Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Martin Marais parkeer sy luukse Mercedes vroeg-oggend onder ‘n Jakarandaboom in die parkeerplek en stap vinnig in die rigting van die klein restaurant waar hy Vivian se sogenaamde privaatspeurdertjie gaan ontmoet. Dis ‘n minder prominente eetplek en Martin glo dat nie een van sy kollegas eers van die plekkie se bestaan sal weet nie, dus is dit veilig om die man hier te ontmoet. Hy, Martin Marais, is immers ‘n vooraanstaande socialite van Pretoria en het sy professionele, sowel as sosiale beeld om aan te dink.

Bruwer sit heel agter in die restaurant en lig sy hand om Martin se aandag te trek toe hy instap en om hom rondkyk. Martin glimlag wrewelrig en dink dat die bliksem natuurlik sal weet hoe hy lyk – die man het dan ‘n hele stapel foto’s van hom, Battaglia en Luciana geneem. Boonop lyk die vent soos iets uit ‘n TV speurverhaal met sy goedkoop, gekreukelde klere en groot snor. Martin grinnik en stap vol selfvertroue nader. Die ou gaan ‘n pushover wees!

Die mans groet mekaar ordentlikheidshalwe met ‘n handdruk en Bruwer beduie dat Martin moet sit. Hulle bestel koffie en direk daarna val Bruwer met die deur in die huis, “Jy het gisteraand oor die foon versoek dat ons dringend ontmoet. Wat is die rede, Marais?”

Die kelner bring hul koffie en Martin skeur ‘n sakkie suiker tydsaam oop, strooi die inhoud in sy koppie en roer stadig, op sy tyd, voordat hy opkyk en meewarig na Bruwer glimlag. “Ek het toevallig gistermiddag op jou koevert afgekom – die een met foto’s, jou verslag en rekening wat jy aan Vivian gestuur het.” Hy neem ‘n sluk koffie en glimlag sarkasties. “Jóú rekening vir betaling om op my te spioeneer.”

“Spioeneer?” vra Bruwer en kyk Martin direk in sy oë. Martin kyk eerste weg en sluk aan sy koffie, “Kom ons staar onsself nie blind teen semantiek nie.” Hy tuur ‘n paar oomblikke na Bruwer en vra saaklik, “Wat sal dit kos om jou anderpad te laat kyk en heeltemal van hierdie onsmaaklike affêre te laat vergeet?”

“Ek verstaan nie wat jy bedoel nie.” Bruwer speel opsetlik dom en wil Martin eerder probeer uitlok om meer spesifiek te wees. ‘n Miniatuur bandopnemer in sy baadjie se sak neem die hele gesprek op.

Martin sug ongeduldig. “Moet ek dit vir jou uitspel, Bruwer?” Hy leun oor die tafel en sis, “Ek kan jou baie meer betaal as sy. Noem jou prys. Hoe moeilik is dit?” Martin skud sy kop geϊrriteerd en Bruwer kyk stil na die man oorkant die tafel. Bruwer weet uit ondervinding dat mense begin praat as jy lank genoeg stilbly. Veral as hulle skuldig voel en hulself probeer regverdig. Dit is nou maar net so. Hy sê niks en wag. Marais sal wel weer begin praat. Albei sluk aan hul koffie en Martin gluur oor sy koppie na Bruwer.

“Hoeveel wil jy hê om Vivian se getuienis teen my te laat verdwyn, te verloor of watookal?”

Bruwer glimlag, teug tydsaam aan sy koffie, dan trek hy sy notaboek nader en skryf iets daarin. Hy skeur die bladsy uit, kyk ‘n paar oomblikke daarna, vou dit toe en skuif dit stadig oor die tafel. Martin vou die stuk papier voor hom angstig oop. “Wat is dit?” vra hy en fladder die papier ongeduldig rond. “50%+? Wat beteken dit?”

Bruwer staan op, gooi ‘n geldnoot op die tafel neer om vir hul koffie te betaal en kyk minagtend af na Martin. “Dis die persentasie van jou skatte waarvoor Vivian jou kan dagvaar, jou luis.”

Hy draai om en stap tierend by die deur uit, reguit oppad na sy kar toe. Hy het ‘n foonoproep om te maak. So vinnig as moontlik.



Vivian stap haastig na die onderdakparkering waar haar motor staan nadat sy Bruwer se oproep ontvang het. Hy wou nie sê waaroor dit gaan nie. Net dat hy haar moet sien en dat dit baie dringend is. Sy het gevra dat hy eerder na Eliza se huis moet gaan, aangesien daar nie nou tyd is om iewers doer in die boendoes by hul gewone plek bymekaar te kom nie en buitendien was Eliza saam tydens hul laaste ontmoeting, so sy weet presies wat aangaan. Sy bel Eliza en lig haar vinnig in dat sy binnekort twee gaste vir tee gaan hê. Haar hart klop angstig en sy moet doelbewus daarteen waak om by die spoedgrens te hou.

Ons sit buite op my dek. Vivian het gevra dat ek moet by wees wanneer hulle praat, seker maar meer vir morele ondersteuning. Ek neem myself egter voor om ‘n wag voor my mond te plaas en so min as moontlik te sê. Bruwer sluk aan sy vrugtesap en hy kug effe ongeduldig.

“Dawid?” vra Vivian, “wat is so dringend dat ek ‘n vergadering moes kortknip om jou te ontmoet?”

Die groot man leun vooroor, vee oor sy rooi snor en sê, “Martin het gistermiddag op die koevert afgekom wat ek vir jou gestuur het. Daar was foto’s, ‘n verslag en my rekening in. Maar, ek het ook hierdie.” Hy haal sy bandopnemertjie uit sy sak, sit dit in die middel van die tafel neer en skakel dit aan. “Marais weet nie hiervan nie.”

Ons luister doodstil na die gesprek tussen hom en Martin.

Vivian word wasbleek, bal haar vuiste en sis, “Die lae, verdomde …” Sy vlieg op en stap heen en weer op die dek. “Hy wou jou omkoop!” Vivian steek skielik in haar spore vas en draai stadig om. “Dawid, jy kon honderde duisende rande uit Martin gemaak het. Hoekom het jy nie sy aanbod aanvaar nie?”

“Ek wil saans slaap …” Hy trek sy skouers op en grinnik, “en vir myself in die spieël kan kyk wanneer ek tande borsel.” Ek glimlag goedkeurend na hom en Vivian kom sit weer, steek ‘n lang sigaret aan en tuur na die man voor haar. “Baie dankie, Dawid, ek waardeer dit.” Sy blaas rook in die lug en sê sag, “miskien meer as wat jy mag besef.”

Hy knik, sluk eerder weer aan sy vrugtesap en vra dan, “Wat gaan jy doen?”

“Ek gaan so vinnig as moontlik van Martin Marais skei,” antwoord Vivian driftig, sonder om verder daaroor te dink. “Ek sal hom nooit weer kan vertrou nie en buitendien …” beduie sy na die bandopnemer, “met dáárdie woorde het hy sy eie doodsvonnis dubbel en dwars geteken.”

Bruwer staan op en hou ‘n besigheidskaartjie na Vivian uit, “Bel hierdie ou. Gustaf Malan. Hy is die beste vir egskeidings en sy hart is op die regte plek. Sterkte, Vivian.”

Vivian skakel die nommer terwyl ek saam met Dawid Bruwer uitstap tot by sy kar.

‘n Diep stem antwoord die foon, “Gustaf Malan.” Vivian stel haarself voor en vra wanneer ‘n geleë tyd vir ‘n afspraak sal wees. “Vivian Marais?” vra Malan, “die argitek?” Sy bevestig dat dit sy is en Malan noem dat hy haar oor ‘n uur kan sien.

“Dis vinnig,” sê Vivian verbaas.

“Jy het ons kantore ‘n paar jaar gelede ontwerp, Vivian,” lag Malan. “Ons kry gedurig komplimente daarvoor.” Hy lag, “Verster, Malan en Trent? Onthou jy?” Vivian lag en antwoord, “Dis reg, die glas en beton gebou.”

“Einste,” antwoord Malan. “Sien jou oor ‘n rukkie.”

Vivian staan op en maak reg om te gaan toe ek weer op die dek uitstap. “Eliza,” sê sy kalm, “Martin het gesoek vir wat hy gaan kry. Ek was nog nooit ‘n gemene mens nie, maar hy gaan waaragtig betaal vir wat hy gedoen het.”

“Ek is geneig om saam met jou te stem, Vivian.”

Sy knik, vee ‘n traan so ongemerk as moontlik uit haar oog, trek haar skouers terug, staan meer regop en sê kalm, “ Ek het die prokureur geskakel. Hy kan my oor ‘n rukkie sien.” Sy glimlag skewerig en ek gee haar ‘n drukkie. “Wish me luck,” fluister sy byna onhoorbaar sag voordat sy vasberade by my gang afstap.


Vivian stap later by Gustaf Malan se kantoor in. Hy staan op en glimlag vriendelik, “Dis goed om jou weer te sien, Vivian.” Sy knik en glimlag. Sy onthou hom nou. Malan was die vennoot wat destyds met haar argiteksfirma kommunikeer het. Sy het hom destyds al vertrou – sy vrae en voorstelle was prakties, uitvoerbaar en relevant.

“Laat ek eerlik wees met jou van die begin af, Vivian.” Gustaf Malan gaan sit agter sy lessenaar en kyk direk na haar. “Dawid Bruwer het my sopas geskakel en agtergrond oor die saak gegee. Ek ken hom al jare lank en vertrou sy opinie. Hy doen gereeld werk vir die firma.”

Sy gaan sit op een van die stoele voor sy lessenaar en kyk strak na hom, “Dan weet jy seker dat ek hier is omdat ek wil skei.” Sy haal diep asem, “En jy moet my help, Gustaf. Martin Marais –”

“Ek aanvaar dat daar geen gronde vir versoening is nie?” val hy haar vinnig in die rede.

“Nee Gustaf, hoe gouer ek en daai man uit mekaar se lewens verdwyn, hoe beter.” Hy knik.

“Is julle binne- of buite gemeenskap van goedere getroud?”

“Binne.”

“Reg so. Ons gaan hom dagvaar vir die egskeiding en ten minste die helfte van jul gesamentlike bates.” Gustaf kyk oor sy bril na haar, “Ek is byna seker dat hy dit gaan teenstaan. So, maak jou reg vir ‘n vieslike geveg. Sien jy kans daarvoor?”

Vivian knik en antwoord, “Dis reg. Ek’s in. Laat hom kry wat hy verdien.”





Diana laai die laaste artikels van Pieter en Desmond op hul CNL website, maak seker dat al die skakels reg werk en aktiveer dan die webtuiste. Sy blaai op haar tyd daardeur en skakel dan die bestuurder van Magnolia Dal se nommer. Hy stem dadelik in om hulle reeds die volgende dag te ontmoet.

Pieter en Desmond is oorstelp met Diana se nuus en sluk gretig aan die glase vars vrugtesap wat sy voor hulle neersit. “Kom ons werk aan ‘n vinnige voorlegging vir môre se vergadering,” stel Pieter voor. “Iets waarop ons kan voortbou en verfyn met tyd.”

“Hoogstens tien Powerpoint skyfies,” stel Diana voor. “Dit moet al die inligting van die CNL Pretoria kort en kragtig saamvat. Kies sleutelwoorde, dan brei julle self uit daaroor tydens die voorlegging.” Albei mans knik instemmend. Dit kan beslis werk.

Diana skep ‘n Powerpoint projek en soos wat die mans punte noem, skryf sy hoofgedagtes neer en maak dit deel van die skyfies wat sy gaan opstel. ‘n Bietjie meer as ‘n uur later het sy al die nodige inligting en begin om die projek op te stel, sodat Pieter of Desmond slegs kan kliek en na die volgende skyfie beweeg. Hulle sal reg wees vir die voorlegging by Magnolia Dal. Waar alles in plek sal begin val. As dit werk soos wat hulle wil hê dit moet.

“Hopelik sal ons een van die dae ‘n beter kantoor kan hê as ons patio,” lag Pieter en Desmond skater, “Humble beginnings …”

My foon lui. Dis Ramon. “I fly this week! I fly to you, my love. Thursday.” Hy lag en ek vra hoe laat. “I send e-mail, ok?” Die lyn raas en ek kan iets hoor van “bad storm” … dan gaan die lyn dood.

Ek google onmiddellik alle vlugte vanaf Madrid na Johannesburg op Donderdag. Daar is twee. Die een land net na elf in die oggend, die ander half-elf die aand.

Daarna bel ek elkeen van die dogters opgewonde en reël ‘n braai by my vir hierdie Saterdagaand. Die spulletjie het honderde vrae, maar al wat ek uitasem en opgewonde kan antwoord is dat hy uiteindelik later die week hier sal wees. My hart klop onbedaardelik en ek kan nie ophou glimlag nie.




Don Lawrence staar laat die aand woedend na sy rekenaarskerm in sy studeerkamer. Hy het sopas op die CNL Pretoria webtuiste afgekom. So, hulle gaan voort … dink hy verstom. Na alles? Hy blaai vinnig daardeur en kan nie help om wrewelrig te erken dat dit professioneel en stylvol vertoon nie. Meer as wat hy van die Afrikaanse boertjie verwag het. Hy leun terug in sy stoel en besef dat hy eerder nie vir Pieter Venter en Desmond Lewis moet onderskat nie.

Hy staan op, stap ingedagte na sy ingeboude kroeg, skink vir hom nog ‘n skeut Chivas Regal in ‘n kristalglas oor ‘n paar blokkies ys en gaan sit weer. Hy lees eers vinnig deur die outobiografie van Pieter en en dan meer aandagtig deur Desmond s’n.

Desmond Lewis is ‘n kleurvolle karakter. Hy het sy CNL Prediker sertifikasie reeds in 2010 verwerf en homself toegewy aan wêreldwye prediking van sy boodskap. Hy was in Tibet, Bolivië, Taiwan, Hong Kong, Argentinië en is nou weer terug in sy geboorteland, Suid-Afrika. Hy onderneem om alles in sy vermoë te doen sodat die CNL Pretoria ‘n positiewe verskil in soveel as moontlik mense se lewens sal maak.

Lawrence staar voor hom uit terwyl hy aan sy drankie teug, dan druk hy ‘n knoppie op sy foon. Sy sekuriteitshoof verskyn onmiddellik. Lawrence hou ‘n paar bladsye uit na die man en beveel, “Kry inligting. Ek soek alles wat jy en jou mense kan kry oor Venter en Lewis. Vinnig!

Lawrence se sekuriteitsman knik, stap uit by die deur en begin onmiddellik bevele oor sy selfoon blaf. Sy spanlede antwoord elkeen bevestigend terug. Hul nuwe projek het afgeskop. Elke brokkie inligting oor Venter en Lewis sal so spoedig moontlik op hul bevelvoerder se lessenaar verskyn.

‘n Plan begin vorm aanneem in Lawrence se kop. Daar is geen manier wat hy gaan toelaat dat Venter en Lewis die CNL Pretoria lisensie behou nie. ‘n Glimlag speel om Lawrence se dun lippe. Hy sluk sy glas leeg en grinnik as hy dink aan presies wat hy vir sy twee opponente in gedagte het. Hulle het nie ‘n kans in ‘n miljoen om dit te maak nie … nie eens naastenby nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Son 13
Battaglia en Luciana - haha, die name sê alles, ek kan die girls in my gedagtes sien, hoor! Ek het baie lekker hieraan gelees... die intriges raak net meer en die karakters se menslikheid skemer sterk deur. Dis onmoontlik om verveeld te raak met hierdie storie - daar gebeur so baie!
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 3 ure oud


sOn (13)
Dis lekker om 'n storie te lees wat vloei en die gedagtes boei
4 jaar 5 maande 1 week 6 dae oud


Baie dankie
Julle is sterre!! Baie dankie dat julle steeds saamlees, Kiekies, Anze, Driekie, Koekekranka, Neels, Casper en Viooltjie. :))
*MWAH* :)))
4 jaar 5 maande 2 weke 1 uur oud


son
Dis darem so 'n lekker storie, mens wil nie ophou lees nie. Nou raak dit boonop nog interessanter met die spioenasie op Pieter en Desmond. Baie goeie storielyn en lekkerlees styl :-)
4 jaar 5 maande 2 weke 1 dag 4 ure oud


Dogters van die son
Die verhaal is so vol van gebeure dat 'n mens nie wil ophou lees nie. Ek hou van die manier wat jy die verskillende karakters inmekaar meng en op datum hou. Puik werk.
4 jaar 5 maande 2 weke 1 dag 7 ure oud


dogters
Waow Carol hierdie is n puik verhaal. soos Lynette se heeltemal te kort
4 jaar 5 maande 2 weke 1 dag 12 ure oud


WsW: Dogters van die sOn (13)
Hierdie aanbieding getuig van behoorlike karakterskepping en jy slaag wonderlik daarin om te boei.Inderdaad oortuig jou karakters...
Kan nie wag om verder te lees nie!
4 jaar 5 maande 2 weke 1 dag 23 ure oud


Son13
Puik Carol, ek lees so lekker en gemaklik aan al die intriges. Ditto ook alles wat Kiekies gesê het, kan nie wag om te sien wat gebeur nie, lekker skryf aan 14 :)
4 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 2 ure oud


Son 13
oeee.. die poppe gaan nou begin dans.. Lekker gelees Carol ek kan nie wag vir die volgende hoofstuk nie
4 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 2 ure oud


13
Hierdie hoofstuk was heeeeeltemaal te kort!!

Jy het 'n ordentlike karakter uit Bruwer geskep en die dialoog tussen hom en Martin was absoluut geloofbaar, slim en perfek!
Ek hou sommer dadelik van Malan die prokureur. Dit was gaaf van jou om hom en Vivian bymekaar te bring. Ek kan nie wag vir daai dagvaardiging om afgelewer te word nie.

Al die moontlike regstelling is blote voorstellings vir jou om oor te besluit:

Die ou gaan ‘n pushover wees! - Dié ou gaan ‘n pushover wees!

Iets waarop ons kan voortbou en verfyn met tyd -Iets waarop ons kan voortbou en mettertyd verfyn

by Magnolia Dal. Waar alles in plek sal begin val. As dit werk soos wat hulle wil hê dit moet. - by Magnolia Dal. As dit werk soos wat hulle wil hê dit moet, sal alles in plek begin val.

stap uit by die deur en begin onmiddellik - stap by die deur uit en begin onmiddellik
4 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 2 ure oud



Tong in die kies

deur Delene de Wet

My menswees: my blydskap, humor, nostalgie, ironie, walging en poppies uit pram gooi, en ja, natuurlik ook vuurwarm liefde in die vorm van kortverhale, gedigte, monoloë en briewe. Die boek is 'n gesprek met jou, die leser, want op die einde van die dag is ons eintlik almal besig met dieselfde avontuur in die soeke na oorlewing.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar