Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Martin Marais sit agter sy kantoorlessenaar met die egskeidingsdagvaardiging wat Vivian se prokureur op hom laat beteken het. Hy lees weer en weer daardeur. Sy dagvaar hom waaragtig vir die helfte van hul gesamentlike bates! Hy kan dit nie glo nie. Die vermetelheid daarvan! Hy verstik in sy bottel ontwerperswater en voel hoe sy bloeddruk styg. Martin vryf oor sy gesig en probeer sy asemhaling kalmeer. Hy moet rasioneel dink en nie op hol raak nie. Die beste ding om nou te doen is om Lorenzo Battaglia te bel – hul besigheidsooreenkoms is immers die katalisator wat aanleiding gegee het tot hierdie kwessie en wat die hele gemors waarmee hý tans sit, veroorsaak het.

Battaglia luister rustig oor die foon na wat Martin te sê het en stel voor dat hy so vinnig as moontlik op die dagvaardiging reageer. Hy gee Martin ‘n adres en sê hy moet die man nou dadelik gaan sien. Eugene Steyn.

Martin se ontvangsdame kanselleer en herskeduleer al sy afsprake vir die res van die dag en hy storm heel befoeterd by sy spreekkamer se deur uit, reguit oppad na Battaglia se prokureur toe.

Steyn groet, beduie dat Martin moet sit en kyk dan lank na die man voor hom. So, dit is hoe Martin Marais, die vooraanstaande Pretoriase plastiese chirurg en socialite in lewende lywe lyk. Minder indrukwekkend as wat hy verwag het. Maar, spanning en frustrasie kou seker maar aan ‘n mens. Hy glimlag sinies en sê, “Lorenzo Battaglia skryf jou hoog aan, Marais. Hy het my geskakel en daarop aangedring dat ek jou dadelik moet sien betreffende jou egskeiding. Het jy die dagvaardiging by jou?”

Martin haal die dokument uit sy aktetas en plak dit hard op Steyn se lessenaar neer. “My vrou dagvaar my vir vyftig persent van ons gesamentlike bates. Vyftig persent! Dis vergesog en ek weier om soveel aan haar te betaal.”

“Jy het nie eintlik ‘n keuse nie, Marais. As julle binne gemeenskap van goedere getroud is en sy kan bewys dat jy ontrou was, kán sy jou daarvoor dagvaar.”

“Dis absolute malligheid!” Martin vlieg op uit sy stoel en loop driftig heen en weer terwyl Steyn vinnig deur die dokument lees. Martin tier verder, “Vivian maak sélf ‘n fortuin! Sy’s ‘n senior vennoot in die mees vooraanstaande argiteksfirma in die stad.” Hy gluur uitasem na Steyn. “So, sy wil my kaal uittrek. Net om ‘n bliksemse punt te bewys!”

Steyn sit rustig agter sy lessenaar, streel met sy een hand oor sy oorgekamde bles en beskou Martin se emosionele, bykans histeriese tirade sonder om enige reaksie te toon. Dan stel hy voor, “Raak kalm en kom sit, Marais.” Martin vererg hom op die plek en wil iets sê, maar Steyn skud sy kop en grinnik, “Luister net na wat ek te sê het.” Martin gaan sit en staar fronsend na die man voor hom.

“Lorenzo Battaglia is ‘n baie invloedryke en welgestelde man, soos jy sonder twyfel weet. Hy het kontakte regoor die wêreld en kry wat hy wil hê. Ek is sy persoonlike regsverteenwoordiger in Suid-Afrika en hanteer al sy plaaslike sake nou al ‘n hele paar jaar lank. Dus is ek reeds lankal bewus van die plastiese chirurgie kliniek wat julle beplan. Ek weet ook dat julle miljoene sal kan maak daarmee. Maar meer as dit, Battaglia en ek is huisvriende.” Martin wil hom in die rede val, maar Steyn skud sy kop, “Ek is nog nie klaar nie.”

“Luciana wil jou as eggenoot hê en ons weet albei dat Battaglia spring as sy dogter iets vra. Boonop is jy heel gewillig om aan haar wens te voldoen, soos wat ek kan aflei.” Steyn kyk indringend na Martin en merk op, “Jy is ‘n baie ambisieuse man, nie waar nie, Marais?”

Martin staar uitdrukkingloos na die man voor hom en antwoord nie. Steyn grinnik en brei verder uit, “Die egskeiding as sulks pla jou nie, altans so wil dit voorkom. Die eintlike kwessie is dat jou vrou die helfte van jul bates wil hê.” Hy gooi sy arms in die lug en lag, “Ek sê gee dit vir haar!”

“Wat?! Is jy van jou sinne beroof?” Martin vlieg op uit sy stoel, leun oor Steyn se lessenaar en sis, “Op geen manier nie, Steyn. Op geen verdomde manier nie!”

“Sit, Marais. En luister.”

Steyn praat rustig verder, “Wat jy staan om te verloor met die egskeiding is ‘n druppel in die emmer. Wees realisties. Julle gesamentlike bates beloop ongeveer vyftien of sestien miljoen –”

“Hoe weet jy dit?” val Martin hom driftig in die rede. Sy kneukels klem wit om sy stoel se leunings en hy word rooi in sy gesig. Steyn lag en skud sy kop, “Raak rustig, Marais. Haal asem.” Hy grinnik meewarig, “Dink jy nou werklik ‘n man van Battaglia se statuur sal ‘n besigheidstransaksie aangaan of hoegenaamd oorweeg as hy nie alles van sy toekomstige vennoot af weet nie?”

Martin leun terug in sy stoel, sug en luister stil na wat Steyn verder te sê het. “Agt miljoen is kleingeld, Marais. Jy sal dit en veel meer baie vinnig maak met jou aandeel in jul nuwe prestige kliniek. So, ek beveel aan dat jy haar bloot betaal wat sy vra en aangaan met jou lewe. Kry die egskeiding agter die rug, trou met Luciana en gaan voort met die kliniek.” Hy skud sy kop en kyk ongelowig na Martin, “Jy val met jou agterent in die botter, maar sit en knor omdat jy ‘n klein skeppie sout verloor. Nee, o wragtag!” Steyn leun vooroor, slaan hard op sy lessenaar en blaf, “Kom net by, man!”

Martin tuur lank voor hom uit en bedink Steyn se argument. Dit maak sin. Hy kyk uiteindelik op en knik instemmend. “Goed, laat ons voortgaan. Onbetwiste egskeiding.”

“Wyse besluit, Marais.”

Martin staan op en Steyn sê, “Ek sal mevrou Marais se regsverteenwoordiger kontak en van ons besluit laat weet.”

Steyn stap saam met Martin tot by die deur. Hy kug. “Net so terloops, Marais,” lig Steyn Martin in voordat hy gaan, “Lorenzo Battaglia het slegs één voorwaarde.” Martin draai om en kyk vraend na Steyn.

“Alles moet so stil en vinnig as moontlik afgehandel word. Met min of geen media blootstelling.”

Hy kyk na Martin oor sy bril en adviseer, “Jy en Vivian is albei baie sigbaar op sosiale media en in sosiale kolomme. Dus, hou jou emosies eerder in toom.”

Martin draai om en storm verergd by die deur uit.





O.R. Tambo Internasionale Lughawe is ‘n bynes van bedrywigheid en onophoudelike, rustelose beweging. Aankondigings oor die interkomsisteem kondig vlugte aan wat geland het, wat gaan opstyg en wat vertraag is om welke rede ookal. Mense skarrel angstig en opgewonde heen en weer, haastig oppad na verskeie lugrederytoonbanke met volgelaaide lughawewaentjies, tasse op wieletjies of swaar rugsakke. Lughawepersoneel gaan hul gewone gang en hanteer al die bedrywigheid as deel van hul daaglikse bestaan. Ek stap vinnig oppad na die internasionale aankomssaal en ek kan my hart letterlik vóél klop. Ramon se vliegtuig land oor ‘n paar minute! My nuwe jeans pas perfek en die camisole met my spesiale Bohemia toppie bo-oor het goed gelyk in my kamerspieël, maar nou is ek nie meer so seker nie. Miskien moes ek … Wel, dis nou te laat. Ek vryf my hand effe senuagtig deur my hare en stap dan eerder vasberade voort.

Huurmotorbestuurders staan oral rond met name op wit A4-grootte plakate en die oorhoofse digitale inligtingsbord kondig uiteindelik aan dat sy vlug geland het. Dis moeilik om stil te staan en ek stap onrustig heen en weer, my oë die hele tyd gefokus op die skuifdeure waardeur aankomende passasiers moet verskyn. Ek begin skielik onbedaardelik bewe, asof ek koud kry. Sal ek en Ramon nog dieselfde oormekaar voel? Wat gaan van nou af verder aan gebeur? “Kalmeer, Eliza …” betig ek myself en stap eerder weer ‘n draai om die saal.

Ramon stap uiteindelik deur die skuifdeur met ‘n hooggelaaide waentjie en sukkel om al sy bagasie bo te hou. Sy skouerlengte donker hare val oor sy oë en hy vee dit met ‘n vinige, spontane beweging terug. Hy dra jeans, ‘n wit hemp en bruin boots. My brein vries en ek kan skielik nie beweeg nie. Ek staar net na hom. Hy stap verder, kyk om hom rond en dan sien hy my. Hy los alles net so en hardloop na my toe, tel my op en tol my al in die rondte. Hy soen my van my voete af en dan eers skep ons asem, kyk na mekaar en begin lag. “Eliza …” fluister hy en trek my weer teen hom aan, “I never leave you again. Not ever, ever, ever.”

Ons stap terug na sy waentjie toe en hy hou my hand styf vas, asof hy nie kontak tussen ons wil verbreek nie. Twee sakke het afgeval en ‘n derde is besig om stadig af te gly. Hy spring nader, druk die sak terug en probeer dit weer bo-op die ander tasse balanseer. Ek gaan haal eerder nog ‘n waentjie. Hy moes ‘n fortuin aan oorgewig bagasie spandeer het. Ons deel die bagasie tussen ons, hy gaan ruil Euros vir Rand en dan stap ons na my kar toe.

Gelukkig is die verkeer nie te druk nie en ons ry die hele pad sonder vertragings. Hy vertel my van sy veertien uur lange vlug. “Is not fun. My legs under my chin whole time. Also I only eat little. Am hungry for good food.” Hy skud sy kop en probeer sy lang bene uitstrek in my Mazda 2, maar kry dit nie reg nie. Hy sug kliphard en ek lag. “Jeez, men can be such drama queens.” Hy staar eers effe geaffronteerd na my, maar glimlag dan maar effe onwillig saam, streel oor my been en lag, “Now you will spoil me. Yes?”

“You think?” Ek skater kliphard en hy lag hartlik saam, “Yes, please.”

Oppad na my huis toe kyk Ramon om hom rond en verwonder hom aan die andersheid van ons landskap, geboue en selfs voertuie. Maar, die meeste van die tyd kan ek sy oë op my voel, oor my voel speel. Hy streel nou en dan oor my been en ek voel sy hand warm op my brand.

Ek parkeer uiteindelik naby my voordeur en ons laai al sy bagasie af, dra dit tot in die voorportaal en dan trek Ramon die deur sag agter ons toe.

Hy kom staan reg voor my en kyk woordeloos, intens na my. Die kyk in sy oë is sag, maar ek word bewus van die warm vuur wat binne hom brand. Hy pen my skielik vas teen die muur en soen my met soveel passie dat ek na my asem snak. Hy soen my in my nek en sy een hand trek my toppie stadig oor my skouers. Hy druk sy kop in my nek en sug, “I miss so much your smell, Eliza.” Sy hand vou besitlik oor my bors en ek hyg na asem. My knieë word lam en hy druk my al stywer teen die koue muur vas. My arms vou om sy nek en hy soen my diep, dan trek hy stadig terug en ons kyk stil na mekaar. Sy oë brand van begeerte, maar sy lippe is sag, warm, uitlokkend en ek wil verdrink daarin. Sy lyf is hard teen myne en ek kan sy hart voel klop, net so ontstuimig soos my eie. Ek trek hom nader aan my en soen hom eers sag, dan meer dringend en baie, baie lank. Ramon se hele lyf begin bewe, my hande streel deur sy hare en hy fluister hees in my oor, “I want make love to you, Eliza. Now.”

Ek lei hom stadig na my kamer en sover as wat ons stap, raak ons ontslae van ons klere …



Dis skemer en ons sit buite op my dek, albei se hare nog effens nat na ons stort en Ramon teug aan sy glasie rooiwyn. Hy’s diep ingedagte en staar na alles om hom. Hy lyk rustig en het hom reeds tuisgemaak in my huis. Sy kameratoerusting is in my studio, sy klere is in sy kant van die kas en sy tandeborsel en skeergoed in die en-suite badkamer van my kamer. Ek glimlag. Ons kamer.

Dit voel gemaklik met hom by my. Dis asof hy hier hoort. Nou moet ek net gewoond raak aan nog ‘n asem in my spasie, nadat ek so lank alleen in my huis gewoon het. Ek sluk aan my glasie wyn en glimlag effe skewerig – Ramon voltooi die legkaart. Dis asof hy die laaste stukkie kleur inbring en alles in en om my weer laat lewe. Miskien het ek wel te lank in een of ander gemaklike, banale comfort zone verval.

Ek voel onbewustelik aan dat ek ‘n keerpunt in my lewe bereik het. My gedagtes tuimel holderstebolder deurmekaar, oormekaar en raak verstrengel in mekaar. Ek neem eerder nog ‘n slukkie wyn. Ramon het die eerste stap geneem – hy’s hier. ‘n Glimlag trek aan my mondhoeke en ek is salig onbewus daarvan dat hy my stil sit en dophou.

Sal ons by mekaar aanpas, wonder ek skielik en ‘n koue vrees klem om my hart. Wat as ons na ‘n paar weke besef dat ons nie by mekaar kan aanpas nie? Wat as ek weer op vlug slaan en hardloop vir die berge – soos met al my vorige verhoudings? Wat as ons nie voldoen aan die verwagtinge wat ons oor mekaar opgebou het nie? Ek frons en besef dat die tydjie in Hawaii idillies was, maar dit was amper surrealisties – weg van die werklike lewe en ons was in ons eie, veilge kokon. Nou moet ons deal met die lewe, die koue, harde realiteit en lewe in suburbia. Rekeninge, daaglikse roetines … mekaar -

“Eliza.”

Ramon se sagte stem ruk my terug na die werklikheid en ek kyk na hom oor my glas. Sy donker oë is op skrefies getrek en hy staar intens na my. “Something wrong?” vra hy.

“No, nothing’s wrong,” probeer ek hom kopskuddend gerus stel en glimlag, I was just thinking.” Hy staan op, glimlag gehemsinnig en verdwyn deur die glasdeur. “Wait there!” roep hy oor sy skouer. Ek sit doodstil, teug aan my wyn en wonder wat hy gaan doen het.

Ramon stap stadig op die klanke van Nina Simone se Feeling Good terug op die dek, hou sy hand uit en trek my op. “This song for you,” my love,” fluister hy en dans stadig met my. Hy hou my teen hom vas en sy een hand streel oor my heup. Ek glimlag en sê sag, “That’s one of my favourite songs.” Hy trek my stywer teen hom vas en my hart klop vinnig. Die koel windjie waai deur ons hare en sy lyf is warm teen myne. Hy lig my ken op, kyk in my oë en dan soen hy my sag al teen my wang af tot by die hoekie van my mond. Sy asem hyg wanneer hy sag saam met die lirieke sing, “It’s a new dawn, it’s a new day, it’s a new life … and I’m feeling good …”

Ek leun teen hom, my kop teen sy skouer en ek begin ontspan. Hy streel oor my rug en ek wonder of hy my gedagtes kon lees. Hy tree terug en hou my gesig in sy hande, “I care for you Eliza,” fluister hy sag, “ I love you. Very much.” Hy soen my op die punt van my neus en kyk besorgd na my. “You ok?”

Ek knik en glimlag, dan trek ek hom aan sy hand kombuis toe, “Come. Let me make some good food for my hungry beast!”

Ramon is druk besig om pasta te kook en ek sny uie vir die sous. My oë begin onwillekeurig traan en ek vee dit haastig af. Nuwe trane wel op en ek besef dat dit nie net die uie is wat daarvoor verantwoordelik is nie. Wat gaan aan met my? Is ek te bang om te commit? Bang om seer te kry? Wat? Hoekom kan ek dit nie net geniet en ontspan nie?

Ek haal diep asem en kap vars basil, sprietuie en oregano uit my tuin op my houtbord. Ramon skink ons kelkies vol Merlot en knyp-streel my boud speels in die verbygaan. Hy lag gelukkig en loer dan weer benoud na die pasta. Hy trek die pot van die hitte af net voordat dit begin oorkook en steek versigtig met ‘n mes aan die tagliatelle. “Is ready.” Ek lag en sê, “Now you have to drain it.” Hy gryp dir kastrol en dra dit na my wasbak, waar hy dit in die vergietes gooi en dreineer. Daarna skep hy die pasta op ‘n groot plat bord en neem ‘n reuse sluk rooiwyn. Hy vee oor sy voorkop, “Mierda.” Dan lag hy verlig. “ Is done.”

Ons lag saam en ek klink my glas ewe opgewonde teen syne, “Salute! Cheers!”

Ek was nog nooit so gelukkig as nou nie.

Hoekom is daar dan iets wat aanhou knaag aan my binneste? ‘n Donker voorbode of voorgevoel wat dreigend in die skadu hurk en my laat voel of my nuutgevonde geluk aan ‘n dun draadjie hang en stadig, baie stadig begin uitrafel, vesel vir vesel vir vesel …



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

dogters
O Velskoen hier kom 'n ding. Ek klink egter 'n glasie saam op jou vordering. Wag in spanning.
4 jaar 4 maande 3 weke 4 dae 13 ure oud


Louise en Arnold
Mag ek maar nog 'n eietjie le? Natuurlik mag ek.

Dit het my ook dadelik opgeval dat Steyn hom net as Marais aanspreek en dat daar 'n nydigheid is, maar my gedagte was dat Martin homself in Battaglia se mag geplaas het agv gierigheid en dat hulle hom nou aan die short en curly's beet het. Hy het nie veel van 'n keuse nie. Ek dink daardie scene beklemtoon die vieslike situasie.

Tog wil ek aan Louise en Arnold se baie dankie vir hulle opinies, kommentaar en raad. Dis waaroor Woes-skryf-woes-gaan!!
4 jaar 5 maande 2 dae 16 ure oud


Louise en Arnold
Ek gaan beslis julle raad aanvaar en die prokureur gedeelte herskryf vir die regte boek. Dit maak meer sin - ek dink ek was te haastig. :))
Dis regtig vir my great dat ons so kan skaaf aan mekaar se manuskripte en dit op die ou end baie beter te maak. Great!!! :))
4 jaar 5 maande 2 dae 18 ure oud


son
Soos die engelsman sê at last. hierdie hoofstuk is n pragtige hoogtepunt in die hele verhaal
4 jaar 5 maande 3 dae oud


sOn (15)
Ek stem saam met Louise, miskien het jy te veel laat blyk wat sy plan met Marais gaan wees, dalk moes daar 'n sombere verdoesling in gewerk word vir sy heidige omstandighede en oor sy toekoms. Net my opinie
4 jaar 5 maande 3 dae 4 ure oud


Prokureur
Louise, ek dink tog jy het 'n punt beet ... :)))
Baie dankie :)))
4 jaar 5 maande 3 dae 7 ure oud


Baie Dankie!!
Anze, Casper, Kiekies, Viooltjie, Louise en Jan - BAIE dankie vir jul saamlees en kommentaar :)))
4 jaar 5 maande 3 dae 10 ure oud


Son
Lekker gelees en soos altyd kou ek my naels af.
4 jaar 5 maande 3 dae 11 ure oud


Louise :)
Baie dankie vir jou PUIK kommentaar!! :))
Ok, laat ek die kat effe uit die mou uit laat ...

Eugene Steyn se lojaliteit le eintlik by Lorenzo Battaglia. Hy is Battaglia se regsverteenwoordiger en vertroueling. Hy is nie gepla oor wat Martin Marais wil he nie en is net daarop ingestel om Battaglia gelukkig te hou.En Battaglia wil net he dat die probleem so gou as moontlik moet weggaan, want hy soek geen negatiewe publisiteit ens nie.

Maar ... dit gee aanleiding tot ... (vervolg) :)))))
4 jaar 5 maande 3 dae 11 ure oud


Son 15
Ag, ek love die manier waarop Ramon praat, giegie, soos in daai advertensie waar die meisie sê: "Oh, Henry, I love it when you talk foreign."

Jy't hoofstuk 15 op 'n heerlike cliffhanger afgesluit - mens kou naels oor wat tussen Eliza en haar Ramon gaan gebeur. Hoop haar misgivings gaan nie hul verhouding kelder nie!

Ek het net gewonder oor die prokureur, Eugene Steyn. Jy laat die leser sien wat hy dink oor Martin Marais - ek het dit nie steurend gevind nie, maar ek wonder tog of hy 'n stem moet hê? Soos in, Martin is die hoofkarakter in daardie scene, maar nou weet ons wat die prokureur van hom dink asof ons ook insae in die prokureur se gedagtes het. Nog, 'n ding, sal die prokureur hom as 'Marais' aanspreek ipv Meneer? Ek verstaan hy's 'n shady karakter en sal hom seker nie aan konvensies steur nie, maar dit het my dadelik opgeval dat hy die nuwe kliënt minagtend aanspreek. Ek dink Martin se ego is te groot om dit toe te laat.

Jou storie is puik en die intriges hou mens op die punt van jou stoel. Lekker skryf aan die volgende hoofstuk!
4 jaar 5 maande 3 dae 11 ure oud


Ramon
Uiteindelik, ek wag al hoe lank dat die man moet opdaag:-). Dit was nou nog 'n puik hoofstuk uit jou pen, Carol en ek het baie lekker gelees. Lekker verder skryf :-)
4 jaar 5 maande 3 dae 11 ure oud


15
Die herontmoeting was hoendervleis-heerlik en salig en toetentaal puik beskryf. Maar.... ek hou nie van wat in Eliza se kop aangaan nie. Voor jy verder skryf, stuur haar eers vir my. Ek MOET met haar praat!!!

Regstellings:
interkomsisteem - interkomstelsel
nog dieselfde oormekaar - nog dieselfde oor mekaar
hy vee dit met ‘n vinige, - hy vee dit met ‘n vinnige,
This song for you,” my love, - verwyder die extra "
4 jaar 5 maande 3 dae 13 ure oud


Son 15
Ai die ou gedagtes wat mens so pla! Pragtige skrywe, ek het die baie geniet.
4 jaar 5 maande 3 dae 13 ure oud


Son 15
Baie lekker gelees Carol
4 jaar 5 maande 3 dae 14 ure oud



n Vergane Era

deur neels claasen

n boek met verhale en staaltjies uit die skrywer se eie eie spoorwegloopbaan



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar