net sinneloos uitgepass het.

Sy onthou weer ... dan haal sy die opgefrommelde briefie uit haar kamerjas se sak. Die briefie wat vir haar gewag het nadat sy Vrydagmiddag by die huis aangekom het na ‘n uitmergelende vergadering met ‘n nuwe kliënt wat nie weet wat hy wil hê nie en al haar idees voor die voet afgeskiet het en pas voordat sy na die braai by Eliza gegaan het. Sy hou die opgefrommelde stukkie papier in haar vuis vir ‘n oomblik, gooi dit dan op die marmerblad langs die wasbak neer en vou dit oop. Sy stryk dit bewerig met altwee haar hande plat en lees weer die haastige, byna ongeduldige woorde in Martin se handskrif.

Vivian,
Die eienaar van die seiljag wat ek laasjaar wou koop het my gekontak en laat weet sy’s nou te koop. Daar’s ongelukkig heelwat belangstelling. Ek vlieg Sondagaand terug.
Martin


Sy staar na die leë woorde. Net ... Vivian. Nie eers ... Liewe Vivian of Liefste Vivian nie. Net Martin. Nie Liefde, Sien jou gou .... of selfs vlieg in jou moer in nie. Net ... Martin.

Vivian staar na die woorde en leun met haar elmboë op die marmerblad, haar kop in haar hande. Sy druk haarself op met moeite en probeer bepaal wat sy voel, maar sukkel. Sy voel gelyk, plat, leeg. Niks.

Vivian staan lank doodstil en staar voor haar uit, raak skielik bewus van haar omgewing en gooi die kamerjas argeloos en geϊrriteerd van haar skouers af. Dit val in ‘n hopie op die vloer. Sy stap meganies onder die stort in en maak die krane oop. Sy staan lank onder die spuitende water, dan sak sy stadig, magteloos af en gaan sit op haar hurke, met haar rug teen die muur. Die harde straal water stroom steeds oor haar, maar sy’s onbewus daarvan.

“Ek’s leeg,” praat sy met haarself in ’n dooie stem, “ek kan nie eers meer huil nie, al wil ek.”

Haar bene begin kramp en sy staan stadig op. “Ek moet dink. My kop regkry. Uitvind wat agter alles skuil.” Sy staan lank doodstil en leun met haar hande teen die koue, gladde marmerteëls. Dan haal sy diep asem, vee haar hare uit haar gesig en reik meganies uit na die sjampoe, was haar hare, spoel dit af, sit conditioner op, spoel dit af. Was haar lyf, klim uit en droog haarself af. Sy staan ‘n oomblik verdwaas buite die stort, skud haar kop, dan tref die realiteit haar en besef sy weer waar sy is.

Sy trek aan, blaas haar hare droog, rook ’n sigaret en wend haar grimering met sorg aan. Dan stap sy doelbewus driftig met die trappe af na onder, maak die asbak leeg, gooi die leë vodkabottel in die asblik, pof die bank se kussings reg, haal kalm haar sleutels van die rakkie in die voorportaal af en maak die voordeur agter haar toe.

Sy klim in haar silwerkleurige BMW Convertible. Haar bande spin en skree toe sy om die eerste paar draaie in die pad jaag.



Woorde:2 557
Totaal: 5 169



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

.
Ek voel vir Vivian.

Jy behou belangstelling, dis baie goed geskryf.
4 jaar 7 maande 3 dae oud


Oops ... :))
Kiekies, jy is 'n staatmaker - thanks!!! :D:D:D:D Ek het sommer dadelik gaan regmaak hehehe
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 12 ure oud


2
Ai jongie ek het weer heerlik gelees. Klein foutjies wat jy kan regmaak:

“Dis die laaste rol waaarin ek Pieter sou

gee my ‘n drukkie en se sag - sê
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 14 ure oud


Arnold
Baie dankie vir jou pragtige woorde!! En alles van die beste met jou bundel en boek :))
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 16 ure oud


Dogters van die sOn (2)

“Is dit nou godsdiens of ‘n besigheid of wat?” Ek is skielik heel verward en wonder oor die etiese aspek van die hele affêre.

En so wonder ons almal oor die lewe, 'n goeie storielyn.
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 16 ure oud


skies
Ek kort brille. Nie gesien daar staan (2) agter nie. Gaan dit nou lees
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 16 ure oud


Louise
Hehehe
Ja, die ding met Vivian ... dit was meganiese aksie, bv ... wat jy doen as jy nie doelbewus op iets konsentreer nie. Sy was in 'n waas en het die normale aksies van stort ens as gewoonte uitgevoer - half op 'n ander vlak. Maak dit sin vir jou?
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 22 ure oud


Jy Vorder!
Hierdie vyf girla's se lewensintriges gaan nog die wêreld op sy kop draai, dink ek! Great! Lees weer jou laaste drie paragrawe... jy noem elke aksie en handeling baie metodies. Sy doen dit, sy doen dat. Ek's nuuskierig om verder te lees, want wil uitvind of jy dit doelbewus so doen om Vivian as perfeksionisties uit te beeld. En of dit haar na-strooihalms-gryp manier is om beheer te probeer hou van wat in haar lewe gebeur?
4 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 22 ure oud


Zellie
Hahahaha, die eerste hoofdtuk vertel jou presies wat daar gebeur het :)))
Dankie vir jou kommentaar :)))
4 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 9 ure oud


*
Onbekend aan die ander(kant) van ons - ek sou sê jy moet "kant" byvoeg.

Ai, die manne. Kan nie met hulle nie, ook nie sonder hulle nie.

Hierdie vriendinne moes 'n laat aand gehad het. Ek wonder wat het daar gebeur??? Hmm...
4 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 9 ure oud



Bothaville in the Second Anglo Boer War

deur Francis Gillieron

CHRONICLE OF BOTHAVILLE'S ROLE IN THE SECOND ANGLO-BOER WAR



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar