Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Pieter staar vroeg-oggend blekerig na sy gmail-inboks. Daar is ‘n e-pos boodskap van die CNL Hoofkantoor in Amerika af in sy inboks. Diana stap by sy studeerkamer in met twee bekers stomende koffie en vra, “Enige nuus? Het hulle jou al laat weet, Pieter?” Hy kyk senuagtig na sy rekenaar, dan op na sy vrou, beduie na die rekenaarskerm en antwoord flouerig, “Daar’s iets, maar ek het dit nog nie oopgemaak nie.” Sy skud haar kop, lag en gaan sit op sy skoot. “Ek sal.” Sy onthou maar net te goed hoe die skoenlappers in mens se maag fladder voordat jou uitslae bekendgemaak word en kliek namens haar man op die boodskap. Pieter loer nuuskierig oor haar skouer.

“Jy’s deur! Nogal met lof!” gil Diana en gee hom ‘n klapsoen. “Jy’s nou ‘n CNL Pastoor!” Hy lag verlig en tol verspot in die rondte met haar op sy kantoorstoel, “Nou kan dinge begin, my skat!” Hy soen haar en fluister opgewonde, “Ons toekoms wag op ons.”

Diana lag en staan op, trek haar styfpassende klere ongemaklik reg, leun teen die lessenaar en neem ‘n slukkie koffie. Sy tuur ingedagte na Pieter en herinner hom, “Jy moet vandag ‘n afspraak met Don Lawrence maak.” Hy knik, kyk na haar met heelwat meer selfvertroue as vroeër die oggend of die vorige aand, sit regop in sy stoel en sê, “Ja, ek gaan hom sommer dadelik bel. Nou het ek darem iets anders agter my naam as net ‘n spul bankkwalifikasies en ‘n blêrrie verouderde landbougraad wat deesdae minder as niks beteken nie!”

“Nee, stuur eerder ‘n e-pos.” Diana las ingedagte by, “dan heg jy die brief van CNL hoofkantoor aan sodat hy kan sien jy het met lof geslaag en dat jy nie sommer net ‘n hierjy outjie is nie.” Sy glimlag stout en Pieter lag kliphard, “Briljant!”

Pieter se foon lui minder as ‘n uur later. Don Lawrence se sekretaresse bedank hom vir sy e-pos en maak ‘n afspraak vir ‘n spoed-vergadering in Lawrence se kantoor om twee-uur die middag. Pieter stem in. Op die ingewing van die oomblik skakel hy Desmond Lewis se nommer en stel voor dat hy saamkom. Desmond lag, “Dis reg, Pieter. Ek kom laai jou sommer op, dan ry ons saam in die kake van die leeu in.”




Julia sug diep en maak die deur agter Cynthia Krynauw toe. Sy stap tot by haar lessenaar, val op haar stoel neer en maak notas in die vrou se lêer. Angsversteuring. Haar pen vlieg oor die papier en sy noteer dat ‘n geringe verbetering merkbaar is, klap die lêer toe en skuif dit eenkant toe. Sy rus haar elmboë op die lessenaar en vryf eers met haar vingerpunte oor haar slape, dan haar nek. Hoekom kan sy almal help, maar nie haarself nie? Die naar kol op haar maag wil net nie weggaan nie.

Haar oë val op die lessenaaralmanak voor haar. Dit kondig vandag se datum tartend in groot syfers aan. Nie dat dit nodig is nie – sy wéét wat die datum is, dis in haar ingebrand en daar is geen manier op aarde wat sy dit sal vergeet nie. Nie oor haar dooie liggaam nie. Sy bal haar vuiste onbewustelik en ‘n ou, bekende en magtelose woede neem skielik weer besit van haar. Sy gryp die almanak, slinger dit desperaat en met mening teen die oorkantste muur, sien hoe dit in stukke uitmekaarspat en begin dan onbedaardelik snik. Haar hande vryf krampagtig oor haar gesig en sy haal hortend asem. ‘n Rou pyn brand in haar binneste en sy wonder of hierdie lewensverterende seer ooit, ooit, ooit sal weggaan.

Julia sug moedeloos, leun terug in haar stoel, maak haar oë toe en probeer kalmeer. Die foon lui en sy antwoord lusteloos. Genadiglik is dit net Petro, haar sekretaresse, wat vra of sy nou op middagete kan gaan. Julia vra effe kras dat Petro haar middag-afsprake moet uitstel voordat sy gaan, “Ek gaan my admin op datum kry. Neem sommer die res van die middag af, Petro. Sien jou môre.” Die gehoorbuis val uit haar hand en lê langs die foon. Sy los dit net daar en voel gedaan, meer leeg as ooit vantevore.

Julia haal diep asem, leun weer terug in haar stoel en kan aan niks anders dink as dat haar ongebore kind vandag sestien sou gewees het nie. Sestien. As haar ouers haar nie gedwing het om die aborsie te hê nie. As, as … as sy klein liggaampie nie aan flarde geskeur was nie, as hy maar net ‘n kans op oorlewing gehad het . As, as, as …




Don Lawrence se imposante hoekkantoor kyk uit oor ‘n groot gedeelte van Johannesburg. Hy staan op toe Pieter en Desmond by sy deur instap en glimlag, “Baie geluk met jou kwalifikasie, Pastoor Venter.”

Pieter glimlag effe styf en stel Desmond Lewis en Lawrence aan mekaar voor. Hulle groet, Lawrence beduie dat hulle moet sit en vra wat hulle wil drink. Pieter en Desmond skud hul koppe, “Niks nie, dankie.” Lawrence sit terug in sy stoel en kyk opsommend na die twee mans voor hom. Hy kan aanvoel dat iets broei. Pieter is effe te vol selfvertroue en op die oorlogspad – dis maklik om op te tel uit sy liggaamstaal, maar hy kan nie heeltemal die Desmond-ou plaas nie.

Pieter kyk stil na die suksesvolle man voor hom, dan stel hy onomwonde, “Don, die planne wat jy voorgestel het toon talle tekortkominge. Is jy bewus daarvan?”

Lawrence sit doodstil en sy blik rus neutraal op Pieter, “Brei uit, asseblief.”

“Daar is geen rolstoel- en noodhulpfasiliteite nie, die kombuis sal geen groot funksies kan hanteer nie en boonop is daar geen trapreëlings nie. Dit kan ons kelder as iemand ‘n besering opdoen en ons dagvaar.” Hy kyk stil na Lawrence en vra, “Het jy dit misgekyk, Don?”

Lawrence staar lank na Pieter voordat hy antwoord, dan staan hy op, stap om sy lessenaar en leun daarteen sodat hy afkyk na Pieter, “Nee, ek het nie.”

Pieter besef dat Lawrence hom uitlok en vra, “Wat van Henk Louw?”

“Wat van hom?” vra Lawrence.

“Is jy bewus van sy swak reputasie?” vra Pieter rustig. Desmond sit doodstil, dan haal hy sy foon uit sy sak, druk ‘n paar knoppies en hou dit op sy skoot.

“Louw en ek kom jare saam. Wat is jou probleem met hom?”

“Onetiese optrede en swak beeld vir besigheid,” antwoord Pieter rustig.

Lawrence staan nader, leun oor Pieter en vra, “Wat presies is jou probleem, Venter?”

Pieter sit doodstil. Dan antwoord hy rustig, “Ek het my CNL kwalifikasie met harde werk en ure se sweet verdien.” Hy sit steeds doodstil, maar sy stem raak meer vurig, “Ek het my gesin afgeskeep vir weke … nee, maande!” Pieter kyk stil na die man voor hom, “So, Lawrence,” sê hy onheilspellend sag, “ek het baie geld betaal vir die kursusse en in die CNL droom begin glo. Ek wil graag sien dat dit die moeite werd was.”

“Wat probeer jy sê?” vra Lawrence.

“Ek vra slegs dat jy eerlik met my moet wees oor ons CNL, die uitvoering daarvan en die werklike doel wat jy voor oë het.”

Lawrence verstyf en sis, “Wat bedoel jy, Venter?”

Pieter staan op en gaan staan reg voor Lawrence. Hy praat stil, “Ek is ‘n eerlike man. Ek wil nie met iets onwettigs betrokke raak nie. Jou skelm planne is heeltemal van die pad af en as jy dink ek gaan daarvoor val, kan jy jou agterent soen.”

Lawrence verbleek, dan vra hy ewe sag, “Wat op aarde laat jou dink dat jy dit gaan kan maak sonder my, jou armsalige patetiese klein platvloerse Afrikaanse boertjie?” Hy staan dreigend nader aan Pieter. “Jy gaan jou gat solidly sien, glo my.”

“O, regtig?” vra Pieter. “En jy noem jouself ‘n man van God?”

“Godsdiens is die beste besigheid!” gil Lawrence, “en as jy dit nie besef nie is jy ‘n volslae idioot.”

“Ek het jou nie nodig nie, Lawrence.” Pieter staan reg voor die ander man en kyk in sy oë. “Ek wil niks meer met jou grond of aandeel in my CNL te doen hê nie. Dankie vir jou tyd en tot siens.” Pieter draai om en stap weg, na die deur toe.

Lawrence grom woedend en gryp Pieter van agter af, ruk hom om aan sy kraag en gee hom ‘n hou teen sy kaak. Pieter steier terug en probeer Lawrence se houe keer, maar die man het alle beheer verloor. Hy slaan Pieter op die krop van sy maag en Pieter vou ineen. Lawrence maak reg om Pieter ‘n uitklophou teen die kop te skop.

“Ek sou nie as ek jy is nie, Lawrence. Stop net daar.”

Lawrence swaai om. Desmond glimlag na hom en hou sy selfoon op. “ Ek het alles op video geneem. Wil jy werklik voortgaan?” Hy skud sy kop en lag, “Jammer vir jou, Lawrence. Hierdie footage is baie werd.” Desmond trek Pieter aan sy arm na die deur en glimlag, “Moet ons nie weer pla nie, Lawrence. Dit sal beter wees vir jou eie gesondheid.”

Lawrence skop sy lessenaar as hy Desmond verder af in die gang hoor lag. Hy gaan staan doodstil en haal hard asem, dan gooi hy sy waterglas teen die deur en glimlag pervers as hy dit aan skerwe sien breek. ‘n Smalende glimlag speel oor sy dun lippe. Hulle het nog niks beleef nie. Hy, wat Don Lawrence is, sal hulle breek! Hulle sal jammer wees, baie, baie jammer …




Julia stap om ses-uur die middag uit haar spreekkamer en sluit die deur. Sy klim lusteloos in haar kar en sien nie kans vir die leë huis nie. David is in Stellenbosch met sy Philosophy Roadshow en sy kan nie vanaand alleen wees nie. Nie vanaand van alle aande nie. “Net tot môre,” praat sy hardop met haarself. “Probeer net uithou tot môre. Dan is David terug.”

Dis reeds donker en Julia ry steeds doelloos rond. In haar geestesoog sien sy ’n klein blondekop seuntjie in die sand speel. Sy sien hom hardloop, soos sy pa ... dan word alles wasig en sy sien die ligte - die helder ligte, voel weer die suurstofmasker oor haar gesig en ervaar die nabyheid van die dokter en die groot verpleegster. Sy ruik die steriele reuk van die teater, proe die droogheid in haar mond en voel die koue benoudheid van die vertrek aan haar lyf soos ysige vingers wat haar soekend betas en alle warmte uit haar lyf uit suig.

Hulle stap stil op haar af, hande omhoog in deurskynend-gelerige latex-handskoene en groen teaterdrag. Sy lê op die operasie-tafel onder die ligte en al die ou gebeure speel voor Julia af asof dit nou, hier met haar gebeur.

Sy is vasgemaak op die tafel, haar enkels is vasgebind met leerbande. Haar lyf is bedek met ’n groen seilerige jassie. Sy bewe. Nie net van die koue nie. Haar oë fokus op elke beweging van die dokter en verpleegster. Albei dra groen teater-uniforms met maskers. Net hulle oë is sigbaar.

Die dokter mompel iets en die verpleegster pak verskeie groot, vlekvrye staaltange op ’n rakkie. Dit klingel en hul voete skuifel hoorbaar op die viniel vloer. Julia krimp ineen, maar die bande beperk haar bewegings. Die koue klim in haar in, neem besit van haar en sy lê weerloos op die bed, vasgemaak, met geen kans om te ontsnap nie.

Dan staan hulle skielik albei bo-oor haar. Sy sien die verpleegster onderstebo, bo haar kop. En die dokter is by haar bene. Hy lig die doek op en stoot haar knieë verder uitmekaar. Sy probeer baklei, maar sy kan nie. “Tel hardop terug van tien af, juffrou,” beveel die verpleegster met die harde oë en Julia weier, maar tel sag af in haar kop. “10, 9, 8, 7, 6, 5, 4 ...”

Sy word later wakker in ’n vreemde bed. In ’n klein kamer. Daar’s niks teen die mure nie. Daar’s niemand by haar nie. Miskien is dit beter so. Haar ingewande en onderlyf pyn. Haar bobeen-spiere is styf en seer. Behalwe dit, voel sy leeg. Fisies en geestelik. Die leegheid wil nie weggaan nie.


Trane loop oor Julia se wange, sy klem die stuurwiel van haar Honda vas en ervaar dieselfde leë, dor gevoel nou. Soos destyds, maar erger, groter, meer intens. Dis asof dit muteer en groei en groei, in haar, oor haar.

Sy snak na haar asem en sien die massiewe sementbrug skielik reg voor haar. Sy probeer uitswaai …




Kort na nege-uur die aand lui my foon. “Eliza, maak oop.” Die foon gaan dood.

Ek maak my voordeur oop, sien Julia se kar heel skeef geparkeer in my motorpad en stap nader. Sy sit met haar kop op haar arms in haar kar en beweeg nie. Ek pluk haar kar se deur angstig oop.

“Julia?” Sy beweeg nie en bly net so sit. Ek raak aan haar skouer en sy kyk na my met dooie oë. Ek help haar uit die kar, in die huis in en maak die deur agter ons toe. Sy gaan sit op die hoop Persiese kussings eenkant in my studio en staar steeds byna leweloos voor haar uit.

“Weet jy hoe amper het ek vanaand ’n einde aan alles gemaak?” Haar stem breek, haar skouers begin ruk en sy huil onbedaardelik. Ek het Julia nog nooit so gesien nie.

“Ek ry al vir drie ure rond en het nou amper my eie lewe probeer neem.”

Ek skrik vir haar woorde en skuif nader, vou my arms om haar en voel hoe haar lyf sidder. “Ek kan nie meer nie, Eliza,” snik sy rou. Ek sê niks, hou haar net styf vas, dan streel ek oor haar hare en sy kalmeer effens.

“Julia,” vra ek, “wat gaan aan?”

“Ek het die afgelope uur ...” en sy snik rou, “ … probeer soek na die beste plek om in iets vas te jaag. ‘n Brug of iets. Die spoke jaag my weer.” Ek weet skielik wat sy bedoel.

“Ek sien hom voor my ... die hele tyd. Hy moes nou al ‘n teenager gewees het,” snik sy. “Hy moes vanaand ’n partytjie vir al sy vriende by my huis gehad het.” Julia sak neer op die kussings en huil hartverskeurend. “Dit is vandag sy sestiende verjaarsdag, die dag wat hy gebore moes word.”

Sy krimp ineen en lê plat op die kussings soos ’n fetus. ’n Verlore, verbrokkelde fetus. Ek hou aan om oor haar hare te vryf en ek wonder oor mense, hul waardes, wysheid en besluite. Later raak Julia aan die slaap en ek skakel al die ligte af, gaan sit weer by haar en hou haar hand vas.

As sy onrustig begin mompel in haar slaap, streel ek oor haar hare - die aanraking kalmeer haar. Sou haar ouers nog dieselfde besluit geneem het, wonder ek, as hulle sou kon weet wat dit aan hulle kind, hul eie vlees en bloed sou doen. As hulle miskien minder bekommerd was oor wat al die mense sou sê, as hulle dalk nie so bekommerd was oor destydse kerklike tug nie. As hulle nie so besorgd was oor samelewingsstatus nie. As, as, as, dink ek. Wat help as nou?

Wat help as vir Julia? Ek sien die maan oor die buurhuis se dak en staar daarna. Julia se hand is warm in myne, maar haar lyf ruk steeds nou en dan in haar slaap.
Dan onthou ek iets wat ek iewers gelees het en ’n skielike, beklemmende vrees pak my beet. Of all professional people … het die statistieke gelees … psychologists have the highest suicide rate.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Anze & Vonnie
Sjoe. Baie dankie ... Nou voel ek sommer klein en ... jislaaik, BAIE DANKIE :)))
4 jaar 5 maande 4 weke 21 ure oud


Skrywer
Ek stem luid met Louise saam, bravo!! Jy vestig jouself nie net as skrywer nie Carol, maar 'n trefferboek is voorwaar oppad!

Jy gooi raakpunte op die tafel oop wat aktuele onderwerpe soos aborsie, selfmoord en dies meer so belig dat dit nie misgekyk of ontken kan word nie!

Jy bring die fiktiewe aan't lewe en sodoende kan die seer, wat soos senuweepunte uitstaan, nie geignoreer word nie, maar word dit as gegewe na die oppervlakte van die werklike lewe gebring.

Sjoe! Ek kan 'n ellelange verhandeling hier skryf, maar volstaan maar by die resensering van 'n nog onklaar manuskrip; 'n boek in wording wat nog opslae gaan maak!!!

4 jaar 5 maande 4 weke 23 ure oud


Son 11
nee kyk jy MAG maar skryf hoor.. hierdie verhaal het net mooi elke bestandeel in om mens te laat naels kou... Ek kan nie wag vir die volgende aflewering nie
4 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 20 ure oud


Arnold
Baie dankie vir jou volgehoue saamlees an altyd interessante kommentaar :))
4 jaar 6 maande 13 ure oud


sOn (11)
Die storie vloei goed met tergende woestelinge om die lewe fier in die oë te kyk.
4 jaar 6 maande 16 ure oud


STERRE
Baie dankie Neels,Koekekranka, Viooltjie, Gedagtedief, Vic,Amaspoke, Kiekies en Louise - ek waardeer dit opreg dat julle saamlees en ook vir jul pragtige woorde.

Dankie Kiekies!!! Ek sal daai goeters gaan opfieks :)))
4 jaar 6 maande 16 ure oud


Tjoklits vir jou!
Ek dink jy kan jouself op die skouer klop en vir jou 'n moewiese groot slab Cadbury neutsjokolade gaan koop as beloning. Jou verhaal kook! Ek voorspel dat dit 'n treffer gaan word en dat jy jouself hiermee as 'n gerekende skryfster gaan vestig. Ek erken ruiterlik dat ek erg jaloers is op hierdie storie van jou wat so vol kleurvolle karakters en intriges is. Ek is beslis 'n fan en ek gaan jou heel eerste kopie koop as jy beloof om dit vir my te teken! Ek bestel nou al een.
4 jaar 6 maande 20 ure oud


11
Uit-flippieng-stekend! Jy het die gebeure, agtergrond, emosies en dialoog so bloemen goed gedoen! Veral Julia se droom...ek het amper saam met Julia in daai brug vasgery en ek was lus en dam daai flippen Lawrence met my kaal vuiste by!Sjoe man ek is gedaan en wat nou?! Moenie my laat wag nie, my hart sal dit nie hou nie!!!
Regstellings:
Hoofkantoor in Amerika af in sy inboks - onnodig om weer die inboks te noem.

Wat op aarde laat jou dink dat jy dit gaan kan maak - Wat op aarde laat jou dink dat jy dit kan/sal maak

as hulle dalk nie so bekommerd was oor destydse kerklike tug nie - as hulle dalk nie so gesteld was op destydse kerklike tug nie (hierdie is net 'n moontlikheid om die 2e bekommerd uit te skakel)

Ek benadruk net weer hoe puik hierdie hoofstuk was met luide applous en voete gestamp!
4 jaar 6 maande 1 dag 13 ure oud


sOn
Pragtig, boeiende en dit is onmoontlik om neer te sit. Jy bring die emosie in Julia so sterk tevore dit voel eintlik werklik.
4 jaar 6 maande 1 dag 13 ure oud


***
Jy skryf baie goed en dis boeiend, Carol. Ek loer maar net so af en toe in, maar ek kan sien hier kom iets groots. Mooi skryf verder.
4 jaar 6 maande 1 dag 16 ure oud


sOn
Jou verhaal is boeiend van begin tot einde. Nou raak dit 'n wegholtrein wat by 'n mens verbyflits, en jy maar net kan wonder watse chaos daar by die volgende stasies gaan wees!

As ons maar net nie 'n flenter kon omgee wat ander oor ons foute dink en sê nie, sou dit sekerlik depressie en selfmoord kon voorkom. Ek het empatie met die oor-die-tou-trappers, want hulle is meestal die dom-onskuldiges wat nie hul hormone se kraan kan toedraai nie. En my hart bloei vir die tiener aborsiemoedertjies, want om met 'n mens se gewete te wroeg, is sekerlik genoeg om 'n mens se lewenssin weg te kerf.

Jy kry dit beslis reg om 'n mens in te trek in jou karakters se omstandighede.

Baie goed!
4 jaar 6 maande 1 dag 17 ure oud


son
Die verhaal raak nou besonder boeiend, Carol. Julia se storie is hartverskeurend. Hierdie hoofstuk is werklik baie goed geskryf en ek het heerlik gelees.
4 jaar 6 maande 2 dae 1 uur oud


: WsW: Dogters van die sOn (11)
Heerlik gelees en ingesuig geraak deur veral die introspektiewe terugblik en emosies wat Julia deurleef het!
Baie dankie!
4 jaar 6 maande 2 dae 1 uur oud


julia
Jou vetrhaal sluit op n mooi hoogtepunt. Ai hoop julia raak ontslae van die spoke
4 jaar 6 maande 2 dae 7 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar