Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dinsdagoggend vroeg laai Sarah my reg voor die Hatfield Gautrainstasie af. Ek spring uit die kar, laai vinnig my sakke uit en gee haar ‘n druk, “Dankie vir die lift, Sarah, sien jou oor tien dae.” Sy lag, “Jy beter iets mooi vir my bring, Eliza!”
           
Ek glimlag, skud my kop en stap die moderne gebou haastig binne, druk my kaartjie op een van die elektroniese hekkies se sensor en peil op die roltrap af wat na die onderste vlak lei. ‘n Paar mense staan reeds op die platform, elkeen verdiep in hul eie gedagtes of besig op hul selfone. Groot advertensieborde teen die vaal muur aan die anderkant van die spoor bring ‘n bietjie kleur in die redelik kliniese treintonnel. Rooi digitale syfers op ‘n inligtingsbord kondig aan dat die volgende trein oor vier minute sal opdaag. Ek kan nie help om opgewonde te begin voel nie en glimlag onderlangs - ek’s oppad Hawaii toe. Hawaii!
           
            ‘n Knorrige, kort besigheidsmannetjie met ‘n blink bles en boep plak sy dun aktetas reg langs my neer. Amper op my voet. Hy kyk my ongeskik op en af en mompel. “Ekskuus?” vra ek, “het jy iets gesê?”
           
            Hy skud sy kop en staar met ‘n suur uitdrukking om hom rond. Ek wip my vir sy mislike houding, glimlag breed en sê aan niemand in die besonder nie, maar hard genoeg vir hom om te hoor, “Wel, ons kan nie álmal Hawaii toe gaan nie, kan ons?” Hy gluur na my, pluk sy aktetas op en gaan staan ‘n ent verder weg. Ek giggel stuitig en spits my ore toe ek ‘n nuwe geluid hoor.
           
            ‘n Lae, diep gesuis verdoof alle ander geluide en almal skuifel nader aan die kant van die platform. Die deure van die goue, futuristiese trein skuif geluidloos oop en die netjiese, blou sitplekke word gou gevul. Passasiers sit almal met selfone, tablets of laptops en die meeste lyk soos besigheidsmense, oppad na vergaderings of iets met hul werk te doen. Ek staar na die verbyvlietende landskap en verwonder my weereens oor die ongelooflike spoed waarteen die Gautrain beweeg.
           
            By die lughawe aangekom, kry ek solank my paspoort en aanlynvlugkaartjie gereed terwyl ek in die ry staan en wag om my bagasie in te boek. Hawaii, ready or not, hier kom ek!
           
            Honolulu, Oahu, Hawaii
           
            Ek is uiteindelik hier! Honolulu lughawe. Ek wag vir my bagasie op die carousel, wissel geld by een van die valuta toonbanke en stap deur groot glasdeure waar ‘n hele klomp taxi’s staan. Die sonlig is skerp, dis warm en die sypaadjie krioel van mense wat op- en afgelaai word. Al die Taxi bestuurders dra bont, geblomde hemde. Ek stap na die naaste voertuig en die ou groet my met ‘n groot glimlag. “Aloha! Welcome to Hawaii. My name is Kuhalu. I am at your service.”
           
            Kuhalu het ‘n ronde gesig en wikkel sy stewige, potsierlike lyf rats agterom sy voertuig om my tas in die kattebak te laai. “Thanks Kuhalu,” glimlag ek en vra, “you know the Edgewater Hotel?”
           
            “Sure!” lag hy, “on Waikiki Beach. Kuhalu knows.”
           
            Hy skakel sy meter aan, loer oor sy skouer vir aankomende verkeer en skiet weg met ‘n verbysterende spoed toe hy ‘n gaping gewaar. “You come see Honolulu for vacation?” vra hy en loer na my in die truspieëltjie.
           
            “No, for work. I’m reporting on the launch of the new King Kamehameha Hotel.”
           
            “Aaaaah,” lag hy en knik sy kop, “Is good.”
           
            Kuhalu beduie in die ry na verskillende eetplekke, markte en klein, byna versteekte klerewinkels. Hy glimlag van oor tot oor as hy van ‘n plekkie hou en frons as iets nie sy goedkeuring wegdra nie. Honolulu is besig, merk ek op terwyl ek deur die venster staar. En baie groot. Hoë geboue van glas en beton weerkaats verblindende sonstrale en toring uit bo kleiner, ouer winkels, restaurante en klubs.
            Dis vrek warm, al is die son reeds besig om te sak.
           
            Ek vee oor my klam voorkop en voel moeg en taai na die lang vlug. Al wat ek nou wil doen is stort en ander klere aantrek. Ons draai met ‘n pad af see se kant toe en ek vergaap my aan die massiewe hotelle wat ingeryg langs mekaar op die seefront van Waikiki Beach staan.
           
            “Look. King Kamehameha Hotel.”
           
            Kuhalu verminder spoed en beduie na ‘n pragtige, spierwit hotel met reuse palmbome, bougainvilleas en ander inheemse blomme rondom die ingang geplant.
           
            “I’ts huge!”
           
            Ek staar oopmond na die luukse hotel en Kuhalu grinnik trots, “Is named after great Hawaiian king, Kamehameha. He was a great man. Only man to lift the Naha Stone.” Sodra ons verby is, trap hy die pedaal weer plat.
           
            Ek wil nog uitvra oor die Naha Stone, maar toe stop ons reeds voor die Edgewater, twee blokke verder. Hy laai my tas uit en gee my sy besigheidskaartjie nadat ek hom betaal het. “You want taxi,” lag hy, “call me. Kuhalu always available.”
           
            Ek stap na die toonbank, registreer en kry my kamersleutel. Net toe ek begin wegstap, oppad na die hysbak, roep die consierge my terug. “Miss Watson, I have an envelope for you.”
           
            Dis ‘n groot, dik koevert. Ek teken daarvoor en dan stap ek na die naaste hysbak. My kamer is op die vyftiende vloer en is redelik ruim. Skuifdeure maak oop op ‘n tafeltjie en twee stoele op ‘n klein balkon wat op die baai uitkyk met ‘n pragtige uitsig oor die son wat in purper en rooi oor die horison sak. Ek leun met my arms op die reëling en asem die vars seelug behaaglik in. “Dis die paradys,” vertel ek myself hardop en sug tevrede.
           
            Eerste op my agena is ‘n stort. Daarna sal ek uitpak, my dinge organiseer en dan bietjie gaan rondstap. Ek wil vroeg in die bed kom en my jetlag probeer afslaap. Môre moet ek vars en wakker wees vir die eerste media debriefing wat om tien-uur in ‘n konferensiesaal by die King Kamehameha Hotel sal plaasvind.
           
            Ek trek uit en klim onder die stort in. Sterk strale warm water stroom oor my en ek staan doodstil. Dis heerlik om net so te staan en die water oor jou lyf te voel vloei. Ek was my hare en voel hoe die skuim oor my lyf spoel. Daarna vryf ek al die moegheid uit my lyf met ‘n groot spons en ‘n spesiale kruieseep. Dit ruik vars en ek voel reeds stukke beter.
           
            Ek trek aan en gaan stap in die strate rondom my hotel rond. Ek kom op ‘n straatmark af en die liggies, geure en kleure lok my nader. Die geure van straatkos maak my honger en my mond begin water. Ek bestel ‘n prawn kebab en kou daaraan terwyl ek verder deur die straatmark stap. Honderde horlosies word tafel na tafel uitgestal. Daar’s kikoi’s, groente, vrugte, T-hirts, tekkies, handsakke, matte, soetgoed, baadjies, potte, panne en vele meer. Ek koop ‘n paar kerse, wierook, ‘n mooi mat, ‘n skouersak van buffelvel en ‘n boek met bruinpapier bladsye in ‘n leeromhulsel. Ek eet ‘n gedroogde vis op ‘n stokkie en daarna ‘n vrugte-kebab met kokosneut, waatlemoen, pynappel en druiwe. Heerlik!
           
            Terug in my kamer, maak ek vir my ‘n koppie lekker groen tee, steek van my nuwe kerse aan, brand wierook en voel beurtelings die tekstuur van my nuwe mat, skouersak en boek onder my vingerpunte. Ek voel klaar tuis.
           
            My bruin koevert is van Laura Clark, my agent, en dit lewer ‘n getikte skedule van verrigtinge wat ons moet bywoon, mediakaart, brosjures en ‘n paar gift vouchers op. Ek werk daardeur, stel my selfoon se wekker en teen elf-uur is ek reeds weg in ‘n diepe slaap in my heerlike Kingsize bed.
           
            Ek word die volgende oggend vroeg wakker - nog voor sonsopkoms, maak ‘n beker koffie, gaan sit op my balkon en teug daaraan terwyl ek na die horison staar waar die son binnekort gaan verskyn. Alles is stil en ek hoor net die gedruis van branders wat op die strand voor my teen rotse breek. ‘n Koel strandluggie speel deur my hare en ek trek my nek dieper in die kraag van my knus spierwit hotelkamerjas in terwyl ek die stomende beker koffie tussen my hande vashou.
           
            Skielik voel ek alleen. Miskien is dit omdat ek ver van my vriende af is, redeneer ek so logies as moontlik met myself. Miskien mis ek hulle maar net. Dalk is dit omdat ek ver in die vreemde alleen sit en kyk hoe die son opkom.
           
            Ek sluk my beker leeg, staan op en gaan stort. Daarna trek ek jeans, ‘n netjiese bloes en plat skoene aan. Ek weet ons gaan vandag soos mal goed rondhardloop om by die besige skedule te hou. Ek gooi die sak met my laptop, notaboek en penne oor my skouer, gryp my kamerasak en maak my kamerdeur agter my toe.
           
            Net na agt eet ek ‘n ontbyt van vars vrugteslaai, yogurt en koffie by die hotel se restaurant terwyl ek rustig deur die plaaslike koerant blaai. Daar’s nie regtig veel nuus nie. Meeste van die kolomspasie word opgeneem deur advertensies van die nuwe hotel, spesiale aanbiedinge, toere, day trips vir toeriste en werksgeleenthede. Ek sluk ingedagte aan my koffie en blaai stadig deur die koerant. Ek soek na iets wat my ‘n ander angle as die hele gekommersialiseerde hotelopset kan gee.
           
            “Excuse me, may I sit here?”
           
            Ek kyk op en sien ‘n aantreklike man met donker, skouerlengte hare voor my staan. Hy wys na die oop stoel by my tafel en dan beduie hy met sy arm oor die vol restaurant, “Is no place else for me to sit.”
           
            Ek staar verbaas om my heen en besef dat ek so verdiep was in wat ek gelees het, dat ek nie agtergekom het dat al hoe meer mense om die restaurant se tafels plaasgeneem het nie.
           
            “Sure, it’s okay,” antwoord ek hom en maak die koerant toe.
           
            Hy steek sy hand uit en stel homself voor, “Please to meet you. I am Ramon. Ramon Rodriquez.”
           
            Ek voel hoe sy hand aan myne raak en ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ‘n rilling trek deur my lyf. Ek sien dat hy self vreemd na my kyk toe hy sy hand stadig terugtrek. Vir ‘n oomblik sê nie een van ons iets nie, dan stel ek myself voor, “Eliza Watson. I’m here for the King Kamehameha Hotel … thing…”
           
            My woorde het effe weggeraak. Hy glimlag en antwoord, “Me too. I photographer. From Spain.”
           
            Die kelner kom neem sy bestelling en ek bestel sommer nog ‘n koffie.
           
            “I’m from South Africa.”
           
            Genadetjie tog .. kan ek nie asseblief net meer oorspronklik wees nie, praat ek stil, ingedagte met myself terwyl my hart wild klop. Die man wat aan my tafel sit kan vir Antonio Banderas ore aansit. Regtig.
           
            Die kelner bring ons koffie en Ramon stort van sy suiker in sy piering, lag verleë en trek sy skouers op, “Must be nerves.”
           
            “Excuse me?”
           
            “I think I make make mess …” beduie hy na sy piering vol suiker, “because I am nervous.”
           
            Ek lag. “Why are you nervous, Ramon?”
           
           
            “I sit at table of beautiful woman. Make me nervous.”
           
            Hy glimlag verleë en sluk aan sy koffie. My hart klop al vinniger en ek stort per ongeluk van my eie koffie. Ons grinnik na mekaar, kyk om ons rond en konsentreer dan eerder elkeen op ons eie koffie.
           
            “I like this place,” glimlag ek.
           
            Sy donker oë speel stadig oor my gesig en dan begin hy stadig glimlag. Hy sit terug en blaas sy asem uit. “Me too,” antwoord hy en lag, sluk weer aan sy koffie en vra, “ You stay here? Hotel Edgewater?”
           
            “Yes. I was just going through the newspaper to see if anything else is going on here- “
           
            “Aahh!” val hy my laggend in die rede, “You look … eh … what you call it? Ehh … Conspiracy theory! Yes?”
           
            Ek kan nie help om te lag nie. “No, Ramon, I was just looking at the paper to see what else is going on here.”
           
            Net toe hy wil begin praat, stap die kelner nader met sy ontbyt van spek, eiers, roosterbrood, worsies en sampioene. Ek kry ‘n koppie koffie. Ramon vra, “You not eat nothing?”
           
            “I already ate, thanks.”
           
            Dan val hy weg en eet heerlik, terwyl ek rustig aan my koffie sluk en om my rondkyk. Ek sien nog ‘n paar mense met notaboeke en kameras by die restaurant instap en beduie met my kop na hulle, “Looks like more people like us.”
           
            “Hmm,” knik hy instemmend, hap sy laaste vurk vol eier, sluk sy laaste koffie en sê, “We must hurrry. Almost time for special bus to take us to hotel.”
           
             



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Timmie
Jy kies toe nou sowaar die "most unlikely best part" heheh My hoed af vir jou :)))
4 jaar 7 maande 1 week 6 dae 3 ure oud


Kiekies
Dankie suster!!!! Jip, sal daai glipse regmaak - dankie vir jou skerp oog :)))
4 jaar 7 maande 1 week 6 dae 10 ure oud


3
Eish, 'n Spaanse God op die goue strande van Hawai!! Jy weet hoe om 'n setting op te stel! Dis voorwaar goed geskryf om vir mr my as leser deel te maak van Eliza se ondervinding. Selfs ou Kuhalu het 'n foto in my kop.

Let op na:
selfone, tablets of laptops - tablette dalk eerder?
Eerste op my agena is ‘n stort - agenda
I think I make make mess - net 1 make?
4 jaar 7 maande 1 week 6 dae 10 ure oud


Son
Ek het lekker geglimlag"Hy skud sy kop en staar met ‘n suur uitdrukking om hom rond. Ek wip my vir sy mislike houding, glimlag breed en sê aan niemand in die besonder nie, maar hard genoeg vir hom om te hoor, “Wel, ons kan nie álmal Hawaii toe gaan nie, kan ons?” Hy gluur na my, pluk sy aktetas op en gaan staan ‘n ent verder weg. Ek giggel stuitig en spits my ore toe ek ‘n nuwe geluid hoor". en die verhaal baie geniet
4 jaar 7 maande 2 weke 16 ure oud


Tone
Hahahaha, Baie dankie Viooltjie, Ita en Louise. *Mwah* :)))
4 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 16 ure oud


Driekie
Baie dankie!! Dit maak heeltemal sin wat jy se. Sal daarna oplet van nou af en hierdie verander. :))))
4 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 16 ure oud


Tone Omkrul
Hawaii - droombestemming! Jou sterk punt is dialoog. Jou karakters klink eg en die dialoog verleen momentum aan jou storie.
Ramon - oeee, hier kom 'n tone-omkrul-ding!
Ek het baie lekker gelees, KB.
4 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 19 ure oud


Ita
hawai
heerlike leeeservaring en kan nie wag vir volgende hoofstuk nie
4 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 20 ure oud


son
Sjoe...mooier as Antonio? Dit wil gedoen wees. Ek sal dalk my hele koppie koffie omstamp :-)
Die storie lees lekker en jy stel my as leser bekend aan plekke wat ek nie ken nie. Dit maak die roman interessant. En nou sit ek in spanning en wag om te sien hoe die verhouding tussen die twee karakters ontwikkel :-)

Daars net 'n 'd' weg by agenda :-)
4 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 23 ure oud


Dogters van die son
Dit was nou lekker lees hierdie, ek's nuuskiering om te sien wat hieruit gaan voortkom. Dis baie goed geskryf Carol, vloei lekker ineen. Al wat vir my bietjie hinderlik is, is dat jy die woordjie "ek" te veel gebruik. Waak daarteen om dit te veel in jou teks te gebruik. Konstueer jou sinne so dat die "ek" so min as moontlik gebruik word, veral aan die begin van 'n sin.
En dan het die woordjie T-shirts se een 's' padgevat
Valuta-toonbankse (sou ek dalk 'n koppelteken woord gemaak het)
Taxibestuurders dink ek is eenwoord.

Baie goeie storie wat sommer groot avontuur en tone-krul liefde voorspel, kan nie wag vir die volgende hoofstuk nie :)
4 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 23 ure oud


Spoke
Baie dankie!!:))
4 jaar 7 maande 2 weke 2 dae 2 ure oud


dogters van die son
Ek het lekker gelees hieraan, dit gaan 'n baie interresante storie wees, kan nie wag vir die volgende deel nie.
4 jaar 7 maande 2 weke 2 dae 2 ure oud


Arnold
Hahaha, ja, dis maar die ander lande ...
Baie dankie vir jou lees, belangstelling en waardevolle komentaar :))
4 jaar 7 maande 2 weke 2 dae 3 ure oud


Dogters van die sOn (3)

?n mens kan jou net verluister hoe sommige die engels uitspreek.

Lekker gelees.
4 jaar 7 maande 2 weke 2 dae 3 ure oud


Anze
Hahaha, baie dankie!!! Ek het nogal gewag vir jou kommentaar ...
Hoop jy hou van die storie sover :))
Thanx :))
4 jaar 7 maande 2 weke 2 dae 3 ure oud


son 3
ai hier gaan nog groot dinge gebeur.. lekker gelees dankie
4 jaar 7 maande 2 weke 2 dae 3 ure oud



Vir vanaand sal ek net jou hand vashou

deur Zymrly

Gedigte saamgevat oor die seer van die lewe. 'n Handvol emosies wat aan die hart raak omdat die tonele, gedagtes en emosies deel is van elke dag se lewe



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar