Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vivian stap stil deur die egskeidingshof se swaar houtdeure met Gustaf Malan aan haar sy. Hy trek sy toga uit, gooi dit oor sy arm, stap saam tot by haar BMW in die vaal onderdakparkeerplek van die hofgebou in die middestad van Pretoria en sê bemoedigend, “Dis nou afgehandel, Vivian. Jou egskeiding is finaal en jy kan voortgaan met jou lewe.” Sy knik woordeloos en Gustaf druk haar hand. “Matthew sal die finansiële sake met jou finaliseer. Hy hanteer die oorplasings betreffende Martin se deel van die bates aan jou verskuldig in samewerking met Martin se prokureur. Ek sal hom vra om jou vandag nog te skakel.” Vivian knik weer en glimlag as sy aan Gustaf se vennnoot dink. Matthew Trent. Oulike ou. Net jammer dat sy tydelik allergies vir mans en verhoudings is.




Desmond stop sy SUV voor Pieter en Diana se huis, stap nader en lui die voordeurklokkie. Diana nooi hom binne en glimlag, “Pieter is op die patio. Lus vir vrugtesap?”

“Sal lekker wees, Diana.”

Pieter staan op, klop hom laggend op die rug en vra nuuskierig, “Hoe het jou onderhoude by die SABC gegaan?”

“Goed, dankie.” Desmond gaan sit swaar op een van die stoele en sug. Pieter kyk bekommerd na hom. “Desmond? Is iets fout?”

“Nee, dis net …” Desmond trek sy skouers op en leun terug in sy stoel. “Dis te veel. Dis te groot, te besig, te aangeplak en …”

“Ek verstaan nie, wat bedoel jy?”

“Pieter, ek doen sover elke liewe dag hierdie week media onderhoude. Soms tot vier of vyf per dag. Dis abnormaal.”

“Abnormaal?” vra Diana toe sy met hulle vrugtesap op die patio uitstap. Desmond vee vinnig oor sy gesig, neem ‘n sluk van sy lemoensap en sê, “ Sosiale media ruk alles uit verband uit.”

Diana kyk stil na Desmond en sy verstaan onmiddellik wat hy bedoel, maar Pieter lag, “Dis briljant, meer as wat ons in ons wildste drome kon voorsien. Die blootstelling is meer as goed vir die CNL!”

Pieter vra uit oor die onderhoude en Desmond antwoord hom lusteloos. Diana sluk stil aan haar sap en merk op dat desmond baie gespanne voorkom. Pieter lag gelukkig en brei uit oor hoe die CNL Pretoria se lede gegroei het binne ‘n maand. “Ongelooflik! Dis juis die inspuiting wat ons aan die begin nodig gehad het. Nou kan ons rustig daarop voortbou. Besef jy dat ons ‘n sterk speler binne ‘n paar weke geword het, Desmond?”

“Ja, ek weet,” sug Desmond. Hy sluk sy glas halfpad leeg, staan op en glimlag na Diana. “Dankie, dit was lekker.” Sy oë speel ‘n paar oomblikke rusteloos oor die tuin en dan kyk hy na Pieter, “Moenie worry nie. Ek dink ek’s net moeg. Sien julle môre.”




Julia parkeer haar motor voor Sarah se salon en kyk verbaas op toe sy Ramon met ‘n breë glimlag by die deur sien uitdraf. Hy kyk nie links of regs nie, maar klim haastig in Eliza se Mazda en ry weg.

Sarah staan agter die toonbank toe Julia instap en trippel behoorlik op en af. “Was dit Ramon wat sopas hier uitgevlieg het?” vra Julia en beduie met haar donkerbril na die salondeur.

“Jaaaa, kom saam!” Sarah trek Julia ongeduldig aan haar hand na die stoep toe en beveel, “Sit solank, ek bring tee en koekies.”

“Maar wat van my afspraak?”

Sarah hoor haar skynbaar nie óf sy ignoreer haar bloot vir haar eie redes. Julia sug en skud haar kop, maar ‘n skewe glimlag speel oor haar lippe. Daar is waaragtig ook net één Sarah. Genadiglik so.

Sarah stap binne ‘n ommesientjie nader met ‘n volgepakte skinkbord en sê geheimsinnig, “Jy sal so nimmer as nooit raai wat ek jou nou gaan vertel nie.” Julia leun nuuskierig vooroor en stamp amper die teekoppie om wat Sarah voor haar neersit. “Vertel!”
Sarah gaan sit en haar oë blink stout. Sy giggel geheimsinnig, neem ‘n slukkie tee en kyk ernstig na Julia. “Jy moet eers beloof om niks vir iemand te sê nie – veral nie vir Eliza nie.” Sy hap aspris ‘n groot hap van haar muffin en kou heerlik terwyl Julia op die nuus wag.

“Sarah!”

“Ok, ok.” Sarah kou klaar, neem nog ‘n slukkie tee op haar tyd en hou haar hande dramaties op. Sy skuif lekker reg in haar stoel en leun met haar elmboë op die tafel. “Ramon gaan terug Spanje toe.”

Wat?!” Julia verstik in haar tee. “Hoekom? En vir wat lyk jy en hy so gelukkig daaroor? Wat gaan –”

“Man, Julia, luister net.”

Julia gluur kwaai oor haar koppie na Sarah en sê, “Toe, ek wag.”

“Ramon se visa verstryk binnekort en hy moet teruggaan na sy geboorteland voordat hy nog ‘n negentig dag visa kan kry. Blykbaar werk dit nie as hy net na ‘n ander Afrika-land toe gaan vir ‘n dag of so nie – dan kry hy net ‘n sewe dag visa, of iets in daai lyn.” Sy waai ongeduldig met haar hande in die lug. “Dis blykbaar hoe die nuwe regulasies werk.”

“Ja, so? Hoekom gaan Eliza nie saam met hom nie?”

Want sy’t ‘n Shengen visa nodig vir Spanje en dit neem ten minste dertig dae om te prosesseer.”

Julia kyk kil na Sarah. “Ek verstaan nog nie hoekom jy en hy so gelukkig daaroor lyk nie.”

“Want …” lag Sarah opgewonde en fluister, “Hy gaan alleen terug Spanje toe en dan gaan hy sommer die spesiale familiering haal wat sy een ouma aan hom nagelaat het.” Sarah skater van die lag, “Hy gaan Eliza vra om verloof te raak wanneer hy terugkom!”

“Oh, wow …”

Julia leun verlig terug in haar stoel en glimlag breed. Jy het my bekommerd gehad vir ‘n oomblik.” Sy dink ‘n rukkie na en kyk dan vraend na Sarah, “Hoekom het hy jóú kom vertel?”

“Omdat hy wil hê ek moet ‘n spesiale rok en sandale uitkies vir Eliza om die aand te dra.” Sarah lag opgewonde. “Waarvan sy sal hou en wat by die ring pas. Blykbaar is dit ‘n klassieke ring, ‘n familie erfstuk, met twee moviese diamante aan weerskante van die bloedrooi, spesiale Burmese robyn.” Sarah giggel. “ Ek neem aan dis ‘n fortuin werd.”

“So, Eliza weet van niks?” Jullia lag lekker. “Sy sal dit hééltemal verloor as sy weet ons het voor haar geweet, control freak wat sy is!” Die twee skater kliphard en Julia sê ingedagte, “Weet jy wat?” Sy wag nie vir ‘n antwoord nie en brei uit op haar idee, “Vivian is die beste een onder ons wat weet van designer nommertjies, modes, sandale en so aan. Ons sal haar hulp móét inkry.”

“Mmm, jy’s reg, Julia.” Sarah sluk aan haar tee en vra onseker, “maar ons kan Diana dan nie net so los nie. Ons sal haar ook moet inlaat op die geheim.”

“Whatever!” lag Julia, “ Net solank niemand iets vir Eliza sê nie.”

“Ja, en hy wil dit by Eliza se huis doen met al die dogters daar. Blykbaar ‘n paella-aand. So, ek moet haar die middag hier besig hou en laat ontspan met massages en goed.”

Die twee giggel stuitig verder en beplan allerhande scenarios vir die aand.




Laatmiddag druk Vivian die afstandbeheer van haar huis se hek en Matthew Trent ry in. Hy parkeer sy Land Rover en stap na die voordeur toe. Vivian maak oop en hy groet vriendelik, “Ek is bly dat jy my al vanmiddag kon sien, Vivian.” Hy hou ‘n pragtige bos blomme na haar uit. “Gustaf Malan stuur hierdie vir jou met sy beste wense op ‘n blink toekoms.” Sy glimlag, neem die blomme en maak die deur agter hom toe.

Martin sit in sy swart Mercedes aan die oorkant van die straat, hou die hele petalje dop en slaan hard met sy een hand op die stuurwiel. Sy hart klop vinnig en hy ry stadig tot om die hoek, parkeer heel skeef en stap terug tot by die hek. Hy druk die afstandbeheer en maak die hek net groot genoeg oop om in te glip. Sy hande bewe van woede en hy haal ‘n paar maal diep asem om tot bedaring te probeer kom. “Goedkoop slet!” sis hy en beweeg versigtig nader aan die huis, dankbaar vir die skemerte wat dit minder waarskynlik maak om raakgesien te word.

Hy staan met sy rug teen die muur van die huis en luister. Dit klink of hulle in die woonkamer is. Hy loer versigtig by die venster in en probeer hoor wat hulle sê, maar die venster is toe. Vivian en die mansmens sit op die groot rusbank. Martin swets. Die bank se rugkant is in die pad en hy kan net hul koppe sien.

Matthew haal twee dokumente uit sy aktetas, verduidelik kortliks waaroor dit gaan en beduie dan waar sy moet teken. “Nou kan ek dit môre vroeg afhandel,” glimlag hy. “Die fondse sal oor maksimum drie dae in jou rekening wees, Vivian.” Hy pak die dokumente weg en maak sy aktetas toe.

“Julle laat nie gras onder julle voete groei nie. Ek’s beϊndruk.”

Matthew lag en sê, “Wat klaar is, is klaar. Mens weet nooit wat môre oor jou pad kom nie.”

Hy sluk sy koffiekoppie leeg, staan op en grinnik, “Laat ek oppad wees. Ek moet my sop gaan warm maak en -”

“Sop?” val Vivian hom in die rede en lig haar een wenkbrou geamuseerd.

“Ja,” grinnik Matthew, “My huishoudster en plaasbestuurder het verlief geraak op mekaar en besluit om in die Kaap te gaan aftree. Die twee is in hul laat vyftigs en het besluit nou of nooit!” Hy lag, “ Sy het ‘n klomp bevrore maaltye en bakke sop vir my gelos, maar ek’s nou deur die kos en tans op sop.”

“Het hulle nie kennis gegee nie?”

“Ja, ‘n maand kennis, maar dinge was dol by die werk en ek het nog nie tyd gehad om na plaasvervangers te soek nie.”

“Watse plaas?” vis Vivian nuuskierig. 

“Perde. Net hier naby, ‘n entjie verby Silverlakes. Dis eintlik meer ‘n groot plot as ‘n plaas, maar ek geniet die natuur en dis steeds nie land-uit nie.”

“Is jy nie eerder lus vir iets meer substansieël as sop vir aandete nie? Ek gaan in elk geval nou iets maak. Jy’s welkom om saam te eet.”

“Klink na ‘n bargain!” Matthew lag en stap agter Vivian aan na haar kombuis toe.

Martin gluur deur die venster en sluip om die huis. As hy net kon hoor wat hulle sê! By die kombuisvenster sien hy dat die twee heerlik gesels en lag. Die man maak ‘n bottel wyn oop en skink vir elkeen ‘n glasie, terwyl Vivian iets in ‘n pan op die stoof braai en pasta agter op die stoof kook. Martin kners op sy tande. “Verdomde tweegesig vroumens!” sis hy deur saamgeperste lippe.

Martin draai om en stap briesend om die huis na die voordeur, sluit dit versigtig oop, sluip stil in en gaan staan in die gang, net buite die kombuisdeur.

“Proe gou hier, Matthew.” Vivian hou ‘n lepel pastasous na hom uit en hy hap, smak sy lippe en swymel, “Van nou af eet ek elke aand by jou!” Sy lag, “Ek is seker jy –”

Martin leun teen die kosyn van die kombuisdeur en sê onheilspellend sag, “Lekker klein tête-à-tête wat ons hier het, is dit nie?”

Vivian en Matthew swaai geskok om en staar doodstil na Martin, wat stadig nader stap. Hy gaan staan voor ‘n kas, haal ‘n kelkie uit en vra sinies, “Wat? Wou julle eerder alleen wees?” Sy oë speel oor die pragtige bos blomme in ‘n groot kristalvaas en hy kners op sy tande. Die wynbottel bewe in sy hand wanneer hy sy kelkie propvol skink en hy haal vinnig asem.

“Martin, wat maak jy hier?” vra Vivian, uitasem van skok. Matthew staan langs Vivian en hou Martin met skrefiesoë dop.

“Stel jy my nie voor aan jou vriend nie, Vivian?” Martin grynslag, “Tsk, tsk tsk … waar’s jou maniere?”

Matthew tree vorentoe, “Matthew Trent.” Hy sit sy glas wyn op die tafel neer en vra, “Wat doen jy hier, Marais?”

Martin sluk sy wynglas met een teug leeg, kyk kil na Matthew en sê byna onhoorbaar sag, “Dit het absoluut niks met jou uit te waai nie, wie jy ookal is.” Hy skink sy glas weer vol. Sy hande bewe meer en ‘n klein spiertjie by sy linkeroog begin skiet. Vivian ken die tekens van Martin se woede-aanvalle. Dit was egter nog nooit so direk teen haar gerig nie. Sy probeer tussenbeide tree.

“Martin, gaan net asseblief!”

“Maar, my goeie bliksem!” Martin vlieg op Vivian af en klap haar met sy plathand deur die gesig. “Hou jou bek, jou slet!” Hy gryp haar wreedaardig aan haar skouers, skud haar woedend en gooi haar dan met mening op die vloer neer. Haar kop tref die vloer hard. Sy skud haar kop verward en probeer opstaan. Haar lip en neus bloei.

Mattthew spring vorentoe en stamp Martin weg van haar af. “Jou armsalige pateet!” Sy oë spoeg vuur en in die splitsekonde wat Matthew se blik oor Vivian speel om te kyk of sy erg beseer is, slaan Martin toe. Hy skop Matthew tussen die bene en gryp impulsief die vaas met blomme van die tafel af. ‘n Wrede grynslag speel oor sy lippe as hy die swaar vaas na Matthew gooi en hy sis, “Kry vir jou!” Dit tref Matthew teen die kant van sy kop en splinter aan skerwe toe dit op die vloer land. Matthew val agteroor en lê op sy rug. Blomme, glas en water lê die vloer vol. Martin staan dreigend bo-oor Matthew en grom, “Ook maar ‘n slapgat, is jy nie?”

Vivian kruip agter Martin se rug na die toonbank toe, trek haarself met moeite regop, gryp haar selfoon en bel die eerste nommer op haar foon.

My foon lui en ek tel op. Al wat ek hoor is, “Eliza! Help, Martin ...” Die foon gaan dood.

“Ramon!” gil ek desperaat, “Come!”

Matthew kreun en sy gesig vertrek van pyn. Hy trek homself stadig op, leun met sy een hand teen die tafel en probeer regop bly. Martin staan by die wasbak, vou sy hand in ‘n wasvadoek toe, tel ‘n stewige, skerp glasskerf op en draai om. Hy stap stadig nader aan Matthew. “Kom ons kyk hoe dikvellig jy is, Matthew Trent.” Hy klem die glasskerf in sy hand vas. “Jy kom neuk mos met my vrou. Jou fortuinsoeker … Moenie dink jy sal één sent van mý geld te siene kry nie!” Die kristalskerf skitter in die lig as Martin dit heen en weer voor hom begin rondswaai.
“Marais, is jy mal?” hyg Matthew. Ek is Vivian se prokureur, jou idioot!”

“Gespuis!” fluister Martin toe die besef tot hom deurdring. “Dis mý geld, brul hy, “mýne!” Hy storm blindelings op Matthew af. “Dis jý wat my laat betaal het, jou bliksem!” Martin steek briesend met die glasskerf na hom. Matthew hou sy arm verdedigend op en wend ‘n gesigwond af, maar sy voorarm bly in die slag en begin bloei van die snywond.

Ons jaag met skreeuende bande na Vivian toe en is binne vier minute daar. Die hek is effens oop – net groot genoeg om in te gaan. Ramon hardloop voor en ek is agterna. Ons storm by die deur in en sien Vivian eenkant teen ‘n kombuiskas sit. Haar gesig en bloes is vol bloed. ‘n Vreemde, blonde man staan skeef teen ‘n kombuiskas en hou sy bebloede arm in die lug.

Martin staan naby die wasbak met die glasskerf in sy hand. Hy haal diep asem en kyk vinnig op toe ons instorm. Ek neem onmiddellik ‘n foto van Martin op my selfoon en Ramon stap nader. “Put that down.”

Martin grinnik, “Wie’s jy?”

Ramon trek Martin se aandag af en lei hom weg van Vivian en die blonde man. Ek gaan sit langs Vivian. “Eliza …” Sy skuif meer regop en vee oor haar wang. Haar gesig vertrek van pyn wanneer sy aan haar stukkende lip raak. Haar neus bloei en ek hou haar kop agteroor.

“Matthew?” vra sy. Ek kyk na die vreemde ou en glimlag, “Hy’s ok.”

Ramon stap dreigend nader aan Martin. Hy maak sy hande oop en toe en sy oë is swart van woede. Glas knars onder sy boots.

“Put that down. Now!”

Ramon se woorde is afgemeet, kalm en sterk. Martin staar na die nuwe bedreiging en klou die glasskerf stywer vas. Hy grinnik, steek vinnig na hom met die glasskerf en dan skop Ramon. Sy skoen tref Martin se pols en die skerf trek deur die lug. Dit kom knetterend op die vloer te lande en versplinter. Ramon se volgende blitsvinnige karateskop tref Martin teen die kop en hy syg neer op die vloer. Ek neem foto’s van die toneel, Vivian, Matthew en selfs die horlosie teen die muur om die tyd te bevestig. Die getuienis van die aand en visuele bewyse is nou op my selfoon.

Ons kyk vir ‘n oomblik na die bewustelose man op die vloer en dan vra Ramon aan Vivian, “Your husband?”

“Ex-husband.” Vivian staan stadig op. Ek lei haar uit die kombuis, na haar badkamer, waar ons na haar wonde kan kyk, sy kan was, die bloed van haar afkry en skoon aantrek.

Matthew loop stadig na die wasbak toe en spoel sy bloeiende arm af onder die kraan. Ramon help hom, kyk na die wond en glimlag. “Need only plaster. Not deep.”

“Vivian en ek stap ‘n rukkie later terug in die kombuis in. Haar gesig is gewas en sy het skoon klere aan. Matthew het ‘n pleister op sy wond en sluk dorstig aan die koffie wat Ramon gemaak het. Hy staan op en gee Vivian ‘n druk. “Ek’s bly jy’s ok.”

Martin sit doodstil op die vloer met ‘n wasige kyk in sy oë voor hom en uitstaar. Wanneer Martin wil opstaan, skud Ramon sy kop en beduie dat hy op die vloer moet bly.

“Gustaf Malan en Martin se prokureur is oppad,” lig Matthew ons in. “Ek het hulle gebel.” Vivian knik en ek stel voor dat sy eerder na ons toe moet kom. “Jy kan nie vanaand alleen hier wees nie, Vivian.” Sy sluk aan haar koffie en antwoord, “Dankie, Eliza. Ramon. Maar dit gaan laat word en …”

“Ek sal hier bly.” Matthew glimlag na Vivian, druk haar hand en sê, “Nadat Gustaf en Steyn weg is, sal dit reeds baie laat wees en ons moet in elk geval nog besluit wat omtrent hóm te doen.” Matthew kyk na Martin, wat woordeloos na Ramon gluur.

Gustaf Malan en Eugene Steyn, Martin se prokureur daag saam by Vivian se huis op. Albei mans lyk ernstig en nie lus vir nonsens nie. Vivian stel ons vinnig voor en dan is Ramon en ek oppad. “Bel my as jy wil oorkom of as jy enige iets nodig het, vriendin.” Sy knik, “Dankie, julle.” Ek druk haar by die voordeur en dan maak Vivian die deur sag agter haar toe.

Sy hoor harde stemme in die kombuis wanneer sy terugstap en vee ‘n traan van haar geswelde wang af. Hoe is dit moontlik dat die man wat sy liefgehad het só kon verander?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Son
Oeeee toggie!! 11 de paragraaf is "desmond" net 'n kleinlettertjie.
4 jaar 4 maande 6 ure oud


son
Aksie, aksie, aksie! Sjoe, Carol - nou het jy woes aan die brand geskryf :-) Goed so!
4 jaar 4 maande 4 dae 18 ure oud


sOn (19)
Goed geskryf, bring dalk nog so 'n kinkel of twee in vir jou finale aanslag vir die slot.
4 jaar 4 maande 5 dae 20 ure oud


Drama
'n Verlowing... drama, geweld... nee o aarde, my hart gaan dit nie hou na die volgende hoofstuk toe nie! Skryf, suster, skryf!
4 jaar 4 maande 6 dae 8 ure oud


Son
Uitstekend gedoen, ek wil sommer die vark 'n klap gaan gee as ek hom kan vind.
4 jaar 4 maande 6 dae 8 ure oud


son
Carol al was die omstandighede hoe moeilik egskeiding is nie sonder pyn nie. hierdie hoofstuk is n hoogtepunt in jou verhaal
4 jaar 4 maande 6 dae 14 ure oud


Son
Spanning op sy beste.Kan nie wag vir die volgende aflewering nie.
4 jaar 4 maande 1 week oud


19
Dem...ek het nou gedink Ramon gaan in die slag bly!!Pheww!!!!Die petalje was nou onverwags, maar 'n PUIK kinkel inni kabel!!!

Weet jy as die einde naderkom lees ek al stadiger, want ek wil nie klaar wees nie.

Moontlike regstellings:

doen sover elke liewe - doen sovêr elke liewe

se lede gegroei het - se ledetal gegroei het

spiertjie by sy linkeroog begin skiet - spiertjie by sy linkeroog begin spring

Blomme, glas en water - Blomme, glasskerwe en water

hyg Matthew. Ek is Vivian se prokureur, jou idioot!” - hyg Matthew. "Ek is Vivian se prokureur, jou idioot!”

en wend ‘n gesigwond af, - en weer ‘n gesigwond af,
4 jaar 4 maande 1 week 2 ure oud


Son 19
sjoe wat n spannende episode!!! PUIK gepen Carol ek wag in spanning vir die res!!!
4 jaar 4 maande 1 week 3 ure oud


dogters
Voortreflik gepen van begin tot einde. Net 'n voorstel "moviese" klink nie goed wat van enorme of kneuwel?
4 jaar 4 maande 1 week 4 ure oud



Tong in die kies

deur Delene de Wet

My menswees: my blydskap, humor, nostalgie, ironie, walging en poppies uit pram gooi, en ja, natuurlik ook vuurwarm liefde in die vorm van kortverhale, gedigte, monoloë en briewe. Die boek is 'n gesprek met jou, die leser, want op die einde van die dag is ons eintlik almal besig met dieselfde avontuur in die soeke na oorlewing.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar