Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Zander skrik wakker. Die son skyn flou deur die kamervenster as teken dat dit reeds laatmiddag is. Vir ‘n oomblik weet hy nie waar hy is nie. In die droomwêreld waaruit hy pas ontwaak het was hy saam met Zunel. Hulle het soos kinders baljaar in die branders. Mekaar geterg en nat gespat. Moeg op die sand neergesak om saam die prag van die sonsondergang oor die see te bewonder. Styf, knoes in mekaar se arms. Hy ruik haar nog. ‘n Dreigende vuur vanuit die bosse het hulle skielik oorval. Gemaak dat hulle moes vlug. In die vlug het hy haar verloor. Aanhoudend geroep, maar sy het nie geantwoord nie. Hy moes homself beslis wakker geroep het.
      Stadig helder die vorige nag en oggend se gebeure op in sy geheue. Hy sit regop en kyk om hom rond. Die kamer is dan nou netjies. Hy staan op en maak die kaste oop. Alles is teruggepak op hulle plek. Dalk was dit alles net ‘n nare droom, dink hy verlig. Kyk af en sien die donker kol verdoemend geklad op die spierwit mat. Kan dit werklik wees? Hoe lank het hy dan geslaap?
      Hy stap badkamer toe. Stroop die klere wat na rook stink van sy lyf af. Draai die stortkrane groot en warm oop. Gun homself die behaaglikheid om skoon te kom. Skoon van buite en van binne. “Here, vergewe my.”

Vars en skoon verlaat hy die kamer en stap gang-af. Merk hoe kaal en leeg alles lyk. Geen prente teen die mure of ornamente en blompotte te bespeur nie. Nêrens is ‘n siel in sig nie. Hy loer by die kantoor in. Alles is netjies en op hulle plek, behalwe dat daar geen rekenaarskerm of drukker op die lessenaar staan nie. Sy stoel is ook weg. Hy stap verder, soek bewyse van die chaotiese prentjie in sy kop.
      Die kroeggedeelte is ook kaal en leeg. Die staanyskas sonder deure met geen voorraad in nie. Hy stap deur eetkamer toe. Die Isabel le Roux is beslis weg. ‘n Paar tafels en stoele staan rond, die res is weg. Als wat stukkend was is verwyder.
      Sarah kom uit die kombuis tevoorskyn. “Mirrag Grootbaas, bly om te sien djy is weer wakker. Het soos die babba geslaap. Amperster die hele dag.” probeer sy hom opvrolik.
      “Middag Sarah, wie het die huis opgeruim?”
      “Ons het, Basie. Nadat die poliste hier was. Sam het hulle gaat haal oppie
dorp. Die kaasman wouie dat ons djou pla of wakker maakie. Die poliste het net hier en daar rondgakyk, paar kiekies geneem. Met Sam saam gepraat en toe weer gary.”
      “Heer van Brummel? Waar is hy?”
      “Weetie” Sarah trek haar skouers op. “Hy hettie veld ingestap voorie poliste gekom het. Ons het hom nogie weer merrie oge gasienie.”
      Zander se wenkbroue wip omhoog. “Is daar darem nog iets oor waarvan jy ‘n ete aanmekaar kan slaan?”
      “Dja, my Basie. Die kas innie waskamer het hulle gaskiep. Daar was groot sak mieliemeel, rys en blikkieskos gepak. Vanaand eet djulle maar soos arme mense. Maar daar sal kos vir djulle se pense wees. Sarah sal dit sorg.”
      “Dankie, Sarah.” sê hy dankbaar. “Waar is Sam?”
      “Hy en paar vanie manse het gaan soek virrie kaasman.”
      “Dalk moet ek ook ‘n draai gaan ry.” Hy draai om en stap terug kantoor toe. Kry die trok se sleutel op die gewone plek agter die deur. Als voel so onwerklik. Dit voel of daar ‘n mantel van verslaendheid om hom hang. Of hy nie werklik deel uitmaak van hierdie prentjie nie.

      Met die uitstap op die voorstoep gewaar hy ‘n naderende stofwolk van ‘n aankomende voertuig in die verte. Skreef sy oë om te probeer uitmaak wie dit kan wees. Herken na ‘n ruk die silhouette van die oord se bakkie. Die bakkie waarmee Sam meestal rondry. Hy wonder hoekom hy so jaag. Sal hom beslis hieroor moet aanspreek. Die vere en bande gaan dit nie hou op hierdie slegte grondpad nie. Om in hierdie geweste iets te laat herstel is makliker gesê as gedaan.
      Soos die bakkie al nader kom merk hy dat daar heelwat mense agterop is. Tot sy verbasing klim Jan van Brummel aan die passasierskant uit, die oomblik toe die bakkie voor die stoep tot stilstand kom. Dit lyk of hy in ‘n oorlog betrokke was. Die eenkant van sy gesig en blonde hare is vol bloed. Sy linkeroogbank geswel met ‘n duidelik sny bokant die oog en oor sy wang. Sy klere vuil, besmeer en geskeur. Oor sy regterarm is ‘n rooi lap gedraai wat hy met sy linkerhand stut.
      Zander storm die trappe af. “My magtag, Jan. Wat het met jou gebeur?”

      “Lang verhaal, mijn vriend, lang verhaal.” sug hy en kyk oor sy skouer na die groepie mans wat van die bak afklim. Zander merk die vermoeienis in die groot lyf en geboë skouers.
      Piet en Jantjie kom skuifelend nader met ‘n struwelende vreemdeling tussen hulle. Elkeen het ‘n bo-arm beet. Die man trek en ruk verwoed om los te kom. Hulle gooi hom voor die onderste stoeptrap neer. Donker, blink gelaat. Kaal bo met slegs ‘n kuitlengte broek aan die maer onderlyf, gefraaing by die pype. Kaalvoete. Hande agter sy rug vasgebind met ‘n stuk vislyn. Zander sien die hale oor sy rug. Die stukkend geslaande gesig en bloedbevlekte kakiebroek. Hy kyk beurtelings, ondersoekend na Sam en Jan van Brummel.
      Jan se oë verdonker. “Die lastpak is een van de schurken dat het oord geplunderd heeft.”
      Sam tree na vore. “Meneer, kyk die merk op daardie man se skouer. Dis Boko Haram se mense hierie. Dis sweerlik hulle wat Tothuni se mense uitgemoor en die oord kom beroof het. Daar moet beslis ‘n basis hier naby wees.”
      Zander trek sy asem skerp in. Hy is goed bewus van hierdie rebellegroep wat soveel moeilikheid veroorsaak, veral in Negerië. “Hoe seker is jy Sam?”
      “Doodseker, Meneer. Hulle moor, plunder en beset gebiede oral. Die Nigeriese weermag het hulp gevra van Tsjad, Kameroen en Niger om hierdie mense te probeer elimineer. Die polisie is lankal bewus van hulle bedrywighede in ons land. Kon hulle nog net nie met sekerheid identifiseer of vastrek nie.
     
      Jan kyk vas in Zander se oë. “Daar ligt er nog een op de bakje. Ik heb vier van hen dichtbij de rivier gekregen. Die bundels gestolen goed bij hen hadden. Toen ze mij zagen, hebben ze mij geprobeerd aan te vallen. Een heeft mij verwond met ‘n kapmes, hier in mijn gezicht en op mijn arm.” Hy draai die rooi lap van sy voorarm af en Zander steier terug toe hy die gapende wond sien. “Ze zijn klein en mager en ik veel groter en sterker. Ik heb zoals een bezetenen gevochten, voor een ogenblik helemaal mijn hoofd verloren. Even aangehouden met slaan en slaan waar ik kon.” Hy sidder en haal diep asem voor hy voortgaan. “Toen ik weer bij zinnen kwam, waren er twee weg. Gevlucht. Dié een heb bewusteloosd aan de kant gelegd en ik heb een stuk vislijn in een bos daar dichtbij gekregen en zijn handen vasgebonden.” Hy bly ‘n lang ruk stil. Vee met sy linkerhand oor sy gesig en uiter ‘n pynkreet. “Verdomme, Zander! Ik heb een man vermoord!” Sy skouers ruk en hy sak op sy knieë neer.
      Zander staar hom geskok aan, nie instaat om ‘n woord te uiter nie. Stap stil na die agterkant van die bakkie en loer oor die rand. Die man lê op sy maag. Eenkant van sy kop verbrysel.
      Here, wat is hierdie plek besig om van ons te maak? Wie sou ooit kon dink dat Jan van Brummel, die sagte reus, ‘n man sou doodslaan? Zander besef die implikasies van hierdie daad. Leun teen die bakkie en vryf bekommerd met sy hande deur sy hare. Wat staan hom te doen?
      Sam kom staan uitdagend voor hom. “Meneer, ons sal hierdie twee moet invat dorp toe. Gaan oorhandig aan die polisie.”
      “Neeeee!” bulder Jan en beur orent. “Jullie kunnen niet!” Hy gryp Sam aan die arm. “Asjeblief! Zij zulen mij opsluiten en mij vergeeten van my. Nogt erger, ze zouden mij aanklagen voor moord en ophangen. Ik ben een oude man. Jullie kunnen mij dit niet doen!” pleit hy.
      “Wag, Sam.” tree Zander tussenbeide. “Jan is reg. Die polisie gaan geen genade aan hom betoon nie. Al is dit die vyand, moord bly moord.”
      “Maar, Meneer…”
      “Nee, Sam. Ons kan nie!” Hy kyk hom streng aan. “Laat die manne goed verstaan hulle praat niks hieroor nie. Nie eers teenoor hulle families nie. Hulle vergeet wat hulle vandag gesien het. Hoor jy my? Gaan sluit hierdie man in die buitekamer toe.” beduie hy na die man wat eenkant sit-lê. Hulle met minagting en vyandigheid aangluur.
      “En die ander een?” vra Sam opstandig.
      “Julle ry met hom terug rivier toe. Los hom op die oewer. Die krokodille…” hy skrik vir dit wat deur sy gedagtes gaan en wat hy op die punt was om te sê. Pers sy lippe opmekaar.
      “Meneer, jy maak ‘n fout. Groot fout. Hoor wat ek vandag vir jou sê.” probeer Sam sin in sy kop praat.
      “Shut up, Sam, en maak soos ek sê.” Zander besef daar is nou geen omdraaikans meer nie. Hy het ‘n verpligting teenoor Jan van Brummel. Was dit nie vir als wat die afgelope tyd gebeur het nie, sou hierdie man nooit sy hand vir iemand gelig het nie. ‘n Mens kan net soveel vat en nie meer nie. Dat sy eie kop nog reguit kan dink is ‘n godswonder. Iets moes in Jan geknak het. Hom tot soveel geweld en moord gedryf het.

      Jan kyk hom dankbaar aan. Zander merk die onsekerheid en naakte vrees in sy oë. ‘n Ander gedagte skiet Zander te binne. “Buitendien” probeer hy homself oortuig en verdedig om sy eie gewete te sus. “Wie sê hierdie vuilgoed was nie dalk verantwoordelik vir Zunel se ongeluk en verdwyning nie?”
      Sam waag dit nie om ‘n verdere woord te uiter nie. Praat met die ander manne in hulle taal terwyl hulle hom grootoog en swyend betrag. Hy en Jantjie klim terug in die bakkie en trek met ‘n vaart weg, terwyl die ander manne die gevangene sleep-dra na die buitekamer.
      Zander vat Heer van Brummel aan die arm. “Kom Jan, jou wonde moet ontsmet word.”
      Jan volg gewillig. Skraap sy keel en vee met die rooi lap die trane wat vryelik oor sy wange loop, af. Dit brand soos vuur in die wond aan sy wang. Hy sluk ‘n paar keer. “Zander, ik zweer, ik wou die man niet doodmaken. Ik heb helemaal mijn hoofd verloren.”
      “Ek weet, Jan. Zunel…” hy huiwer ‘n oomblik. “Sy het altyd gesê ons is almal lynlopers. Dat die lyn tussen rassioneel en irrasioneel haarfyn is. Dit kort net ‘n klein stampie op die verkeerde tyd en plek om iemand na die verkeerde kant te laat oorhel. Ek het nooit mooi verstaan presies wat sy hiermee bedoel nie. Nou weet ek, Jan. Nóú weet ek.” sê hy afgemete, mymerend.
      Hy neem Jan na die badkamer naaste aan die kantoor. Slaan die toiletsitplek plat en maak hom sit. Haal skoon verbande, ontsmettingsmiddel en gaas uit die noodhulpkassie in die hoek. Versigtig probeer hy die wond aan Jan se arm skoonmaak. “Jy sal kliniek toe moet gaan vir steke. Hierdie wond is baie diep en ek is seker jy het alreeds te veel bloed verloor.”
      “Nee, nooit! Ze zouden wilen weten waarom ik zoveel wonden heb en dadelijk di politie bellen.”
      Zander besef die waarheid agter sy woorde. “Dan moet ek jou na Reinhardt toe vat. Hy sal ook die wond kan toewerk.”
      Jan knik net en byt op sy tande toe Zander verdunde ontsmettingsmiddel opspuit. Zander pak gaas op en draai lomp ‘n verband om die wond. “Dit sal moet doen tot ons by Reinhardt uitkom.” Hy spuit ontsmettingsmiddel op ‘n skoon gaas en vee saggies die wond op sy wang en bokant sy oog skoon. Jan kreun hard en probeer wegruk.

Sarah dring daarop aan dat hulle eers eet voordat hulle ry. Dis al sterk skemer toe hulle die Standerd’s se werf binnery. Reinhardt, wat die motor hoor aankom het, wag hulle in op die stoep.
      “Goeienaand. En wat bring julle hierdie tyd van die aand hierheen?” Hy sien die verband om Heer van Brummel se arm en besef dis nie sommer ‘n gewone besoek hierdie nie.
      Zander wink hom nader en praat sag. “Jan het ‘n ongeluk gehad. Het dringend steke nodig. Kan jy hom help asseblief?”
      “Watse ongeluk?” vra Reinhardt nuuskierig.
      “Dit maak nie saak nie. Sal jy hom asseblief help met steke?”
      Reinhardt hoor die erns en vermaning in Zander se stem. “Sekerlik, kom na my spreekkamer toe.” Hy stap van die stoep af en kry koers na die spreekkamer ‘n entjie van die huis af. Stoot die deur oop en skakel die lig aan. Wys vir Jan om op die stoel langs die operasieblad te gaan sit. Haal die nodigste uit die kas teen die muur. Skrop sy hande by die wasbak onder die kraan. Vryf dit goed droog en sprinkel poeier daaroor sodat hy met meer gemak die latex handskoene oor sy hande kan trek. Draai om en bekyk die twee mans ondersoekend. “Goed, kom laat ek sien.” Hy lig Jan se arm en draai die verband versigtig af.
      Zander leun teen die muur en hou hulle fyn dop.
      Reinhardt lig bekommerd sy kop “Waarmee is hierdie wond toegedien?
      “Hoekom vra jy?” antwoord Zander voor Jan iets kan sê.
      “Dis baie diep en lyk of dit reeds ontsteek is. Wat ookal die wond veroorsaak het, moes baie vuil gewees het. Hy sal sterk antibiotika moet kry anders gaan dit septies word.”
      Jan kyk Zander smekend aan.
      “Hy is nie bereid om kliniek toe te gaan nie. Kan jy hom nie dalk help met antibiotika nie?”
      “Nee jammer, dis iets wat hy by ‘n dokter sal moet kry. Ek sal die wond goed skoonmaak, gaas met antibiotiese salf op en om die wond pak en dit goed verbind.” Hy kyk op na Zander. “Ek kan nie ‘n wond toewerk wat ontsteek is nie. Hy moet die verband so lank moontlik ophou, nie laat nat word nie en weer oor ‘n week kom dat ek sien hoe dit lyk.”

Hy behandel die wonde aan sy gesig en plak groot pleisters daaroor. “Dit moet onder geen omstandighede nat word of afgehaal word nie.”
Zander besluit om Reinhardt in sy vertroue te neem. Vertel hom in breë trekke wat gebeur het en hoekom Jan nie kan bekostig om kliniek toe te gaan nie.
      “Zander, julle kan dit nie doen nie? Dis verkeerd en jy weet dit. Julle sal die saak moet aangee en Jan by ‘n dokter kry vir sterk antibiotika.”
      “Neeee!” protesteer Jan. Hy bewe en sy tande klap opmekaar.
      Reinhardt kyk hom skerp aan en praat verder met Zander. “Hierdie man ly aan skok. Die feit dat hy so oorreageer, asook sy vergote pupille, is ‘n duidelike teken daarvan. As hy nie dadelik by ‘n dokter uitkom nie, gaan hy dalk sy arm verloor. Mens speel nie met septisemie nie. Kyk na hom, hy brand uit van die koors.”
      Jan kyk hulle met smekende oë aan. Skud sy kop woes heen en weer.
      “Reinhardt, asseblief!” probeer Zander weer. “Jy is verdomp ‘n dokter, al werk jy met diere. Ek’s seker jy het iets hier wat jy hom kan gee.” Zander klink nou desperaat.
      Reinhardt besef hy gaan hierdie twee nie oortuig nie en stap na sy medisynekas. Kyk versigtig deur al die houertjies en haal ‘n botteltjie diep agter uit. Gooi ‘n paar van die pille in ‘n pilsakkie. Stap terug en druk dit in Zander se hand. “Laat hy twee hiervan elke drie ure drink. Dis nie juis vir mense bedoel nie en ek weet nie of dit sterk genoeg gaan wees om die infeksie te keer nie. Ek sal hom ‘n klem-in-die-kaak-inspuiting ook gee. Hou hom in die bed en gee vir hom baie vloeistowwe om te drink.” Hy draai terug kas toe om ‘n spuitnaald te kry. Haal ‘n botteltjie spuitstof uit die koelkas langs die venster. Knak die nek en trek die spuit vol. Hou dit teen die lig en skiet daarteen om die lugborrels uit te kry. Druk die naald diep in Jan se bo-arm. Sien die pyntrek op sy gesig.
      Jan kyk hom dankbaar aan met koorsige oë. Sweet pêrel op sy voorkop en bo-lip.
      “Duisend dankies, Reinhardt. Het geweet ek kan op jou staatmaak. Jy het Jan se lewe gered.”
      “Moenie te gou praat nie, Zander, kom ons sien wat gebeur. Toe, julle moet hierdie man gaan afspons en in die bed kry.” Hy vat ‘n houertjie slaappille van die rak af. “Dé, gee vir hom een as julle by die huis kom. Dit sal hom ten minste ‘n rustige nagrus gee.”

(Totale woordtelling 19,160)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lynlopers 7
wow Driekie jy het n briljante storielyn hier... ek kan nie wag om die volgende episode te lees nie!! Hierdie is beslis jou genre!!1
5 jaar 2 maande 1 week 1 dag 18 ure oud


lyn
Sjoe, Driekie ~ jy kwyt jou omtrent goed van jou taak. Die verhaal is boeiend en ja, die bedoeling van die titel wys nou duidelik. Soms moet mens kies tussen twee of meer verkeerde besluite - 'n baie fyn lyn - soms is daar nie 'n regte besluit nie . . . dan moet jy die beste van die slegte opsies probeer kies.

Boeiend en kontemporer, soos gedagtedief sê.

Sterkte met die res vn hierdie verhaal se skryf :-)
5 jaar 2 maande 1 week 3 dae 9 ure oud


7
Baie boeiend en dit hou die aandag. Ek het lankal gewonder wie die Bl... is wat die moeilikheid maak. Nou is ek sommer op gewerk.
5 jaar 2 maande 1 week 3 dae 12 ure oud


7
Dis boeiend en jy raak nie agter die tyd nie – Boko Haram is al doenig in die storie. Aktueel en kontemporêr.
5 jaar 2 maande 1 week 3 dae 14 ure oud


7
Ek haal my hoed vir jou af, Driekie. Jy skryf uit die boonste rakke. :)))
5 jaar 2 maande 1 week 4 dae 16 ure oud


7
Oeeee jinne, my senuwees knaag nou! Se-nou een van die manne praat uit....Jy beter dem vinnig vertel watgatan!!

Regstellings:
n duidelik sny bokant - n duidelike sny bokant

in Negerië. - in Nigerië.

en mij vergeeten van my. - en mij vergeeten (van my)uithaal.
5 jaar 2 maande 1 week 5 dae 13 ure oud


Titel
Nou verstaan ek jou titel - lynlopers. Dis so gepas! Jou storie bars uit sy nate uit van al die aksie en spanning. So dikwels neem mens op die ingewing vd oomblik besluite wat later terugkom en jou bloots ry. Ek sien uit na hoofstuk 8.
5 jaar 2 maande 1 week 5 dae 18 ure oud



Geweeg

deur Manie Jackson

Gedigte van skooldae af , die tyd toe ek geweeg is, tot ek getrou het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar