Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(4113 / 16334 woorde)

Hoofstuk 4

Daar’s ‘n klein, swart sakrekenaartjie binne-in. Bekka haal diep asem. Vir ‘n oomblik lank weet sy nie of sy verlig of teleurgesteld moet voel nie. Wat het sy dan verwag? ‘n Afgekapte vinger? ‘n Toegeritse satynsakkie vol blink diamante? ‘n Arm dagga? Sy skud haar kop. Dat sy haar nou helder oordag sulke dinge staan en wysmaak!

“Waar kruip jy weg, ou girl?”

Sy ruk soos sy skrik, klap die houtkissie instinktief toe en kyk oor haar skouer. Gary staan in die oop deur. Sy druk die laai met haar heup toe en glip terselfdertyd die houtkissie ongemerk in haar broeksak in. Dan draai sy na haar onverwagse kuiergas en glimlag verwelkomend.

“Gary, jy’t my laat skrik, hoor! Waar val jy uit?”

“So, dís waar die vermaerde professor sy wêreldbekende eksperimente uitgevoer het?” Hy kom die laboratorium binne en kyk nuuskierig rond. Hy gaan staan voor die swartbord en staar geinteresseerd na die data wat daarop aangebring is. Dan, asof iets spesifiek sy aandag trek, leun hy effens vorentoe en raak diep ingedagte met sy indeksvinger aan ‘n groepie syfers wat heelonder op die bord geskryf en toe met dik hale witkryt onderstreep is.

“Moenie jou hier staan en slim hou en kastig maak of jy verstaan wat daar aangaan nie, buurman,” terg Bekka en kom staan langs hom. “Ons albei weet jou koppietjie is net so plat soos myne as dit by somme maak kom. Of misgis ek my liederlik met jou en is jy eintlik ‘n closet wiskunde boffin?”

Gary gooi sy kop agteroor en skaterlag. “Dis vir my om te weet en vir jou om uit te vind, doll.” Hy sit sy arm om haar skouer en gee haar ‘n vinnige drukkie. Hy draai na die res van die vertrek en laat sy oë stelselmatig, soekend, oor elke oppervlakte gly. Sy hande is diep in sy sakke gedruk en hy lyk heel ontspanne, maar sy voel meteens ongemaklik. Vanwaar die intense belangstelling in proefbuise en bunsenbranders?

Sy kyk vraend op na hom. Hy fluit saggies en skud sy kop. “Die ou ballie het ‘n ding wat netheid en orde aanbetref, lyk dit my. Hier’s wraggies nie ‘n dingetjie uit sy plek nie. Of het jý alles so netjies gebêre?”

“Nee.” Bekka trek haar skouers op en kyk ook om haar rond. “Alle eer aan oom Zatopek.” Sy glimlag en kreukel haar neus vir Gary. “Hy’t my vele maal as kind aangespreek omdat my kamer onnet was. Ek weet nie aldag hoe’t my oujongkêrel van ‘n oom my groot gekry nie.”

“Jy was mos ‘n dierbare ou dingetjie as ek reg onthou,” terg hy en gee haar hare ‘n ligte plukkie.

“Ag, hoe sal jy nou weet, hm? Jy’t in Engeland by jou ma gewoon en daar skool gegaan. Jy’t dan eers onlangs ná jou pa se dood plaas toe gekom en kom boer.”

“My pa het mos e-posse gestuur en vertel van die oulike buurdogtertjie wat so gereeld te perd by hom op die plaas aangedoen het. Ek’t reeds iewers ‘n foto van ‘n sekere klein rabbedoe met stywe boksterte, ‘n yslike glimlag en ‘n volle twee dosyn sproetjies oor haar wipneusie,” laat hy plaerig hoor.

“Jy’s lus om nonsens te praat, buurman. Kom ons gaan sit op die stoep. Ek’t yskoue gemmerbier as jy dors is.” Bekka trek Gary aan die hand by die laboratorium uit en trek die deur agter hulle op knip.

“Dankie, ou girl, maar ek’t nie vandag tyd vir stoepsit saam met jou nie. Ek’t iets dringend nodig by die algemene handelaar op die dorp en het gewonder of ek vir jou iets van daar af kan saambring.”

“Dis gaaf van jou om aan te bied, dankie, maar ek’t niks nodig nie. Jy moes sommer gebel het, jong, dan’t ek jou die rit hierheen gespaar.”

“Wat? En my die geleentheid ontsê om in jou pragtige groen ogies te kyk?”

“Ag, moenie laf wees nie,” bloos Bekka en kyk verleë weg. “Kry jou ry anders gaan jy nie die winkel oop vang nie. Onthou, die handelaar maak Sondae vroeër toe.”

Sy sien Gary af by sy voertuig en waai toe hy wegtrek. Dan skink sy glase gemmerbier en neem dit vir die werkers wat feitlik klaar is met die opruiming van die stoor. Gewoonlik werk hulle nie Sondae nie, maar sy’t ‘n goeie, lojale span mense wat kan hande vat as dit moet en hul bereidwilligheid om haar vandag te help is vir haar ‘n riem onder die hart.

Sy gesels ‘n rukkie en gee hand waar nodig. Binne ‘n uur is als silwerskoon en op hul plek. Sy staan tevrede terug en betrag hul handewerk hande-op-die-heupe. Die oes, was en verpakking van haar produkte behoort byna normaal te kan voortgaan tot tyd en wyl. Komende Saterdag sal sy weer soos gewoonlik die kratte vol kraakvars groente agterop Ferdie kan laai en mark toe neem.

Sy bedank haar werkers en beloof om oortydbetaling en ‘n ruim bonus by hul lone in te werk hierdie week. Hulle neem glimlaggend en sing-sing afskeid toe sy hulle later by hul netjiese werkershuisies aflaai naby die spruitjie wat oor haar grond loop. Sy druk die ou Ford se neus weer in die rigting van die opstal en kyk in die ry op na Kransberg wat groot, solied en misterieus agter die huis uittroon. Die son trek water en sal binnekort agter die groot ou kolos van ‘n berg inskuif.

Lang skadu vingers trek donker strepe oor die werf toe sy onder die boom stilhou. Fielies sit ‘n honger keel op en skuur al teen haar onderbene toe sy die trappies opklim na die breë stoep toe. Sy lag, tel die wyfiekat op en vryf haar warm, sagte lyfie liefderyk. “Is jy honger, hm? Kom ons gaan haal vir jou melkies. Hoor net hoe skree daai babatjies van jou! Jy moet eet sodat jy hulle kan gaan voer, jong, anders huil hulle die hele nag deur.”

Bekka sluit die voordeur oop en stap reguit deur kombuis toe waar sy melk uit die yskas haal. Sy gooi daarvan in een van Fielies se bakkies en skep katkos in die tweede. Dan dra sy die kosbakkies uit stoep toe en plaas dit naby die mandjie met baba katjies. Fielies laat haar nie twee maal nooi nie en begin dadelik smul. Bekka skakel die stoeplig aan en hou die spulletjie ‘n rukkie lank geamuseerd dop.

Die ligbaan val wyd oor die netjies uitgelêde leiklippaadjie wat tot by die stoep se trappies strek. Roosbome staan netjies in gelid aan weerskante van die paadjie en die geur van die spierwit blomme hang swaar in die lug. Haar voete kies vanself koers en sy stap met die trappies af en by die tuinhekkie uit.

Die sterbesaaide hemelruim lê wyd uitgestrek bo haar. Die sonbesies wat bedags so skril en eentonig skree, is nou stil, maar padda- en kriekekore sê mekaar lustig die stryd aan. Dis ‘n lieflike aand. Sy ken die werf in die donker soos die palm van haar hand en stap reguit perdestal toe. Sultan en Jasmyn, haar hings en merrie, ken haar voetstappe en runnik saggies toe hulle haar hoor naderkom.

Sy spandeer ‘n halfuur by haar geliefde perde, voer hul elk ‘n suikerklontjie en wortel en streel oor hul neuse terwyl sy saggies met hul gesels. Hul wei bedags in ‘n groot, omheinde kamp en slaap net saans in die stal. Sy maak gereeld beurte om hulle te ry en niks verskaf haar soveel plesier as om in die veld met een van hulle te galop nie.

Nicholai kan maar op sy blink ysterfiets rondrits, maar sy wat Bekka is verkies ‘n minder raserige vervoermiddel wat boonop nie skadelike uitlaatgasse vrystel nie. Sy wonder waar rits die meneer nogal rond? Sy’t hom al heeldag nie met ‘n oog gesien nie. Dalk verken hy die omgewing? Sy’t soveel vrae waarmee sy hom wil peper. Sy skud haar kop en glimlag by haarself. Hy weet tien teen een sy’t ‘n honderd en tien vrae en dis hoekom hy hom so skaars hou.

Sy hou haar kop skeef, luisterend. Is dit die dreuning van ‘n voertuig wat sy hoor? Ja, sowaar! Wie sou dit nou wees? Sy verwag nie enige gaste nie. Dalk is dit Gary wat nou eers van die dorp af terugkeer en lus is vir ‘n koffietjie voor hy huiswaarts keer? Sy maak die staldeur agter haar toe en stap huis se kant toe. ‘n Hummer kom stadig met die oprit aangekruie en hou voor die stoep stil. Sy herken nie die luukse motor nie.

Onrus roer in haar en sy steek net buite die ligkring wat die stoeplig gooi, vas. Die motordeure gaan oop en twee manspersone klim uit. Bekka se hare rys toe sy hulle herken. Spikes Myburgh en Johan Schoonveldt. Hector Krige se trawante. Spikes is Hector se motorbestuurder cum lyfwag, Schoonveldt sy gladdebek en heeltemal-te-slim-vir-homself prokureurtjie. Vuilgoed! Wat soek hulle op haar plaas?

Sy meet die afstand na die stoep toe met haar oë en wonder of sy dit sal maak as sy hardloop vir die voordeur. Haar haelgeweer is in die kluis in die studeerkamer. Vanaand is die aand dat sy hulle onder die bokhael steek. Die vorige keer, sowat drie weke gelede, toe sy met Spikes en Schoonveldt te doene gekry het, het die een haar hardhandig vasgehou terwyl die ander een ‘n koopkontrak vir haar plaas onder haar neus gedruk het.

Sy sluk droog en voel-voel aan haar linkerskouer. Spikes het haar skouer uit lit uit geruk toe sy weier om haar erfgrond weg te teken. As dit nie vir Boela, haar getroue ou boerboel was nie, sou hulle haar seker baie erger verniel het, want Schoonveldt was baie beslis dat sy die kontrak teken, óf...

Toe Boela besef hulle maak sy nooi seer, het hy verwoed op hulle afgestorm en Spikes aan die arm beetgekry. Spikes het ‘n mes met uitgepluk en die hond herhaalde kere daarmee gesteek. Schoonveldt het ‘n hinkepinkende, vloekende en bloeiende Spikes van Bekka en die dooie hond af weggesleep. Hul het gedreig om Zatopek seer te maak indien sy sou praat. Hul het ook beloof dat hul sou terugkom.

Schoonveldt buk af en praat deur die motorruit met iemand wat op die agtersitplek sit. Bekka versteen. Kan dit wees? Die motordeur gaan oop en ‘n kort, skraal man klim uit. Hy steun swaar op ‘n kierie. Daar is ‘n kenmerkende spierwit streep in sy donker kuif. Hector Krige!

Bekka huiwer nie ‘n oomblik langer nie. Sy maak vir die voordeur. Sy hoor Schoonveldt uitroep en sien uit die hoek van haar oog hoe Spikes op haar afstorm. Sy systap die spiertier vernuftig en hardloop die stoeptrappies twee-twee op. Fielies gee ‘n verontwaardige miaau toe sy hom byna uit die aarde uit loop. Daar is egter nie kans om te stop en te kyk of die kat okay is nie. Spikes is kort op haar hakke! Sy storm by die voordeur in en probeer die deur agter haar toeklap, maar ‘n voet in ‘n toegerygde stewel keer dat die deur toegaan.

Spikes stoot die deur oop en lag triomfantlik in Bekka se gesig af. Hy gryp haar hardhandig aan die arm en skel kliphard toe sy verwoed losruk en hom ‘n allemintige skop op die skeen gee. Hy’s vir ‘n oomblik van balans af en sy reageer blitssnel. Sy plaas haar hande op sy bors en stamp hom hard agteruit. Hy slaan neer soos ‘n os, maar hop soos ‘n opgewende veer terug op sy voete. Dié keer is Schoonveldt by en die manne kry Bekka elk aan ‘n arm beet en sleepdra haar kombuis toe. Sy spartel en spook, maar hul is te sterk vir haar. Hul druk haar op ‘n kombuisstoel neer en neem hul plekke soos bona-fide lyfwagte in, een aan elke kant van haar.

Bekka se bors dein op en af van pure ontsteltenis. Sy hoor die tok-tok-tok van Hector Krige se kierie op die houtvloer in die kort gang wat na die kombuis lei en spring woedend regop. Wie dink hierdie skurke is hulle om haar hier in haar eie huis te kom intimideer? Hulle het geen reg om hier te wees nie! As sy net ‘n broodmes in die hande kan kry...

Spikes en Schoonveldt kry haar elk hardhandig aan ‘n bo-arm beet en dwing haar om te sit. Hector Krige verskyn in die deur. Hy is onberispelik geklee in ‘n roomkleurige snyerspak wat perfek aan sy skraal postuur sit. Sy ysblou oë rus priemend op Bekka. ‘n Spiertjie spring-spring aan die kant van sy kakebeen wanneer hy sy dun lippe styf op mekaar pers. Hy stap dieper die vertrek in. Sy kneukels span wit om die kierie se knop wanneer hy sy gewig verplaas om ‘n tree te gee. Sy opgeboude regterskoen sleep effens oor die gladde kombuisteëls. Hy kom staan reg voor Bekka.

“Juffrou Brown,” groet hy in ‘n misleidende vriendelike stemtoon. Sy glimlag herinner haar aan dié van ‘n witdoodshaai. Sy kyk hom minagtend aan.

“Wat soek jy en jou trawante op my grond, Krige? Jy is nie welkom hier nie! Trap onmiddellik of...”

“Of wat, juffrou Brown?” Hector se mond vertrek smalend. “Jy’s nie in die posisie om dreigemente uit te deel nie.” Hy kyk betekenisvol na die hande wat haar bo-arms omklem. “Die vraag is eerder, wat soek jy nog op my grond?”

“Jóú grond? Man, jy’s geheel en al stapelgek! Ek het jou skollie-prokureurtjie baie goed laat verstaan dat my grond nie te koop is nie. Al was dit ook te koop sal ek nie aan jou verkoop nie, so kry jou ry en vat jou gorillas saam!”

“Mý grond, juffrou Brown. Myne. Jy gaan hier en nou die oordrag teken. Mnr. Schoonveldt was so gaaf om die dokumente voor te berei en saam te bring. Jy sal merk dat my aanvanklike aanbod vir die plaas drasties verlaag is, want...” Sy stem is nou skaars meer as ‘n hees fluistering. “Ek laat nie met my speel nie. As jy nie gehoor gee aan my eise nie, sal jy voel. Jy én die vermaerde professor Zatopek.”

“Dê!” Schoonveldt plak ‘n leêr op die kombuistafel neer en stop ‘n pen in Bekka se hande. Hy maak die leêr oop en druk op ‘n oop spasie. “Teken!”

Bekka smyt die pen dat dit doer trek. Haar hele liggaam bewe onbedaarlik en twee helder kolle brand op haar andersins bleek wange. “Raak net aan my oom, jou skobbejak,” stik sy, “skaad net ‘n haartjie op sy hoof en ek sê vir jou vandag..!”
Spikes lig sy hand en klap Bekka so hard deur haar gesig dat sy bloed proe.

“Lafaard! Vroueslaner!” spoeg sy en probeer hom vanuit haar sittende posisie op die maermerrie skop. Hy gryp ‘n handvol van haar hare en druk haar voorkop op die dokument wat op die tafel rus. ‘n Ander pen word in haar hand gedruk.

“Teken!”

“Los my!” mompel sy en steek verwoed na hom met die pen. Sy voel met genoegdoening hoe die pen se punt in die rugkant van sy hand wegsink.

“Eina, verdomp!” Spikes stamp Bekka se kop met geweld teen die tafel vas voordat hy haar los en sy beseerde hand by die wasbak onder lopende water hou. Bekka sien sterre, maar kom dronkerig regop in die stoel. ‘n Dun straaltjie bloed loop by haar neus uit.

“Juffrou Brown, hierdie vyandige houding van jou is geheel en al onnodig.” Hector Krige neem op ‘n kombuisstoel langs Bekka plaas. Hy stoot die dokumente nader aan haar. “Hou nou op met al die drama en teken die dokumente. Daar is geen rede waarom jy verder moet seerkry nie.”

“Hoekom wil jy so graag my plaas hê? Wat wil jy hier bou? ‘n Casino? ‘n Inkopiesentrum? Wát?” Bekka grawe vir ‘n sneesdoekie in haar sak en vee die bloed van haar bolip af. “Jy gaan jou tyd en geld mors.” Sy beduie deur die venster in Kransberg se rigting. “Die oorgrote deel van die grond bestaan uit onherbergsame kranse en duiseligwekkende klowe. Mens kan bittermin met die grond doen. Daar is slegs ‘n paar hektaar gelyk grond waarop ek groente verbou.”

“Juffrou Brown, ek stel nie daarin belang om met jou oor koeitjies en kalfies te gesels nie. Jy gaan binne sekondes die dokumente teken en dan het ons nie nodig om mekaar weer te sien nie. Wat ek met die grond beoog het niks met jou te doen nie. Teken nou, dit raak laat en ek het nog ‘n afspaak om na te kom op die dorp.”

Bekka sit die pen netjies aan die bokant van die leêr neer. Sy skuif gemaklik terug in die stoel en kyk Hector kalm en uit die hoogte aan. “Jy en jou trawante kan maar gaan, Krige, ek teken niks.”

Hector sug. Haal dan sy selfoon uit en skakel in op ‘n lewendige beeld. Hy draai die foon na haar. Sy herken die binnekant van oom Zatopek se kamer in die ouetehuis dadelik. Al is dit nog vroegaand, lê haar oom al in die bed en slaap. Sy kan die buitelyne van sy liggaam onder die beddegoed sien.

“Jou lae en gemene luis! Jou..!” sis Bekka en gryp na die pen en wil-wil dit weer inspan as ‘n wapen, maar Schoonveldt gryp haar pols vas en verhoed dat sy Hector Krige daarmee te lyf gaan.

Hector bêre sy selfoon en haal ‘n satynsakkie uit sy baadjie se binnesak uit. Hy skud die inhoud op die palm van sy hand uit. Bekka knip haar oë vervaard toe sy die blink klippies sien. Kan dit wees? Speel haar oë parte met haar of het sy dalk harsingskudding opgedoen toe Spikes haar kop so hard op die tafel gestamp het?
“Is dit..?” kwaak sy en lek oor haar droë lippe. Haar mond proe nog vol bloed. Die palm van haar regterhand brand ook soos ‘n kooltjie vuur.

“Diamante.” Hector gooi die kosbare edelgesteentes terug in die sakkie en bêre dit weer in sy binnesak. “Jy sien, juffrou Brown, jou grond is baie meer waardevol as wat jy selfs in jou wildste drome sou kon raai. Kransberg moes Diamantberg geheet het. Ek dink jy besef nou dat ek nie sal huiwer om jou oom, en selfs vir jou, uit my pad uit te vee nie.” Hy leun nader en sy ril toe sy in sy siellose oë kyk.

“Net een foonoproep van my, juffrou Brown, en die professor word nie môreoggend wakker nie. Teken die dokumente sonder verdere teëstribbeling en ek sal jou toelaat om ongedeerd weg te stap van die plaas af en met ‘n nuwe lewe ver hiervandaan te begin.”

“Jy’s absoluut en geheel en al stapelgek, Krige! Jy kan tog nie regtig vir een oomblik dink dat jy hiermee sal wegkom nie? Buitendien, as ek hierdie dokumente onder dwang teken, is dit nie wetlik afdwingbaar nie en beteken my handtekening inelkgeval niks vir jou nie. Waar kom jy nogal aan die mal idee dat daar diamante in Kransberg is? Bobbejane, tiere en arende, ja, maar diamante..? Dis absurd!”

“Dis so tragies dat jou ouers op so jong ouderdom oorlede is, is dit nie? Hul wou nie destyds die plaas afteken aan my pa, Barend Krige, nie. Hy’t besef daar’s iets spesiaals aan Kransberg, maar al was hy ‘n kollega en gewaardeerde vriend van Isa en Erik Brown, het hulle die waarheid van hom weerhou. Hy het hom egter nie laat koudsit nie en het op sy eie die berg verken en op die ryk diamandvonds afgekom. Dis net jammer my pa het ook gesterf in dieselfde ongeluk wat veronderstel was om net jou ouers se lewens te eis.”

“Waarvan praat jy?” Bekka skud haar kop verdwaas. “Oom Zatopek het nog nooit melding gemaak van ‘n ander persoon wat in die ongeluk dood is nie.”

“Nie net is Barend dood nie, juffrou Brown, maar my voet is in dieselfde ongeluk vergruis. Ek was destyds ‘n opgeskote knaap van so agt jaar oud toe die motor waarmee ons gereis het, die pad op ‘n skerp draai verlaat en gerol het. My moeder het egter, kort voor sy oorlede is na ‘n lang siekbed, hierdie sakkie diamante aan my gegee en my van Kransberg se fabelagtige rykdom vertel. Sy’t al die jare stilgebly daaroor, want jou liewe oom Zatopek het gedreig om my pa se aandeel aan die motorongeluk op die lappe te bring. Jy sien, my pa het met die motor se remme gelol. Hoe dit gebeur het dat ek en hy albei in die motor was toe die remme onklaar geraak het, bly ‘n raaisel.”

Hector Krige wink Spikes nader. “Maak haar teken. Die tyd vir mooi praat is verby,” beveel hy onomwonde.

Spikes grynslag opgewonde. Hy’t ‘n sakdoek om sy gewonde hand gebind en reik nou vir die knipmes wat hy altyd in sy broeksak dra. Die mes spring geluidloos oop toe hy die knoppie druk. Bekka staar benoud na die vlymskerp lem wat hy dreigend rondswaai. Hy kom stadig op haar afgestap. Sy wil van die stoel af opspring, maar Schoonveldt torring bo-oor haar. Hy plaas albei sy hande op haar skouers en druk haar terug in die stoel.

“Maak jou handtekening vir ou Spikes soos ‘n soet ou dogtertjie, toe?” Spikes druk die pen in haar willose hand. “Nou, Bekka.” Hy druk die lem teen haar weerlose keel.

Sy sluk swaar. Die metaal voel koud en skerp teen haar nek. Net een beweging van sy hand en dis koebaai met haar. Haar tande klap skoon op mekaar uit pure senuweeagtigheid. Sy haal rukkerig asem. Haar regterpalm klop-klop byna onuithoudbaar van die pyn. Sy verskuif die pen na haar linkerhand.

Sy voel snaaks. Asof sy heeltemal te veel energiedrankies op een slag gedrink het. Sy beweeg haar linkerhand nader aan die oop spasie waar sy moet teken. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Hector Krige gespanne vooroor sit. Dan sluit sy haar oë en gee haar oor aan die naalde-en-spelde gevoel wat met koorsagtig rillings deur haar lyf jaag. Die selle in haar lyf ontplof en haar spiere reageer instinktief. Toe sy weer sien, staan sy aan die ander kant van die tafel. Die drie manne se gesigte registreer skok en ongeloof. Sy hoor haarself grom.

Als gebeur meteens in stadige aksie. Spikes trek sy arm agtertoe om haar met die mes te gooi. Sy maak ‘n klein beweging met haar regterhand en dis asof ‘n onsigbare hand hom aan die kraag beetkry, ophys en teen die plafon vasdruk. Die mes val skadeloos op die vloer. Spikes skree soos ‘n maer vark.
Schoonveldt se oë peul byna uit sy kop uit. Hy maak vir die mes op die vloer, maar dan volg hy dieselfde paadjie as Spikes en word ook hy deur ‘n onsigbare krag teen die plafon vasgeslinger.

Bekka draai na Hector Krige wat orent gekom het en met lang treë probeer wegkom, sy kierie skoon vergete. Hy loop hom trompop in Nicholai vas wat by die kombuisdeur inkom. Nicholai lig Hector met een hand op en hou hom in die lug sodat sy opgeboude voetjie tevergeefs skop-skop na vastrapplek. Sy oë spuug vuur en sy lippe trek van mekaar af in ‘n vreesaanjaende gromgeluid. Hector maak sy broek nat. Nicholai slinger hom minagtend weg van hom af sodat hy sommer so oor die vloer skuif en teen die tafel te lande kom.

“Ek weet wie jy is!” kreet die skraal man en hys homself aan ‘n stoel op. Hy neem hygend by die kombuistafel plaas. “Ek onthou jou!”

Nicholai hou sy hand uit. “Gee.”

“Ek weet nie...” Hector maak keelskoon. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

“Nou, Krige.”

Die twee mans se oë meet kragte. Nicholai se oë spiraal lui en hipnotiserend. Daar speel selfs ‘n beduidenis van ‘n glimlag om sy mooi gevormde mond. Hector verbleek en laat sak sy oë. Hy haal die sakkie diamante uit sy binnesak en plak dit op die tafel voor hom neer.

“So ja,” Nicholai knik sy kop tevrede. Hy maak ‘n beweging met sy pols en die sakkie vlieg vanself deur die lug en land in sy uitgestrekte hand. “Jou pa het dit vasgelê. Dis tyd dat dit terugbesorg word waar dit vandaan kom.”

“Moenie dink ek gaan dit hier los nie!” bars Hector los. Dit lyk of hy kan slange vang. Die are staan dik in sy keel en teen sy slape.

“A, maar dis presies wat jy gaan doen, my liewe Meneer Krige. Jy gaan als net hier los en vergeet dat jy ooit hier was of diamante in jou besit gehad het.”
Bekka staar geskok na die man wat die kombuis binnekom met ‘n spuitnaald in sy hand.

“Oom Zatopek!”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die Roofdier Hoofstuk 4
Wat 'n verrassende wending in jou hele storie, ek dink dit gaan 'n boeiende treffer word
5 jaar 8 maande 1 week 1 uur oud


Dankie
Baie dankie vir almal se kommentaar hieronder. Dankie vir die aanmoediging en goeie raad, ek waardeer dit en sal dit toepas. My storie gaan van hier af meer in die wetenskapfiksie-genre in beweeg. Dit was egter vir my belangrik om dit 'n soliede, menslike wegspring te gee en nie heeltemal na hardcore sci-fi te mik nie. Ek dink die Afrikaanse Wetenskapfiksie-genre word heeltemal onderskat en dis 'n mark wat regtigwaar ontgin kan word.
5 jaar 8 maande 1 week 1 dag 19 ure oud


roofdier
Dit was 'n lang wag maar die moeite werd. Wag vir die volgende een. Goed gepen.
5 jaar 8 maande 1 week 1 dag 20 ure oud


4
WELKOM WELKOM inderdaad welkom terug!!
En jou skryfwerk en hierdie hoofstuk is briljant! Ek is beindruk en vasgevang in die nuwe wending.

Moontlike regstellings:

Speel haar oë parte met haar - anglisisties. dalk eerder: Verbeel sy haar/sien sy reg of so-iets.
torring bo-oor haar - toring oor haar
5 jaar 8 maande 1 week 1 dag 21 ure oud


uiteindelik
Uiteindelik inderdaad gedag jy het verdwyn
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 1 uur oud


Liewe Genade!!!
Dankie tog jou muse het weer opgedaag en bygese, met 'n sak vol briljante wendings!!! Ek's mal oor hierdie hoofstuk en kan nie wag om te sien wat volgende gebeur nie. Jou karakters lewe en die dialoog is skitterend.
Uit die boonsterakke!!!!!!!!

Jip, en ek's BAIE bly jy's weer met ons :))))
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 11 ure oud


Uiteindelik
Hier is hoofstuk 4 uiteindelik! Ek stel voor jul lees eers die voorafgaande drie hoofstukke weer deur voordat jul hoofstuk 4 lees. Jammer vir die lang wag. Ek begin dadelik met hoofstuk 5.
5 jaar 8 maande 1 week 2 dae 12 ure oud



Volg net die Skoenlappers

deur Anria

Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar