Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die groot vensters van Don Lawrence se luukse hoekkantoor laat die welkome warmte van vroeg-oggend sonstrale in toe hy die blinders ooptrek. Hy staan voor die venster en tuur emosieloos oor die ontwakende Johannesburgse landskap voor hom. Rye motors en busse staan reeds kop-aan-kop by verkeersligte en voetgangers in vaal kantoordrag drafstap haastig en gejaagd op die sypaadjies, oppad na hul onderskeie werksplekke.

Hy snork minagtend en wens die grys massas onder hom neerhalend toe wat hulle volgens hom verdien. Niks. Minder as niks, want nie een van hulle wil uit hul kokonne klim en begin lewe nie. Hulle soek nie, hulle bestaan maar net. Dag na dag na dag. Dis juis wat hóm anders maak. Hy neem risiko’s en wag nie vir geleenthede nie – nee, hý skep sy eie geleenthede. Nou wil Venter en Lewis waaragtig op sý vlak probeer speel. Hy kners op sy tande en kyk na sy horlosie. Agt-uur op die kop.

Lawrence draai om en gaan sit agter sy lessenaar, teug ongeduldig aan die vars koppie koffie wat sy sekretaresse vir hom gebring het en steek sy hand uit na die foon om Kritzinger, sy hoof van sekuriteit, te skakel. Die man is reeds ‘n paar minute laat vir hulle afspraak. Daar is ‘n klop aan sy deur. Hy trek sy hand terug en beveel, “Kom binne.”

Kobus Kritzinger stap haastig in en gaan staan voor die lessenaar. Die groot, gespierde man het kringe onder sy oë en dis duidelik dat hy nie veel slaap, indien enige, die vorige aand gekry het nie. Sy militêre agtergrond is egter sy redding en hy staan fier en regop voor sy werkgewer, die man wat sy toutjies trek en salaris betaal.

“Môre meneer Lawrence. Hy glimlag wrewelrig. Jammer ek is laat.”

Hy gaan sit nie op een van die stoele voor Lawrence se lessenaar nie, want hy weet reeds uit vorige ondervinding dat jy nie sit tensy Lawrence jou spesifiek nooi om te sit nie. Kritzinger hou die dun lêer in sy groot hand na Lawrence uit en kies sy woorde versigtig toe Lawrence sy kop knik en hom toestemming gee om te praat. “Die hele span het tot ‘n uur gelede gewerk, meneer. Ons het elke denkbare plaaslike databasis, alle internet inligting en selfs persoonlike inligting dwarsdeur die nag deurgegaan. Dis al wat ons kon kry betreffende Venter en Lewis.” Hy haal diep asem en sê byna verskonend, “Albei is skoon. Geen kriminele rekord, insolvensie of skandale nie.”

Lawrence neem die lêer, blaai vinnig daardeur en sê steeds geen woord nie. Hy tuur slegs ingedagte voor hom uit en Kritzinger staan eerder doodstil op sy plek. Hy wonder wat sal gebeur as die buitewêreld hierdie kant van die hoogheilge Don Lawrence sien. Wat sal die CNL gemeentelede wat hom byna verafgood, dán dink? Hy skud sy kop en vee vinnig, onbewustelik oor sy borselkop. Dis gevaarlike gedagtes. Los dit eerder. Die vinnige beweging vang Lawrence se oog en ruk hom terug uit sy reverie.

“Ons sal hulle genoeg tou gee, Kritzinger,” praat Lawrence amper meer met homself. “Genoeg tou totdat hulle hulself hang …”

“Ja, meneer.”

“En dan sal ons hulle kruisig …”

Lawrence klap die lêer hard met een beweging toe en beduie dat Kritzinger kan gaan.

Hy fluister ingedagte aan homself toe die sekuriteitsman die deur sag agter hom toetrek, “as daar nie nóú iets is nie, dan wag ons … of nog beter, ons skep iets.”




Pieter en Desmond sit by Huckleberry’s in die Magnolia Dal Park en klink hul bierglase. “Cheers!” Diana ontmoet hulle vir middagete en lag gelukkig toe die mans haar beurtelings vertel hoe briljant die voorlegging was en dat hulle reeds oor twee weke hul heel eerste CNL diens in die park kan aanbied.

“Ons sal pamflette moet versprei,” stel Diana voor. “By die Universiteit, koshuise en nabygeleë winkelsentrums om mee te begin. Die skakel na ons webtuiste moet duidelik daarop aangetoon wees, asook teks wat die leser sal lok om ons diens by te woon.” Albei mans knik instemmend. Desmond se vingers speel ongeduldig op die tafel. Hy brand skynbaar om aan die gang te kom en sy ding te begin doen.

“Wat het jy nodig vir jou eerste diens, Desmond?” Pieter leun vooroor op die tafel en Diana sit gereed met pen en papier.

“Ons het talle buitelugdienste gehou in die lande waar ek was,” glimlag Desmond ingedagte, “en die heel belangrikste is ‘n tent. Die podium, klanktoerusting en goed moet onderdak wees en beskerm word teen die son, reën of watookal. Ons kan klein begin, met net ‘n Pagoda tent. Die rede hiervoor is dat dit baie belangrik is, veral aan die begin, om sigbaar te wees en mense nader te lok. So, mootoriste moet ons kan sien as hulle verby die park ry. Later kan ons groter gaan. Dan, die klanktoerusting – basies net ‘n mikrofoon, amplifier en so vier luidsprekers skat ek. Ons kan my laptop daaraan koppel vir musiek.”

“Desmond, sal jy asseblief so vinnig as moontlik kwotasies kry? Dan sal ek na die aflewering, huurkontrakte, die res van die administrasie en vereffening van rekenings omsien.” Pieter staar ingedagte voor hom uit en sê, “Ons sal ‘n tafel of iets moet hê waar mense kan registreer en donasies inbetaal.”

“My man, die finansiële bestuurder!” lag Diana.

“Wel, donasies is belangrik,” grinnik Pieter en bestel koffie vir aldrie van hulle.

Desmond glimlag geheimsinnig,“Ja, ons sal dit vir die eerste rukkie só doen, maar dan ons strategie verander.”

Pieter en Diana kyk albei vraend na hom.

“Sodra ons ‘n klomp studente het wat deel van ons gemeente is, gaan ons ‘n groep meisies uitsoek wat deur die mense in die park stap en kollekte neem.” Desmond leun met sy elmboë op die tafel en vertel verder, “dit werk die heel beste om fondse vinnig in te kry.”

Pieter en Diana kyk ongelowig na hom en Desmond lag kliphard. “Nee! Dit het niks met suggestiewe uitlokking of iets te make nie. Dis net … almal is meer geneig om ‘n ietsie in ‘n blik te sit as ‘n oulike jong meisie jou mooi daarna vra.” Hy hou sy hand op om hul vrae te keer. “ Niemand gaan gedwing word om geld te skenk nie. Dis heeltemal vrywillig.” Hy glimlag en leun terug in sy stoel toe die kelner hul koffie bring. “Soms het mense net ‘n klein bietjie aanmoediging nodig.”




Vivian se selfoon lui toe sy in haar kar klim in die onderdakparkeerterrein by haar kantoor. Dis Gustaf Malan wat versoek dat sy vinnig ‘n draai by sy kantoor kom maak. Vivian stem in en glimlag – die man laat beslis nie gras onder sy voete groei nie.

Malan staan op toe Vivian by sy kantoor instap, groet en beduie dat sy moet sit. Die lêer voor hom is heelwat dikker as laas, merk sy op.

“Vivian, ons gaan die egskeidingsdagvaardiging oor ‘n dag of twee op Martin laat beteken.” Gustaf Malan tel ‘n lêer op en hou dit in die lug. “Dawid Bruwer het sy volle verslag en alle foto’s vir my gebring, so ek weet van die hele situasie met Battaglia, die voorwaardes rondom die besigheidsooreenkoms betreffende die nuwe kliniek en ook sy verhouding met Luciana, Battaglia se dogter.”

Vivian knik stil en vra, “ Gaan julle dit alles as redes vir die egskeiding aanvoer?”

“Ja Vivian. Ons sit alles wat ons het op die tafel, dan is dit op rekord. Dis beter so, anders kan dit soos suur druiwe of iets lyk as ons dit later inbring.” Hy kyk direk na haar en sê, “ons saak moet so sterk as moontlik wees reg van die begin af.”

Gustaf leun oor sy lessenaar en druk ‘n uitbreiding op sy foon. “Jy kan maar inkom, Matthew.”

Malan se kantoordeur swaai oop en ‘n glimlaggende, baie aantreklike blonde man met ‘n oop, eerlike gesig in sy laat dertigs stap in. Sy pak klere pas perfek en beklemtoon sy sportiewe figuur. Hy gaan staan langs Vivian en wag nie dat Malan hulle aan mekaar voorstel nie, maar steek sy hand spontaan uit en groet vriendelik, “Matthew Trent. Aangename kennis, Vivian.” Hy gaan sit op ‘n stoel langs haar en glimlag na Malan, “Gustaf, sal ek sommer voortgaan?” Malan knik bevestigend.

Matthew draai na Vivian, “Martin word binnekort beteken, soos Gustaf jou sonder twyfel reeds ingelig het.” Vivian knik en Matthew gaan voort, “ons het nodig om ‘n rowwe idee te hê wat jul gesamentlike bates beloop, Vivian. Sodoende sal ons weet as hy nie al sy bates verklaar nie.”

Vivian kyk ingedagte na die man voor haar en sê, “Martin het heelwat beleggings … ek sal moet gaan seker maak wat alles nou werd is. Ons het alles op een of ander finansiële program. Sy beleggings en myne ... ons neseier …” Sy kyk ‘n oomblik af na haar hande wat om haar handsak klem, ontspan dan doelbewus en haal diep asem. Sy ruk haarself reg en sê, “Dis op die huisrekenaar in sy studeerkamer, maar ek het ook die password.”


Vivian stap by ‘n donker huis in. Maria is reeds weg en dit lyk nie of Martin tuis is nie. Sy stap na die huisfoon in die voorportaal en luister na boodskappe. Die derde boodskap is van Martin af. Hy het ‘n vergadering en sal eers laat tuis wees. Vivian plak die gehoorbuis neer en skakel ligte aan sover as wat sy stap. Stadig maar seker verdwyn die donker, beklemmende gevoel wat van haar besit wou neem.

Eerste dinge eerste, besluit sy vasberade en stap in Martin se studeerkamer in, gaan sit op sy stoel en skakel die rekenaar aan.

Sy sleutel hul gewone password in. Access denied. Sy probeer weer en konsentreer op elke letter wat sy intik. Access denied.

“Die bliksemse lae luis,” sis Vivian en leun terug in Martin se stoel. Die donder het die password verander sonder om haar te laat weet. Sy staan op en probeer dink … Martin was nog altyd prakties, analities en iemand wat hou van orde. Hy sal dus die password in sy kop onthou en nêrens anders aanteken nie. So, dit help nie om rond te soek na flentertjies papier nie. Dis nie Martin Marais se styl nie. Dit moet iets relevant wees – iets in sy lewe wat betekenis dra … en wat hy maklik kan onthou.

Sy probeer die kode ontsyfer en tik … battaglia, luciana, battaliana … Access denied. Sy sit vooroor en leun met haar kop op haar hande. Sy ken Martin. Sy weet hoe sy kop werk. Hulle is immers al agt jaar getroud. Sy weet hy hou van simboliek en dat hy haar tans as een of ander bedreiging ervaar. Iemand of iets wat n sy pad staan na ‘n blink toekoms … sy is dus ’n doring in sy vlees. Martin het nog altyd ‘n buitengewone belangstelling getoon in Griekse mitologie. Vivian google vinnig die term thorn en pas dit toe op Griekse mitologie.

Haar skerm toon: ACANTHA. Dit beteken doring of steurnis.

Sy tik ACANTHA in as password en die skerm word lewendig. Al Martin se lêers is oop voor haar op die rekenaarskerm.

Vivian staar effe ongelowig na die skerm en besef dat sy Martin beter ken as wat hy ooit sou wou erken. Omdat sy hom liefgehad het. Omdat sy met alles in haar wese vir hom omgegee het, belangestel het in wat vir hom belangrik was. Nie meer nie … Sy sug en probeer eerder fokus op wat sy hier kom doen het.

Sy maak al hul finansiële lêers oop en print die dokumente op die drukker. Daarna laai sy alles af op ‘n memory stick en staar verwonderd na die syfers voor haar. Hul gesamentlike bates is net oor 16 miljoen werd, waarvan Martin se beleggings meer as driekwart beloop. Die huis, strandhuis en alles ingesluit.

Vivian staan op, vee haar soeke uit op die register en skakel alles af. Sy saan ‘n oomblik doodstil in die donker studeerkamer en wonder hoe alles so ver kon gaan as wat dit reeds het.

Sy onthou hul begin as pasgetroudes … toe hulle in ‘n klein woonstelletjie gewoon het met family-hand-me-downs as meubels, eetgerei en selfs tweedehandse karre. Maar, albei het hard gewerk en iewers … iewers intussen het prestige, loopbane en sukses meer belangrik begin word. Vir albei. Maar duidelik meer vir Martin as vir haar.

Hulle was idillies gelukkig en het mekaar destyds beloof om altyd eerste na hul verhouding om te sien. Vivian lag sinies, stap na die kombuis en gaan staan voor die yskas. Sy haal ‘n bottel witwyn uit en sien daarna uit om die hele bottel een slag uit te drink, van haar sorge te vegeet en net te verdwyn in ‘n salige waas van vergetelheid.

Sy hou die bottel in haar hand vir ‘n lang oomblik. Dan plaas sy dit terug in die wynrak, maak die yskasdeur toe en skakel die ketel aan. Tee sal nou beter werk.
Vivian leun teen die kombuistoonbank, teug aan haar tee en dink aan die dinamiese Matthew Trent, die energieke vennoot van Gustaf Malan. Sy oë, die vorm van sy lippe, sy stem, sy lyf en sy hele teenwoordigheid is onverklaarbaar vasgevang in haar geheue, in elke sintuig en haar gedagtes. Hy bly in haar gedagtes speel, op een of ander onverklaarbare manier.

Sy besef onomwonde dat Matthew Trent beslis reeds sy voetspoor in haar lewe gelaat het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

sOn (14)
Vivian het dalk te veel ysters in die vuur om onder beheer te hou, sal maar wag....
4 jaar 5 maande 1 week 9 ure oud


Son14
Baie goed geskryf, dit lees so vloeiend en lekker, dit word 'n straf om elke keer so lank te wag vir die volgende aflewering :)
4 jaar 5 maande 1 week 14 ure oud


Son
Geen kommentaar nie, behalwe dat ek jou storie geweldig geniet en nie kan wag vir die volgende aflewering nie.
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 9 ure oud


14
Uitstekende beskrywing van neerhalend lawrence is en die interaksie tussen hom en Kritzinger. Jy skep wonderlike moontlike kinkels.
Ook beiindruk met Hoe Vivian die password ontdek.
Dem ek het weer lekker gelees en raak al hoe ongeduldiger as dit klaar is en ek moet wag!!!! Dis eerlikwaar n puik heerlike verhaal!!!!

Kyk na:

“Môre meneer Lawrence. Hy glimlag wrewelrig. Jammer ek is laat.” - “Môre meneer Lawrence." Hy glimlag wrewelrig. "Jammer ek is laat.”

wat hom byna verafgood, - wat hom byna verafgod,

praat Lawrence amper meer - praat Lawrence eintlik meer

podium, klanktoerusting en goed moet onderdak - vervang goed

Sy saan ‘n oomblik doodstil in - Sy staan ‘n oomblik doodstil in

onverklaarbaar vasgevang in haar geheue, in elke sintuig en haar gedagtes. Hy bly in haar gedagtes speel, op een of ander onverklaarbare manier. - 2 keer kort namekaar onverklaarbaar
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 10 ure oud


Son 14
niemand is so gevaarlik soos n gekweste vrou nie!!! Lekker gelees dankie Carol ek wag in spanning vir die volgende hoofstuk
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 12 ure oud


Karakters
Trent, Kritzinger... albei interessante newe-karakters wat help om die intriges en spanning op te jaag... al gaan hul dalk nie groot rolle verder in die storie speel nie, weet mens van hulle en wonder mens oor hulle. Jou storie lees lekker, Carol, en ek dink jy kan baie trots wees daarop. Dis fast-paced en energiek.
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 14 ure oud


14
Baie lekker gelees hier Carol. Die storie het soveel dinge wat nog moet en kan gebeur ... ek kan nie glo dat jy nou al halfpad is nie. Sterkte met die volgende fase van hierdie lekker ontspanningsverhaal :-)
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 18 ure oud


WsW: Dogters van die sOn (14)
Heerlik. Wag vir die opvolg. Sterkte!
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 19 ure oud


dogters
Pragtige skrywe, Vivian moet nou nie nonsens aanjaag met die Trent vent nie....
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 21 ure oud


dogters
Carol ek geniet jou storie
4 jaar 5 maande 1 week 2 dae oud


Errata
* mootoriste motoriste
4 jaar 5 maande 1 week 2 dae 4 ure oud



Stromateia: 'n Lappieskombers van Gedigte

deur Vesting

Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar