Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vroeg Vrydagoggend ontmoet Sarah en Vivian mekaar in die klein, gesellige koffiekroegie langs ‘n minder bekende, maar redelik eksklusiewe boutique wat Vivian voorgestel het. Dis tyd om die perfekte rok en sandale vir Eliza te soek, op Ramon se versoek.

“Onthou net,” maan Sarah, “dit moet by die ring pas, baie spesiaal wees, maar nie té formeel nie.” Sy lag, “Dit is immers ‘n paella-aand en Ramon gaan een van daai wit Zorro hemde met ‘n swart broek en boots aantrek. So, hulle moet ten minste bymekaar pas.”

“Wie gaan die paella maak?” vra Vivian en lig een wenkbrou. “Uhm … lag Sarah, “ek dink hy beplan om ‘n chef te huur vir die aand.”

“Klink goed.” Vivian glimlag skeef en vra, “Is jy seker Eliza weet nog van niks?”

“Niks!” Sarah giggel en beduie vir die kelner dat hulle wil betaal.

In die boutique peil Sarah en Vivian toevallig gelyk op een uitrusting af. ‘n Dieprooi moulose cocktail rok, met styfpassende bostuk en vryvloeiende, los bane wat die romp vorm. Stylvol, klassiek, effe boheems en nie te formeel nie. “Dit gil Eliza!” Sarah lag, haal die rok van die hanger af, swaai dit vrolik rond en luister na die swishhhh swishhhh swishhhh geluid wat dit maak as sy dit om haar rondswaai. Vivian knik instemmend en lag uitbundig. “Perfek!”

“Laat ek dit gou gaan aanpas,” stel Sarah voor. “Ons is naastenby dieselfde grootte.” Sarah verdwyn in die kleedhokkie en Vivian soek solank na bypassende sandale. Sy kry dit en draai om, net toe Sarah by die aantrekhokkie uitstap.

“Stunning!!!” Vivian glimlag breed en Sarah tol in die rondte, “Mooi, né?”

“Dis werklik … onbeskryflik mooi, Sarah,” lag Vivian. Sarah tol heen en weer en Vivian slaan haar oë later op na die plafon. “Trek nou maar uit en kom dat ons betaal. Ek moet by die kantoor uitkom.”

Sarah betaal met haar VISA kaart vir die rok en sandale. Ramon het reeds meer as genoeg in haar rekening daarvoor oorbetaal.




Pieter, Diana en Dawid Bruwer sit om ‘n tafel in ‘n stillerige restaurant. “Dawid,” maak Pieter die gesprek oop, “Jy en jou span het sover uitstekende sekuriteitswerkwerk vir ons verrig en ons wil jou uit ons harte uit bedank, maar ons gaan die kontrak ongelukkig nie hernu vir volgende maand nie.” Bruwer kyk stil oor die tafel na hulle en vra met ‘n skewe glimlag, “So, ek neem aan julle hét die franchise toe verkoop?”

Pieter wonder hoe die man daarvan weet, maar knik instemmend. “Volgende Sondag se diens, die laaste van die maand, sal ook ons finale diens wees. Daarna oorhandig ons die leisels aan die Amerikaanse sindikaat en hulle mense neem alles oor.”

Diana speel met haar servet en merk verskonend op, “Jammer ons gee so kort kennis, maar dinge het baie vinnig gebeur, Dawid. Ons het CNL Hoofkantoor ‘n paar dae gelede laat weet dat ons wil verkoop en binne twee ure het ‘n Amerikaanse sindikaat ‘n ongelooflike goeie aanbod gemaak.” Pieter kyk ernstig na Bruwer voordat hy versoek, “ Hierdie inligting moet asseblief vertroulik gehou word. Op aandrang van die CNL Hoofkantoor in Amerika. Hulle wil die transaksie so spoedig en ongekompliseerd as moontlik afhandel. Ons ook. Kan ek op jou stilte staatmaak?”

“Verseker, Pieter.” Dawid Bruwer dink ‘n oomblik na, vee oor sy groot snor en tuur ingedagte voor hom uit. “Weet enige plaaslike CNL-eienaars dat julle verkoop het?”

“Nee, Dawid,” antwoord Pieter en kyk vraend na Bruwer. “Hoekom vra jy?”

“Kom ons sê maar dat ek ‘n voeltjie hoor fluit het … eh …” Bruwer leun vooroor en sê sag, “Dat daar ‘n redelike vyandigheid tussen CNL Pretoria en CNL Johannesburg bestaan.”

Pieter glimlag en kyk na Dawid. “Jy het goeie informante, Dawid. Maar, dis nie die hele storie nie.”

Diana bestel nog koffie vir almal en Pieter lig Dawid verder in, “Don Lawrence wou aanvanklik ‘n gelyke aandeel in ons CNL gehad het, maar ons het betyds agtergekom dat hy nie altyd deursigtig optree nie - om dit ligweg te stel. Ons het onttrek en hy het nou sy mes in vir ons, veral nadat Desmond so ‘n aanhang begin kry het. Jy weet seker dat heelwat van Lawrence se lede by ons aangesluit het.”

Bruwer knik en dit wil voorkom asof dit nie nuwe inligting vir hom is nie. Hy sluk dadelik aan sy vars koffie wat die kelner voor hom neersit en kyk eers opsommend na Diana, dan rus sy blik ernstig op Pieter. “Ek dink julle moet ekstra versigtig wees, veral tydens jul volgende diens.” Bruwer bly ‘n oomblik stil. Hy sien dat beide Diana en Pieter se volle aandag slegs op hom gevestig is. Dis goed so, want die nuus wat hy nou met hulle gaan deel is nie goed nie.

“Don Lawrence se sekuriteitshoof, Kobus Kritzinger, het my gekontak. Maar bly asseblief stil hieroor.”

Pieter en Diana luister vasgenael en knik outomaties. “Hy en ek kom ‘n lang pad saam. Ons was saam in die weermag, het destyds in dieselfde peleton in Angola geveg … sulke bande word nie maklik verbreek nie.” Hy sluk aan sy koffie en trek sy oë op skrefies. “Ek vertrou hom.” Bruwer leun vooroor en sy blik is donker wanneer hy hulle meedeel, “Kritzinger beweer dat Don Lawrence ‘n intense, irrasionele wrok jeens julle koester. In die besonder teen Desmond.” Bruwer leun terug in sy stoel en stel voor, “Ek beveel aan dat ons meer versigtig moet wees volgende Sondag. Lawrence mag iets beplan.” Bruwer trek sy skouers op. “Nie Krritzinger of ek kan dit bevestig nie, maar ek wil eerder voorbereid wees.”

“Selfs al is dit ons laaste diens?” vra Pieter ongelowig.

“Pieter,” antwoord Bruwer strak, “Lawrence weet nie dat dit julle laaste diens is nie.”

“Dis reg,” antwoord Pieter. “Doen wat jy dink is nodig.”

Dawid Bruwer knik, staan op, groet en verdwyn deur die restaurant se ingang.

Pieter en Diana staar albei vir ‘n oomblik stil na mekaar, dan glimlag Pieter bemoedigend en druk haar hand. “Wel, hy en sy span sal daar wees.”

“Ja, dis ‘n troos,” bied Diana halfhartig aan en sluk eerder aan haar koffie. Moet sy Desmond laat weet hiervan? Is die dreigement werklik ‘n realiteit? Sy besluit om eerder slapende honde te laat rus en stil te bly. Dawid Bruwer en sy span het alles onder beheer, troos sy haarself. Hulle is daar en sal weet wat om te doen watookal gebeur. Sy sug en probeer eerder konsentreer op die beplanning wat nodig is vir hul volgende, finale diens, die webtuiste, Pieter, Stefantjie en dan … laastens, haarself. Sy wil so graag net vir ten minste dertig minute ontspan. In die bad, met kerse, borrels en ‘n glasie wyn. Miskien voor die dogters se pizza-ete later vanaand by Eliza.




“Ek is so bly julle is vanaand hier! Cheers!”

Die ander dogters klink hul glasies laggend teen myne. “Wel, Eliza, jy hét desperaat geklink toe jy ons genooi het,” lag Vivian.

“Ja, maar die huis is so leeg met Ramon wat in Spanje is. Alles weergalm,” oordryf ek en mor verder, “ek weet nie hoe ek ooit voorheen so lank alleen kon gebly het nie.”

“Wanneer kom hy terug?” vra Sarah en neem ‘n groot hap van haar pizza.

“Eers oor drie dae!” kla ek en sluk sommer aan my wyn.

“Dis anyway hoogtyd dat ons weer bietjie alleen sonder die manne kuier,” lag Julia en gryp die laaste sny pepperoni pizza net betyds voor Diana weg.

“Julia!” raas Diana en troos haarself dan met twee skywe Margherita. Sy neem dadelik ‘n groot hap uit een van die skywe. “Ontspan Diana,” giggel Julia. “Vertel ons eerder wat nuus is by die CNL.” Diana kou klaar, neem ‘n slukkie wyn en ons kyk almal afwagtend na haar.

“Ons het die CNL verkoop.” Sy kyk na Sarah. “Desmond het jou seker vertel.” Sarah knik. “Ja, maar hy’t gevra dat ek dit eers stil hou totdat die transaksie finaal deur is.”

“Alles is gefinaliseer en die geld is vandag oorbetaal. Die koper is ‘n Amerikaanse sindikaat wat ‘n hele aantal CNL’s regoor die wêreld besit. “So,” Diana trek haar skouers op en glimlag verlig, “ek moet erken dat dit ‘n wonderlike ervaring was, maar ek’s bly dis byna iets van die verlede. Dit het net te veel en te groot begin word. Ons hele gesinslewe was daarmee heen en Desmond het ook deurgeloop onder die skielike blootstelling en druk.” Sarak knik stil en sluk aan haar wyn. Diana glimlag gelukkig, “Ons doen nog een finale diens in die park, dan neem die Amerikaners oor.” Sy lag, “So, julle beter almal daar wees!”

“Ja, ja, ja, ja, ons sal,” antwoord ons beurtelings om die tafel. Diana glimlag tevrede en neem nog ‘n groot hap pizza.

“Het julle ‘n goeie prys gekry?” vra ek en vis sommer verder uit, “Wat gaan Pieter nou doen?”

“Baie goeie prys, Eliza,” lag Diana. “Pieter dink daaraan om ‘n plot te koop en vir ‘n slag sy werklike bucket-list droom na te volg. Hy wou mos nog maar altyd geboer het, met sy landbougraad en al. Buitendien kan ek my IT besigheid van enige plek af doen.” Sy neem ‘n vinnige slukkie wyn en beduie, “Net solank dit naby goeie skole is vir klein Stefan. Ons sal na plekke om en naby Pretoria begin kyk sodra volgende Sondag verby is en ons genadiglik met ons lewens kan aangaan na die CNL.”

Vivian steek ‘n lang sigaret aan en staar diep ingedagte na Diana. “Vivian?” vra Sarah, “wat broei in jou kop? Ons ken daai kyk!” Vivian glimlag en sê geheimsinnig, “Mmm … ek wonder …” Dan blaas sy ‘n kringetjie en sê, “Matthew het ‘n baie groot plot by Silverlakes. Hy verhuur perdestalle aan mense wat nie hul eie het nie, merendeels stadsbewoners wat mal is oor perdry en daar is afrigters wat die perde en ruiters op sekere dae afrig.” Vivian glimlag stuitig en sê, “Ek het die leë plot direk langs syne gekoop en ek gaan my eie besigheid begin.”

Ons luister doodstil en Vivian geniet die onverdeelde aandag. “Ek gaan my eie huis ontwerp, met ‘n afsonderlike kantoor vir my nuwe argiteksfirma langsaan.”

“Dis wonderlik!” Ons almal lig ons kelkies en Vivian glimlag gelukkig. Dis die beste en mees ontspanne wat sy in ‘n baie lang tyd gelyk het.

“Maar …” brei Vivian verder uit, “dis nie al nie. Matthew wil sy besigheid uitbrei, sy ander buurman se plot koop en dan van sy eie perde vir terapie gebruik. Dis nou waar my stuk grond inkom.”

Julia leun belangstellend vooroor en vra, “Brei uit, Vivian.”

“Sy suster se een dogtertjie lei aan Asperger sindroom en hy is baie erg oor haar. Blykbaar help Equine Therapy – soos terapie met perde bekendstaan, baie. Jy sal seker meer hiervan weet, Julia.”

Julia glimlag en knik. “Ek sal graag betrokke wil raak by julle projek. Hierdie tipe terapie word deesdae baie gebruik met ongelooflike sukses. Dus,” lag sy, “ek stel baie belang. Talle van my pasiënte sal ongelooflik baie daarby baat.”

Vivian glimlag en vertel verder, “Ek gaan drie of vier wooneenhede eenkant op my plot laat bou. Dit sal dien as tydelike behuising vir mense wat van ver af kom vir die terapie.” Sy neem ‘n slukkie wyn en sê, “Ek het ‘n bietjie navorsig gedoen en gevind dat daar slegs ‘n paar plekke in die land is wat hierdie tipe terapie professioneel aanbied. Daar is lang waglyste en ‘n groot aanvraag daarna. As die kind net eers gewoond geraak het aan ‘n perd en die proses, kan die ouers die kind by ‘n plaaslike ryskool inskryf.”

Ek bedien koffie en Vivian vra, “Diana, dink jy Pieter sal saam met ons wil ingaan? Hy kan moontlik die finansiële bestuur vir Matthew waarneem en dan kan ons later verder planne maak.”

“Ek sal beslis by hom hoor, Vivian.” Diana glimlag opgewonde, “ek glo dit sal perfek wees vir ons hele gesin! Stefantjie sal mal wees daaroor, Pieter kan uiteindelik sy lappie grond bedryf en ek kan aangaan met my IT besigheid.” Sy lag gelukkig en staar droomverlore verby die ander van ons.

Nadat almal weg is, pak ek ons borde, glase en koppies in die skottelgoedwasser en voel alleen. Ek het so gewoond geraak aan Ramon by my. Hy is beslis dié een, besef ek. Dis die heel eerste maal in my lewe wat ek so met alle oorgawe en sonder enige bedenking vóél. Dis nogal lekker, maar dis ook seer, alleen en eensaam. Juis omdat hy so ver weg is, op hierdie spesifieke oomblik. Hy is my sielsgenoot. Uit en gedaan! Ek glimlag en strompel dan alleen met die gang af na ons kamer. Ek mis hom. So onbeskryflik baie.




Ramon sit by die houttafel in die eenvoudige kombuis van sy oorlede ouma se huisie by die see. Dis nou sy eiendom. Hy was nog altyd tuis hier, meer as op ander plekke in die stad. Dis ‘n gerieflike huisie langs die kus, maar dit was ook nog altyd sy gunsteling plek in die wêreld. Totdat hy Eliza ontmoet het. Slegs ‘n kers brand op die houttafel en hy staar na die spesiale ring in sy hand. ‘n Goue ring met ‘n robyn en diamante. ‘n Familie erfstuk. Sy ouma het hóm daarmee vertrou. Hy weet hy was sy ouma se gunsteling kleinkind. Ramon staar doodstil voor hom uit en sien sy ouma se gesig in sy geestesoog. Sy het altyd vir hom geglimlag en hy het meeste skoolvakansies by haar kom bly, haar tuintjie help skoffel en sommer net saans na haar stories geluister. Sy het vertel hoe dapper sy oupa geveg het in die oorloë, dat sy hom mis en ook dat sy wonder hoekom Ramon se broer dan nooit vir haar kom kuier nie. Ramon het altyd maar net sy kop geskud en eerder nie geantwoord nie. Maar hy het geweet. Sy ouer broer is en was nog altyd te besig vir sy familie, te besig om sy eie lewe te lei en veral te besig om net ‘n paar dae by sy ouma te spandeer. Ramon staar na die kersvlam en besef dat sy ouma mal oor Eliza sou gewees het.

Die geluid van branders wat teen rotse bars speel op die agtergrond en hy besluit om Eliza hierheen te bring vir ‘n gedeelte van hul wittebrood. Die kers flikker skielik in ‘n briesie en ‘n sagte glimlag speel om sy mondhoeke. Hy vryf met sy mou oor die ring in sy hand, streel met sy lippe daaroor, maak sy oë toe en fluister, “Eliza. I love you. You are mine forever. I love you always.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lekker skryf!
Ky, ek het nou saam die konkelende vriendinne vir 'n rok geshop, naels gekou oor die vlg CNL-diens, 'n sny pizza verorber, gedroom oor 'n plot met baie perde en... 'n mooie man in 'n huisie by die see sien sit... Die storie is verslawend en verras telkens met 'n nuwe kinkel. Lekker skryf aan die vlg hoofstuk!
4 jaar 3 maande 2 weke 4 dae 19 ure oud


21
En nou is ek lus vir pizza...en dis jou skuld :-)
Ek het baie lekker gelees, Carol. Eks bietjie skrikkerig oor wat Sondag by die CNL diens kan gebeur. En ek is bly dat dinge uitwerk vir Eliza en Ramon - aan die begin was ek bang dat die verhouding nie 'n kans staan nie :-)
Voorspoed met die res van die skrywery, jy doen dit goed!
4 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 5 ure oud


sOn (21)
Dit lees gemaklik en die spanning vloei kragtig saam met elke karakter
4 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 7 ure oud


21
Ek is bietjie agter, maar hierdie is goed gedoen. Slot paragraaf is treffend. Lekker gelees hier aan.Ek dagdroom lekker saam.
4 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 14 ure oud


Son 21
Ek hoop die laaste sondag gaan sonder hakplekke verloop.. die hele verhaal is so interessant en ek stem saam met Kiekies.. daai huisie by die see.... hmmm kan mos net werk...

Lekker gelees
4 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 18 ure oud


21
Sjoe jy wikkel nou!! Raak nou spannend. Wonder wat gaan met daardie laaste optrede gebeur?
4 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 19 ure oud


Doters 21
Baie verwikkelinge wat die gedagtes vashou. En die huisie by die see laat mens wonder wat daarvan gaan word. Pragtige werk, ek geniet die verhaal baie.
4 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 21 ure oud


21
Ai en nou wil ek nie daai huisie van Ramon verlaat om die koue harde werklikheid weer te betree nie. Ek voel die absolute rustigheid tot in die murg van my gebeente. Dem 'n mens lees so soo sooo lekker aan die Dogters se lewens. Smaak my Mnet behoort hierna te kyk vir 'n TV-reeks!

Oorweeg:
“Uhm … lag Sarah - “Uhm …" lag Sarah
tydelike behuising vir mense - tydelike huisvesting vir mense
groot aanvraag daarna - ek wonder of dit dalk eerder groot aanvraag daarvoor moet wees.
4 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 22 ure oud


dogters
Carol ek is mal oo die slot parafraaf in jou verhaal waar ramon sy liefde aan Eliza verklaar
4 jaar 3 maande 3 weke 3 ure oud



DIE HIV MOORD

deur neels claasen

n Speurverhaal waarin moderne tegnologie n groot rol speel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar