Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die King Kamehameha Hotel is asemrowend mooi en reuse inheemse palmbome, bougainvilleas en hibiskusstruike komplimenteer die spierwit fasade van die hotel met sy massiewe vensters en vlekvrye staal balkonreëlings.

In die Kalani Pai konferensiesaal waar die media debriefing gehou word, ontvang elkeen van ons ‘n sak met inligtingsmateriaal, vouchers vir restaurante, massages en die peperduur hotelwinkels. Die hotel se PR bestuurder spreek ons toe en noem ten slotte dat daar ook ‘n baie belowende kontrak ter waarde van US$12 000 aangebied word vir die persoon of span met die beste artikels en foto’s - die hotel wil ‘n koffietafelboek laat publiseer en dit wêreldwyd versprei. Hy sluit die sessie kort voor middagete af met die woorde, “We want something unique for the King Kamehameha Hotel and Honolulu.”

Ramon en ek gaan eet iets in die hotel se sushi restaurant en besluit dat ons ‘n beter kans staan om die kontrak te kry indien ons saamwerk as ‘n span. Hy sal foto’s neem en ek die artikels skryf. Ons sip aan ons yskoue vrugtetee, werk geesdriftig aan die sushi platter tussen ons en probeer dink wat ons ‘n edge sal gee bo die ander.

“Ha! I have a brilliant idea!” gil ek skielik en lag.

Ramon kyk vraend na my, maar hy kan nie ‘n woord uitkry nie want sy mond is propvol sushi. Hy frons na my terwyl hy vinnig kou, ek my selfoon uit my sak delf en Kuhalu, my taxi bestuurder, se nommer skakel. Kuhalu onthou my gelukkig nog en stem dadelik in om ons later die middag vir ‘n drankie te ontmoet.

“Done deal,” glimlag ek en Ramon vra uiteindelik, “What? Kuhalu? Who is that?”
“You’ll see,” antwoord ek geheimsinnig en doop my sushi in die ryk sojasous voordat ek dit smaaklik verorber.


Vivian stap op die kop om drie-uur by Charlie’s Pub & Grill in en kyk om haar rond. Die plek is donker, redelik obskuur en presies wat sy in gedagte gehad het. Dis die laaste plek op aarde waar iemand haar sal herken. ’n Bonkige man sit heel agter teen die muur. Hy dra ‘n geruite hemp met opgerolde moue en ‘n das wat al beter dae geken het, teug aan ’n Castle en blaai verveeld deur ’n leêr. Sy gaan staan voor die tafel.

“Dawid Bruwer?”

Hy kyk op, knik en sy oë gly waarderend oor haar sagte, koraalrooi lippe, duifgrys snyerspakkie wat die kleur van haar oë komplimenteer, haar spierwit bloes met die lae hals en die mabé pêrelhangertjie wat haar halslyn strategies beklemtoon. Hy vee sy rooi snor vinnig met sy hand af en begin opstaan, maar sy beduie ongeduldig dat hy moet bly sit en steek haar hand oor die tafel uit na hom. “Vivian Marais,” stel sy haarself saaklik voor. Hy skud haar hand en waai vir ’n kelner om nader te kom. “Iets om te drink?”

’n Glas witwyn, dankie.” Dawid Bruwer plaas haar bestelling, “en nog ’n Castle.” Dan sit hy terug, plaas sy hande plat op die tafel en merk op, “Goeie keuse vir ‘n ontmoeting, Mevrou Marais. Dis duidelik nie jou gewone tipe plek nie.”

“Meneer Bruwer, ons het belangriker dinge om oor te praat.” Sy steek ‘n lang sigaret aan, betrag hom stil deur die rook en wag op sy reaksie. Hy glimlag skeef, skuif regop en leun met sy arms op die tafel.

“Wat wil jy hê moet ek uitvind, mevrou Marais?”

Sy skud haar kop. “Ek dink nie jy verstaan nie. Ek is hier om eers van jou uit te vind, meneer Bruwer.” Hy glimlag stil, vou sy hande voor hom en sy gaan voort, “ek het reeds onderhoude met vier ander private speurders gevoer en was tot dusver geensins beïndruk nie. Dus moet ek ongelukkig daarop aandring dat jy my meer van jou besigheid, metodes en agtergrond vertel.”

Hy knik stil toe die kelner hul drankies voor hul neersit en kyk haar reguit in die oë.

“Ek was twintig jaar in die polisie,” begin Bruwer en skink die bier stadig in sy glas, “waarvan ek vyftien jaar in die speur-afdeling werksaam was.”

“Hoekom is jy uit?”

“Ek het my pakket geneem. Bevorderings is mos maar skaars deesdae vir ouens soos ek,” grinnik hy en trek sy skouers op. “Polisiewerk is al wat ek ken.” Hy neem ‘n sluk bier en kyk oor sy glas na haar. “Toe begin ek my PI-besigheid en doen dit nou al vier jaar lank.”

“Wat is jou metodes?”

Dawid Bruwer lag uit sy maag uit en antwoord, “Maar dis mos nou so goed jy vra vir ’n kok sy resepte!” ‘n Klein, skewe glimlag speel oor Vivian se lippe. Sy sluk aan haar wyn en knik.

“Touché, Bruwer.”

“Ek ken ook ‘n hele paar regters, regslui en staatsaanklaers , maar doen niks wat later kan terugkom om jou te byt nie. Wat jy sien, is wie en wat ek is. Take it or leave it.”

“Goed, Dawid,” sê Vivian, “ons kan gesels oor wat jy nodig het om vir my uit te vind.”



Kuhalu glimlag breed toe hy by ons aansluit in die koel Kamehameha kroeg wat op die heuningkleurige seesand uitstap. Ramon en hy skud hande en Kuhalu soen my hand vreeslik galant. Ek giggel en loer onderlangs na Ramon. Hy pluk die sambreeltjie uit sy lang cocktaildrankie en neem ‘n groot sluk.

“We want to book you for a few days, Kuhalu,” lig ek hom in nadat die kelner sy Tiki rum gebring het, “to show us the most unique spots in Honolulu. Places the tourists do not know about.” Ek beduie opgewonde, “We want to talk to local people with interesting stories, we want to eat genuine local food … you know what I mean?”

Hy knik en lag, “Kuhalo know many, many secret and lovely places.” Na ‘n groot sluk van sy rumdrankie leun hy met sy elmboë op die tafel, kyk vlugtig oor sy skouer en fluister, “I give you best price. Many discount. Ok?” Ramon en ek kyk afwagtend na hom toe hy ‘n klein verfrommelde sakboekie uit sy hemp se sak pluk, met sy een hand oor sy ken vryf, afwesig knik en toe ‘n bedrag neerskryf. Hy skuif die boekie oor na Ramon se kant toe en Ramon se oë rek.

“Very special places.” Kuhalu sit terug in sy stoel en glimlag. Ramon kug, trek sy oë op skrefies en maak ‘n laer aanbod. Kuhalu dink ‘n paar oomblikke na en maak dan ‘n teen-aanbod. Ramon tuit sy lippe, loer oor sy drankie na Kuhalu en knik. Die twee mans skud hand en ek slaan my oë op na die hemele oor hierdie pronkvoël macho vertoning.

Die Kamehameha Hotel bied vanaand ‘n spoggerige geleentheid vir ‘n paar plaaslike hooggeplaastes en ons klompie van die internasionale media aan. Nogal in die VIP Lounge. Terwyl Ramon die strate invaar en naarstigtelik op soek is na ‘n Tux of ordentlike aandpak om te huur, haal ek my spesiale swart nommertjie en sandale uit my kas. Ek knik tevrede.

Op die kop sewe-uur is daar ‘n klop aan my kamerdeur en ek loer vinnig in die spieël om te sien of alles reg is. My donker hare is in ‘n los chignon vasgemaak en my knuspassende swart satynrok pas perfek. ‘n Eenvoudige goue hangertjie wat my hals beklemtoon en goue oorbelle, swart sandale en ‘n klein swart clutchbag rond my uitrusting af.

Ramon staar toe ek die deur oopmaak. “Eh …” en hou ‘n spierwit orgidee na my uit.

Hy glimlag en toe ek die deur toetrek, fluister hy in my oor, “Lovely, just lovely.” Hy lyk self spoggerig in ‘n swart aandpak, formele spierwit hemp en swart strikdas.
Die elegante King Kamehameha VIP Lounge skitter behoorlik vanaand. Kerse brand op die ronde tafels tussen rangskikkings van inheemse blomme en flikker weerkaatsend teen die kristalglase en silwer eetgerei. ‘n Klein orkes speel jazz en die groot glasdeure wat op die oseaan uitkyk laat ‘n koel, vars seeluggie in.

Die hotelbestuurder, Laka Mahiʻai, open die aand met ‘n kort verwelkomingsboodskap in perfekte Engels, waarna ‘n dansgroep ons op tradisionele Hawaiise danse trakteer. Kelners geklee in wit dra intussen die eerste disse in en skink wyn in ons glase.

Ons deel die tafel met twee redelik luidrugtige ouens van Texas, ‘n bebaarde Duitser en twee vroulike Japanese rubriekskrywers wat nie eintlik praat nie. Die kos maak op vir die geselskap – of gebrek daaraan. Seekosgeregte, inheemse hoenderdisse en garnale is op die spyskaart. Ons smul heerlik. Ramon en ek sukkel later om mekaar oor die gebrabbel van die Amerikaners te hoor en hy skuif sy stoel nader aan myne. Sy naskeermiddel is sag … sandalwood miskien … wonder ek en sluk diep. Net voordat die nagereg bedien word, kondig die orkesleier aan dat die dansvloer nou oop is.

Die Duitser vra een van die Japanese vrouens vir ‘n wals. Sy giggel en stap heupswaaiend weg aan sy arm. Meneer Texas en sy vriend drink eerder. ‘n Rustige tango begin speel en Ramon staan op, steek sy hand uit na my en ‘n sagte glimlag speel om sy vol lippe.

Ramon lei my tot op die dansvloer en gaan staan doodstil. Hy kyk in my oë, plaas sy regterhand agter teen my rug, neem my lnkerhand in syne en trek my vinnig, byna hard nader aan hom. Hy fluister teen my oor, “Follow me …”

Hy swaai my lyf sylangs en ons beweeg vinnig langs mekaar, sy een arm om my lyf, dan swaai hy my om en ons tol, tol, tol … totdat hy my laat gaan en ons uitasem, oor die dansvloer na mekaar staar. Hy stap stadig nader, trek my tot teenaan hom en vou sy vingers stadig een vir een om myne. Ek kan sy hart teen myne hoor klop en ons beweeg vinnig om die dansvloer op die polsende ritme van die instrumente.

Ons staan doodstil vir ‘n oomblik, een met mekaar en wag … Hy swaai my in ‘n halfsirkel, trek my terug sodat hy agter my staan. Hy streel met sy een hand oor my heup, sy ken op my skouer en die wisselende ritme van die musiek, eers sag en stadig, dan sterk en kloppend … voer my mee. Sy skouerspiere rippel onder my vingerpunte en sy oë brand in myne.

Hy tol my, gooi my oor sy een arm en sy lippe rus millimeters van my nek af. Ek kan sy warm asem op my vel voel. Hy trek my skielik regop, teen hom vas, ons tol weer – om en om en om, al vinniger en my vingers voel die klamheid van sy nek. Die laaste musieknote sterf sag weg en ons staan doodstil, uitasem en bewerig na mekaar en staar. Hy lei my aan my hand na buite tot op die balkon en neem my in sy arms …
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

son 4
baie interessante verhaal.. lekker lees en baie boeiend, sien uit na die volgende aflewering
4 jaar 7 maande 1 week 4 ure oud


Dogter van die son. . .
. . .Wow! Jy mag maar! Ek hou baie van jou boeiende verteltrant en vertellings wat die verbeelding so prikkel, dat 'n mens beswaarlik kan wag vir die volgende aflewering.
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 2 ure oud


Kiekies
BAIE Dankie!!!!!!
Weet jy - ek weet nie wat ek sou gedoen het as jy nie daar was om die goed uit te snuffel nie - imagine as ek dit so laat druk het ... omw ..

*MWAH* :)))))
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 3 ure oud


4
Oe ek is die ene hoendervleis.... as hierdie 'n vervolgverhaal in 'n tydskrif was het ek elke dag gaan soek vir die volgende uitgawe. Ek is helemaal gek na hier Hawai inlas van jou!!!

Moet seblief nie skiet nie, maar kyk na:
Hy frons na my terwyl hy vinnig kou, ek my selfoon uit my sak delf en Kuhalu, my taxi bestuurder, - Hy frons na my terwyl hy vinnig kou en ek my selfoon uit my sak delf om Kuhalu, my taxi bestuurder,

Wat van 'n afbakening voor jy met Vivian se storie aangaan, dalk
******* of so-iets? En daarna.

blaai verveeld deur ’n leêr - lêer
’n Glas witwyn, dankie.” - " voor ook
ons kan gesels oor wat jy nodig het om vir my uit te vind - klink nie reg nie, dalk: Wat ek nodig het om te weet en jy moet uitvind
dansgroep ons op tradisionele Hawaiise - dansgroep ons met tradisionele Hawaiise
beweeg vinnig om die dansvloer - beweeg vinnig oor die dansvloer
skouerspiere rippel onder - ripple of in Afr iets soos kartel, gly, of so iets.
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 3 ure oud


sOn
Eksotiese plekke, interessante mense, romanse, spanning... nee kyk, jy inkorporeer al die elemente wat 'n storie onvergeetlik maak. Jou spronge tussen die karakters in hierdie hoofstuk het ook gladweg verloop. Mooi, Carol, en lekker skryf verder.
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 7 ure oud


S0n

Hy laat definitief nie gras onder sy voete groei nie.
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 14 ure oud


Son
Jy maak my nou nuuskierig. Ek hoop Ramon gedra hom... Baie boeiend
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


Viooltjie
Hahahaha, baie dankie vir jou lees en kommentaar. :)) Ramon .... mmmm :))
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 18 ure oud


Son
Lyk my hier kom 'n ding . . . en hy kom vinnig :-) Dis nou 'n verhouding met baie potensiaal vir dinge om skeef te loop. Lekker gelees, Carol. Dis beslis nie 'n vervelige storie nie!
4 jaar 7 maande 1 week 1 dag 19 ure oud



Bothaville in the Second Anglo Boer War

deur Francis Gillieron

CHRONICLE OF BOTHAVILLE'S ROLE IN THE SECOND ANGLO-BOER WAR



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar