Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

VOORWOORD

Bitter min van ons gaan deur die lewe as ervare, foutlose lynlopers.

Daar is ‘n fyn lyn tussen goed en kwaad, rassioneel en irrasioneel.
Ons plig is om treetjie vir treetjie daagliks hierdie lewenspad te stap.
Van jongs af word ons geleer, om sinvolle vaardighede te bemeester,
sodat ons met vertroue en goeie balans so reguit as moontlik kan stap.
Maar dit kos net ‘n klein stampie na die verkeerde kant,
om balans te verloor.
Dan swerf ons jare deur kronkeldraaie en slingerpaaie,
wat ons wyd en ver laat wegdwaal, vasgevang in pynvolle lewenslesse.
Soekend na uitkoms en veilige terugkeer na die lyn van realiteit.

*

Lynlopers, is ‘n verhaal vol intriges, wat ons ‘n kykie in die lewe
van verskeie karakters se lewenspaaie gee, met waardevolle lesse daaruit te leer.
Hoe aanloklik wegleipaaie aan die begin lyk, maar later verander in donga-grotte,
deurspek van modder en vullis.

Dit is bloot fiksie, en geen naam/e, of enige verwysings hierin genoem,
het betrekking op enige persoon/e nie.


HOOFSTUK 1

Zunel stamp die negentien-toet vragmotortjie se rat in eerste. Sweet pêrel op haar voorkop, loop in straaltjies teen haar slape en nek af. Laat die vlasblonde krulle teen haar wange vasplak. Haar oë is vasgenael op die verspoelde, smal paadjie wat bergaf kronkel na die enigste dorpie in hierdie geweste. Vinnig loer sy in die truspieëltjie om seker te maak die vrag is nog daar. Dit skud en skommel van al die gestamp deur slote en gate. Die dik, vaalgroen seil is al wat keer dat dit nie afval nie. Van veraf sien sy die vryheidsvegters, in kamoefleerdrag, heen en weer stap of in groepies staan en gesels.
      “Here, vandag moet U ons beskerm asseblief” prewel sy benoud.
      Die kratte groente is so gepak dat die twee vlugtelinge nie maklik sigbaar sal wees nie. Maar mens weet nooit wat in vryheidsvegters se koppe aangaan nie. Hulle kan maklik besluit om met bajonette in die groente rond te steek, of selfs eis dat alles afgelaai en gekonfiskeer word.
      Stadig nader sy die dorpie. Voel hoe haar hart ‘n slag mis toe een van die vegters, AK7-geweer in die lug, in die middel van die pad stelling inneem. Sy trap onbewustelik rem en ry nog stadiger.
      “Asseblief, Here.” smeek sy. Haar hart slaan trom in haar ore en sy trek haar asem diep in om te probeer kalmeer.
      ‘n Aanhoudende getoet klink skierlik van agter op. In die kantspieëltjie merk sy ‘n militêre voertuig, met flitsende ligte, wat aangejaag kom. Verlig swenk sy die vragmotortjie na links, om plek te maak. Die voorwiel beland in ‘n sloot en die enjin stol rukkend.
      Verlig sien sy hoe die militêre voertuig stilhou, die vryheidsvegters nader draf en opspring om saam weg te ry.

Natgesweet skrik sy wakker. Verbaas om te sien sy lê veilig in haar eie bed. Die droom het dan so werklik gevoel. Sy vee die sweet van haar voorkop en slape af en lê nog ‘n wyle en tob oor dié ontstellende droom. Toe sy omdraai, loer sy na die klokradio op die bedkassie en skrik toe sy sien hoe laat dit is. Sy staan dadelik op om te gaan stort. Stap ‘n paar minute later, met nat hare, kombuis toe om pap te gaan maak.
Daar is nog drie gaste in die B-blok wat ontbyt moet kry. Al die ander gaste het reeds vroeër die week vertrek, om betyds tuis te wees vir die aanbreek van die nuwe skooljaar.
      Zander het ook gister, saam met hul buurman, wat sy eie ligte vliegtuig het, die kinders teruggeneem koshuis toe. Dit beteken hy sal eers oormôre weer terug wees. Gewoonlik benut hulle sulke geleenthede om voorraad aan te vul met items wat nie hier in Mosambiek beskikbaar is nie.
      Toe hulle twee jaar gelede hierheen verhuis het, nadat Zander ‘n aandeel in die vakansieoord gekoop het, het hulle wyslik besluit om die tweeling eers skool te laat klaarmaak in Pretoria. Die Hoër Seuns en –Meisieskool se standaard is goed en die kinders was gelukkig en goed ingeburger in hulle onderskeie skole. Die Universiteit is ook daar, vir wanneer hulle oor twee jaar klaarmaak met skool. Zita en Zandré was dankbaar oor die besluit, want hulle was nie gereed om afstand te doen van hul onderskeie vriendekringe nie.
      Haar hart swel van trots as sy aan haar kinders dink. Hulle is hierdie jaar in graad twaalf en het reeds duidelik aangedui wat hulle met hul lewe en toekoms wil maak. Zita het haar kunstenaars-temperament geërf. Sy skilder pragtig en skryf die mooiste gedigte en opstelle, stel ook intens belang in alles wat om haar gebeur. ‘n Liewe kind wat lief is vir mense en besonder goed met almal oor die weg kom. Sy oorweeg dit om joernalistiek te gaan swot. Het selfs al ‘n prys of twee ingepalm vir haar skryfwerk.
Zandré weer is soos sy pa, ‘n kranige sportman, lief vir die buitelewe en altyd gereed vir ‘n uitdagende avontuur. Hy toon ook al die tekens van ‘n vernuftige sakeman. Maak gedurig planne om die vakansieoord te moderniseer en uit te brei. Hy voel sterk daaroor om ‘n besigheidsbestuursgraad agter sy naam te kry. Dink dit kan hom help om ‘n tweede Sol Kerzner te word. Tussen hom en Zander, bars sy soms om by te bly. Hulle bespreek en bedink gedurig nuwe planne, en sy moet dit tot uitvoer bring.

Terwyl sy papwater opsit, kies haar gedagtes weer koers na die droom wat sy gehad het. Dis die tweede keer die afgelope tyd, dat sy droom sy versteek vlugtelinge. Is dit dalk ‘n teken of waarskuwing? Sy is beslis nie bygelowig nie, glo nie aan voorbodes en sulke onchristelike goed nie. Is ook baie versigtig om nie sommer te glo dat daar ‘n boodskap agter elke droom is nie. Mens se brein is mos maar ‘n wonderlike opgaarder van alles wat hy sien en beleef. Vermeng dan die inligting en spoeg dit weer van tyd tot tyd, op eienaardige maniere uit.

Daar was wel onrus op die grensposte onlangs en die nuus word oorheers met stakings en onluste wat oral opvlam, selfs in nabygeleë dorpies. Maar hier teen die kus verloop alles nog rustig en vreedsaam. Hulle woon tussen vredeliewende mense, wat hulle destyds met oop arms ontvang het.
Die papwater kook en sy klits behendig die mieliemeel by. Sit die deksel op en draai die gasvlam laer. Haal eiers uit die yskas om roereier te maak en sit twee snytjies tuisgebakte-witbrood in die rooster. Skud haar skouers, asof sy daarmee alle verdere gedagtes oor die droom van haar wil afwerp en begin ‘n vrolike deuntjie neurie. Kry borde en eetgerei uit die kas en stap eetkamer toe om die tafel vir ontbyt gereed te kry. Gou is alles gereed en sy stoot die eetkamer se deure oop as teken dat ontbyt gereed is.
      “Goeie môre, Zunel” groet Heer von Brummel gulhartig, stap verby haar en neem plaas aan die bo-punt van die ontbyttafel. Hy is ‘n stoere Hollander, groot blonde man in sy laat sestigs, wat moet buk om by die deur in te kom. ‘n Reus met ‘n sagte hart en mooi persoonlikheid. ‘n Regte gentlemen, soos haar ma sou sê.
      “Goeie môre, mijnheer, lieflike dag né?” beantwoord sy die groet en skink vir hom ‘n koppie koffie.
      “Alte zeker, alte zeker. Ek’s so honger soos ‘n bok.” sê hy glimlaggend, terwyl hy die roosterbrood nader trek.
      Zunel giggel “Nee, Heer von Brummel, ons sê in Afrikaans, ek’s so honger soos ‘n leeu.” In haar verbeelding sien sy hoe hierdie groot man soos ‘n bokkie op spitshoewe rondtrippel om by die kosbakke te kom, en die spotduiweltjies dans in haar oë.
      Die ander twee gaste, ‘n egpaar Steyn van Mesinna, kom ook ingestap en neem langs mekaar aan die sykant van die tafel plaas.
      “Môre, Zunel, Mnr von Brummel.” groet hulle gelyktydig.
      “Goeie môre, vriende.” groet Heer von Brummel oordadig “hoop julle het ‘n zoete nagrust gehad?”
      “Ja, dankie.” antwoord Piet Steyn namens albei.
      Zunel groet vriendelik, terwyl sy hulle koffie skink en voor hulle neersit. Maak verskoning en verlaat die eetkamer.

Terug in die kombuis, sien sy verbaas dat Sarah reeds besig is met die skottelgoed.
      “Môre Sarah, ek dog jy kom eers later? Meeste van die gaste is mos al weg.”
“Nee Nonnie, ek het ‘n onrus in my wat nie wil bedaar nie. Het gedink ek kom maak maar gou klaar hier solat ek bietjie kan oorloep na Jantjie-hulle se werf. Wil met my eige oge en ore gaan sien en hoor wat da broei.”
      “Hoe meen jy nou, Sarah?”
      “Daar’s stories wat loop, lelike stories. Ek dink dis darie kjend van Krompiet, hy was
mos maar ‘n dwars mannetjie van vroeg se dae af. Bly neuk met die vekere mense saam.”
      “Ai, Sarah, vra maar as ek kan help met iets.” Zunel raak vertroostend aan haar arm. Sy het lief geword vir hierdie mense en Sarah is soos ‘n moeder vir almal. Sy kloek gedurig om almal om seker te maak hulle is gelukkig en tevrede. Sy is so eerlik en opreg in haar denke en bedoelings. Maar vat ook nie nonsens nie. Spreek ‘n saak reguit en op die man af aan. Die omgewing se mense het groot respek vir haar en as daar probleme of siekte is, is sy die een wat eerste genader word.
      “Jy’s ‘n goeie mens, Nonnie. Mag die Jere jou beskerm.”
      Zunel kyk haar vas in die oë, sien die keep van kommer op haar voorkop. “Gaan dan maar liewer eers, Sarah, ek sal alleen regkom. Hier is nie baie werk vandag nie. Gaan doen wat jy moet doen, sodat jy gemoedsrus kan kry.”
      Sarah kyk haar dankbaar aan. Spoel die pot wat sy klaar gewas het onder die kraan af en plaas dit op die droograk.
      “Ek sal voor donker terugwies, Nonnie.” Sy vee haar hande aan die vadoek af, maak haar voorskoot los en hang dit op, aan die hak agter die kombuisdeur.
      Zunel kyk haar agterna tot sy om die bougainvillea verdwyn. Dit staan vol in blom langs die stoeptrap. Sy sal vir Sam moet vra om dit weer bietjie met die snoeiskêr by te kom. Die takke groei geil en wild in alle rigtings, seker as gevolg van die goeie reën, wat hulle die afgelope tyd gehad het.
      Sy maak ‘n vars pot koffie en stap weer eetkamer toe.

Heer von Brummel sit behaaglik agteroor en vryf genoeglik oor sy ronde maag. “Soos altyd was dit smaaklik, Zunel. Ek sal beslis moet begin oefen wanneer ek terug by die huis is. Julle vars lug het behoorlik my apteit aangehits en jou kos was net te do…skuus, damn, lekker.” Hy glimlag en knipoog vir haar.
      “Ag, jy’s ‘n regte ou vleier, mijnheer.” Hy hou daarvan as sy hom so aanspreek. Sy hou die koffiepot omhoog en vra “iemand nog lus vir ‘n koppie koffie?”
      “Nee dankie, ons het ook heerlik, maar genoeg geëet.” antwoord San Steyn hierdie keer en stoot haar stoel agteruit om op te staan. Haar man knik sy kop, volg haar voorbeeld en hulle verlaat saam die eetsaal met ‘n wuif as groet. Sy is ‘n vrou van min woorde. Gewoonlik doen haar man al die praatwerk. Hulle meng ook nie sommer met die ander gaste nie. Verkies meestal om op hul eie te wees en hul eie uitstappies te onderneem. Ry net so af en toe saam vir ‘n uitstappie na die plaaslike dorpie.
      Heer von Brummel staan ook tydsaam op en stap deur se kant toe. “Sien later,” groet hy en buk om uit te gaan.
      Zunel skink vir haarself ‘n koppie koffie en gaan sit by die tafel om eers bietjie asem te skep voor sy met die opruiming begin. Haar elmboë rus op die tafel en haar ken sak gemaklik tot op haar ineengevlegde vingers. Sy tuur deur die wye venster en laat haar blik oor die pragtige, tropiese tuin dwaal. Dit het harde werk gekos om dit só te laat lyk. Destyds toe hulle hierheen verhuis het was alles maar redelik verwaarloos. Die vorige bestuurder het glo met ‘n diepsee-visvangsessie oorboord geval en verdrink voordat hulle hom tot hulp kon kom. Hy kon nie swem nie. Daarna was die plek vir lank oorgelaat aan slegs die span helpers wat hul bes probeer het om alles so normaal moontlik te laat voortgaan.

       Die eienaar, ‘n Mnr Jones, sit oorsee. Hy het in verskeie koerante geadverteer vir nuwe oord-bestuurders en dis waar Zander dit een Sondag raakgelees het. Gesoute avontureer, soos hy was, het dit dadelik sy oog gevang en hy het op die ingewing van die oomblik die nommer by die advertensie geskakel. Vir drie maande is oproepe heen en weer gemaak, eposse gestuur en ontvang, foto’s uitgeruil. Toe sy weer haar oë uitvee is Zander se praktyk en hul huis in die mark. Dit het verbasend gou verkoop (seker omdat die prys reg was) en sy moes haas begin pak en reëlings tref om haar los te maak van haar eie, vele verpligtinge. Paspoorte en visums moes gereël word. Daar moes voorsiening vir die kinders gemaak word. Alles het so vinnig gebeur dat sy nie regtig tyd gehad het om behoorlik afskeid van almal te neem nie. Sy moes ‘n lewe van vyf-en-dertig jaar, vandat sy en Zander saam begin het, in ‘n kwessie van ‘n paar maande oppak en verskuif na ‘n plek wat sy nie geken en nog net op foto’s gesien het. Volgens die epos-foto’s, vriende en kennisse se beskrywings, was Mosambiek ‘n toeriste-mekka, prentjie-mooi en beslis ‘n wonderlike plek om vakansie te gaan hou en ‘n voorreg om te gaan bly.
       Zander het met die eienaar beding om ook aandele in die plek te bekom en hy was gelukkig te vinde daarvoor. Het besef dit sal in die belang van die oord wees, as die Bestuurder ook ‘n aandeel in die plek het. Dit blyk in elk geval of Mnr Jones, wat destyds die plek uit ‘n bankrotboedel gekoop het, dit slegs gekry het vir belegging-doeleindes.
Zander was soos ‘n kind wat ‘n nuwe speelding gekry het. Hy wou nog sy lewe lank ‘n wildbewaarder of plaasbestuurder wees, maar sy pa het hom gedwing om regte te gaan studeer sodat hy die praktyk kon oorneem na sy afsterwe. Hy was ‘n goeie prokureur en het welbekend geraak in regskringe. Maar daar was altyd ‘n onrustigheid in hom. Hy het elke geleentheid wat hy kon kry, weggebreek plaas of bosveld toe.

Sy sien Sam afstap na die afdak waar die voertuie geberg word. Zander het verlede jaar, op ‘n veiling, ‘n baie goeie Safari-voertuig te koop gekry. Dit kom handig te pas wanneer hulle die gaste op uitstappies neem. Hy en Zanré het verskeie roetes uitgewerk wat na verskillende besienswaardighede lei. Hulle het ook met die plaaslike dorpie gereël om die gaste soontoe te vat vir aankope van snuisterye en aandenkings. Sam trek egter nou die Nissan-bakkie, waarmee hulle slegs in die oord rondry, uit en kom stop voor die stoep. Nie lank nie of Heer von Brummel kom by die voordeur uitgestap en klim langs Sam in. Sy merk die visvang-gereedsakp agterop en onthou dat hulle die vorige dag gereël het om vandag te gaan visvang, sommer so van die strand af. Sy het skoon vergeet om vir hulle ‘n piekniekmandjie te pak.

Soms verlang sy nog na hulle gevestigde, gemaklike lewe in Pretoria. Sy en Ansu, een van haar beste vriendinne, het saam op ‘n deeltydse basis ‘n beradings-praktyk bedryf. Die CMR het soms gevalle wat nie in hulle gebied of kriteria val nie, na hulle verwys. Dan was sy ook baie betrokke in verskillende aksies by die kerk en verbonde aan verskeie organisasies wat opheffingswerk onder minderbevoorregtes doen. Die kinders het haar ook baie besig gehou met al hul buitemuurse bedrywighede en sy is dankbaar dat sy haar dinge só kon reël dat sy altyd beskikbaar was vir ondersteuning waar en wanneer hulle haar nodig gehad het.
      Met heimwee dink sy terug aan al haar wonderlike vriendinne wat sy moes agterlaat. Heerlike koffie-kuiers en gymsessies, saam lag en saam huil. Hulle het mekaar deur dik en dun bygestaan en soms deur moeilike tye gedra. Veral Ansu, Santi en Anel was soos hartsussies vir haar. Hulle het gereeld oor en weer gekuier en die mans het ook mettertyd goed bevriend geraak. Die kinders saam kattekwaad aangevang.
       Dalk moet sy hulle nooi om die April-langnaweek hier te kom kuier. Hulle skimp al so lank om te kom kyk hoe dit hier lyk. Sy het bly wal gooi sodat hulle eers alles mooi en reg kon maak. Hulle is ook nou finaal klaar met die oordoen en opknap van die oord. Hier is meer as genoeg slaapplek vir almal. Dis nou te sê as hulle sal wil kom. Dalk kan sy dan sommer reël dat hulle die tweeling ook saambring vir die naweek. Dit sal heerlik wees om almal weer te sien en saam te kuier. Sodra Zander terug is gaan sy dit beslis met hom bespreek.
‘n Harde klop aan die agterdeur ruk haar terug tot die werklikheid. Sy spring op, stamp in die proses haar ongedrinkte koppie koffie om.
       “Ag, demit, kyk wat maak ek,” raas sy vies met haarself. “Ek kooooom!” roep sy na die kombuis se kant.
Met die oopmaak van die kombuisdeur skrik sy. Kleinjan staan hygend na asem voor haar, asvaal in die gesig.
       “Kleinjan?” sy trek hom aan die arm na binne en maak hom sit op ‘n kombuisstoel. Tap ‘n beker kouewater onder die kraan en druk dit in sy bewende hande. “Drink, dat jy jou asem kan terug kry.”
       Hy vat ‘n paar groot slukke en druk die beker terug in haar hand. Spring haastig op en gryp haar aan die arm, trek haar saam na buite. “Merrim, jy moet dadelik kom!”

(2984 woorde)




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

lynlopers
Lekker gelees en sterkte verder. Jy bind die leser end-uit
5 jaar 1 maand 4 weke 20 ure oud


Lyn
Nee kyk, hierdie storie wile sal ek enduit lees! Dis puik en net so puik geskryf!Jou beskrywings en dialoog is fabulous!

Hier is so paar dinge waarna jy kan kyk.

deurspek van modder - is dit dalk eerder: deurspek met modder?
apteit - aptyt
avontureer - avonturier
wat sy nie geken en nog net op foto’s gesien het - wat sy nie geken het nie en nog net op foto’s gesien het
slegs gekry het vir belegging-doeleindes - slegs bekom het as belegging of slegs aangekoop het vir......
Hy en Zanré het verskeie roetes - Hy en Zandré het verskeie roetes
5 jaar 2 maande 14 ure oud


Ans
Dankie Ans,

Ek het maar net gewonder.
5 jaar 2 maande 17 ure oud


Lynlopers
Baie dankie vir almal se lees en kommentare sover, dit word opreg waardeer. Sonder julle hulp en bystand sal ons dit nie kan doen nie. Ek waardeer elkeen se terugvoer, raad en uitwys van foutjies geweldig baie.
5 jaar 2 maande 18 ure oud


Lyn
Goed gedoen Driekie. Ek hou hiervan. Zellie 'n voorwoord is nie regtig nodig nie. Maar sommige skrywers voel hulle wil die skrywer net 'n kykie gee van dit waaroor hulle gaan skryf, of waaroor die verhaal gaan, dit maak hulle lus om te lees of nie.
5 jaar 2 maande 19 ure oud


lynlopers
spannend en briljant geskrryf
5 jaar 2 maande 1 dag 1 uur oud


lyn
Goed geskryf, Driekie. Die storie beloof om baie interessant uit te draai. Dit lees lekker. Jy het die eerste hoofstuk baie goed afgesluit :-)
5 jaar 2 maande 2 dae 5 ure oud


Lynlopers
Jip, klaar vasgevang in jou storie. Uitstekend geskryf, Driekie en ek sien uit na jou volgende hoofstuk. Jou karakterbeskrywings is eg, menslik en baie goed. Nou los jy ons boonop met 'n "cliffhanger" ...
PUIK!!! :))
5 jaar 2 maande 2 dae 15 ure oud


Aksie
Ek hou sommer baie hiervan Driekie.

Hierdie storie gaan aksiebelaaid wees, Jou karakters is ook baie eg, betreffende spraak en optrede!

Hier kom 'n ding!
5 jaar 2 maande 2 dae 15 ure oud


Lynlopers 1
hierdie gaan nog sommer n baie lekker lees storie word Driekie, baie interessant en boeiend gepen
5 jaar 2 maande 2 dae 17 ure oud


*
Sweet ek amper saam Zunel. Dit was nogal 'n interessante droom.

Ek wil net vra of dit regtig nodig is vir die voorwoord? Ek wonder net.

Ek hoop jy skryf haastig aan jou tweede deel!
5 jaar 2 maande 2 dae 20 ure oud


Lynlopers 1
mmm, wonder wat gaan volgende gebeur. Baie oulike inleiding tot jou boek. Alles van die beste met die res.
5 jaar 2 maande 2 dae 22 ure oud



Oak Seed

deur Rachelle du Bois

Alicia Venter was a cool librarian with her life and her career mapped out. Until she looked into the compellingly familiar eyes of a stranger. She was shaken to the core. Why was she so powerfully drawn to the stunningly attractive Martin Blythe, yet they’ve never met? Martin Blythe was rich, he was a successful engineer doing research in the university library. And then he looked into the familiar green eyes of a strange young woman. The earth moved for him then as he recognised her somehow. In an instant he knew she was a part of him without which he could not live. Would these two people find the answer to the strange coincidence that kept pushing them into each other’s lives? Would they resist or choose love?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar