Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Ons is almal hopelose sondaars!”

Desmond se stem vul die lug. Skielik en onverwags, nadat hy uit die spesiale, spierwit Ministry tent wat Pieter gehuur het, gestap en op ‘n klein verhogie agter die mikrofoon plaasgeneem het. Dis Sondagoggend, op die kop elf-uur en sy oë speel stil, ernstig en stadig oor die ongeveer vyfhonderd of meer mense voor hom. Groepies mense sit of staan op die lieflike grasperk van die Magnolia Dal park en swaai vinnig om in reaksie op die klank van sy stem en die inhoud van sy woorde. Hulle staar stil na die doodgewone man in jeans, boots, ligblou hemp en verwag dat sy stem dadelik weer verder sal bulder, maar daar is niks. Net ‘n doodse stilte. Sy oë speel sag oor hulle en dit lyk asof hy elke persoon voor hom se gesig in sy geheue probeer vasprent in sy geheue.

Sommiges begin kriewel, fluister na mekaar en staar uiteindelik doodstil, byna ongemaklik, maar tog afwagtend na die man met die lang, goudbruin hare agter die mikrofoon - die man van die You Tube videos wat soveel opslae gemaak het en nou in lewende lywe voor hulle staan.

“Ons is selfsugtig, gierig, nydig, en jaloers!” bulder hy weer en sy stem wil-wil breek van emosie. “Ons is haatdraend, selfkastydend en selfvernietigend!”

Sy diep stem vul die ruimte in en om die park. Desmond se blik speel intens en stil oor sy gehoor wat vasgevang in die oomblik na hom staar. ‘n Sagte glimlag speel om sy lippe. “Maar ons kan soveel meer wees …” Ramon skakel die musiek sag aan. Tubular Bells begin in die agtergrond oor die luidsprekers speel.

“Liefde,” fluister Desmond in die mikrofoon. “Liefde maak die verskil.”

Sy gehoor begin meegevoer hande klap.

“Liefde maak die verskil tussen ‘n lewe van haat, vrees, twyfel, onsekerheid en verwyt …” fluister hy verder passievol in die mikrofoon en dan resoneer sy stem al sterker, selfs oor die aanhoudende applous, “en bied jou ‘n lewe van waardering vir al die mooi in jou, om jou en vir jou!” Hy staan ‘n oomblik doodstil, kyk dan weer op na almal voor hom en vra byna pleitend, “Wil jy nie graag ‘n beter, gelukkiger lewe lei nie?” Hy lig sy arms stadig omhoog. “Liefde is die lens waarmee jy na die lewe kán kyk. As jy maar net weet hoe. Gee liefde ‘n kans in jóú lewe!”

Die groeiende skare voor hom fluister entoesiasties onder mekaar en bied meer dawerende applous.

“Liefde is in jou en jou en jou,” dra sy stem sterk en hy beduie met sy een hand na individue in sy gehoor. Sy boodskap dra oor die park en sy woorde begin lewe en groei in die mense voor hom.

“Liefde is in elke liewe een van ons …” Dit is reeds daar. Maak dit net wakker. Laat dit lééf. Laat dit toe om te groei. Laat dit toe om beheer te neem van jóú lewe!”

Hy maak sy oë toe en staan doodstil vir ‘n oomblik, dan kyk hy weer op na die mense in die park voor hom, glimlag sag, draai om en stap in die tent in.

Die applous is oorverdowend en die gehoor roep sy naam, “Des-mond! Des-mond! Des-mond!”

Desmond stap vir ‘n tweede maal by die tent uit om met van die mense persoonlik te gaan praat, maar dis ‘n fout. Hulle oorval hom, trek hom nader aan sy klere en almal praat gelyk. Hulle druk teen mekaar om naby hom te kom en hy kan skaars beweeg. Desmond steek sy hande in die lug, groet almal luid, bedank hulle vir hul teenwoordigheid en verdwyn eerder weer in die veiligheid van die tent in. Hy leun uitasem teen ‘n tentpaal, sluk effe benoud aan ‘n bottel water en skud sy kop ongelowig wanneer sy vingers bewerig oor sy geskeurde hempsmoue streel.

Pieter stap vinnig na die mikrofoon toe, versoek vriendelik, maar ferm dat almal wat ‘n afspraak met Desmond wil maak, na die CNL Pretoria webtuiste gaan en dan ‘n boodskap daar laat. “Elke boodskap of navraag sal so spoedig moontlik beantwoord word.” Hy bedank almal vir hul teenwoordigheid en sluit glimlaggend af, “Tot volgende week, dieselfde tyd, dieselfde plek.”

Diana het haar hande vol by die donasietafel. Pieter het ‘n kartonhouer met ‘n gleuf aan die bokant by haar tafel neergesit en ‘n lang ry mense staan tou om hul vrywillige donasies daarin te plaas. Sy beduie na Sarah om te help. “Daar’s nog ‘n houer agter in die tent. Bring dit asseblief!” Sarah plak die tweede houer ’n entjie van die ander een neer en kort voor lank is dit ook vol. Sy en Diana kyk grootoog en verstom na mekaar toe die laaste mense uiteindelik meegevoer wegstap, terug na die parkeerterrein toe.

“Holy moly.” Sarah gaan sit op ‘n kampstoel en sê, “Ek glo nie julle het dit verwag nie, het julle?” Diana gaan sit sommer plat op die grond langs Sarah en skud haar kop woordeloos.

Julia en David sit onder ‘n groot ou treurwilger langs die klein stroompie wat deur die park vloei. Trane stroom oor haar wange en hy hou haar styf vas. “David,” snik Julia, “ek het vir die eerste keer weer hoop. Ek wéét daar is liefde in my. Soveel …” Sy probeer deur haar trane lag, maar begin weer hartverskeurend snik. “Ek het dit miskien weggesteek of vergeet, maar … nog nooit só ingesien nie. Ek was vir jare lank so kwaad!” snik sy en haar skouers ruk, “kwaad vir my ouers, die dokter … veral vir mysélf oor die aborsie.” David streel oor haar hare en luister net. “Ek was so besig om almal te verwyt en te haat,” snik sy en druk haar gesig in haar hande, “dat ek die belangrikste mense in my lewe die seerste gemaak het. Jy en ek.” David druk haar styf teen hom vas en sy lippe streel oor haar voorkop. “Ek is so lief vir jou, Julia, ek …” Sy stem breek en hy druk sy gesig in haar hare. Hy stuur ‘n skietgebedjie op en sê dankie dat sy gebede uiteindelik verhoor is. Dat hierdie vrou wat hy met sy hele hart liefhet, uiteindelik verby haar seer kan werk én dat sy genadiglik heel anderkant uitgekom het.

Vivian stap stadig na haar kar toe. Sy het die hele diens van ver af waargeneem en die ander dogters weet nie dat sy hier was nie. Sy het net ‘n bietjie alleentyd nodig gehad. ‘n Magdom gedagtes maal deur haar kop waneer sy haar BMW brullend by die parkeeerterrein uittrek en skerp links draai, oppad na haar huis toe. Vivian besluit daar en dan om ‘n ete te hou vir haar vriende – so gou as moontlik. Een laaste maal in haar ou huis, voordat sy nuwe blyplek moet soek.

Sy het nie die groot man met die videokamera in die parkeerterrein opgemerk nie. Kobus Kritzinger het die hele diens op video vasgevang. Hy leun teen sy silwer Ford Ranger en steek ‘n Camel sigaret aan, trek die rook diep in sy longe in en wonder hoe Don Lawrence gaan reageer. Hy weet daar gaan drama wees. Groot drama. Die kooltjie van sy sigaret glim bloedrooi, dan gooi hy dit ongeduldig op die gruis neer, trap die stompie knarsend dood met sy nommer 11 weermagstewel, klim in sy voertuig en mompel, “Just don’t shoot the messenger, Don, just don’t shoot the messenger.”

Ek is agter in die tent en help Ramon om die klank- en kameratoerusting weg te pak. Desmond en Pieter trek hul voertuie nader en begin solank van die houers inpak. Nie een van ons sê ‘n woord terwyl ons vinnig al die toerusting in die voertuie pak en die klein tent afslaan nie. Ek dink ons lei almal aan skok. Geeneen van ons het verwag dat soveel mense gaan opdaag nie, ook nie dat Desmond se boodskap so … intens sou wees nie. Sy boodskap, passie en woorde het almal van ons op een of ander vlak aangeraak.




Laat die middag glimlag Desmond en neem Sarah se hand, “Moenie op jou rug val nie, ok?”

Hy druk die sleutel in die slot van sy woonsteldeur in Arcadia en stoot dit stadig oop. Sy stap in en hy trek die deur agter hulle toe. Sarah se oë speel vinnig oor die minimalisties gemeubileerde woonvertrek. Daar is alles wat hy nodig het – ‘n leer rusbank, koffietafel, twee stoele, ‘n klein boekrak vol boeke, TV en hi-fi, ‘n klein eetkamertafel met vier stoele, maar geen persoonlike ornamente, foto’s of versierings van enige aard nie. Geen luukshede nie. Dit lyk soos ‘n onpersoonlike hotelkamer, as sy ‘n vergelyking moet tref. Sy neem alles met een oogopslag waar en vra, “ Desmond?” Sy wonder hoekom die man so min vir homself gun en vra dan op haar tipiese Sarah-manier, “Wat is die storie agter die storie? Hoekom is daar niks persoonlik iewers om jou nie?”

Hy glimlag en beduie dat sy by die eetkamertafel in sy eenkamerwoonstel moet sit. Sarah hou hom dop wanneer hy die ketel in sy klein kombuisie aanskakel, twee koppies netjies op die toonbank uitpak en een teesakkie vir albei koppies gebruik.

Hy bring albei se tee na die tafel toe en plaas hare versigtig voor haar neer, gaan sit ook by die tafel en glimlag. “Dis hoe my lewe is, Sarah.” Hy neem ‘n sluk tee en vertel verder, “Ek het van jongs af gereis, die hele wêreld vol … en ek het geleer om met die minimum klaar te kom. Dis makliker.” Hy teug aan sy tee en wag vir haar reaksie.

“Hoekom het jy gedink dat ek nie hiervan sal hou nie?”

“Jy hou van mooi goed oral om jou. Ek kon dit sien by jou salon.”

“Ja, dit is so,” antwoord sy ingedagte, “maar ek hou nie van clutter nie.”

“Soos Diana se huis,” sê albei gelyk, kyk verbaas na mekaar en lag dan kliphard. “Ja, genade,” lag Sarah, “Diana is mal oor goetertjies op elke denkbare oppervlakte. Bakkies en beeldjies en vasies!” Sy gooi haar arms in die lug en skud haar kop. “Ek’s altyd bang ek stamp iets af of om as ek daar kuier!”

“Mmm, “ knik Desmond, “mens loop stadig en versigtig in die Venters se huis.”

Hulle sluk albei stil aan hul tee en dan vra Sarah, “Hoe voel jy na vandag se diens?”

“Dit het goed gegaan.” Hy vryf vinnig deur sy hare en blaas sy asem uit, “ek moet erken, ek het die reaksie na die tyd nie verwag nie.”

“Toe almal op jou afstorm?”

Hy knik, “Pieter praat van sekuriteitsmense huur.”

“Dit sal miskien beter wees, veral met die klomp geld wat julle ingesamel het.”

Hy knik instemmend, maar sy kan sien dat sy gedagtes allesbehalwe by die sekuriteit van CNL Pretoria is.

Desmond neem Sarah se hand in syne, vou sy vingers om hare en kyk dan in haar oë. “Besef jy dat jy my hele lewe omvergewerp het?” Hy glimlag, maar Sarah merk ‘n hartseer, onseker ondertoon iewers diep binne om op. “Een oomblik was alles rustig en toe … toe bars jy in my lewe in!”

Sarah bloos. Heel waarskynlik ‘n eerste vir haar.

“Vir die eerste maal in my lewe begin ek daaraan dink om te settle.” Hy kyk reguit na haar en streel met sy vingers oor haar pols. Sy snak na haar asem en hy brei rustig uit, “Ek is en was nog altyd ‘n reisiger, Sarah. Soos jy kan sien.” Hy beduie oor die vertrek. “ Rolling stones gather no moss.”

Sarah staar diep in haar teekoppie en wonder oor sy woorde. Wat het verander? Hulle ken mekaar maar net ‘n kort rukkie. Maar, sy moet erken dat sy self nog nooit voorheen so oor enige man in haar lewe gevoel het nie. Sy neem ‘n slukkie lou tee en kyk op.

“En nou?” vra Sarah sag.

“Ek wil jou graag in my lewe hê, Sarah.” Hy kyk reguit na haar. “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie, behalwe dat ek … dat jy …” Hy trek sy skouers op, “Sarah, jy het iets in my wakker gemaak wat ek nie gedink het moontlik is nie.” Hy vryf effe senuagtig met sy een hand deur sy hare en kyk intens na haar. “Totdat ek jou leer ken het, het ek in ‘n vakuum geleef, gedink dis wie en wat ek is. Net my boodskap en ek en lughawens die hele wêreld vol, klein nikssegende blyplekkies en …” Hy kyk af na sy hande en sê sag, “Soos hulle sê, geen mens is ‘n eiland nie. Ek besef dit nou. Vir die heel eerste maal.”

Sarah luister stil. Dan maak sy ‘n spontane besluit, glimlag ondeund na hom en sê sag, “Doen vir ‘n verandering wat jou hart wil hê, Desmond. Vanaand. Vir jou en my. Vir wat jy en ek albei nodig het. Nou. Van mekaar.”

Hy staan op, neem Sarah in sy arms en soen haar eers sag, dan al meer intens. Sarah snak na haar asem. Hy lei haar na sy kamer en lê haar sag op sy bed neer. Sy trek hom nader en fluister, “Ontspan, Desmond. Ek wil hier wees.”

Desmond trek haar stadig uit, trek dan vinnig sy hemp oor sy kop, klim uit sy jeans en gaan lê langs haar. Sarah lag gemaak-verspot, klim stadig, sensueel tot bo-op hom en glimlag, “Maak jou oë toe, Desmond, en voel. Voel net …” Sy begin sensueel oor sy lyf beweeg wanneer die son deur sy woonstel se venster oor die horison sak en hy kreun gelukkig, vasgevang in haar stadige, erotiese en intense liefdespel.




Netjiese hopies banknote lê eenkant op die patiotafel. Munte in banksakkies lê bo-op die papiergeld en Pieter tik die finale bedrag op sy laptop in. Diana staar doodstil na haar man toe hy die totale bedrag van die donasies uiteindelik aankondig, nadat hy dit oor en oor getel het. “R25 385.”

“Een oggend?” vra sy byna sprakeloos en skud haar kop. Hy knik en frons, “Na vandag sal ons beslis sekuriteit moet kry. Daar was byna chaos.” Diana dink ‘n oomblik na. “Wat van as ons daai PI van Vivian kry? Hy het blykbaar ‘n hele span en hulle doen sekuriteitswerk ook.”

“Goeie opsie,” knik Pieter. “Ten minste weet ons dan dis iemand betroubaar.”

“Ek sal haar vroeg môre kontak om sy besonderhede te kry, dan kan julle ‘n afspraak maak.” Diana staan op en lag, “Nou moet ek eers klein Stefan se badwater regkry, die mannetjie oortuig dat hy moet eet en hom dan in die bed kry.”
Pieter glimlag en roep agter Diana aan, “Stefan se pa is vrek honger!” Sy hoor skynbaar nie. Stefantjie jil in die badkamer en Pieter glimlag. Nou het hy weer hoop vir die toekoms van sy gesin.

Hy pak die geld in sy aktetas, sluit die sekuriteitshek agter hom en gaan was sy hande. Hy moet nou eers sy besige vrou oortuig dat hy eintlik ook aandag nodig het.




Ramon en ek maak pizza. Hy knie die deeg en ek sny, rasper en kerf alles wat nodig is vir die topping. Hy sê skielik, uit die bloute uit, “ Today at CNL, I see other man also take video. You know?”

“No,” antwoord ek ingedagte en probeer dink of ek iets gesien het, skud my kop en sny verder, “I didn’t see that, baby.”

“Big man. Short hair. Army boots.”

“That’s very weird,” antwoord ek en steur my nie veel daaraan nie. Want some wine?”

Hy lag, vee die meel van sy hande af en maak ‘n bottel wyn oop. Terwyl ons vir die pizza in die oond wag, sit ons by die kombuistafel en besluit om net na ete in die bed te klim. Dit was ‘n lang dag.




Martin ry stadig deur die strate van Waterkloof, een van die mees welgestelde woonbuurte in Pretoria. Straatligte verlig die netjiese sypaadjies en hier en daar blaf ‘n hond. Hoë heinings met elektriese bedrading omring luukse eiendomme en hy sug as hy na al die rykdom om hom kyk, draai uiteindelik by sy straat in, trek van die pad af en parkeer op die sypaadjie. Hy staar na die imposante woonhuis waar hy en Vivian die grootste deel van hul getroude lewe gewoon het. Dit lyk asof Vivian in die woonvertrek is. Dis die enigste lig in die huis wat brand. Hy wonder wat sy doen.

Die groot hek skuif oop wanneer Martin die remote druk en hy glimlag, maar ry nie in nie. Die hek skuif weer toe en die luukse Mercedes ry stadig weg. Martin trap die petrolpedaal, sy voertuig skiet brullend vorentoe en hy glimlag selftevrede. Hy kan steeds by die huis inkom wanneer hy wil. Vivian het blykbaar nie gedink dis nodig om die sekuriteitskodes te verander nie. Hy skud sy kop meewarig en fluister, “Dan moet sy maar voel.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Trots op jou!
Nee kyk, jou storie is beslis nie voorspelbaar nie en jou karakters verras keer op keer - jy's 'n meester storieverteller en ek is eerlikwaar verbaas jy't nog nie dosyne blitsverkopers op die winkelrakke nie - en nee, ek smeer nie heuning om jou mond nie, ek bedoel dit opreg en ek dink jou lesers hieronder sal saamstem.
Net paragraaf een: die woordjie / begrip stil / stilte gebruik jy 3 x baie na aan mekaar.
Lekker skryf, Carol! Ek's soooo trots op jou!
4 jaar 4 maande 1 week 4 dae 16 ure oud


sOn (18)
“Big man. Short hair. Army boots.” gaan nog al die kaarte deurmekaar gooi lyk dit vir my.
4 jaar 4 maande 1 week 6 dae oud


18
Jou storie is baie interessant, Carol. Ek sou nooit aan die begin kon raai dat dit die verloop van die verhaal sou wees nie. En jy sluit die hoofstuk weer op 'n spannende hoogtepunt af :-)
4 jaar 4 maande 1 week 6 dae 11 ure oud


18
O blikskottel, kon iemand haar nie maar gewaarsku het om dit te doen?!! Wat sou die verdomde mansmens nou beplan? Nee man, jy kan ons mons nie nou hier laat hang soos biltong nie, dem have a heart!
Ek wonder of jy eers naastenby weet hoe goed jy skryf - ek glo nie.

Moontlike regstellings:

Skielik en onverwags, nadat hy uit die spesiale, spierwit Ministry tent wat Pieter gehuur het, gestap en op ‘n klein verhogie agter die mikrofoon plaasgeneem het. Hierdie sin is lomp, nie lekker op die oor of tong nie. Wat van:

Skielik en onverwags. Toe hy op ‘n klein verhogie agter die mikrofoon plaasneem. Nadat hy uit die spesiale, spierwit Ministry tent wat Pieter gehuur het, verskyn het/ te vooskyn gekom het.

persoon voor hom se gesig in sy geheue probeer vasprent in sy geheue. - persoon voor hom se gesig in sy geheue probeer vasprent.

“Liefde maak die verskil tussen ‘n lewe van haat, vrees, twyfel, onsekerheid en verwyt - “Liefde maak die verskil in ‘n lewe van haat, vrees, twyfel, onsekerheid en verwyt

“Wil jy nie graag ‘n beter, gelukkiger lewe lei nie - “Wil jy nie graag ‘n meer betekenisvolle en gelukkiger lewe lei nie


elke denkbare oppervlakte - elke denkbare plat vlak/oppervlak
4 jaar 4 maande 1 week 6 dae 16 ure oud


Son 18
ek ditto vir Ans!!! Jy sal jou moet roer met die volgende aflewering, dinge raak nou erg interessant en ek kan nie wag vir die res nie
4 jaar 4 maande 1 week 6 dae 17 ure oud


18
Eish!! Nee man hoe is jou dan nou. Jy sal moet vinniger skryf, mens kan nie solank wag vir 'n volgende hoofstuk nie!! Ha! Jy sal moet begin dink aan ouderdomsbeperking!
Ek het eendag by my mentor gekla dat dit by my ingeslaan is as 'n persoon verongeluk het, dan is hy dood. En in Leon van Nierop se Wolwedans in die skemer is daar 'n strofe waar hulle praat van "dit is hier waar jy verongeluk het" en die persoon lewe nog. Haar antwoord was dat dit dalk die manier is waarop die mense praat waaroor hy geskrywe het.
Wat die "remote" aanbetref ons is 'n afrikaanse webwerf, maar jy kan self besluit of dit is hoe jou karakters praat. Ek weet ek praat van 'n "remote" ek wed hy gaan eendag aanvaar word as 'n afrikaanse woord
4 jaar 4 maande 1 week 6 dae 19 ure oud


Dogters 18
So baie om in te neem in jou verhaal. Ek wil nie ophou lees nie.
4 jaar 4 maande 1 week 6 dae 22 ure oud


Dogters
Die spanning word net te veel. Jy martel ons.
4 jaar 4 maande 2 weke oud


dogters
Carol jou verhaal hou mens met elke hoofstuk op die punt van die stoel
4 jaar 4 maande 2 weke 1 uur oud


dogters
Eina, hier kom 'n ding. Naelbyt interessant. Let miskien net op in slotvers "remote" na afstandbeheer?
4 jaar 4 maande 2 weke 7 ure oud



Oak Seed

deur Rachelle du Bois

Alicia Venter was a cool librarian with her life and her career mapped out. Until she looked into the compellingly familiar eyes of a stranger. She was shaken to the core. Why was she so powerfully drawn to the stunningly attractive Martin Blythe, yet they’ve never met? Martin Blythe was rich, he was a successful engineer doing research in the university library. And then he looked into the familiar green eyes of a strange young woman. The earth moved for him then as he recognised her somehow. In an instant he knew she was a part of him without which he could not live. Would these two people find the answer to the strange coincidence that kept pushing them into each other’s lives? Would they resist or choose love?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar