Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Milah sluit saggies die hoofslaapkamer deur oop. Daar is ‘n geklingel en ‘n geskarrel in die kombuis. Dit klink soos iemand wat skottelgoed was, of iets soortgelyks. Sy is nie heeltemal seker nie, maar sy is doodseker dat dit Ian is. Milah druk die deur magteloos toe. Sy het opgestaan met ‘n hoofpyn en seer lyf. Sy hoop nie dat sy verkoue of nog erger, griep onderlêde het nie. Sy sal wag vir kantoorure om haar huisdokter te bel vir ‘n voorskrif. Sy weet dat sy nie dadelik ‘n afspraak sal kan kry op so ‘n kort kennisgewing nie. Die medikasie en teenmiddels wat sy in die huis aanhou sal sy nie tydens haar swangerskap mag gebruik nie. Milah stoot die slaapkamerdeur saggies toe. Kan die paar dae nie maar net ‘n droom wees waaruit sy enige oomblik kan wakker skrik nie? Sy maak haar oë toe, vou haar hande saam en stuur tevergeefs ‘n skietgebed op. Al weet sy dat Ian nie net sommerso uit haar lewe sal verdwyn nie. Louw sal nie terug by die huis wees nie. Dit laat haar glad nie vrolik voel nie. Die droom is ‘n realiteit. Dit is nie ‘n pragtige sonskyndag nie. Die wind sis om die hoeke van die huis. Dit is bewolk. Dit lyk of dit buite gaan reën en in haar hart. Milah voel goor, morbied en sy het nie die energie om ‘n stryd met Ian te voer nie. Milah knyp haar oë toe en stuur weer ‘n skietgebed op, maar hierdie keer ‘n meer realistiese een. Al waarvoor sy vra is krag vir nog ‘n dag.

Milah sug en stap moedeloos van die venster na haar laaikas toe om die dag se klere uit te kies en reg te sit. Sy het so gehoop dat Ian al teen hierdie tyd sou opgee en aanbeweeg met sy lewe. Elkeen wat betrokke was wil hierdie hoofstuk in hulle lewe afsluit. Op haar bed sit sy ‘n gewone lang mou, af knoop en wit hemp uit.
Ian het Milah verbaas met sy vasbeslotenheid en het liewer ongenooid sak en pak by haar ingetrek. Hy is ook baie meer wisselvallig as wat sy hom geken het. Sy voel asof sy die hele tyd op ys moet loop. Sy weet nie hoe om rondom hom op te tree nie. Een oomblik sê hy vir Milah dat hy niks met haar te doen wil hê nie. Die volgende oomblik smeek hy vir nog ‘n kans by haar voete. Hy het nog nooit voorheen so onreëlmatig opgetree nie.
Milah het al telkemale aan hom verduidelik dat wat tussen hulle gebeur het, ‘n groot fout was. ‘n Fout wat sy berou, wat in die verlede is en nooit weer herhaal mag word nie. Sy het uitdruklik vir hom gesê dat sy vir Louw lief het. Haar hart het nog altyd net aan Louw behoort en niemand anders nie. Milah het elke woord daarvan bedoel en is seker dat Ian nie een woord daarvan geglo het nie. Ian hou vol dat sy die ‘een’ is vir hom.
“Ons is vir mekaar bedoel. Jy sal sien,” redeneer hy elke keer. Dit voel vir haar elke keer wat sy vir hom vra dat hy asseblief moet opgee, hoe meer vasbeslote raak hy om te bly. Asof hy iets het om aan haar te bewys. Hy weet maar net nie, maar hy gee haar elke keer meer redes om te waardeer wat sy gehad het. Waarvoor sy nou voor veg om te behou.
Milah kan nie tussen ‘n denim rekbroek of ‘n gewone swart broek kies nie. Sy plaas albei netjies op die bed langs die af knoop hemp. Voordat sy gaan stort haal sy ‘n baadjie en ‘n serp ook uit. Die weer het ‘n lae maksimum temperatuur voorspel en aangesien sy bietjie siek voel wil sy nie baie waag nie nie.

Milah het besluit dat die swart broek die beter keuse was. Sy trek dit en die af knoop hemp aan en gaan sit sy by die spieëlkas om haar gesig te grimeer. Ian stap ongenooid in. Sy verwens haarself omdat sy nie die slaapkamerdeur weer gesluit het nie.
“Die ontbyt is klaar.”
Dit gaan Milah se verstand te bowe dat Ian nog steeds hier is. Sy verstaan dit nie. Sy gee hom geen aanleiding dat hy welkom is nie. Milah het aangeneem dat Ian dink as hy huis-huis met haar speel dat alles weer fluit-fluit sal terugkeer soos dit was. Dieselfde as ‘n slot van ‘n sprokie, maar hierdie is nie ‘n feëverhaal nie dink Milah. Sy glimlag vir haar eie sarkasme.
“Ek het vroegoggend ‘n afspraak by my huisdokter. Ek is amper op pad, maar dankie, ” sê Milah vir Ian, terwyl sy haar maskara aanwend. Die spieël reflekteer hoe sy liggaam ongemaklik verstyf. Milah voel tevrede met haarself dat sy so goed vir hom kon jok.

Oor minder as ‘n week kom Louw terug huis toe. Oor minder as ‘n week kan Ian nie hier wees as Louw terugkeer nie. Milah sal ‘n plan moet maak. Milah weet dat sy iemand moes genader het nog voor hy met sy bagasie by die voordeur ingestap het. Terwyl sy hierdie situasie nog kon verhoed, moes sy vir hulp gevra het, maar sy was naïef genoeg om te glo dat sy altyd self ‘n oplossing kan vind. Sonder hulp. Dit is waarom haar en Louw se huwelik ook amper op rotse uitgedraai het. Sy het gedink dat sy dit kon red, maar sy weet nou dat hulle baie hulp sal nodig hê. Nou het sy ook iemand se hulp nodig met Ian. Milah het hom al meer as eenkeer gevra dat hy moet uittrek. Sy het al, al sy besittings gepak en dit tesame met hom by die huis uitgesluit. Dit het nie gewerk nie. Ian het elke keer terug gekom en dit net afgejak as kastige verhoudings probleme wat hulle ondergaan. Vir een of ander rede is hy steeds onder die indruk dat hull in ‘n verhouding is. Sy moet hulp van iemand verleen en sy het die perfekte persoon ingedagte.
“Ek sal vir jou wag. Net soos altyd,” Ian se stem is verniet vol hoop, dink Milah. Sy weet sy het geen rede nie, maar sy voel jammer vir Ian. Al is hy nie die mens wat sy gedink het hy is nie, verdien hy ook geluk. Milah wens net hy wil aanvaar dat sy geluk nie saam met haar is nie.

Voor Milah op pad is na HKL gooi sy die serp om haar nek. Daar is nog om en by ‘n uur oor voor sy die spreekkamer kan skakel vir ‘n voorskrif, maar sy sal enige iets doen om uit die huis te kom. Buitendien het sy besluit dat die enigste persoon wat haar nou sal kan help niemand anders as haar skoonpa is nie. Tiaan kon sy nie betrokke maak nie, hy is Louw se beste vriend en hy sou dit met hom bespreek het. Louw het nie nodig om homself onnodig te bekommer, want hy gaan nie iets aan die situasie kan verander waar hy nou is nie. Sy het ook nie regtig iemand anders met wie sy sou vertroulik voel nie. Milah voel baie skaam oor die hele situasie, maar dit kan nie langer so aangaan nie. Louw kan nie terugkom nadat hy ontslae geraak het van een probleem, net om nog een in die gesig te staar nie. Ian moet uitrek. Hannes Breytenbach is die enigste een waarna sy nou sal draai om hulp te verleen. Milah hoop net dat hy gewillig sal wees om dit vir haar te gee.

Behalwe vir ‘n paar nuwe gesigte het HKL nie veel verander nie. Milah sien dadelik vir Liana raak en wuif haar nader. Al het sy na hierdie plek en haar werk verlang, sal sy nooit weer vir HKL werk nie. Die plek behou te veel slegte herinneringe. “Alles met ‘te’ voor aan is verkeerd, behalwe tevrede,” het haar ma altyd gesê. Liana groet haar vriendelik en Milah vra haar dadelik of sy vir Hannes kan sien.
“Meneer Breytenbach sal jou oor so ‘n halfuur sien,” stel Liana vir Milah in kennis.
“Dankie Liana,” Milah onderbreek haar dadelik geïrriteerd en wonder waarom Liana so formeel is. Hannes is nie meer ‘n meneer vir haar nie. Hy is nie meer haar besigheids bestuurder nie. Hy is nou nét haar skoonpa.
“Sal jy asseblief vir hom sê dat ek in Louw se kantoor wag?” Milah besef dat haar irritasie meer gemik is na Hannes en probeer om vriendeliker te klink.
“Geen probleem nie,” Liana knik vriendelik en komplimenteer ook vir Milah dat sy goed lyk. Hulle gesels vlugtig oor mekaar se welstand. Vandat die waarheid uitgekom het, het hulle nie meer nodig om mekaar te vermy nie. Hulle voel meer vertroud met mekaar om ‘n opregte vriendelike geselskap aan te knoop. Aan die een kant is Milah baie dankbaar daarvoor, omdat sy en Sonja nie meer vriende is nie. Liana vertel grapperig vir Milah in ‘n Hannes na-aap stem dat hy gesê het as sy nie so ‘n goeie persoonlike assistent was nie, dat sy haar werk kwyt sou gewees het.
“Ek is bly vir jou. Jy is goed in jou werk,” Milah is opreg bly dat Liana haar pos kon hou na die raadsaal fiasko wat sy veroorsaak het.
“Dankie Milah. Ek hoop jy word gou gesond,” groet Liana en stap aan toe Milah by Louw se kantoor binnegaan.

Milah het Louw se kantoor vir ‘n rede gekies. Dit is die enigste manier van troos vir haarself om naby aan hom te voel. Terwyl sy vir Hannes moet wag, wil sy sommer van die kans gebruik maak om ondersoek in te stel vir nog moontlike weg gesteekte drank. ‘n halfuur behoort genoeg te wees. Miskien het Louw reeds ontslae geraak daarvan, maar sy moet seker wees. Sy wil doodseker wees. Milah begin dadelik skarrel in die laaie van die lessenaar. Die eerste laai is vol verskeie skryfbehoeftes. Sy sien die bekende goue Parker pen wat sy slegs nog eenkeer vir haar gewys het. Louw se ma het dit vir hom een jaar gegee na ‘n besoek aan die hospitaal vir haar chemo. Milah haal die pen uit en lees weer die bekende woorde daarop gegraveer: Jy is my Rede. Louw se ma het slegs behandeling ondergaan vir haar kinders. Nee, dink Milah, hier sal nie ‘n onwelkome alkohol bottel saam hierdie spesiale besitting wees nie. Die tweede laai het ‘n klompie los dokumentasie, sy afspraakboek en ‘n boks ontbyt koekies. Dit is te vol. Daar is verskillende demo’s van verskeie mense in die derde laai. Sy skyf ‘n paar van die CD’s rond met haar hand en vind onder die een ‘n gebruikte whiskey glas. Sy haal dit uit. ‘n Bietjie whiskey het daarin droog geraak en ‘n ring onder by die bodem gevorm. Bingo! Die vierde laai sal definitief “goue vloeistof” bevat soos Louw dit altyd noem. Hannes betrap vir Milah met ‘n bottel Johnny Walker blue label in die hand.

“Môre Milah, ek het gewonder waarom die wolke so saampak,” groet hy haar in sy kenmerkende snobistiese manier en toe hy by die deur breëbors instap. Milah vries vir ‘n oomblik en staar terug na Hannes wat selfvoldaan en verwaand terug na haar staar.
“Hallo pa. Hoe gaan dit?” Sy voel soos ‘n dief in die nag en haar ongemaklike glimlag verklap daardie skuldige gevoel.
Hy gaan sit agteroor op die leerstoel en plaas sy voete voorbarig op die lessenaar. Milah gaan sit dadelik gemaak op die ander stoel teenoorgestelde van Louw se lessenaar.
“Die besigheid floreer. Kobus trou binnekort. Ek word oupa. Dit gaan uitstekend met my,” hy kyk na haar met ‘n breë glimlag.
Milah wonder hoe hy na Louw kan verwys sonder om sy naam te noem. Dis nie net Hannes wat oupa word nie. Louw word pa! Miskien is sy ‘n bietjie fyngevoelig. Miskien voel sy ook ‘n bietjie kwaad teenoor hom omdat sy verleë hier is en hy haar soos vullis laat voel.
“Maar kom ons wees eerlik met mekaar. Jy het nie gekom om te hoor ‘hoe dit gaan nie’,” die laaste vier woorde rek Hannes uit om dit te beklemtoon, dan gaan hy voort om te vra; “Jy en Louw is presies dieselfde. Julle ken my net as julle verleë is. Wat kan ek vir jou doen Milah?”
Hannes het maar net ‘n gawe om ‘n mens so klein soos ‘n sandkorreltjie te laat voel indien hy nie veel van jou dink nie. Vandat hulle mekaar ken, het sy en haar skoonpa nie ‘n baie goeie verstand houding met mekaar nie. Louw se wankelrige verhouding met sy pa het ook ‘n invloed daarop gehad. As gevolg daarvan en nadat Louw se ma oorlede is, het hulle vir Hannes selde gesien. Sy kon hom nog nooit verdra nie, omdat Kobus, Louw se ouer broer, Hannes se kroon prins is. Hannes het altyd vir Louw minderwaardig behandel. Hy het selde iets goeds te sê oor sy seun en vir Kobus prys hy links en regs. Milah het agtergekom dat Louw moes gatkruip om net ‘n bietjie goedkeuring van sy pa weg te dra. Milah dink dit is wat grotendeels ‘n aandeel het in hoe sy oor Hannes voel, want maak nie saak hoe hy sy seun behandel nie, Louw het steeds nie ‘n slegte woord oor sy pa te sê nie.

“Pa, ek het jou hulp nodig,” antwoord Milah na ‘n ruk se stilte en probeer om opreg nederig te klink. Wat Hannes genoem het is halfpad waar, maar dit is net omdat sy en Louw albei ewe trots is. Dit verg ook elke greintjie van haar om daardie trots nou te sluk en te vra waarvoor sy eintlik gekom het.
“Ek het vergaderings wat ek moet bywoon Milah. Gaan jy my sê waarmee ek jou kan help?” sê Hannes ongeskik en loer vlugtig na sy horlosie.
Milah antwoord blitsvinnig; “Met Ian van Deventer.”
“My beste kitaar speler,” Hannes frons vir ‘n oomblik. Milah besef dat Hannes nie op hoogte is met die hele storie nie. Hy dra nie kennis dat die derde party aan haar kant, Ian was nie.
“Wat van hom?”
Milah besef dat sy oop kaarte sal moet speel, want om net vir Hannes te vra om van hom ontslae te raak sal nie die beste opsie wees nie.
Dit walg haar hom die volgende woorde te uiter; “Hy was die ander man,”
Milah sluk ongemaklik hard toe sy sien dat Hannes se oë rek. Spyt kom altyd te laat, sal die bekendes sê dink Milah omdat sy voel hoe ‘n tikkie daarvan aan haar hart trek. Dit is nou te laat om haar woorde terug te trek.
“Hy teister my. Ek is raadop, want hy het ongenooid by my ingetrek. Ek het al alles probeer om van hom ontslae te raak. Hy wil niks weet nie, want hy glo dat ons nog in ‘n verhouding is. Hy moet weg wees voor Louw terugkom.”
“Wel, is julle?”
“Is ons?” vra Milah deurmekaar.
“Is jy en Ian nog in ‘n verhouding?”
“Nee!” Milah frons vies. Sy weet nie eers waarom Hannes dit moes vra nie.
Hannes lag sinisters; “Lyk my alles bly in die HKL familie.”
Milah dink glad nie dat sy grappie snaaks is nie.
“Ek verstaan nie waarom jy hier is nie. Jy is die een wat jou bene oopgemaak het en toe sleep jy my seun saam in hierdie gemors. En dan mik jy nogal laer ook. Wat het jy gedink sal ek nou kan doen? Jou standaarde kan verbeter?”
Dit is stil vir ‘n oomblik. Nou weet Milah presies waarom sy nie haar skoonpa, of liewer, Hannes Breytenbach kan verdra nie. Sy voel nou nog minder as ‘n sandkorreltjie. Sy voel soos ‘n greintjie stof. Soos niks. Sy is stom geslaan.
“Ek weet nie Pa. Ek het gedink jy sal weet wat om te doen. Hom dalk kan dwing om my huis te verlaat. Jy is sy baas. Jy is Louw se pa.” Milah bars uit in trane. Sy staan op, gereed om uit te stap en van hierdie episode te vergeet. As hy haar nie wil help nie, kan hy gaan doppies blaas. Sy het nie hierheen gekom sodat hy haar kan verkleineer nie. Sy weet dit is haar skuld, sy ontken dit nie. Maar niemand is ‘n engeltjie in die situasie nie. Nie Louw nie en ook nie hý nie.
“Wil jy hê ek moet hom afdank?” vra Hannes geamuseerd voor Milah kon omdraai om uit te stap.
“Ja!” Milah val dadelik in die strik wat hy vir haar gestel het.
“Ek bedoel,” probeer Milah die antwoord wat haar geskok het verander.
“En toe is ek en jy van dieselfde veer,” val Hannes haar in die rede. Hy staan op en stap tot by die deur.
“Ek sal kyk wat ek kan doen.” Hannes verdwyn by die kantoor uit nog voor Milah iets kon sê. Milah weet nie wat om met daardie woorde te maak nie. Hy het nie gesê dat hy haar sal help nie, maar hy het ook nie “nee” gesê nie. Milah voel soos ‘n skurk.

Die son sit hoog toe Milah HKL verlaat met ‘n mismoedige hart. In haar motor bel sy haar Ph.D. dokter om vir haar ‘n voorskrif na die naaste apteek te faks. Haar gemoed lê op die grond. Sy voel fisies en emosioneel goor.
Milah se teks boodskap deuntjie lui toe sy voor die apteek stop. Dit is van Louw af: “Ek tel die dae af. Nie meer lank nie dan is alles weer soos dit hoort. Ek, jy en ons twee pruimpies. Ek is ontsaglik lief vir jou”. Sy het gevra vir krag van bo en is dankbaar dat sy dit ontvang het.
Milah handig haar mediese kaart oor die toonbank vir die apteker. Die dokter wou weet hoe dit gaan en sy kon nie vir hom jok nie. Die dokter het gesê dat sy vir Milah solank verkoue pille gaan voorskryf wat nie nadelig sal wees vir die swangerskap nie, maar dat Milah hom asseblief so gou moontlik moet kom sien. Milah stem in en die dokter sit haar deur na die ontvangs waar sy ‘n afspraak skeduleer.
Sy neem die sakkie met pille en gaan betaal die bybetaling by ‘n ander toonbank.
“Dag sê,” groet die dametjie vriendelik asof sy vir Milah al baie lank ken, “As ons vir mamma gesond kry sal baba ook gesond wees. Hoe vêr is jy al?”
Milah het haar geantwoord en sy het dit net verbaas beklemtonend herhaal; “Víér máánde?”
“Ja, dis ‘n tweeling.”

Aantal Woorde: 3105
Totale Woorde: 16865

© Kopiereg Voorbehou – L Badenhorst





*Aan al my Mede Woesters, die wat my storie geniet en dit ondersteun;

Ek vra opreg om verskoning dat ek die laaste ruk AWOL was. Ek is hard besig om op te vang met my agterstallige werkstukke.

Ek is nie heeltemal vol vertroue dat ek teen einde Junie “die boek” sal voltooi nie. Dit beteken nie dat ek sal opgee nie. Dit beteken ook nie dat ek gaan ophou om my werkstukke te plaas tot Ons REDE klaar is nie. Ek wil verdienend kan sê dat ek ‘n boek voltooi het! So moet ASB nie ophou lees, raad gee en reghelp nie.

Ek waardeer dit nog altyd opreg.

Ek hoop dat julle steeds *Ons REDE* kan geniet. Almal is welkom om kommentaar te lewer en of my privaat (per e-pos) te laat weet wat julle dink.

Laastens, ek belowe om ook op te vang met elkeen se aspirante boeke!

***Dankie
***LFB



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ons Rede 7
• Hoe het die geveg geëindig? Hoe is ons skielik waar ons is in hierdie hoofstuk? Cliffhangers is aksie wat van een hoofstuk dadelik oorspoel in die volgende een in.
• Hoekom het sy nie Tiaan of iemand gebel om ontslae te raak van Ian nie? Wat was haar denke en emosies daaragter?
• Show, don’t tell.
• As Louw nie besoekers mag hê nie, waarom kan Tiaan hom kontak in rehab?
• Laat Hannes haar altyd so voel? Wys vroeër in hoofstuk haar emosies hieroor.
5 jaar 4 maande 3 weke 15 ure oud


Ons Rede 7
Welkom terug Zellie, ek het gewonder wat van jou geword het.
Pragtige skrywe en ek kan nie wag op die volgende hoofstuk nie.
Jy sal moet roer!
5 jaar 8 maande 1 week 22 ure oud


7
Zellie baie geluk met jou besluit om die leisels weer op te tel en hierdie wa deur die drif te kry!!

In hierdie hoofstuk laat daai skoonpa my sommer woedend raak vir sy superioriteit. Ek hoop nie haar siekte is ernstig nie. Nou sal el moet wag en sien.
5 jaar 8 maande 1 week 1 dag 23 ure oud


rede 7
Het nogal gewonder of jy opgegee het met hierdie pragtige verhaal
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 2 ure oud


Milah
Jou karakeruitbeelding is uitstekend!

Ek het lekker gelees en sien uit na die volgende hoofstuk!
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 8 ure oud


Mooi
Welkom terug en ek is bly om te sien jou boek vorder so mooi!
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 8 ure oud


Rede 7
Ag man, ek is sooooo bly jy en jou boek is weer op dreef. En moenie eers daaraan twyfel dat ons jou gaan bystaan nie.
PUIK hoofstuk Zellie!!! Alles van die beste vorentoe :))
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 11 ure oud


Rede 7
Ai ek het weereens heerlik gelees.. Bly jy het weer begin plaas!!! Wag in spanning vir die res van jou verhaal
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 16 ure oud


ons
Dankie vir die lekker lees en sterkte verder. Aanhouer wen.
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 19 ure oud



Die Storie agter die Storie

deur Christo Nel

'n Bybelse dagboek waarmee jy in 'n halfjaar se tyd dwarsdeur die hele Nuwe Testament, sy verhaal en "nuwe wyn-waarhede" kan werk.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar