Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Ek is net verlig dat alles nou hopelik verby is.”

Vivian eet ontbyt saam met my en Ramon op my houtdek en vertel ons tussen slukke koffie deur wat verder die vorige aand gebeur het. Sy het kringe onder haar oë en lyk moeg. Ramon en ek luister aandagtig terwyl hy sy spek en eiers gretig deurwerk en ek nou en dan ‘n hap van my vars vrugte en yoghurt neem.

“Gustaf het gedreig om die polisie te bel, maar Steyn, Martin se prokureur, het die hele tyd probeer wal gooi. Op ‘n stadium het Steyn vir Lorenzo Battaglia gebel en toe neem dinge ‘n heel ander wending.”

Vivian herleef weer die hele scenario nadat Ramon en ek by haar weg is …

Gustaf Malan en Eugene Steyn kyk stil na die toneel voor hulle. Martin staan op en begin luidrugtig dreigemente uitdeel, maar Gustaf maak hom stil. “Jy het genoeg skade aangerig, Marais! As ek jy is hou ek eerder my mond.” Steyn knik instemmend. Gustaf beduie na ‘n stoel en Martin gaan sit teësinnig. Matthew maak koffie vir almal, terwyl Gustaf aantekeninge maak. Hy beskryf Vivian en Matthew se beserings doelbewus in fyn detail. Vivian staan naby die deur en leun teen die kombuistoonbank, haar arms beskermend om haar lyf gevou. Sy vertel hom sag dat Eliza foto’s van alles geneem het en hy glimlag tevrede. Malan lig Steyn dienooreenkomstig in.

Steyn verbleek, stap eenkant toe en skakel Lorenzo Battaglia se nommer. Hy weet dis laat, na middernag, maar Battaglia het immers daarop aangedring om te alle tye op hoogte gehou te word van Martin Marais se situasie. Hy lig Battaglia kortliks in betreffende die aand se gebeure, die oordonderende getuienis teen Martin en luister stil na die blaffende stem oor die foon, knik en mompel instemmend. Hy draai om en gaan sit weer by die tafel.

“Marais,” begin Eugene Steyn, “Lorenzo Battaglia onttrek uit die voorgestelde vennootskap rakende die kliniek met onmiddellike effek.” Martin vlieg verwilderd op en sy stoel val om. “Wat de - ? Hy kan mos nie!”

“Sit, Marais!” brul Steyn. Gustaf, Matthew en Vivian staan eenkant en neem die woordewisseling waar. Martin tel sy stoel halsstarrig op en gaan sit weer. Hy staar met ‘n neutrale uitdrukking na Eugene Steyn en vra, “Wat nog?” Dan lag hy sinies. “Ek kan sien jy brand om my te vertel, Steyn.” Martin leun vooroor en fluister sissend, “So, gooi!” Hy grinnik sarkasties. “Is dit plat genoeg gestel vir jou?” Martin lag en merk op, “dis heel waarskynlik al waaraan jy gewoond is.”

Steyn staar emosieloos na Martin en vertel verder, “Daar is geen kontrak nie. Julle het nog nie geteken nie. So, ja, hy kan onttrek as hy wil. En hy het. Verder stel Battaglia die volgende voorwaardes …” Steyn neem ‘n sluk koffie en verwittig Martin onomwonde, “Jy sal van nou af geen kontak met meneer Battaglia of sy dogter, Luciana, hê nie. Nie fisies, per pos, e-pos of telefonies nie.” Hy kyk fronsend na Martin en voeg by, “As ek jy is, kom ek hierdie voorwaardes na, Marais. Battaglia is nie ‘n man om mee te speel nie.” Martin skud sy kop ongelowig en grynslag, “So, hy dreig my?”

“Nee, Marais.” Steyn glimlag betekenisvol. “Lorenzo Battaglia dreig nie. Hy doen. Dus, wees gewaarsku.”

“Ja, verlustig jou nou maar terwyl jy kan, Steyn.” Sy blik speel vinnig oor almal en hy bulder, “Julle ander ook!”

Martin staan na ‘n paar oomblikke van stilte op, leun teen die verste toonbank en trek sy hand deur sy hare, ‘n nonchalante uitdrukking op sy gesig. Hy staar na elkeen afsonderlik en begin lag. “Ek het in elk geval beplan om na Kalifornië te verhuis en daar ‘n praktyk oop te maak. My Plan B. As dinge hier nie uitwerk soos wat ék dit wil hê nie.” Hy glimlag meewarig, maar die spiertjie langs sy oog spring weer, merk Vivian op. “Ek gaan dit gróót maak en julle spul …” beduie hy met ‘n wye gebaar terwyl hy snedig glimlag, “kan verder krepéér in jul mislike lewentjies vir al wat ek omgee!”

“Aanvaarbaar?” vra Steyn en kyk na Vivian, Gustaf en Matthew. Hy steur hom duidelik nie aan Martin se tirade nie. Aldrie knik instemmend.

“Net solank hy geen kontak met Vivian in die interim het nie.” Matthew kyk Martin direk in sy oë, dan verskuif sy blik na Steyn. Martin gluur na Matthew en antwoord sag, “Nie in ‘n honderd jaar nie, Trent.” Hy lag kliphard en opsetlik tartend, “Vat haar vir jou … used goods.” Vivian trek haar asem vinnig, geskok in, draai om en leun met haar arms teen die toonbank. Sy begin bewe en Gustaf druk haar skouer.
Matthew stap onmiddellik dreigend nader aan Martin met gebalde vuiste, maar Gustaf Malan tree net betyds tussenbeide. “Matthew, kom ons raak rustig. Moet jou nie steur aan nonsens nie. Hy’s dit nie werd nie. Jy weet dit. Ons almal weet dit.”

“Daarna is almal behalwe Matthew weg.” Vivian glimlag moeg en versigtig, want haar lip is nog sensitief. “Ons het nie geslaap nie, want dit was al na drie en ons het sommer in die kombuis gesit en gesels tot net voor ses. Matthew is toe eers weg om te gaan stort en aantrek vir werk.”

Sy steek ‘n sigaret aan, teug ingedagte daaraan en kyk oor my tuin, iewers in die verte in. Ramon en ek is albei doodstil vir ‘n oomblik. Ons verwerk nog al die nuwe inligting.

“Vivian?” va ek en sluk vinnig aan my koffie, “maak nie saak of Martin sê hy gaan Kalifornië toe of nie, jy kan nie alleen in daai groot huis bly totdat hy eendag op ‘n vliegtuig klim nie.”

“Is more safe for you here, Vivian.” Ramon se blik rus sag op haar. Hy skud sy kop, “Some men, I do not understand.”

“Me neither, Ramon, me neither.” Sy druk Ramon se hand en glimlag, “Thanks for being there when I needed you.” Ramon knik effe selfbewus en sluk eerder aan sy koue koffie. Vivian kyk na haar horlosie. “Ek laat vandag nuwe slotte aansit, Eliza.” Sy glimlag, trek ‘n laaste teug aan haar lang sigaret en blaas ‘n kringetjie, “plus ek verander al die sekuriteitskodes.”

“Ja, maar –”

“Eliza,” sê Vivian sag en druk haar sigaret met mening dood in die asbakkie voor haar, “as ek nóú weghardloop, sal ek die res van my lewe hardloop. Ek sien nie kans daarvoor nie.”

Sy trek haar handsak nader, staan op en glimlag skewerig. “Dankie vir die heerlike ontbyt. Ek waardeer dit. Regtig. Maar, die sekuriteitsmaatskappy sal oor dertig minute by my huis wees, so ek beter ry.”




Don Lawrence is wasbleek. Hy sit doodstil agter die massiewe lessenaar in sy luukse hoekkantoor en staar voor hom uit. Die internasionale hoof van Church of New Life het hom sopas uit Amerika gebel en sterk aangespreek oor CNL Johannesburg se uiters swak statistieke en skerp daling in ledetalle oor die afgelope paar maande. Wat ‘n vernedering! ‘n Klad teen sy naam. Onvergeeflik. Ontoelaatbaar. Boonop het die Amerikaner byna liries geraak oor CNL Pretoria se monumentale groei en Lawrence het gevoel asof hy op die plek kon naar word.

Hy staan skielik op en stap heen en weer in sy kantoor om te probeer ontspan en sy gedagtes te orden, maar hy kan nie ontslae raak van die groeiende, muterende wrok wat hy teen Desmond en Pieter koester nie. Hy trek sy das wild los, gooi dit eenkant op die vloer en mompel aan homself, “Desmond is die eintlike probleem, nie soseer Pieter nie.” Hy staan stil en dink ‘n oomblik na, draai sy kop skeef en dit lyk asof hy beter probeer hoor. Dan hou hy sy kop tussen sy hande vas en begin weer rondstap. Die stemme in sy kop is reg. Akkuraat en op die man af. Hulle draai nie doekies om nie. “Dis as gevolg van Desmond dat meer as die helfte van jou lede oorgeloop het na CNL Pretoria toe!” Hy luister, knik sy kop vinnig op en af, gooi sy arms driftig in die lug, trek aan sy hare en gil kliphard. “Mý lede, my lede, my lede, mýneeeee!” Hy haal hortend asem. Sy oë staar wild om hom heen en hy loop haltend verder, soos ‘n wilde dier in ‘n hok. Dis Desmond se media blootstelling wat veroorsaak dat sý CNL se bankbalans aansienlik gekrimp het. Desmond. “Alles sý skuld,” fluister hy briesend, byna onhoorbaar sag.

Lawrence gaan staan doodstil en skud sy kop. Die stemme is weg, maar hulle het moontlike oplossings gebied. Hulle het twee opsies aan hom voorgestel. “Een,” fluister hy, “Koop hom. Kry hom hier by my.” Hy knik, draai om, stap stadig na sy lessenaar toe en gaan sit op sy stoel. “Twee …” gryns hy, klem sy hande saam en haal vinniger asem. ‘n Euforiese gevoel speel skielik oor hom, asof hy sopas hoog geraak het op een of ander verslawende dwelmmiddel en hy maak sy oë toe. Sy gespanne spiere ontspan, hy glimlag en dan verbaliseer hy sy fantasie. “Raak ontslae van hom.” Lawrence se oë skiet oop. Hy lig sy een vuis, steek sy wysvinger uit, lig sy duim, mik en skiet. “BOEM!”




Desmond stop sy SUV met ‘n ruk voor Diana en Pieter se huis. Hy kan nie onthou wanneer, indien ooit, hy so deurmekaar in sy lewe was nie. Alles raak net te veel. Hy leun ‘n oomblik met sy kop op sy hande wat die stuurwiel steeds vasklem. “Probeer ontspan.” Hy haal diep asem, sit regop en maak sy oë toe. Dit werk nie. Hy klim uit, slaan sy kar se deur met mening toe en stap driftig na die voordeur.

Diana maak byna onmiddellik oop. Sy staar na Desmond en vra, “Is jy ok?” Hy skud sy kop en stap sommer verby Diana, direk na die patio toe, waar hy weet hy Pieter sal kry.

“Nou het ek alles gehoor, Pieter,” val hy met die deur in die huis.

“Desmond? Wat gaan aan?”

“Lawrence het my sopas gebel en probeer uitkoop.”

“Wat?! Is jy ernstig?”

Desmond knik en vertel, “Hy bied dubbel my salaris aan plus ‘n hele klomp byvoordele, bonusse en wie weet wat nog alles.”

Pieter staar geskok na Desmond en wil vra of hy dit oorweeg, maar Diana trek haar laptop nader, maak die nuutste maandverslag van CNL International oop en sê, “Dis hoekom.”

Sy beduie na die statistieke van al die CNL franchises regoor die wêreld. “Don Lawrence se CNL Johannesburg is nie meer onder die top tien nie. Hy het gesak tot by nommer een-en-twintig, terwyl ons geklim het van heel onder af na die sewende plek in slegs ‘n paar maande.”

Pieter dink ‘n oomblik na, leun vooroor met sy elmboë op die tafel en kyk ernstig na Diana en Desmond. “Ek dink die tyd het gekom vir die drie van ons om te besluit of ons wil voortgaan met die CNL en of ons die franchise wil verkoop.”

Desmond vryf sy slape, kyk dan op en sê, “Ek stem vir verkoop. Vir wat dit werd is. Dis buitendien jou en Diana se franchise, ek werk net hier.” Hy glimlag en leun terug in sy stoel. “Ek was van plan om vandag my bedanking in te dien en my kennismaand te werk.” Desmond sit regop en verduidelik, “ My boodskap kom uit my hart uit, maar dit het goedkoop geword en hierdie hele sterstatus affêre …” Hy skud sy kop en praat verder, “Dis nie wie ek is nie, dis nie my manier nie, dit werk nie vir my nie en dit het te groot begin word. Ek sal een maand voortgaan, maar dan is ek uit. Hoop julle verstaan.”

Pieter kyk stil, ingedagte na Desmond en sy brein werk oortyd. Diana staan op, gee Desmond ‘n druk en sê, “Dankie vir jou eerlikheid, Desmond. Ek verstaan presies wat jy bedoel.” Pieter kyk vraend na Diana.

“Terwyl ons nou praat, gaan ek ook my mening lug.” Sy kyk na Pieter. “My man, ek weet jy het ‘n droom nagejaag om jouself te vind nadat jy by die bank afgedank is weens regstellende aksie en jy het ‘n hengse sukses hiervan gemaak.” Sy beduie na die maandverslag op haar rekenaar, “maar dit het ook met ‘n prys gekom. Ons werk onsself in ‘n toestand in, van vroegoggend tot laataand, elke naweek … en het byna geen gesinslewe meer nie.” Pieter knik en Diana gaan voort, “ Kom ons verkoop terwyl ons oppad boontoe is en kry onsself, ons lewens weer terug.”

Pieter glimlag na sy vrou en druk haar hand. “Ek stem saam met albei van julle. Alhoewel ons op die Golden Highway beland het, moet ek erken dat ek self ook nie uitgeknip is hiervoor nie. My gesin is my lewe, maar ek het dit afgeskeep. Plus, ek wil steeds graag iewers op ‘n plaas of plot bly en nader aan die natuur lewe. So, as ons verkoop, is dit ‘n moontlikheid.” Hy glimlag ingedagte, sit meer regop en maak sy keel skoon, “ Verder stel ek die volgende voor … Ek kontak CNL hoofkantoor in Amerika môre vroeg en laat hulle weet dat ons die franchise wil verkoop. Daar sal verseker heelwat belangstelling wees en ek glo ons sal ‘n baie goeie prys kry.”

“Net nie aan Don Lawrence nie!”

Desmond en Diana het gelyk gepraat en lag kliphard oor die toeval daarvan. Pieter stel vasberade, “Op geen manier nie. Ek sal hoofkantoor inlig dat dit ons enigste voorwaarde is.” Hy lag, “Ek glo nie hulle sal enige beswaar hê nie! Veral nie na Lawrence se afdraende pad die afgelope ruk nie.”

“Ok, Pieter. Ons gaan voluit aan vir een maand. Ek’s in.” Desmond glimlag verlig en Diana lag gelukkig. “Een maand? Verseker!”

Pieter staan op en stap ‘n rukkie later terug met 3 glasies en ‘n bottel sjerrie. Hy skink en hulle lig hul glasies vir die heildronk, “Op een maand!”





Sarah druk die afstandbeheer van haar hek en Desmond ry in. Hy kyk diep in haar oë toe sy die voordeur vir hom oopmaak. Nie een van hulle sê ‘n woord nie. Sy lei hom stil aan sy hand na haar kamer.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dankie julle
Baie dankie Louise, Arnold, Jan, Kiekies,Evelyn, Ans, Anze,Casper, Neels en Viooltjie vir jul saamlees en uiters waardevolle kommentaar. Ek waardeer dit opreg :)))))
4 jaar 3 maande 3 weke 2 dae 13 ure oud


20
Dankie, Carol. Ek het nou heeerlik ontspan met 'n koppie koffie en hierdie 20ste aflewering van jou roman. Ek het gewonder hoe die verhaal gaan uitspeel en ek sien jy het nie 'n tekort aan idees nie :-) Sterkte met die pylvak . . .
4 jaar 3 maande 3 weke 2 dae 13 ure oud


son 20
carol ek het lanklaas n verhaal met soveel spanning gelees. hierdie is n puik verhaal
4 jaar 3 maande 3 weke 3 dae 21 ure oud


Son 20
Baie onverwagte gebeure waarop voortgebou kan word. Ek wag in spanning op die volgende hoofstuk
4 jaar 3 maande 3 weke 4 dae 17 ure oud


Son 20
Elke hoofstuk is propvol intrige en spanning.. Absoluut puik gepen Carol, ek kan nie wag vir die volgende aflewering nie.. Hierdie is defnitief n top verkoper!
4 jaar 3 maande 3 weke 5 dae 12 ure oud


Son
Ai ai ai!! Nou moet ek weer wag. Hoeveel spanning nog?
4 jaar 3 maande 3 weke 5 dae 13 ure oud


dogters
Hier was inderdaad 'n onverwagte wending, maar weereens jou jy die leser se aandag end-uit. Knap gedaan.
4 jaar 3 maande 3 weke 5 dae 15 ure oud


20
Ek voel heel benoud...want ek voel die einde aankom! Alweer 'n puik hoofstuk..dialoog, hoek, beskrywing...ag man, ALLES! VOORTREFLIK!

Om te oorweeg:
Hy glimlag meewarig, maar die spiertjie langs sy oog spring weer, merk Vivian op. - Hy glimlag meewarig, maar Vivian merk die spiertjie langs sy oog wat weer spring.
lewentjies - lewetjies
iewers in die verte in = iewers die verte in
plus ek verander al die sekuriteitskodes - is jy seker oor 'plus'
daling in ledetalle - dalings in ledetal
4 jaar 3 maande 3 weke 5 dae 16 ure oud


Son
Te veel spanning en intriges vir my swak hart! Jy weet hoe om die aandag te boei.
4 jaar 3 maande 3 weke 5 dae 20 ure oud


sOn (20)
Dit lees gemaklik met genoeg aksie wat lei tot die volgende aksie
4 jaar 3 maande 3 weke 5 dae 21 ure oud


Spanning
Sjoe, ek het dit nie sien kom nie... Nooit gedink hul sou hul CNL-franchise verkoop nie! Wonder wat gaan nou gebeur? Hierdie storie van jou het interessante kinkels en hou mens heeltyd aan die raai. Dis min skrywers wat spanning dwarsdeur 'n verhaal op so hoogtepunt kan hou. Lekker skryf aan die vlg hoofstuk. Ek kan skaars wag daarvoor!
4 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 3 ure oud



Ontdek die Siel in my

deur helna

Dis vir my 'n eer om my eerste digbundel te kon uitbring. aangesien ek 'n passie het vir die kunste is die omslag een van my eie werke! "Ontdek die Siel in my" het sover net positiewe kommentaar ontvang, kom deel asseblief hierin.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar