Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Zandré laat sak die koerant. Zita sien sy hande bewe. Skok in die traangevulde oë waarin pyn en vrae vlak lê. Voel hoe dit deur haar eie wese skryn.
      “Wat gaan ons doen, boeta?” vra sy snikkend.
      Hy lig weer die Beeld en lees vir die derde keer die berig. Hierdie keer hardop, asof hy hul albei wil verseker van die nare werklikheid daarin.

      “BOKO HARAM INFILTREER MOSAMBIEK

Die Mosambiekse regering het oorlog verklaar teen Boko Haram, ‘n militêre organisasie wat onwetend die land infiltreer. Verskeie nedersettings is onlangs aangeval en honderde mense afgemaai en uitgewis. Vroue word gevange geneem as slawe, terwyl kinders gebruik word vir dwangarbeid. In sommige gevalle neem hulle ook mans gevange om op te lei as soldate.

‘n Volskaalse offensief woed die laaste paar weke met Tsjad, Kameroen en Niger wat die Nigeriese weermag help om Boko Haram se toevoerlyne te ontwrig en met knyptang-aanvalle te verlam.

Hulle visier is veral gerig op uitlanders wat gevestig is in Mosambiek en omliggende lande.

Die nuutste aanval was op die Inhamzini Vakansie-oord, Noord van Vilanculos. ‘n Kusdorpie ongeveer 850km geleë anderkant die Lebombo-grenspos.

Die oord was bedryf deur ‘n Suid-Afrikaanse egpaar, ene Mnr en Mev Britz. Mnr Britz was voorheen ‘n erkende prokureur van Pretoria. Hulle het die afgelope drie jaar in Mosambiek gewoon en gewerk.

Volgens ‘n familiebron, wat anoniem wil bly, het Mev Britz vier maande gelede spoorloos verdwyn, nadat sy hulp verleen het aan ‘n vrou uit ‘n nedersetting wat aangeval is.

Die familie wag tans op nuus van die Mosambiekse regering…”

      “Stop…hou op!” val Zita hom in die rede “Ek wil dit nie weer hoor nie. Maak té seer.” snik sy en laat sak haar kop in haar hande.
      Sy hoor hoe Zandré die koerant op die tafel neersit en langs haar kom sit. Voel sy arms vertroostend om haar gaan en gryp hom desperaat vas. Verenig in hul smart en verlies.
      Na ‘n ruk los hy haar en staan op. Sy snik en kyk op. Sien hom soos ‘n verwonde dier heen en weer stap, instinktief skop na iets onsigbaar op die mat. Kort-kort slaan met ‘n gebalde vuis op die tafel of teen die muur.
      “Die bliksems! Eers vat hulle Ma. Nou Pa en die oord. My…óns hele toekoms. Ek sou oor ‘n maand daar ingeval het. Wat nou? Waarheen nou?” Zita hoor die bitterheid en woede in sy stem. Sy het nie nou die lus of krag om hom te probeer antwoord nie. Die bodem het onder haar ook padgegee. Voel of sy wil verdrink in hartseer en verdriet. Oorswelg deur magteloosheid omdat hulle so ver van daar is. Niks kan doen nie. Hulle maak oor drie weke klaar met die eindeksamen en sou dan huistoe gegaan het vir ‘n welverdiende ruskans.
      Daar’s ‘n klop aan die deur. Oom Pieter kom binne voordat een van hulle daarop kan reageer.
      “Hier’s ‘n besoeker vir julle.” sê hy en staan eenkant toe sodat die besoeker verby kan kom.
      Zita kan haar oë nie glo nie. Sy spring op. Storm snikkend in Reinhardt se arms in. Voel hoe hy haar styf vastrek teen sy bors. Vertroostend met sy hand oor haar hare streel.
      “Reinhardt?” vra Zandré oorbluf “waar kom jy vandaan?”
      Hy kyk oor Zita se kop. “Ek en my pa het vanoggend ingevlieg. Ons moes so gou moontlik by julle uitkom om self die nuus aan julle te oor te dra.”
      “Ons weet al van gister af.” antwoord hy en wys na die koerant op die tafel. “‘n Joernalis van die Beeld het ons geskakel, ingelig oor die aanval.”
      “Ek weet. Jou oom het reeds gesê. Ek het die berig gelees. Nie alles wat daar staan is feitelik korrek nie.”
      Zita beur weg en kyk hom verslae aan.
      Hy beduie na die bank “Kom ons gaan sit, dan vertel ek julle presies wat gebeur het. Dis…”
     
      Oom Pieter val hom in die rede. “Wag, laat hulle eers kom groet en saam tee drink. Marie het reeds die koppies reggesit. Ons almal wil hoor.” Hy draai om en verlaat die vertrek. Hulle volg gedweë.
Oom Andries staan op toe hulle die sitkamer binnestap. Groet Zandré met ‘n stewige handdruk. Soen haar op die wang en gee haar ‘n bemoedigende drukkie voor hy weer plaasneem.
      “Dis ‘n verrassing om oom-hulle hier te sien.” sê Zita en kyk beurtelings van hom na Reinhardt.
      “Ja, kindta. Dit is net jammer dat dit onder hierdie omstandighede moet wees” antwoord hy en sy merk die simpatie in sy blik.
      Tannie Marie kom ingestap met die skinkbord. Reinhardt staan op om dit by haar te neem.
      “Sit sommer op die tafeltjie neer, asseblief Reinhardt. Elkeen kan maar hulself help.” sê sy en gaan sit langs oom Pieter.
      Hy maak so en neem weer langs Zita plaas. Plaas sy hand oor haar hand wat op haar skoot rus. Sy kyk skaam op.
      Een vir een skink elkeen hul koppie tee. Nadat almal geholpe is roer Oom Andries versigtig die onderwerp oor die aanval aan. Reinhardt onderbreek hom. “Wag Pa, laat ek liewer vertel.”
      Zita kyk hom vraend, dog angstig aan.
      Reinhardt vat ‘n laaste slukkie tee. Neem haar koppie en piering, buk vorentoe en plaas hul albei s’n teurg op die skinkbord. Vee oor sy mond en bedank Tannie Marie.
      Oom Pieter maak keelskoon en kyk na Reinhardt. “Nou ja toe, ons wag in spanning.”
      Reinhardt sug. “Waar sal ek begin?”
      “Begin by die begin. Ons wil alles hoor.” sê Zita sag.
      “Goed.” Hy skuif terug sodat sy rug teen die rugleuning rus. Plaas sy linkerenkel oor sy regterknie en neem haar hand vertroostend in syne. Kyk haar ‘n kort oomblik deernisvol aan.

      Sy sluk aan die knop is haar keel. Hy moenie so vir haar kyk nie. Nie soos sy op die oomblik voel nie. ‘n Traan loop oor haar wang. Hy haal ‘n sakdoek uit sy broeksak en bied dit vir haar aan. Dankbaar neem sy dit en vee die klammigheid van haar wang af.
      “Julle weet van die brand wat om die oord uitgebreek het een nag? Dink dit was die oggend toe julle vertrek het.” sê-vra Reinhardt om tyd te wen en sy gedagtes te orden.
      “Wel, terwyl almal gaan help het om die brand te blus, is die hoofhuis geplunder. Kaal gestroop. Dit wat die vuilgoed nie kon wegdra nie, is stukkend geslaan en verwoes.” Hy kyk af na Zita. “Dit was ‘n geweldige slag vir jou pa. Iets wat hy gladnie verwag het nie.”
      Zita byt op haar onderlip en sluk hard om haar emosies in bedwang te hou.
      “Heer van Brummel het glo woedend die veld ingestap. By die rivier op vier van die blikskottels afgekom waar hulle besig was om die buit onder mekaar te verdeel.” Reinhardt laat sak sy linkervoet op die grond, bring sy regtervoet op en laat rus dit oor sy linkerknie, sonder om haar hand te los.
      “Wat presies by die rivier gebeur het, weet ek nie. Jou pa het my net kortliks ingelig dat Jan van Brummel glo in blinde woede met sy vuiste onder die spul ingeklim het. Twee het op die vlug geslaan. Een bewusteloos vasgebind. En een se kop het hy teen ‘n klip verbrysel.”
      “Wat?” sê Zandré verbaas. “Ek glo dit nie. Nie Heer van Brummel nie!”
      “Was vir my ook moeilik om te glo.” gaan Reinhardt voort. “Maar hyself het ook nie ligtelik daarvan afgekom nie. Het ‘n diep kapwond aan die arm opgedoen, asook ‘n lelike sny bokant die oog en oor sy linkerwang.”
      Hy moes buite homself van woede gewees het, dink Zita, maar sê niks.
      “Hy het geweier dat jou pa hom invat kliniek toe. Was bang hy word aangekla vir moord en toegesluit. Hulle het by my kom hulp soek.”
      “Wat het van die bewustelose man geword?” vra Oom Pieter
      “Sover ek weet, het hulle hom in die buitekamer toegesluit. Inligting uit hom probeer kry.”
      “Nou wanneer…”

Reinhardt verwissel weer sy bene. “Ek kom nou daarby, Oom.” sê hy en kyk af na Zita. Gee haar hand ‘n drukkie.
      “Twee dae later het ons deur die nag wakker geskrik van ‘n aanhoudende geroep oor die burgerband-radio. Dit was jou pa. Hy het geskree vir hulp. Gesê hulle brand. Oor en oor tot dit later stil geword het.”
      Zita trek haar asem skerp in. Begin hartverskeurend snik. Tannie Marie staan op. Kom sit langs haar op die armlening om haar te troos.
      “Ek dink ons kort iets sterker as tee.” sê oom Pieter en staan op. Stap uit. Kom na ‘n rukkie terug met ses kelkies Old Brown Sjerrie. “Dit behoort die emosies te kalmeer.” Hy oorhandig aan elk ‘n glasie. Reinthardt vat haar glasie ook.
      Sy vee haar oë met sy sakdoek af, blaas haar neus en gee nog ‘n paar droë snikke. Neem dankbaar die glasie sjerrie by hom en sip daaraan. Dit brand in haar keel.
“My arme, arme pa.” snik sy gebroke en voel die trane weer in haar oë opdam.
      Reinhardt neem die kelkie uit haar hand. Sit dit op die tafeltjies langs hom neer en plaas sy arm om haar skouer. Trek haar nader sodat sy met haar kop teen sy bors lê. Streel saggies met sy ander hand oor haar hare. “Sjuuu…saggies, my lief.” troos hy fluisterend by haar oor. Die woordjie “lief” ontgaan haar nie en sy kyk betraand op na hom. Sien die teerheid in sy oë wat deurslaan in sy stem. Dit vang haar onkant, maar die behoeftes na koestering is nou oorheersend en sy gee haar vir ‘n oomblik oor aan die hitte van sy nabyheid, terwyl sy saggies oor haar ouers ween.
      “Ons sal haas aanstaltes moet maak as ons nog vanaand wil terugvlieg.” verbreek Oom Andries die stilte en kyk na Reinhardt.
      “Moet julle al vanaand teruggaan?” vra Tannie Marie. “Julle is welkom om hier te oornag.”
      “Sou lekker wees, maar ek het ‘n pasiënt by die huis.” antwoord Reinhardt
      Zita sit regop. Kyk hom hoopvol aan. “’n Pasiënt…?”
      “Ja, Heer van Brummel. Ons het hom as dood in die veld gekry. ‘n Hele ent van die opstal. Brandwonde oral oor sy lyf. Hy hoort in ‘n hospitaal, maar weier. Dat hy nog lewe is ‘n wonderwerk.”

      “En my pa?” vra Zandré hoopvol.
      “Ek dink ek moet aangaan waar ek opgehou het.” sê Reinhardt en kyk beurtelings na die ander.
      Zita knik en kyk hom afwagtend aan.
      “Ons het dadelik oord toe gejaag. Kon van veraf die vlamme sien. Die hitte was ondraaglik. Daar was niks meer wat ons kon doen nie. Die hele huis was in ligte laaie.”
      “Neee…” kreun Zita hardop.
      “Ons kon maar net sit en wag dat die vuur homself uitwoed. Later gesien hoe die dak ineenstort. Dit was nie ‘n mooi prentjie nie.” Hy sluk en geen ‘n diep sug.
      Zita hou ‘n bewende hand voor haar mond. Haar oë skiet opnuut vol trane. Wat ‘n aaklige dood vir enige mens om te sterf. Haar pa…
      “Waar was die werkers? Hoekom het hulle nie kom help nie?” vra Oom Pieter fronsend.
      “Daar was geen siel in sig nie. Die twee honde het dood by die hek gelê.”
      Zanré spring op. “Hoe kon hulle! Hoekom óns oord target?” Sy lyf bewe van ingehoue woede.
      Oom Andries maan hom tot kalmte. “Kalmeer, ou seun. Ons vermoed dit was wraak oor die man wat Heer van Brummel doodgeslaan het. Maar ons is nie seker nie.”
      “Is my pa…?” Zita kom nie verder nie.
      “Ons het geen liggame in die puin gevind nie. Weet dus nie of jou pa…” gaan Reinhardt voort. “Dalk kon hy en Heer van Brummel betyds wegkom.”
      “Daar is dus ‘n kans dat my pa nog lewe?” vra Zandré hoopvol.
      Reinhardt trek sy skouers op. “Ons weet nie. Wil julle nie vals hoop gee nie.” Hy druk sy hand in sy broeksak en haal iets uit. Hou sy toe hand uit na Zita. “Dé, ek het dit in die puin opgetel.”
      Sy maak haar hand huiwerig oop. Hou dit onder sy hand. Voel hoe hy iets kouds in haar palm laat val. Kyk verwonderd daarna. Dis haar ma se pêrelhangertjie. Ongeskonde. ‘n Geskenk van haar pa. Sy het dit help uitsoek verlede kersfees. Koesterend vou sy dit toe. Kyk dankbaar na Reinhardt. Sluk verby die brandpyn in haar keel.
      Oom Andries staan op. “Ons sal ongelukkig nou móét gaan.”
      Reinhardt trek haar saam op. Almal stap uit na waar die huurmotor geduldig staan en wag. Hy groet haar innig en plant ‘n soentjie op haar voorkop.
      “Julle is welkom om na afloop van die eksamen by ons te kom kuier.” sê Oom Andries na die groetery. “Laat weet net dan kom haal ek julle.”
      “Ja, asseblief…” koor Zita en Zandré gelyk en kyk vraend na Oom Pieter.
      Hy plaas vaderlik sy arms om hulle skouers. “Ons kan later daaroor praat. Totsiens en veilige reis.”
      Zita kyk die vertrekkende huurmotor verwese agterna. Dit voel of ‘n deel van haar saam daarmee om die draai verdwyn.
     
(Totale woordtelling 21,325)




56



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lynlopers 8
ai Driekie die verhaal is so intens boeiend en interessant.. kan nie wag vir die volgende aflewering nie!!
5 jaar 1 week 1 dag 21 ure oud


8
Ai jinne, ek is skoon uitgeput van al die emosie wat in hierdie hoofstuk verwek is. Ek sal nie ophou wonder tot ek verseker weet wat van Zander geword het nie. Voel eintlik effe hopeloos.

Alweer puik gedoen!!!

Moontlike regstellings:

ongeveer 850km geleë anderkant die Lebombo-grenspos. - ongeveer 850km anderkant die Lebombo-grenspos geleë.

Hulle het die afgelope drie jaar in Mosambiek gewoon en gewerk -Hulle woon en werk die afgelope drie jaar in Mosambiek.

Die bodem het onder haar ook padgegee - klink anglisisties, wat van: haar wereld is geskud of iets dergeliks?

huistoe - huis toe

Soen haar op die wang - Soen Zita op die wang

Zanré spring op. - Zandré spring op.
5 jaar 1 week 3 dae 20 ure oud


Lynlopers 8
Ok, nou gee ek jou sommer applous!!!!!!! Baie, baie goed geskryf, Driekie. Mens voel die magtelose woede aan en wil sommer self inklim en gaan help. :))
5 jaar 1 week 3 dae 23 ure oud


lynlopers
elke keer as jou verhaal lees dan voel ek of ek die blikskottels kan gaan iets aandoen. Pragtig geskrywe.
5 jaar 1 week 4 dae 2 ure oud


lyn
Baie boeiende verhaal wat jy hier skryf, Driekie en jy vertel die storie regtig baie goed. Sterkte met die res :-)
5 jaar 1 week 4 dae 5 ure oud



Tong in die kies

deur Delene de Wet

My menswees: my blydskap, humor, nostalgie, ironie, walging en poppies uit pram gooi, en ja, natuurlik ook vuurwarm liefde in die vorm van kortverhale, gedigte, monoloë en briewe. Die boek is 'n gesprek met jou, die leser, want op die einde van die dag is ons eintlik almal besig met dieselfde avontuur in die soeke na oorlewing.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar