Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Die weer gode is boos. Voorjaar se donderwolke tol, bondel, drom saam, skuur teen mekaar, ontstook reusagtige elektriese blitse wat op die Aarde neerskiet, die ysterkranse tref, en rook en knal en swaar swaelreuk oor die dorpie heen stuur.
Die eerste druppels kom met plof-plof, een-een op die dak neer. Dan, asof deur die woedende stormwind aangejaag, kom al meer en meer totdat die sluise van die hemele open en die water in swiepende, woede gordyne op die Aarde neerstort; Groterwordende strome vorm wat die dakgeute oorstroom en met oorverdowende geraas in watergordyne van die dak afstroom.

................

Hoog teen die berg op het die onverwagse storm ook die groot grys wolf onkant betrap.
Sluipend onder deur die digte struikgewas, baan hy sy weg op na die uitkyk troon, die oorhangende rots, toe die weerligstraal met een magtige ontlading die ysterklip tref, ʼn stuk afbreek wat tollende, tuimelend na benede stort en al wat struik, bos, tak en los rots is saamsleep.
Die dik stam van die koorsboom skild ʼn vallende rots weg van die grys wolf en dit tref hom skrams skuinsweg teen die linker heup, hard genoeg om die heup te ontwrig.
Met ʼn tjank van die snerpende pyn, sak die wolf op die grond neer en met ʼn laaste wanhopige poging sleep-trek hy homself nader teen die koorsboom se stam as skuiling.
Hulpeloos, verkreukel en in pyn, verduur hy die woede van die storm, magteloos om enigsins verder aan te beweeg en hopeloos ontneem van alle magiese kragte, lê Doktor Pierre de la Harpe in sy metaforiese gedaante as die grys wolf, krullende van die pyn.
In hierdie staat van swakheid, is dit vir hom geestelik en fisiek onmoontlik om terug te keer na sy menslike staat.
Hopende op hulp, stuur hy sy weemoedige weeklaag teen die kranse uit, vanwaar dit weerkaats na die opstal onder aan die voet van die berg en waar die ander wolwe se gevoelige ore dit optel en hulle soos een in ʼn koor saam ween.

........................

Mariana, is agter haar lessenaar in haar kantoor besig. Sy staan op en trek die swaar gordyne voor die venster oop om die volle geweld van die storm te aanskou.
Dit is ʼn presiese weergawe van haar gemoed toestand die afgelope twee weke.
Met talle onbeantwoordbare vrae wat deur haar woed, swerf sy deur die Internet op haar rekenaar.
Soekend, tastend na die onwerklikheid, na dit wat sy weier om te glo en te aanvaar.
Doktor Pierre de la Harpe ...
Half wolf? Half mens ?
Onmoontlik. Fiksie. Twak.
Die man is ʼn mens met ʼn wese en ʼn siel en warmte en sensitiwiteit en afkoms en opvoeding en ...
Sy ontsaglike liefde vir diere, presies net soos sy, Mariana self wat die hoogste punte verwerf het gedurende haar studie vir Veearts.

Mariana, woedend, huilend, verstaan nie, maak die venster wyd oop en die gietende reën woed die vertrek binne, en giet haar stroom nat en die wind waai haar kamerdeur met ʼn harde klap toe.
Haar moeder hoor dit in die kombuis waar sy aandete voorberei, los alles en storm die gang af na Mariana se studeerkamer.
Sy druk die deur oop gaan na binne en die wind ruk die deur uit haar hand en dit klap weer toe.
Sy sien Mariana voor die oop venster met die swiepende reën nat swaaiende gordyne en die water wat van haar afstroom.
Moeder storm vorentoe, ruk die venster toe en plaas dit op knip, vat die huilende Mariana om haar nat, rukkende skouers, trek haar weg van die venster en maak haar sit op die stoel voor die spieëlkas.
Sy kry ʼn handdoek van die hake af teen die muur agter die deur en begin Mariana droog vryf.
“My kind, genoeg is genoeg. Wat is verkeerd met jou. Dit is nou twee weke wat jy so deurmekaar is. Ek kan dit nie meer hanteer nie. Jy moet nou uit daarmee. Praat, vertel my ek is tog jou Ma!”

Buite kom die storm tot bedaring, die wind gaan lê en sagte deurdringende reën val neer.
In die kamer kom Mariana ook tot bedaring. In die rustige warme arms van haar moeder, vind sy vertroosting maar het genoeg sekerheid om nie op hierdie stadium met haar moeder oor haar probleem te praat nie.
Sy weet, Moeder sal dink sy raak van haar kop af.
“Ma, dankie. Dankie vir ma se liefde en glo my, ek is nou beter. Ek sal, sodra ek sekerheid het, vir ma vertel wat my pla. Ek gaan nou bad en verklee vir die aand. Sien vir ma by die etenstafel.”
Hulle eet in stilte en in haar moederlike wysheid, vra haar moeder geen vrae nie wetende dat Mariana wel sal uitgooi een of ander tyd.

Later kruip Mariana in en verval in ʼn rustelose, rondrol, droom-droom-droom slaap van Pierre wat voor haar rondbeweeg en haar hartsnare ontstig.

...........................

Peter Hulme se hele nagrus is verstoor deur die onophoudelike geweeklaag van die wolwe in hulle kampe net na die storm bedaar het.
Hy verstaan nie waarom Pierre nie opstaan en die wolwe gaan stilmaak nie.
Teen ligdag trek Peter aan en gaan na die woonhuis. Hy deurkruis die huis op soek na Pierre en gaan eindelik uit na die wolwe wat nou waansinnig teen die hoë heinings opspring.
Hy is lank genoeg in Pierre se diens om die boodskap te kry en onraad te vermoed.
Peter druk die knoppie wat die hekke van die wolwe oopmaak en vergeet dat alle hekke opmaak wanneer die knoppie gedruk word.
Hy wil wegskram van die een wolf wat op hom afstorm maar kom met verbasing agter dat die wolf geen aggressie het nie maar hom aan die baadjie se mou saamsleep agter die ander wolwe aan.
Hy volg strompelend terwyl die wolf sy baadjie se mou in die bek vashou en deur die bosse en krappende takke haas Peter homself agterna.

Halfpad die berg op kom Peter en die begelei wolf op die res van die trop af waar hulle om die grys wolf saamdrom en lek en blaf en tjank.
Peter het hierdie wolf nog nooit gesien nie en in die lig van die opkomende son sien Peter met ʼn skok die lam wolf se oë en kan sy ore nie glo toe hy uit die wolf se bek hoor, kreun geluide wat klink soos die Veearts se naam: Mariana nie.
In die onnatuurlike posisie wat die wolf lê, sien Peter hier is moeilikheid en hy vryf die grys wolf se kop, draai om en haas hom terug huis toe.

Peter is lank genoeg in Pierre se diens en het al die ongelooflikste vreemde dinge en gebeurtenisse beleef; Dinge wat verby die bonatuurlike strek, sedert Pierre se vader se lewe, vir wie hy as jong man begin huis hou het.

.........................

Mariana se slaap word gesteur deur die lui van haar foon. Vaak en nie juis lus om te antwoord nie, strek sy uiteindelik haar hand uit, kry die Sel foon op die bedkassie en antwoord met haar droë keel, en vaak stem.
Sy ruk regop toe Peter homself bekend stel en die nood tyding gee:
“Juffrou Mariana, ek weet nie waar is Doktor Pierre nie, maar jy moet gou kom en ʼn draagbaar saambring asseblief. Daar lê ʼn wolf hoog teen die berg op en dit lyk of sy rug af is.”

Dinge gebeur in tyd van nood vinnig. Mariana kom met ʼn spoed by die opstal aan en Peter het vier werkers gereed op wag.
Bang vir die los wolwe, neem dit erge oorreding om die manne te kalmeer en met die draagbaar en haar tas, volg hulle deur bos en struik tot by die berg en teen die steil begroeide dowwe paadjie uit, die berg op.
Die vraag, hoe onbeantwoordbaar ook al, is in almal se gedagte:
“Waar is Dokter Pierre?”

Die toneel wat Mariana en haar gevolg begroet het, is tot in lengte van dae in haar geheue vasgepen.
Die geneesheer in haar het eerste ingeskop. Te midde van die aanskoue van die res van die trop wolwe wat in ʼn halfmaan, gedienstig en kalm om die beseerde lê, en die kyk van vertroue en berusting in hulle oë, het Mariana tot die uiterste professionele kalmte gedra.
Met die stetoskoop ondersoek en luster na sy hartklop en asemhaling later naby die dier se kop, het sy in die wolf se dowwe, pynbesette oë, gekyk en onmiddellik bevestig. Haar twee weke lange vermoede bevestig, veral toe dit beaam word deur die byna onhoorbare kreun van haar naam.
Ongelooflik. Bo Natuurlik. Onwaar. Maar uit en uit, finaal en klaar, was dit vir Mariana ʼn realiteit wat sy aanvaar en kalm beredeneerd benader en hanteer.
Hoe sy vir Pierre, die mens, die man, die persoon wat haar so na aan die hart lê, uit hierdie metamorfose gaan terug kry, is nie ʼn probleem vir nou nie.

Dinge loop seepglad. Die klein Hospitaal is nie besig nie en teen alle reëls en regulasies, reël sy vir ʼn ambulans sodra hulle by die opstal aankom en X strale sodat sy kan diagnoseer en die korrekte behandeling toepas.
Die personeel en dokters, almal diere liefhebbers help onbaatsugtig met die gips en behandeling. Almal dankbaar dat dit net ʼn heup ontwrigting is.

Mariana is teenwoordig toe die wolf, in die bed op die stoepkamer, uit sy narkose wakker word.
Sy wag dat hy behoorlik bykom en streel sy kop om te kalmeer en sy kan nie wag om sy oë te sien as hy eers behoorlik kan fokus nie.
Toe dit gebeur, heg beide hulle oë inmekaar vas, sy streel sy kop en fluister:
“Pierre, ontspan. Ek weet en ek verstaan. Wees kalm en stil, binne drie weke is jy weer op die been en jouself.”
Met ʼn uitdrukkinglose gesig, lig die wolf sy een voorpoot en streel Mariana se arm wat op die bed rus.
Rillings soos elektriese ladings hardloop teen haar rugstring op en af met die besef dat sy ʼn sinvolle gesprek met half mens half dier voer en dat menslike emosie ...
Sy huiwer om te erken.
Menslike emosie ...liefde ...
Van haar besit neem.

© Willie F van Tonder.
14/02/2012





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Wolf
Lekker scary stuff!
8 jaar 3 maande 2 weke 17 ure oud


Wolwe
Jinne met n verbeelding soos hierdie is enige iets moontlik. Dis hoekom ek altyd sal lees. Mens weet nooit wat om te verwag nie en ek is nooit teleurgestel nie. Jy't hom goed geskryf, Wolf.
8 jaar 3 maande 2 weke 2 dae 18 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar